HANDELINGE 10:44-48 - Compare All Versions
HANDELINGE 10:44-48 ABA (Bybel vir almal)
Terwyl Petrus nog besig was om hierdie dinge te sê, het die Heilige Gees gekom in al die mense wat geluister het na Petrus se boodskap. Die Joodse gelowiges wat saam met Petrus gekom het, het gehoor dat die mense in tale praat en hulle het gehoor dat die mense God prys. Die Joodse gelowiges was toe baie verbaas omdat God die Heilige Gees ook in heidene laat kom het. Petrus sê toe: “Niemand kan dit keer nie, hierdie mense mag met water gedoop word, want hulle het ook die Heilige Gees ontvang, soos ons.” Petrus het toe gesê dat Kornelius en al sy mense gedoop moet word in die Naam van Jesus Christus. Daarna het hulle vir Petrus gevra om nog 'n paar dae daar te bly.
HANDELINGE 10:44-48 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
En toe Petrus nog besig was om hierdie woorde te spreek, het die Heilige Gees op almal geval wat die woord gehoor het. En die gelowiges uit die besnydenis, almal wat saam met Petrus gekom het, was verbaas dat die gawe van die Heilige Gees ook op die heidene uitgestort is. Want hulle het gehoor hoe hulle in tale spreek en God groot maak. Toe het Petrus begin spreek: Niemand kan tog die water weer, dat hierdie mense, wat net soos ons die Heilige Gees ontvang het, nie gedoop word nie? En hy het beveel dat hulle gedoop moet word in die Naam van die Here. Toe het hulle hom gevra om nog 'n paar dae te bly.
HANDELINGE 10:44-48 AFR83 (Afrikaans 1983)
Terwyl Petrus nog praat, het die Heilige Gees op almal gekom wat na die woord geluister het. Toe die Joodse gelowiges wat saam met Petrus gekom het, hoor hoe die mense ongewone tale of klanke gebruik en God prys, was hulle baie verbaas dat die Heilige Gees as gawe uitgestort is ook op mense wat nie Jode is nie. En Petrus sê: “Hierdie mense het net soos ons die Heilige Gees ontvang. Wat kan dan verhinder dat hulle nou met water gedoop word?” Toe het hy beveel dat hulle in die Naam van Jesus Christus gedoop moet word. Daarna het hulle hom gevra om 'n paar dae by hulle te bly.
HANDELINGE 10:44-48 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Petrus was nog aan die woord, toe die Heilige Gees op almal wat na die toespraak luister, neerdaal. Die gelowiges uit die besnydenis, almal wat saam met •Petrus gekom het, was uiters verbaas dat die gawe van die Heilige Gees selfs op die heidene uitgestort is. Hulle het immers gehoor hoe hulle in tale spreek en God loof. Toe sê Petrus: “Niemand kan tog verhinder dat hierdie mense, wat net soos ons die Heilige Gees ontvang het, met water gedoop word nie?” En hy het opdrag gegee dat hulle in die Naam van Jesus •Christus gedoop word. Toe het hulle hom gevra om nog 'n paar dae aan te bly.
HANDELINGE 10:44-48 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
Terwyl Petrus nog hierdie woorde gespreek het, het die Heilige Gees op almal geval wat die woord gehoor het. En die gelowiges uit die besnydenis was verbaas, almal wat saam met Petrus gekom het, omdat die gawe van die Heilige Gees ook op die heidene uitgestort is. Want hulle het gehoor hoe hulle in tale spreek en God groot maak. Toe antwoord Petrus: Kan iemand water verbied, dat hulle nie gedoop word nie, wat die Heilige Gees ontvang het net soos ons? En hy het beveel dat hulle in die Naam van die Here gedoop moes word. Toe het hulle hom gevra om 'n langer tyd aan te bly.
HANDELINGE 10:44-48 DB (Die Boodskap)
Petrus was nog besig om te praat, toe kom die Heilige Gees oor almal wat na hom gesit en luister het. Die Joodse gelowiges wat saam met hom na Sesarea gekom het, was baie verbaas daaroor. Hulle kon nie glo dat God sy Heilige Gees oor mense uit ander volke laat kom nie. Tog het hulle dit nou met hulle eie oë gesien, en ook gehoor! Want hierdie mense het dadelik in ongewone tale begin praat en God se Naam grootgemaak. Terwyl dit gebeur, vra Petrus vir die ander gelowiges saam met hom: “Wie sal beswaar maak as hierdie mense gedoop word? Hulle het ook die Heilige Gees ontvang, net soos ons.” Petrus het toe beveel dat almal in Kornelius se huis gedoop moet word in die Naam van Jesus Christus. Daarna het hy nog ’n paar dae by Kornelius oorgebly.
HANDELINGE 10:44-48 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Terwyl Petrus nog hierdie dinge sê, het die Heilige Gees op almal gekom wat sy boodskap gehoor het. Die Joodse gelowiges wat saam met Petrus gekom het, was verbaas dat die Heilige Gees ook op nie-Jode as geskenk uitgestort is. Hulle het geen twyfel daaroor gehad nie, want hulle het hulle ongewone tale hoor praat, en hoe hulle God se grootheid besing. Petrus het toe gesê: “Wat kan verhinder dat hulle met water gedoop word noudat hulle net soos ons die Heilige Gees ontvang het?” Toe het hy beveel dat hulle in die Naam van Jesus Christus gedoop word. Daarna het hulle hom gevra om ’n paar dae daar te bly.