HANDELINGE 27:39-44 - Compare All Versions
HANDELINGE 27:39-44 AFR83 (Afrikaans 1983)
Toe dit dag word, kon hulle nie die land herken nie, maar hulle het 'n baai met 'n strand gesien. Hulle besluit toe om die skip daar te laat strand as hulle kon. Hulle het die ankers afgekap en in die see gelos. Terselfdertyd het hulle die toue wat die stuurspane vashou, losgemaak en die voorseil gehys, sodat die wind die skip strand toe kon voer. Maar die skip het op 'n sandbank geloop en gestrand. Die boeg het vasgesteek en kon nie beweeg nie. Die agterstewe is deur die geweld van die golwe stukkend geslaan. Die soldate het besluit om die gevangenes dood te maak, sodat niemand van hulle dalk kon uitswem en ontsnap nie. Maar die Romeinse offisier wou Paulus red en het hulle verhinder om dit te doen. Hy het die mense wat kon swem, beveel om eerste oorboord te spring en land toe te swem. Die ander moes dan volg deur aan planke en ander wrakstukke vas te klou. Op hierdie manier het almal veilig aan land gekom.
HANDELINGE 27:39-44 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
En toe dit dag word, het hulle die land nie herken nie; maar hulle het 'n inham met 'n strand bemerk, waarop hulle van plan was om die skip te laat loop as hulle kon. En hulle het die ankers afgekap en in die see laat lê en tegelykertyd die roertoue losgemaak. En hulle het die voorseil teen die wind opgetrek en op die strand aangestuur. En hulle het op 'n plek verval met die see aan weerskante en die skip laat strand; en die voorskip het vasgeraak en onbeweeglik bly sit, maar die agterskip is deur die geweld van die branders uitmekaar geslaan. Nou was dit die plan van die soldate om die gevangenes dood te maak, sodat niemand kon uitswem en ontsnap nie. Maar die hoofman oor honderd wou Paulus red en het hulle verhinder in hulle voorneme en bevel gegee dat die wat kon swem, eerste in die see moes spring om aan land te kom, en die ander, sommige op planke en sommige op stukke van die skip. En so het almal behoue aan land gekom.
HANDELINGE 27:39-44 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Toe dit dag word, het hulle die land nie herken nie, maar hulle het ’n baai met ’n strand gesien. Hulle oorweeg toe om, indien moontlik, die skip daar te laat strand. Hulle het die ankers afgegooi en net daar in die see gelos. Terselfdertyd het hulle die toue wat die stuurspane vashou, losgemaak en die voorseil gehys sodat die wind die skip strand toe kon dryf. Maar die skip het op ’n rif geloop en gestrand. Die boeg het vasgesteek en kon nie beweeg nie. Die agterstewe het as gevolg van die geweld van die golwe begin opbreek. Die plan van die soldate was om die gevangenes dood te maak om te keer dat hulle sou uitswem en ontsnap. Maar die Romeinse offisier wou Paulus red en het hulle gekeer om hulle plan uit te voer. Hy het die mense wat kon swem, beveel om eerste oorboord te spring en die land te probeer haal. Die ander moes dan volg, sommige deur aan planke en ander deur aan wrakstukke vas te klou. Op hierdie manier het dit gebeur dat almal veilig aan land gekom het.
HANDELINGE 27:39-44 DB (Die Boodskap)
Teen dagbreek het almal gekyk of hulle die land kon herken, maar dit het nie bekend gelyk nie. Hulle het egter ’n baai met ’n strand opgemerk en besluit om die skip daar te laat strand. Dadelik het hulle die skip se ankertoue afgekap en die toue losgemaak wat die skip se roer vasgehou het. Hulle het ook die voorseil gehys sodat hulle land toe kon vaar. ’n Ent van die strand af het die skip egter op ’n sandbank geloop. Dit het viervoet in die golwe vasgesteek. Terwyl die skip daar vasgesit het, het groot golwe die agterstewe stukkend geslaan. Die Romeinse soldate het besluit om al die gevangenes dood te maak sodat nie een van hulle kon ontsnap nie. Die bevelvoerder het hulle egter gekeer omdat hy graag Paulus se lewe wou spaar. Hy het gesê dat diegene aan boord wat kon swem, eerste in die see moes spring en land toe moes swem. Dié wat nie kon swem nie, moes ’n stuk hout gryp en daarmee land toe dryf. Op dié manier het almal die land veilig bereik.
HANDELINGE 27:39-44 ABA (Bybel vir almal)
Dit het dag geword. Hulle het land gesien, maar hulle het nie geweet watter plek dit is nie. Hulle het 'n strand gesien, daar was nie rotse nie. Toe het hulle gedink hulle sal probeer om die skip op die strand te laat stop. Hulle het die ankers se toue afgesny en hulle het die ankers in die see gelos. Hulle het ook die toue om die roeispane losgemaak. En hulle het die seil wat voor op die skip was, oopgemaak sodat die wind die skip vorentoe kon waai. Hulle het probeer om die skip na die strand te stuur. Maar die skip het teen 'n sandbank vasgeseil en die voorste deel van die skip het vasgesit. Dit kon nie beweeg nie. Toe het die sterk branders die agterste deel van die skip stukkend geslaan. En die soldate het besluit om die gevangenes dood te maak sodat hulle nie na die land kon swem en dan kon weghardloop nie. Maar die offisier wou vir Paulus red en hy het die soldate gekeer. Die soldate kon nie doen wat hulle wou doen nie. Toe het die offisier gesê dat almal wat kan swem, eerste in die see moet spring en hulle moet na die land swem. Daarna moes almal wat nie kon swem nie, probeer om by die land te kom. Party mense het op planke na die land gegaan en party mense het op stukke van die skip gegaan. So het almal veilig by die land uitgekom.
HANDELINGE 27:39-44 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Toe dit dag word, het hulle die land nie herken nie, maar hulle het wel 'n baai met 'n strand gewaar, waar hulle besluit het om die skip op die sand te laat loop as hulle kon. Hulle het die ankers afgekap en in die see laat val en tegelykertyd die roertoue losgemaak, die voorseil gehys en windaf op die strand afgestuur. Hulle het egter 'n rif met see aan weerskante getref, en daar het die skip gestrand. Die boeg het vasgesteek en bewegingloos gebly, en die agterstewe het deur die geweld van die golwe begin opbreek. Die soldate se plan was om die gevangenes dood te maak, sodat niemand kon ontsnap deur uit te swem nie. Maar die centurio wou Paulus red, en het hulle plan verydel. Hy het die mense wat kon swem, beveel om eerste oorboord te spring en aan land te gaan, en daarna die res – sommige op planke, ander op wrakstukke van die skip. En so het almal behoue aan land gekom.
HANDELINGE 27:39-44 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
En toe dit dag geword het, het hulle die land nie geken nie, maar hulle het 'n sekere spruit met 'n oewer ontdek waarin hulle van plan was om, as dit moontlik was, die skip in te steek. En toe hulle die ankers opgeneem het, het hulle hulleself aan die see oorgegee en die roerbande losgemaak en die grootseil na die wind opgehys en na die kus gegaan. En toe hulle op 'n plek geval waar twee seë mekaar ontmoet het, het hulle die skip laat strand; en die voorkant het vasgesteek en onbeweeglik gebly, maar die agterste deel is gebreek deur die geweld van die golwe. En die soldate se raad was om die gevangenes dood te maak, sodat niemand van hulle sou uitswem en ontsnap nie. Maar die hoofman oor honderd, wat gewillig was om Paulus te red, het hulle van hulle voorneme weerhou; en het beveel dat die wat kon swem, hulle eers in die see moes werp en aan land kom. En die res, sommige op planke en ander op gebreekte stukke van die skip. En so het dit gebeur dat hulle almal veilig na die land ontsnap het.