HANDELINGE 28:10-14 - Compare All Versions
HANDELINGE 28:10-14 AFR83 (Afrikaans 1983)
Hulle het ons met baie geskenke vereer, en toe ons vertrek, het hulle ons van alles voorsien wat ons nodig gehad het. Na drie maande het ons vertrek met die Dioskuri, 'n Aleksandrynse skip, wat daar oorwinter het. Ons het in Sirakuse gekom en drie dae daar oorgebly. Daarvandaan het ons verder gevaar en in Regium gekom. Die volgende dag het daar 'n suidewind begin waai, en na twee dae was ons in Puteoli. Daar het ons gelowiges teëgekom wat ons uitgenooi het om sewe dae by hulle te bly. En so is ons na Rome toe.
HANDELINGE 28:10-14 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
En hulle het ons ook baie eerbewyse betoon, en toe ons sou afvaar, ons van die nodige voorsien. EN ná drie maande het ons afgevaar in 'n skip van Alexandríë met die skeepsmerk Castor en Pollux, wat op die eiland oorwinter het. En ons het by Sirakúse gekom en daar drie dae gebly. Daarvandaan het ons omgeseil en by Régium aangekom; en een dag later het die suidewind opgekom, en op die tweede het ons Putéoli bereik, waar ons broeders gevind het wat ons gevra het om sewe dae by hulle te bly; en so het ons na Rome gegaan.
HANDELINGE 28:10-14 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Hulle het ons met baie eerbewyse oorlaai, en toe ons wou wegvaar, het hulle vir ons alles opgelaai wat ons nodig gehad het. Na drie maande is ons daar weg met ’n skip wat by die eiland oorwinter het, ’n Aleksandrynse skip met die Dioskuri as boegbeeld. Ons het by Sirakuse op die eiland Sisilië vasgemeer en drie dae daar oorgebly. Daarvandaan het ons verder gevaar en in Regium gekom, heel in die suide van Italië. Na nog ’n dag het daar ’n suidewind begin waai, en op die tweede dag was ons in Puteoli. Daar het ons gelowiges teëgekom wat ons uitgenooi het om sewe dae by hulle te bly. En só het ons Rome bereik.
HANDELINGE 28:10-14 DB (Die Boodskap)
Aan die einde van ons verblyf op Malta het die mense ons ’n koninklike afskeid gegee. Hulle het ons oorlaai met geskenke en met al die nodige voorrade vir ons reis. Na drie maande op Malta het ons Italië toe vertrek aan boord van ’n skip uit Aleksandrië, wat daar oorwinter het. Die skip se naam was die Dioskuri. Ons het tot in Sirakuse gevaar en drie dae daar oorgebly. Van daar af het ons tot in Regium gevaar. Twee dae later het ons met behulp van ’n sterk suidewind in die hawe van Puteoli aangekom.Daar het ons ’n groep Christene raakgeloop wat ons genooi het om by hulle oor te bly. Nadat ons sewe dae by hulle deurgebring het, is ons Rome toe.
HANDELINGE 28:10-14 ABA (Bybel vir almal)
Hulle het vir ons baie goed gegee wat gewys het dat hulle ons respekteer. Hulle het ook vir ons alles gegee wat ons moes hê toe ons weer weggeseil het met 'n skip. Drie maande het verbygegaan. Toe het ons met 'n ander skip weggeseil van die eiland Malta. Die skip het van die stad Aleksandrië gekom en dit het daar by die eiland gewag totdat die winter verby was. Die skip se naam was Dioskuri. Ons het met die skip geseil tot by die stad Sirakuse. Ons het drie dae daar gebly. Toe het ons weggeseil van Sirakuse en ons by die stad Regium gekom. Ná een dag het 'n suidewind begin waai, en die volgende dag het ons geseil tot by die stad Puteoli. In Puteoli was daar ook gelowiges. Hulle het vir ons gevra om sewe dae by hulle te bly. En toe het ons na Rome gegaan.
HANDELINGE 28:10-14 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Hulle het ons met eerbewyse oorlaai, en met ons vertrek vir ons alles gegee wat ons nodig gehad het. Ná drie maande het ons vertrek met 'n skip wat by die eiland oorwinter het. Dit was 'n skip uit Aleksandrië, met die Dioskuri as boegbeeld. En nadat ons in Sirakuse anker gegooi het, het ons drie dae daar oorgebly; en daarvandaan het ons verder gevaar en in Regium aangekom. Een dag later het 'n suidewind opgesteek, en ons het Puteoli op die tweede dag bereik. Daar het ons broers aangetref wat ons uitgenooi het om sewe dae lank by hulle te bly. En uiteindelik het ons Rome bereik.
HANDELINGE 28:10-14 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
Wat ons ook met baie eer vereer het; en toe ons weggegaan het, het hulle ons gelaai met die dinge wat nodig was. En ná drie maande het ons vertrek met 'n skip van Alexandrië wat op die eiland oorwinter het, waarvan die teken Castor en Pollux was. En toe ons by Sirakuse aangekom het, het ons drie dae daar gebly. En daarvandaan het ons 'n kompas gaan haal en by Rhegium gekom; en ná een dag het die suidewind gewaai, en ons het die volgende dag by Puteoli gekom. Waar ons broers gekry het en ons begeer was om sewe dae by hulle te vertoef, en ons het toe na Rome gegaan.