HANDELINGE 28:1-14

HANDELINGE 28:1-14 Bybel vir almal (ABA)

Nadat ons veilig op die strand gekom het, het ons gehoor dat die naam van die eiland Malta is. Die mense op die eiland was baie vriendelik. Dit het gelyk of dit sal reën en dit was koud. Hulle het 'n vuur gemaak en hulle het ons na die vuur geneem. Paulus het 'n klomp droë hout opgetel en hy het dit op die vuur gegooi. Maar daar was 'n slang in die hout. Omdat die vuur warm was, het die slang uitgekom. Die slang het vir Paulus aan sy hand gebyt. Die mense wat op die eiland bly, het gesien die slang hang aan Paulus se hand. Hulle het vir mekaar gesê: “Hierdie man is 'n moordenaar, dit is seker. Die gode wil hom straf en doodmaak omdat hy verkeerd gedoen het. Die gode het gesien dat hy nie in die see verdrink het nie, nou sal die slang hom doodmaak!” Maar Paulus het die slang afgeskud, en dit het in die vuur geval. En daar het niks sleg met Paulus gebeur nie. Die mense het gedink dat Paulus sal opswel of dat hy sal val en sterf. Hulle het lank gewag en toe het hulle gesien dat daar niks met hom gebeur nie. Toe het hulle iets anders begin dink. Hulle het gesê dat Paulus 'n god is. Naby daardie plek was die grond van die hoof van die eiland. Die hoof se naam was Publius. Hy was vriendelik en hy het vir ons plek gegee om te bly, drie dae lank. Publius se pa was siek. Hy het koors gehad en sy maag was baie deurmekaar en het gewerk. Paulus het na hom toe gegaan en hy het vir hom gebid. Paulus het sy hande op hom gesit en hy het hom gesond gemaak. Nadat dit gebeur het, het ander mense wat op die eiland gewoon het en wat siek was, ook na Paulus toe gekom, en hy het hulle gesond gemaak. Hulle het vir ons baie goed gegee wat gewys het dat hulle ons respekteer. Hulle het ook vir ons alles gegee wat ons moes hê toe ons weer weggeseil het met 'n skip. Drie maande het verbygegaan. Toe het ons met 'n ander skip weggeseil van die eiland Malta. Die skip het van die stad Aleksandrië gekom en dit het daar by die eiland gewag totdat die winter verby was. Die skip se naam was Dioskuri. Ons het met die skip geseil tot by die stad Sirakuse. Ons het drie dae daar gebly. Toe het ons weggeseil van Sirakuse en ons by die stad Regium gekom. Ná een dag het 'n suidewind begin waai, en die volgende dag het ons geseil tot by die stad Puteoli. In Puteoli was daar ook gelowiges. Hulle het vir ons gevra om sewe dae by hulle te bly. En toe het ons na Rome gegaan.

HANDELINGE 28:1-14 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN eers toe ons gered was, het ons te wete gekom dat die eiland Melíte genoem word. En die inboorlinge het ons buitengewone mensliewendheid bewys, want hulle het 'n groot vuur aangesteek en ons almal daarby gebring weens die reën wat gedreig het en weens die koue. En Paulus het 'n klomp droë hout bymekaargemaak en op die vuur gesit, en 'n adder het weens die hitte uitgekom en aan sy hand vasgebyt. En toe die inboorlinge die dier aan sy hand sien hang, sê hulle vir mekaar: Hierdie man is beslis 'n moordenaar wat die goddelike wraak nie laat lewe nie, al is hy uit die see gered. Maar hy het die dier in die vuur afgeskud en geen kwaad gely nie. En hulle het verwag dat hy sou opswel of skielik dood neerval; maar toe hulle lank gewag en gesien het dat niks besonders met hom gebeur nie, het hulle van gedagte verander en gesê dat hy 'n god was. Nou het die hoof van die eiland, wie se naam Públius was, in die omgewing van daardie plek 'n stuk grond gehad, en hy het ons ontvang en drie dae lank vriendelik geherberg. En die vader van Públius het siek gelê aan koors en buikloop. En Paulus het ingegaan na hom toe, en nadat hy gebid het, hom die hande opgelê en hom gesond gemaak. En hierna het ook die ander wat siektes gehad het op die eiland, na hom gekom en is genees. En hulle het ons ook baie eerbewyse betoon, en toe ons sou afvaar, ons van die nodige voorsien. EN ná drie maande het ons afgevaar in 'n skip van Alexandríë met die skeepsmerk Castor en Pollux, wat op die eiland oorwinter het. En ons het by Sirakúse gekom en daar drie dae gebly. Daarvandaan het ons omgeseil en by Régium aangekom; en een dag later het die suidewind opgekom, en op die tweede het ons Putéoli bereik, waar ons broeders gevind het wat ons gevra het om sewe dae by hulle te bly; en so het ons na Rome gegaan.

HANDELINGE 28:1-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

Nadat ons veilig aan wal gekom het, het ons gehoor dat dit die eiland Malta is. Die mense daar was baie vriendelik teenoor ons. Omdat dit begin reën het en koud was, het hulle 'n vuur aangesteek en ons almal daarby verwelkom. Paulus het 'n klomp hout bymekaargemaak en op die vuur gegooi. Van die hitte het daar 'n slang uitgekom, en dit het aan sy hand vasgebyt. Toe die mense die slang aan Paulus se hand sien hang, sê hulle vir mekaar: “Hierdie man moet beslis 'n moordenaar wees. Al is hy uit die see gered, wil die goddelike wraak hom nie laat lewe nie.” Paulus het egter die slang in die vuur afgeskud en niks oorgekom nie. Hulle het gewag dat hy moet opswel of skielik dood neerslaan, maar nadat hulle 'n lang ruk gewag het en gesien het dat daar niks ongewoons met hom gebeur nie, het hulle van mening verander en gesê hy is 'n god. Daar was 'n plaas in daardie omgewing wat aan die hoof van die eiland, 'n man met die naam Publius, behoort het. Hy het ons vriendelik ontvang en ons drie dae lank as sy gaste gehuisves. Publius se pa was in die bed, siek aan maagkoors. Paulus het na hom toe gegaan, en nadat hy gebid het, het hy hom die hande opgelê en hom gesond gemaak. Na hierdie voorval het ook die ander siekes op die eiland na Paulus toe gekom, en hy het hulle gesond gemaak. Hulle het ons met baie geskenke vereer, en toe ons vertrek, het hulle ons van alles voorsien wat ons nodig gehad het. Na drie maande het ons vertrek met die Dioskuri, 'n Aleksandrynse skip, wat daar oorwinter het. Ons het in Sirakuse gekom en drie dae daar oorgebly. Daarvandaan het ons verder gevaar en in Regium gekom. Die volgende dag het daar 'n suidewind begin waai, en na twee dae was ons in Puteoli. Daar het ons gelowiges teëgekom wat ons uitgenooi het om sewe dae by hulle te bly. En so is ons na Rome toe.

HANDELINGE 28:1-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Nadat ons veiligheid bereik het, het ons agtergekom dat die eiland Melite genoem word. Die plaaslike bevolking het buitengewone vriendelikheid aan ons betoon. Weens die dreigende reën en koue het hulle 'n vuur aangesteek, en ons almal verwelkom. Paulus het 'n hoop droë hout bymekaargemaak en op die vuur gesit. Van die hitte het 'n slang uitgekom en aan sy hand vasgebyt. Toe die plaaslike bevolking die gedierte aan sy hand sien hang, het hulle vir mekaar gesê: “Hierdie man is beslis 'n moordenaar. Hy is uit die see gered, maar Dike het nie toegelaat dat hy bly leef nie.” Paulus het egter die gedierte in die vuur afgeskud, en was ongedeerd. Hulle het verwag dat hy sal begin opswel, of skielik dood neerslaan. Maar nadat hulle lank gewag en gesien het dat niks buitengewoons met hom gebeur nie, het hulle van mening verander en gesê dat hy 'n god is. In die omgewing van daardie plek was daar landerye wat behoort het aan die hoofman van die eiland, 'n man met die naam Publius. Hy het ons verwelkom en drie dae lank gasvry gehuisves. Dit het so gebeur dat Publius se vader siek aan koors en diarree in die bed gelê het. Paulus het na hom gegaan en vir hom gebid, sy hande op hom gelê en hom gesond gemaak. Ná hierdie voorval het die ander siekes op die eiland ook na hom gekom, en is gesond gemaak. Hulle het ons met eerbewyse oorlaai, en met ons vertrek vir ons alles gegee wat ons nodig gehad het. Ná drie maande het ons vertrek met 'n skip wat by die eiland oorwinter het. Dit was 'n skip uit Aleksandrië, met die Dioskuri as boegbeeld. En nadat ons in Sirakuse anker gegooi het, het ons drie dae daar oorgebly; en daarvandaan het ons verder gevaar en in Regium aangekom. Een dag later het 'n suidewind opgesteek, en ons het Puteoli op die tweede dag bereik. Daar het ons broers aangetref wat ons uitgenooi het om sewe dae lank by hulle te bly. En uiteindelik het ons Rome bereik.

HANDELINGE 28:1-14 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En toe hulle ontsnap het, het hulle geweet dat die eiland Melita genoem word. En die barbaarse volk het aan ons geen geringe guns bewys nie, want hulle het 'n vuur aangesteek en ons almal ontvang vanweë die huidige reën en vanweë die koue. En toe Paulus 'n bondel stokke bymekaargemaak en op die vuur gelê het, het daar 'n adder uit die hitte gekom en dit aan sy hand vasgemaak. En toe die barbare die giftige dier aan sy hand sien hang, sê hulle onder mekaar: Hierdie man is ongetwyfeld 'n moordenaar, wat, al het hy die see ontvlug, tog die wraak nie toelaat om te lewe nie. En hy het die dier in die vuur afgeskud en geen kwaad gevoel nie. Maar hulle het gekyk toe hy moes swel of skielik dood neergeval het; maar nadat hulle 'n lang tyd gekyk het en geen kwaad in hom sien kom nie, het hulle van plan verander en gesê dat hy 'n god is. In dieselfde kwartiere was die besittings van die hoofman van die eiland, wie se naam Publius was; wat ons ontvang het en ons drie dae hoflik gehuisves het. En dit het gebeur dat die vader van Publius siek gelê het aan 'n koors en 'n bloedige vloed; tot wie Paulus ingegaan en gebid en hom die hande opgelê en hom gesond gemaak het. En toe dit gebeur het, het daar ook ander gekom wat siektes op die eiland gehad het, en hulle is gesond. Wat ons ook met baie eer vereer het; en toe ons weggegaan het, het hulle ons gelaai met die dinge wat nodig was. En ná drie maande het ons vertrek met 'n skip van Alexandrië wat op die eiland oorwinter het, waarvan die teken Castor en Pollux was. En toe ons by Sirakuse aangekom het, het ons drie dae daar gebly. En daarvandaan het ons 'n kompas gaan haal en by Rhegium gekom; en ná een dag het die suidewind gewaai, en ons het die volgende dag by Puteoli gekom. Waar ons broers gekry het en ons begeer was om sewe dae by hulle te vertoef, en ons het toe na Rome gegaan.

HANDELINGE 28:1-14 Die Boodskap (DB)

Toe ons almal die veiligheid van die strand bereik het, het ons agtergekom dat ons op die eiland Malta was. Die mense wat daar gebly het, het ons met oop arms ontvang. Hulle het dadelik ’n groot vuur aangesteek omdat hulle gesien het dat ons baie koud kry. Boonop was ons almal papnat omdat dit intussen ook begin reën het. Almal het hout vir die groot vuur bymekaargemaak. Paulus het ook hand bygesit. Toe hy ’n bondel hout op die vuur kom neersit, het ’n giftige slang skielik tussen die hout uitgekom en hom aan sy hand gepik. Die inwoners van die eiland het die slang aan Paulus se hand sien hang en vir mekaar gesê: “Hierdie man is sekerlik ’n moordenaar. Hy was net gelukkig om lewendig uit die storm op die see te kom. Maar nou het die gode hom uiteindelik ingehaal. Nou betaal hulle hom terug vir sy misdaad.” Paulus het die gedierte afgeskud en dit in die vuur laat val. Hy het niks oorgekom nie. Almal het verwag dat hy enige oomblik sou begin opswel van die slangbyt en doodgaan.Maar hy was springlewendig. Na ’n ruk het die mense van mening verander en vir mekaar gesê dat hy die een of ander god moet wees. Die hoofman van die eiland het ’n stuk grond daar naby besit. Sy naam was Publius. Hy het ons na sy huis genooi. Daar het ons die volgende drie dae as sy gaste deurgebring. Publius se pa was baie siek. Hy het ’n hoë koors gehad en ’n maagkwaal. Paulus het na sy kamer toe gegaan. Daar het hy sy hande op hom geplaas en vir hom gebid. Die man het dadelik gesond geword. Die nuus van die genesing het soos ’n veldbrand oor die eiland versprei. Kort voor lank het almal hulle siekes na Paulus toe gebring. Hy het hulle almal gesond gemaak. Aan die einde van ons verblyf op Malta het die mense ons ’n koninklike afskeid gegee. Hulle het ons oorlaai met geskenke en met al die nodige voorrade vir ons reis. Na drie maande op Malta het ons Italië toe vertrek aan boord van ’n skip uit Aleksandrië, wat daar oorwinter het. Die skip se naam was die Dioskuri. Ons het tot in Sirakuse gevaar en drie dae daar oorgebly. Van daar af het ons tot in Regium gevaar. Twee dae later het ons met behulp van ’n sterk suidewind in die hawe van Puteoli aangekom.Daar het ons ’n groep Christene raakgeloop wat ons genooi het om by hulle oor te bly. Nadat ons sewe dae by hulle deurgebring het, is ons Rome toe.

HANDELINGE 28:1-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Nadat ons veilig aan wal gekom het, het ons uitgevind dat die eiland Malta genoem word. Die inboorlinge was buitengewoon vriendelik teenoor ons. Dit het begin reën en dit was koud. Hulle het toe ’n vuur aangesteek en ons almal genooi om daar te kom sit. Paulus het ’n klomp hout bymekaargemaak en op die vuur gegooi. Van die hitte het daar ’n slang uitgekom en hom aan sy hand gepik. Toe die inboorlinge die gedierte aan sy hand sien hang, sê hulle vir mekaar: “Hierdie man is beslis ’n moordenaar. Al is hy uit die see gered, het geregtigheid hom nie toegelaat om te bly lewe nie.” Paulus het egter die ongedierte in die vuur afgeskud en geen nagevolge gehad nie. Hulle het verwag dat hy sou opswel of skielik morsdood neerslaan, maar nadat hulle ’n lang ruk gewag het en gesien het dat daar niks buitengewoons met hom gebeur nie, het hulle van mening verander en begin sê hy is ’n god. Daar was ’n plaas in daardie omgewing wat aan die hoof van die eiland, ’n man met die naam Publius, behoort het. Hy het ons ontvang en drie dae lank vriendelik as sy gaste gehuisves. Dit het so gekom dat Publius se pa in die bed was, siek aan maagkoors. Paulus het na hom toe gegaan, en nadat hy gebid het, het hy sy hande op hom gesit en hom gesond gemaak. Ná hierdie voorval het ook die ander siekes op die eiland gekom, en is hulle gesond gemaak. Hulle het ons met baie eerbewyse oorlaai, en toe ons wou wegvaar, het hulle vir ons alles opgelaai wat ons nodig gehad het. Na drie maande is ons daar weg met ’n skip wat by die eiland oorwinter het, ’n Aleksandrynse skip met die Dioskuri as boegbeeld. Ons het by Sirakuse op die eiland Sisilië vasgemeer en drie dae daar oorgebly. Daarvandaan het ons verder gevaar en in Regium gekom, heel in die suide van Italië. Na nog ’n dag het daar ’n suidewind begin waai, en op die tweede dag was ons in Puteoli. Daar het ons gelowiges teëgekom wat ons uitgenooi het om sewe dae by hulle te bly. En só het ons Rome bereik.