HANDELINGE 1:3-12

HANDELINGE 1:3-12 Bybel vir almal (ABA)

Nadat Jesus swaargekry en gesterf het, het Hy vir die apostels gewys dat Hy weer lewe. Hy het baie maal vir hulle bewys dat Hy weer lewe. Hy het 40 dae lank baie maal aan hulle verskyn en vir hulle vertel van God wat Koning is oor almal. Jesus het by die apostels gebly en Hy het vir hulle gesê hulle mag nie weggaan van Jerusalem nie. Hulle moes daar wag totdat alles gebeur het wat die Vader belowe het. Jesus het gesê: “Ek het al klaar vir julle vertel van hierdie belofte. Die belofte is: Johannes die Doper het julle met water gedoop, maar God sal julle met die Heilige Gees doop. Julle sal nie lank moet wag nie.” Toe die apostels weer bymekaar was, het hulle vir Jesus gevra: “Here, sal U nou vir Israel weer 'n sterk volk maak wat sy eie koning het?” Maar Jesus het vir hulle gesê: “Julle mag nie weet wanneer die Vader die dinge sal doen wat Hy graag wil doen nie. Net Hy kan besluit wanneer Hy dit sal doen. Maar julle sal krag kry wanneer die Heilige Gees in julle kom. Dan sal julle my getuies wees in Jerusalem, in die hele Judea en Samaria, en tot by die einde van die wêreld.” Nadat Jesus hierdie dinge gesê het, het God vir Jesus opgeneem na die hemel, terwyl die apostels gestaan en kyk het. En 'n wolk het vir Jesus toegemaak sodat hulle Hom nie meer kon sien nie. Terwyl Jesus weggegaan het en die apostels na die hemel gekyk het, het daar skielik twee manne by hulle gestaan, die manne het wit klere aangehad. Die manne het gesê: “Manne van Galilea, hoekom kyk julle so na die hemel? God het vir Jesus weggeneem na die hemel, maar dieselfde Jesus sal weer kom soos julle gesien het dat Hy weggaan na die hemel.” Die apostels was op die Olyf-berg, naby Jerusalem, so ver soos 'n mens op die Sabbatdag mag loop. Hulle het toe teruggegaan na Jerusalem.

HANDELINGE 1:3-12 Afrikaans 1983 (AFR83)

Ná sy dood het Hy aan hulle met baie onbetwisbare bewyse ook getoon dat Hy lewe. In die loop van veertig dae het Hy by verskeie geleenthede aan hulle verskyn en met hulle oor die dinge van die koninkryk van God gepraat. Terwyl Hy 'n keer saam met hulle aan tafel was, het Hy hulle beveel: “Moenie van Jerusalem af weggaan nie, maar bly wag op die gawe wat die Vader belowe het, soos julle van My gehoor het. Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal binne 'n paar dae met die Heilige Gees gedoop word.” Toe hulle 'n keer weer bymekaar was, het hulle vir Jesus gevra: “Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?” Hy het hulle geantwoord: “Dit is nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie. Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.” Nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien, en 'n wolk het Hom weggeneem, sodat hulle Hom nie langer kon sien nie. Terwyl Hy weggaan en hulle nog stip na die hemel kyk, het daar skielik twee mans in wit klere by hulle gestaan. Dié sê toe vir hulle: “Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het.” Daarna het hulle na Jerusalem toe teruggegaan van die berg af. Dit is die Olyfberg, vlak by die stad, 'n sabbatsreis ver.

HANDELINGE 1:3-12 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Aan hulle het Hy, ná sy lyding, deur talle tekens getoon dat Hy leef, toe Hy oor 'n tydperk van veertig dae aan hulle verskyn en met hulle oor die sake van die •koninkryk van God gepraat het. Terwyl Hy met hulle saamgeëet het, het Hy hulle beveel: “Moenie uit Jerusalem weggaan nie, maar bly wag op die Vader se belofte wat julle van My gehoor het. Want Johannes het wel met water gedoop, maar oor nie baie dae nie sal julle met die Heilige Gees gedoop word.” Toe hulle bymekaar was, het hulle Hom gevra: “Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?” Maar Hy het hulle geantwoord: “Dit is nie vir julle om die tye en spesifieke geleenthede te ken wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie. Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle moet my getuies wees in Jerusalem, in die hele Judea en Samaria, en tot aan die einde van die aarde.” Toe Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle toekyk, en 'n wolk het Hom uit hulle gesigsveld weggeneem. Terwyl hulle, soos Hy weggaan, stip na die hemel bly kyk, staan daar meteens twee mans in wit klere by hulle en vra: “Galileërs, waarom staan en staar julle na die hemel? Hierdie Jesus, wat van julle na die hemel weggeneem is, sal net so terugkom soos wat julle Hom na die hemel sien weggaan het. ” Daarna het hulle van die berg wat as die Olyfberg bekend staan en wat digby Jerusalem was, 'n Sabbatsreis ver, teruggekeer na Jerusalem.

HANDELINGE 1:3-12 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Aan wie hy ook na sy hartstog lewend getoon het deur baie onfeilbare bewyse, terwyl hy veertig dae lank daarvan gesien is, en gespreek het oor die dinge van die koninkryk van God. En toe hulle saam met hulle vergader het, het hy hulle bevel gegee om nie van Jerusalem af weg te gaan nie, maar te wag op die belofte van die Vader wat, sê Hy, julle van My gehoor het. Want Johannes het waarlik met water gedoop; maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word nie baie dae daarna nie. Toe hulle dan bymekaar was, het hulle Hom gevra en gesê: Here, sal U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer herstel? En Hy sê vir hulle: Dit kom julle nie toe om die tye of seisoene te weet wat die Vader in sy eie mag gestel het nie. Maar julle sal krag ontvang nadat die Heilige Gees oor julle gekom het; en julle sal getuies van My wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en in Samaria en tot aan die uiterste van die aarde. En toe Hy hierdie dinge gespreek het, terwyl hulle dit sien, is Hy opgeneem; en 'n wolk het hom voor hulle oë weggeneem. En terwyl hulle stip na die hemel kyk terwyl Hy opgaan, staan daar twee manne by hulle in wit klere; wat ook gesê het: Galilese manne, waarom staan julle en kyk na die hemel? hierdie selfde Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien opgaan het. Hulle het toe na Jerusalem teruggekeer van die berg wat genoem word Olyfberg, wat van Jerusalem af 'n sabbatsreis is.

HANDELINGE 1:3-12 Die Boodskap (DB)

Hy het gereeld met hulle oor God se nuwe wêreld gepraat. Eenkeer toe hulle almal so saam was, het Jesus vir hulle gesê: “Moenie uit Jerusalem weggaan nie. Bly daar totdat my Vader die belofte wat Hy aan julle gemaak het, waar laat word.Vroeër het Ek vir julle gesê dat Johannes die Doper julle met water doop, maar dat God julle binnekort met die Heilige Gees gaan doop. Dit is hierdie belofte waarop julle nog so ’n klein rukkie moet wag.” ’n Ander keer het een van die apostels vir Jesus gevra: “Here, sê asseblief vir ons, gaan U Israel nou weer tot sy vorige glorie herstel, soos in die dae toe ons nog ons eie koning gehad het?” Daarop het Jesus geantwoord: “Dit is vir God om oor hierdie dinge te besluit, nie vir julle nie. “Al wat julle hoef te weet, is dat God met sy groot krag in julle lewe sal werk wanneer die Heilige Gees na julle toe kom. Dan gaan julle oral oor My praat: hier in Jerusalem, maar ook in die hele Judea en Samaria. Ja, selfs tot aan die verste uithoeke van die wêreld.” Na hierdie woorde het Jesus van die Olyfberg af na die hemel teruggekeer. Terwyl die dissipels nog staan en kyk hoe Hy in die wolke verdwyn, het twee mans uit die hemel by hulle kom staan. Hulle het spierwit klere aangehad.Een van die mans vra toe vir die dissipels: “Hoekom staan julle so na die hemel en kyk? Dink julle dat julle nooit weer vir Jesus gaan sien nie? Hierdie selfde Jesus wat nou voor julle oë na sy hemelse woonplek toe vertrek het, sal op presies dieselfde manier na julle toe terugkom.” Die Olyfberg waar Jesus van sy dissipels afskeid geneem het, is sowat ’n kilometer van Jerusalem af.

HANDELINGE 1:3-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

In die loop van 40 dae na sy lydenstyd het Hy by verskeie geleenthede aan die apostels verskyn, en op baie maniere aan hulle bewys dat Hy regtig lewe. Hy het telkens met hulle oor die koningsheerskappy van God gepraat. ’n Keer toe hulle so saam was, het Hy aan hulle dié opdrag gegee: “Moenie Jerusalem verlaat voordat julle van die Vader ontvang het wat Hy belowe het nie. Julle onthou mos dat Ek julle vroeër daarvan vertel het: Johannes het met water gedoop, maar júlle sal binne ’n paar dae met die Heilige Gees gedoop word.” Toe hulle ’n keer weer bymekaar was, het die apostels Jesus aanhou vra: “Here, is dit nou die tyd dat U Israel weer ’n onafhanklike volk met ’n eie koning gaan maak?” “Die Vader bepaal hierdie datums,” het Hy geantwoord, “en die bedoeling is nie dat julle dit moet ken nie. Maar wanneer die Heilige Gees oor julle kom, sal julle krag ontvang en oral mense eerstehands van My vertel – in Jerusalem, oor die hele Judea, in Samaria, en tot in die uithoeke van die aarde.” Hy het dit gesê, en is toe in die hemelruim opgeneem terwyl hulle toekyk. Hy het in ’n wolk verdwyn. Toe Hy wegraak en hulle nog stip die hemelruim inkyk, het daar skielik twee mans in wit klere by hulle gestaan. Die twee mans sê toe: “Galilese manne, waarom staan julle na die hemel en kyk? Jesus is van julle af weggeneem die hemel in. Hy sal egter nét so terugkom soos julle Hom die hemel sien ingaan het!” Na hierdie gebeure het die apostels van die Olyfberg af na Jerusalem toe teruggestap, ’n afstand van net onder ’n kilometer.