2 TESSALONISENSE 3:10-12 - Compare All Versions

2 TESSALONISENSE 3:10-12 AFR83 (Afrikaans 1983)

Toe ons nog by julle was, het ons vir julle uitdruklik gesê: “As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie.” Ons sê dit omdat ons verneem dat daar mense by julle is wat leeglê, wat self nie werk nie en hulle net met ander se sake bemoei. Sulke mense beveel en gebied ons op gesag van die Here Jesus Christus dat hulle hulle aandag by hulle werk moet bepaal en hulle eie brood verdien.

2 TESSALONISENSE 3:10-12 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

Want ook toe ons by julle was, het ons julle dit altyd beveel: as iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie. Want ons hoor dat sommige onder julle onordelik wandel, dat hulle nie werk nie, maar bemoeisiek is. Sulke mense beveel en vermaan ons deur onse Here Jesus Christus, om rustig te werk en hulle eie brood te eet.

2 TESSALONISENSE 3:10-12 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Toe ons by julle was, het ons uitdruklik vir julle gesê: As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie. Ons sê dit omdat ons hoor dat sommige mense leeglê; dat hulle nie werk nie en hulle met ander persone se sake bemoei. In die Naam van die Here Jesus Christus beveel ons sulke mense, ja, ons druk hulle dit op die hart, dat hulle rustig hulle werk moet verrig en so hulle eie brood moet verdien.

2 TESSALONISENSE 3:10-12 DB (Die Boodskap)

Mag ek julle ook herinner aan ’n belangrike ding wat ek vir julle gesê het toe ek by julle was: “As iemand te lui is om te werk, moet ander gelowiges nie vir hom sorg nie.” Ek sê hierdie dinge omdat ek gehoor het dat ’n paar gelowiges daar by julle die spoor heeltemal byster geraak het. Hulle is te sleg om te werk, en nou verwag hulle van die ander om vir hulle kos aan te dra. Boonop steek hulle hul neuse in ander se sake. Ek sê reguit vir al daardie mense, nee, ek beveel hulle in die Naam van die Here Jesus Christus: begin dadelik weer werk. Hulle moet van nou af self vir hulle gesinne sorg.

2 TESSALONISENSE 3:10-12 ABA (Bybel vir almal)

Toe ons by julle was, het ons duidelik vir julle gesê dat as iemand nie wil werk nie, dan moet hy ook nie eet nie. Ons hoor dat party gelowiges by julle baie lui is. Hulle wil nie werk nie, maar hulle pla altyd vir ander mense. Die Here Jesus Christus het vir my gesê ons moet vir daardie gelowiges hard en duidelik sê dat hulle moet ophou om altyd ander mense te pla, en dat hulle vir hulleself moet sorg.

2 TESSALONISENSE 3:10-12 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Want juis toe ons by julle was, het ons julle steeds beveel dat iemand wat nie wil werk nie, ook nie behoort te eet nie. Want ons het gehoor dat sommige van julle onordelik optree, en nie wil werk nie, maar oral inmeng. Ons raai sulke mense aan, ja, deur die Here Jesus Christus spoor ons hulle aan, om hulle dagtaak kalm te verrig, en so hulle eie brood te verdien.

2 TESSALONISENSE 3:10-12 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

Want ook toe ons by julle was, het ons julle dit beveel: as iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie. Want ons hoor dat daar sommige is wat onordelik onder julle wandel en glad nie werk nie, maar besig is. En hulle wat sulkes is, beveel en vermaan ons deur onse Here Jesus Christus dat hulle met stilte werk en hul eie brood eet.