HANDELINGE 15:19-21
HANDELINGE 15:19-21 Bybel vir almal (ABA)
“Daarom dink ek dat ons dit nie moeilik moet maak vir die heidene wat verander en wat begin lewe soos God wil hê hulle moet lewe nie. Nee, ons moet vir hulle skryf om nie afgod-offervleis te eet nie. Hulle moet ook nie onsedelik lewe nie, hulle moenie iets eet wat verwurg is nie, en hulle moet ook nie bloed eet nie. Want van lank gelede af was daar in elke stad mense wat vir ander mense vertel het van die Wette van Moses. Daarom het hulle elke Sabbatdag in die sinagoges vir mense uit die Wette van Moses gelees.”
HANDELINGE 15:19-21 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Daarom oordeel ek dat ons die wat uit die heidene hulle tot God bekeer, nie moet bemoeilik nie, maar aan hulle skrywe dat hulle hul moet onthou van die dinge wat deur die afgode besoedel is en van hoerery en van wat verwurg is en van bloed. Want van die ou tyd af het Moses in elke stad diegene wat hom verkondig, terwyl hy elke sabbat in die sinagoges gelees word.
HANDELINGE 15:19-21 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daarom meen ek dat ons dit nie moeilik moet maak vir die heidene wat hulle tot God bekeer nie. Maar ons moet vir hulle skrywe om nie vleis te eet wat aan 'n afgod geoffer is nie, want dit is onrein; dat hulle onsedelikheid moet vermy, geen dier wat verwurg is, moet eet nie, en ook nie bloed nie. Hierdie voorskrifte van Moses word immers van ouds af in elke stad aan die mense voorgehou. Elke sabbatdag word dit in die sinagoges voorgelees.”
HANDELINGE 15:19-21 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“ Daarom oordeel ek dat ons dit nie moeilik moet maak vir hulle wat uit die heidendom na God draai nie, maar dat ons vir hulle moet skryf om weg te bly van dit wat deur afgode besoedel is, van hoerery, van wat verwurg is, en van bloed. Daar is tog van die vroegste geslagte af in elke dorp mense wat Moses verkondig en elke Sabbatdag in die •sinagoges voorlees.”
HANDELINGE 15:19-21 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Daarom is my vonnis dat ons hulle wat uit die heidene hulle tot God bekeer het, nie lastig val nie. Maar dat ons aan hulle skrywe dat hulle hulle moet onthou van besoedeling van afgode en van hoerery en van wat verwurg is en van bloed. Want Moses van ouds het in elke stad die wat Hom verkondig, terwyl hulle elke sabbatdag in die sinagoges gelees word.
HANDELINGE 15:19-21 Die Boodskap (DB)
“Daarom, vriende, voel ek dat ons dit nie moeilik moet maak vir mense uit ander volke wat hulle sondes laat staan en hulle tot God bekeer het nie. Al wat ons moet doen, is om ’n brief aan hulle te skryf waarin ons die volgende vir hulle sê: Bly weg van die afgode af. Moenie van die kos eet wat aan hulle gode geoffer is nie. “Moet julle nie skuldig maak aan seksuele sondes nie. “Moet ook nie vleis eet van diere wat verwurg is nie. En moenie bloed drink nie. Hierdie voorskrifte wat Moses vir ons gegee het, word immers nou al geslagte lank elke sabbat oor die hele wêreld heen geleer.”
HANDELINGE 15:19-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Daarom oordeel ek dat ons dit nie moeilik moet maak vir die gelowiges wat hulle uit die geledere van die nie-Jode tot God bekeer het nie. Ons moet egter vir hulle skryf om weg te bly van dinge wat deur afgode besoedel is, van seksuele sondes, asook van iets wat verwurg is, en van bloed. Julle weet mos: Moses het in elke stad al vir geslagte lank mense wat sy voorskrifte verkondig; elke Sabbatdag word sy boeke in die sinagoges voorgelees.”