2 TIMOTEUS 1:6-14

2 TIMOTEUS 1:6-14 Die Boodskap (DB)

Jy onthou mos dat God jou ’n baie spesiale gawe gegee het toe ek my hande op jou gelê het. Maak seker dat daardie gawe net al hoe sterker word. Die Heilige Gees, wat deur God aan ons gegee is, is nie lafhartig nie, maar sterk. Hy maak ons ook sterk, gee vir ons liefde vir ander en help ons om nie verkeerde dinge te doen nie. Moenie skaam wees om oor die Here te praat nie, net so min as wat jy skaam hoef te wees dat ek, as jou vriend, ter wille van Hom hier in die tronk sit. God sal vir jou die krag gee wat jy nodig het om die swaarkry wat Christenskap mag bring, saam met my te kan verdra. God het ons mos weer sy vriende gemaak en gevra om net vir Hom te leef. Hy het dit nie gedoen omdat ons so goed is of so ’n goeie lewe lei nie, maar Hy het self besluit om dit te doen omdat Hy so goed vir ons wil wees, al verdien ons dit nie regtig nie. God het nog voor die wêreld begin het al besluit om so goed te wees vir almal wat aan Christus Jesus se kant staan. Christus Jesus, wat vir ons ons saak met God regmaak, het aarde toe gekom en nou kan ons almal duidelik sien hoe goed God vir ons is. Christus Jesus het die dood wat so ’n houvas op ons almal gehad het, se mag kom breek. Hy het die pad na die ware lewe vir ons oopgemaak sodat ons geestelik vir ewig kan lewe. Dit is die goeie nuus wat Jesus vir ons gebring het. God het my aangestel en gestuur om hierdie goeie nuus vir almal te gaan vertel en aan hulle te verduidelik wat dit presies vir hulle beteken. Daarom sit ek nou ook hier in die tronk, maar moenie dink ek is skaam daaroor nie. Nee, ek weet mos op wie ek my vertroue stel. Ek twyfel nie een oomblik daaraan dat God self na alles sal kyk wat Hy vir my gegee het om te doen nie. Hy sal daarvoor sorg tot Christus Jesus weer kom. Jy onthou seker nog hoe ons oor al die dinge van die Here gepraat het. As jy oor iets wonder, dink terug daaraan en laat jou lei deur wat ek gesê het. Vertrou op die Here en wees lojaal teenoor Hom en almal wat Syne is. Kyk mooi na al hierdie pragtige dinge wat God vir jou gegee het. Die Heilige Gees wat in elkeen van ons is, sal jou help om dit goed op te pas.

2 TIMOTEUS 1:6-14 Bybel vir almal (ABA)

Daarom sê ek jy moet onthou dat God 'n genadegawe vir jou gegee het. Hy het dit vir jou gegee toe ek my hande op jou gesit het. Jy moet onthou om daardie genadegawe altyd weer lewendig te laat word, soos 'n vuur wat weer lewendig word wanneer jy dit blaas. God het die Heilige Gees vir ons gegee, en daarom is ons nie bang nie. Nee, die Heilige Gees maak ons sterk en help ons om lief te wees vir mense en om reg te besluit wat ons moet doen. Jy moenie skaam wees om vir mense te vertel van ons Here nie. En ook, jy moenie skaam wees oor my wat in die tronk is omdat ek aan die Here behoort nie. Nee, jy moet saam met my swaarkry wanneer jy die goeie boodskap vir mense bring, want God sal vir jou die krag gee om dit te doen. Toe God ons gered en gekies het, het Hy ons gewy om aan Hom te behoort. Hy het dit gedoen, maar nie omdat óns iets gedoen het nie. Nee, Hy het ons gered omdat Hy self besluit het om genadig te wees vir ons. Voordat die tyd begin het, het God besluit dat ons aan Christus Jesus moet behoort. En nou het God dit vir ons gewys sodat ons dit self kon sien. Christus Jesus het gekom, Hy is die Een wat ons red. Hy het die dood heeltemal oorwin toe Hy die goeie boodskap gebring het, die goeie boodskap wat duidelik vir ons wys wat die lewe is wat nooit sal ophou nie. God het my gekies en aangestel om hierdie goeie boodskap te gaan preek en om 'n apostel te wees en vir die gelowiges te leer. Dit is hoekom ek nou swaarkry. Maar ek is nie skaam daaroor nie, want ek weet in wie ek geglo het en nog altyd glo, en ek is baie seker dat God die krag het om dit wat Hy vir my gegee het, goed op te pas tot op daardie dag wanneer Christus weer kom. Jy het gehoor hoe ek vir mense die regte dinge geleer het. Dit moet vir jou 'n voorbeeld wees hoe jy vir mense moet leer, en jy moet aanhou om in Christus Jesus te glo en om lief te wees vir mense. God het vir jou dinge gegee wat baie goed is, jy moet dit goed oppas. Die Heilige Gees wat in ons woon, sal jou help om dit te doen.

2 TIMOTEUS 1:6-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

Om hierdie rede herinner ek jou daaraan dat jy die genadegawe wat God jou gegee het toe ek jou die hande opgelê het, soos 'n vuur weer moet aanblaas. Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing. Jy moenie skaam wees om die boodskap van die Here te verkondig nie; en moet jou ook nie skaam vir my wat om sy ontwil 'n gevangene is nie. Inteendeel, dra jou deel van die ontberings vir die evangelie met die krag wat God jou gee. Hy het ons gered en ons geroep om aan Hom toegewy te wees. Dit het Hy gedoen, nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en die genade wat Hy van ewigheid af in Christus Jesus aan ons geskenk het. Hierdie genade is nou aan ons geopenbaar deur die koms van ons Verlosser, Christus Jesus: Hy het die mag van die dood gebreek en deur die evangelie die onverganklike lewe aan die lig gebring. Van hierdie evangelie het Hy my aangestel as prediker en apostel en leraar. Om dié rede ly ek ook hierdie dinge. Maar dit skrik my nie af nie, want ek weet op wie ek vertrou, en ek is daarvan oortuig dat Hy magtig is om wat Hy aan my toevertrou het, tot op die dag dat Hy weer kom, in stand te hou. Neem die woorde wat jy van my gehoor het, as voorbeeld van gesonde verkondiging en volg dit na in die geloof en liefde wat ons in Christus Jesus het. Wat aan jou toevertrou is, is goed. Bewaar dit deur die Heilige Gees wat in ons woon.

2 TIMOTEUS 1:6-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Dit is waarom ek jou daaraan herinner om die geestelike gawe, wat God jou gegee het toe ek jou die hande opgelê het, soos ’n vuur aan te blaas. Want God het ons nie ’n gees van lafhartigheid gegee nie, maar van krag, liefde en selfbeheersing. Jy moet dus nooit skaam wees om van ons Here te getuig nie. En moet jou ook nie vir my skaam nie, al is ek ook in die tronk ter wille van Christus. Met die krag wat God jou gee, moet jy gereed wees om saam met my vir die uitdra van die Goeie Nuus te ly. Dit is God wat ons verlos en gekies het om ’n toegewyde lewe te lei. Hy het dit gedoen, nie omdat ons dit verdien het nie, maar omdat dit sy plan was lank voor die begin van die wêreld, naamlik om sy genade aan ons te bewys deur Christus Jesus. En nou het Hy dit alles aan ons duidelik gemaak deur die koms van Christus Jesus, ons Verlosser, wat die mag van die dood verbreek het en aan ons, deur die Goeie Nuus, die weg gewys het na die onverganklike lewe. En God het my gekies om ’n prediker te wees, ’n apostel en ’n leermeester van dié Nuus. Dit is waarom ek hier in die tronk ly. Maar ek is nie skaam daaroor nie, want ek ken die Een op wie ek vertrou en ek is seker dat Hy sal bewaar wat Hy aan my toevertrou het, tot op die dag van sy koms. Hou vas aan die maatstaf van gesonde lering wat jy van my geleer het. En onthou om te lewe in die geloof en liefde wat jy in Christus Jesus het. Bewaar met die hulp van die Heilige Gees wat in ons woon, die kosbare skat wat aan jou toevertrou is.

2 TIMOTEUS 1:6-14

2 TIMOTEUS 1:6-14 AFR832 TIMOTEUS 1:6-14 AFR832 TIMOTEUS 1:6-14 AFR832 TIMOTEUS 1:6-14 AFR83

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid