HANDELINGE 27:1-12
HANDELINGE 27:1-12 Bybel vir almal (ABA)
Die amptenare het besluit dit is tyd dat Paulus en ons met 'n skip na die land Italië moet seil. Die soldate het toe vir Paulus en party ander gevangenes vir Julius gegee. Julius was die offisier van 'n groep soldate van die keiser. Ons het op 'n skip geklim wat na die stad Adramittium sou seil, want ons wou gaan na plekke in die provinsie Asië. Die skip het begin seil. Aristargus was ook saam met ons. Hy was 'n man van die stad Tessalonika in die provinsie Masedonië. Die volgende dag het die skip by die stad Sidon aangekom. Julius was vriendelik met Paulus. Julius het gesê Paulus mag na sy vriende in Sidon gaan sodat hulle vir hom kan sorg. Die volgende dag het ons weggeseil van Sidon. Ons het toe by die eiland Siprus verbygeseil. Die wind het sterk teen ons gewaai en daarom het ons langs Siprus verbygeseil, langs die kant waar die wind nie so sterk was nie. Ons het met die skip oor die see langs die lande Silisië en Pamfilië geseil. Ons het geseil tot by die stad Mira in die land Lisië. In Mira het die offisier 'n skip gekry wat van die stad Aleksandrië gekom het. Die skip sou na Italië seil. Die offisier het toe vir ons gesê ons moet op daardie skip klim. Ons het lank geseil, en nadat ons skip baie gesukkel het, het ons naby die stad Knidus gekom. Maar die wind het sterk teen ons gewaai, en daarom het ons langs die eiland Kreta verbygeseil, langs die kant waar die wind nie so sterk was nie. Ons was oorkant die stad Salmone. Ons het verby Salmone geseil, maar ons het baie gesukkel. Toe het ons by 'n plek gekom, die plek se naam was Mooi Hawens. Dit was naby die stad Lasea. Ons het lank geseil. Dit was ook laat in die jaar, die winter was naby, en dit was toe gevaarlik om met 'n skip te seil. Daarom het Paulus vir die offisier en sy manne gesê: “Vriende, ons moenie nou verder seil nie. Dit is baie gevaarlik en ons sal baie dinge verloor. Ons sal die goed op die skip verloor, en ook die skip én ons lewens.” Maar die offisier het geluister na wat die kaptein van die skip en die eienaar van die skip vir hom gesê het, hy wou nie na Paulus luister nie. 'n Mens kon nie die hele winter by Mooi Hawens bly nie. Daarom het die meeste mense op die skip gesê ons moet verder seil en ons moet probeer om tot by Feniks te kom. Feniks was 'n hawe van die eiland Kreta. Dit was 'n veilige plek om te bly terwyl dit winter is, want die suidweste-kant en die noordweste-kant van die hawe was oop.
HANDELINGE 27:1-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN toe daar besluit is dat ons moes wegvaar na Italië, het hulle Paulus en sommige ander gevangenes oorgegee aan 'n hoofman oor honderd van die keiserlike leërafdeling, met die naam van Július. En nadat ons in 'n skip van Adramíttium gegaan het met die doel om by die aanlegplekke in Asië aan te gaan, het ons afgevaar, en Aristárchus van Macedónië, 'n man van Thessaloníka, was saam met ons. En die volgende dag het ons by Sidon aangekom. En Július het Paulus mensliewend behandel en hom toegelaat om vriende te besoek en versorging te ontvang. En daarvandaan het ons afgevaar en onderkant Ciprus verbygeseil, omdat die winde teen ons was. Ons het daarop die see langs Cilícië en Pamfílië deurgevaar en by Mira in Licië aangekom. En daar het die hoofman oor honderd 'n skip van Alexandríë gevind wat na Italië vaar, en ons daarop laat oorklim. En verskeie dae het ons langsaam gevaar en met moeite teenoor Cnidus gekom; en omdat die wind ons nie toegelaat het nie, onderkant Kreta langs gevaar, teenoor Salmóne. En toe ons met moeite dit verbygeseil het, kom ons by 'n plek wat genoem word Mooi Hawens, in die nabyheid waarvan die stad Laséa is. En omdat 'n geruime tyd verloop en die skeepvaart al gevaarlik geword het en die vastyd ook al verby was, het Paulus hulle gewaarsku en gesê: Manne, ek sien dat die reis met ramp en groot skade verbonde sal wees, nie alleen vir die vrag en die skip nie, maar ook vir ons lewe. Maar die hoofman oor honderd het meer aan die stuurman en die eienaar van die skip geglo as aan die woorde van Paulus; en omdat die hawe nie geskik was om daar te oorwinter nie, het die meerderheid aangeraai om ook daarvandaan af te vaar en indien moontlik Fenix te bereik om te oorwinter, 'n hawe in Kreta wat ooplê na die suidweste en na die noordweste.
HANDELINGE 27:1-12 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe ons vertrek na Italië toe bepaal was, het hulle Paulus en 'n paar ander gevangenes aan Julius, 'n offisier van die keiserlike regiment, oorhandig. Ons het weggevaar aan boord van 'n skip van Adramittium wat by die hawens van die provinsie Asië sou aandoen. Saam met ons was Aristargos, 'n Masedoniër van Tessalonika. Ons het die volgende dag in Sidon aangekom. Julius was tegemoetkomend teenoor Paulus en het hom toegelaat om sy vriende te besoek. Hulle het hom van die een en ander voorsien. Ons het daarvandaan weggevaar en ons is aan die beskutte kant van Siprus verby, omdat die wind teen ons was. Met Silisië en Pamfilië aan ons regterkant het ons die see oorgesteek en Mira in Lisië bereik. Daar het die offisier 'n Aleksandrynse skip gekry wat na Italië toe sou vaar, en ons daarop gesit. Ons het dae lank stadig gevaar en met moeite regoor Knidus gekom. Toe die wind ons nie toegelaat het om verder op dié koers voort te gaan nie, het ons aan die beskutte kant van Kreta by Salmone verby gevaar. Ons het met moeite langs die kus op gevaar en 'n plek met die naam Mooi Hawens bereik, naby die stad Lasea. Ons het baie tyd verloor, en dit het al gevaarlik geword vir skeepvaart, want dit het al begin winter word. Paulus waarsku hulle toe: “Manne, ek sien dat ons vaart van nou af gevaarlik sal wees en dat daar nie net groot skade aan die vrag en die skip gaan kom nie, maar ook lewensverlies.” Die Romeinse offisier het egter meer waarde geheg aan die mening van die kaptein en die eienaar van die skip as aan wat Paulus gesê het. Die hawe was nie geskik om daar te oorwinter nie, en die meeste wou liewer daarvandaan wegvaar en probeer om Feniks te bereik. Feniks was 'n hawe van Kreta wat suidwes en noordwes see toe oop lê. Daar sou hulle kon oorwinter.
HANDELINGE 27:1-12 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe daar besluit is dat ons na Italië moes vaar, het hulle Paulus en 'n paar ander gevangenes uitgelewer aan 'n centurio van die keiserlike kohort soldate met die naam Julius. Ons het aan boord gegaan van 'n skip uit Adramittium wat gereed was om na plekke langs die kus van Asië te vaar, en toe weggeseil. Aristargus, 'n Macedoniër uit Thessalonika, was saam met ons. Die volgende dag het ons by Sidon anker gegooi, en Julius het heel welwillend teenoor Paulus opgetree en hom toegelaat om na sy vriende te gaan en om hulle sorg te geniet. Van daar af het ons weggeseil, en omdat die wind teen ons was, het ons aan die beskutte kant van Ciprus verbygevaar. Nadat ons die oop see langs Silisië en Pamfilië oorgesteek het, het ons by Mira in Lisië aangekom. Daar het die centurio 'n skip uit Aleksandrië gevind wat na Italië vaar, en ons aan boord laat gaan. Vir 'n hele paar dae het ons maar stadig gevaar, en met moeite naby Knidus gekom. Omdat die wind ons nie toegelaat het nie, het ons aan die beskutte kant van Kreta, by Salmone, verbygevaar. Nadat ons met moeite daarlangs verby beweeg het, het ons aangekom by 'n plek bekend as Mooi Hawens, wat naby die stad Lasea was. Aangesien heelwat tyd al verloop het, en dit gevaarlik geword het om te vaar – die Vasdag was immers reeds verby – het Paulus hulle gewaarsku deur vir hulle te sê: “Manne, ek sien dat die vaart skade en groot verlies sal meebring, nie alleen aan die vrag en die skip nie, maar ook aan ons eie lewens.” Maar die centurio het meer waarde geheg aan die stuurman en die skeepseienaar se oordeel as aan Paulus se woorde. Omdat die hawe nie geskik was vir oorwintering nie, het die meerderheid besluit om daarvandaan uit te vaar en om, indien moontlik, Feniks te bereik – 'n hawe in Kreta met 'n uitkyk op die suidweste en die noordweste – en daar te oorwinter.
HANDELINGE 27:1-12 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En toe daar besluit was dat ons na Italië moes vaar, het hulle Paulus en sekere ander gevangenes oorgegee aan een met die naam van Julius, 'n hoofman oor honderd uit die bende van Augustus. En ons het in 'n skip van Adramyttium geklim, ons het te water gelaat, bedoelende om langs die kusgebiede van Asië te vaar; ene Aristarchos, 'n Masedoniër van Tessalonika, by ons. En die volgende dag het ons by Sidon aangeraak. En Julius het Paulus hoflik gesmeek en hom die vryheid gegee om na sy vriende te gaan om homself te verkwik. En toe ons daarvandaan weggegaan het, het ons onder Ciprus deur gevaar, omdat die winde teenstrydig was. En toe ons oor die see van Cilicië en Pamfilië gevaar het, het ons by Myra gekom, 'n stad van Licië. En daar het die hoofman oor honderd 'n skip van Alexandrië gevind wat na Italië vaar; en hy het ons daarin gesit. En toe ons baie dae stadig geseil het, en skaars teen Cnidus oorgekom het, terwyl die wind ons nie verdra het nie, het ons onder Kreta deur gevaar, teenoor Salmone; En, amper verby, kom hy by 'n plek wat genoem word Die mooi hawens; naby waar was die stad Lasea. En toe daar baie tyd deurgebring is, en toe die vaar nou gevaarlik was, omdat die vas nou reeds verby was, het Paulus hulle vermaan: En hy sê vir hulle: Menere, ek sien dat hierdie reis met seer en groot skade sal wees, nie net van die vrag en die skip nie, maar ook van ons lewens. Maar die hoofman oor honderd het meer geglo aan die eienaar en die eienaar van die skip as wat Paulus gesê het. En omdat die hawe nie geskik was om in te oorwinter nie, word die meeste aangeraai om ook daarvandaan te vertrek, as hulle op enige manier na Fenisië en daar sou oorwinter; wat 'n hawe van Kreta is, en lê na die suidweste en noordwes.
HANDELINGE 27:1-12 Die Boodskap (DB)
Nadat die reëlings klaar was vir die seereis na Italië waar Paulus voor die keiser moes gaan verskyn, is hy en ’n groep ander gevangenes in die sorg van ’n Romeinse kaptein genaamd Julius geplaas. Hy was ’n offisier in die keiserlike regiment. Ek, Lukas, en Aristargos, ’n gelowige uit Tessalonika in die Romeinse provinsie Masedonië, het Paulus vergesel. Ons het met ’n skip uit Adramittium gereis wat op pad was na ’n paar hawens in Asië. Die volgende dag het ons skip in Sidon aangekom. Julius, die Romeinse bevelvoerder, het Paulus toegelaat om gou ’n paar vriende daar te besoek. Van Sidon af het ons noordwaarts gereis. Ons het aan die onderkant van die eiland Siprus verbygevaar waar ons beskut was teen die sterk wind. Van daar af het ons al langs die kus van Silisië en Pamfilië af tot by Mira in Lisië gevaar. In Mira het ons op ’n ander skip geklim wat op pad was Italië toe. As gevolg van stormweer op die see het ons van daar af baie stadig gevaar. Uiteindelik het ons met ’n groot gesukkel tot regoor Knidus gekom. As gevolg van die sterk stormwind moes ons van roete verander. Ons het aan die beskutte kant van die eiland Kreta by Salmone verbygevaar. Toe ons uiteindelik daar verby is, het ons by ’n plek met die naam Mooi Hawens aangekom. Dit is naby die stad Lasea. As gevolg van die sterk stormwinde op die see het ons baie tyd verloor. Boonop was die winter net om die draai. Die vastyd wat net voor die Joodse Versoendag plaasgevind en wat altyd in die herfs geval het, was ook al verby. Van dan af was dit baie gevaarlik om op die see te vaar. Op ’n dag het Paulus almal op die skip gewaarsku: “Manne, daar wag ’n groot ramp op ons. Ek sien dat ons skip met vrag en al sal vergaan. Heelwat mense sal ook in die ramp omkom.” Die Romeinse offisier het toe vir die kaptein van die skip en vir die eienaar gaan vra wat om te doen. Hulle het vir hom gesê dat Mooi Hawens se hawe nie die regte plek was om tydens die winter oor te bly nie. Die offisier het hulle raad aanvaar en saam met die res van die bemanning besluit om verder te vaar. Hulle wou so gou moontlik by Feniks uitkom. Hierdie hawe, wat na die suidweste en na die noordweste met die see verbind is, was volgens hulle ’n meer geskikte plek om te oorwinter.
HANDELINGE 27:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe daar besluit is dat ons per skip Italië toe moes reis, het hulle Paulus en ’n paar ander gevangenes aan Julius, ’n offisier oor honderd man van die keiserlike regiment, oorhandig. Vir die vaart het ons aan boord gegaan van ’n skip van Adramittium wat by verskeie hawens van die provinsie Asië sou aandoen. Saam met ons was Aristargus, ’n Masedoniër van Tessalonika. Ons het die volgende dag in Sidon aangekom. Julius was tegemoetkomend teenoor Paulus, en het hom toegelaat om na sy vriende toe te gaan om hom te voorsien van wat hy nodig het. Ons het daarvandaan weggevaar en is aan die beskutte kant van Siprus verby omdat die winde teen ons was. Ons het al langs die kus van Silisië en Pamfilië gevaar tot by Mira in Lisië. Daar het die offisier ’n Aleksandrynse skip Italië toe gekry, en ons aan boord laat gaan. Ons het ’n klompie dae lank maar stadig kon vorder en met moeite naby Knidus gekom. Toe die wind te erg teen ons geraak het, het ons onder Kreta verbygevaar, verby Salmone. Ons het toe met moeite langs Kreta op gevaar en uiteindelik ’n plek met die naam Mooi Hawens bereik, naby die stad Lasea. Ons het taamlik baie tyd verloor, en dit het al gevaarlik vir skeepvaart geword, want die winter het begin aanbreek. Paulus waarsku hulle toe: “Manne, ek sien dat ons vaart gevaarlik gaan wees en dat daar nie net groot skade aan die vrag en die skip gaan kom nie, maar ook aan ons lewens.” Die Romeinse offisier het egter meer waarde geheg aan die opinie van die skeepskaptein en die skeepseienaar as aan Paulus se woorde. Die hawe was nie gerieflik om daar te oorwinter nie, en die meeste van die bemanning wou liewer daarvandaan wegvaar en Feniks probeer bereik om dáár te oorwinter. Feniks was ’n veilige hawe van Kreta omdat dit net na die suidwes- en noordweskant na die see toe oop was.