Slaan direk na inhoud oor

2 TESSALONISENSE 2:2 – Vergelyk alle weergawes

2 TESSALONISENSE 2:2 AFR83 (Afrikaans 1983)

Moenie so gou verward raak of van stryk gebring word as iemand vir julle sou sê die dag van die Here is al hier nie – of dit nou vir julle gesê word in 'n profetiese uitspraak of in 'n preek of in 'n brief wat sogenaamd van ons afkomstig sou wees.

2 TESSALONISENSE 2:2 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

om nie gou julle verstand te verloor of verskrik te word nie — deur gees of deur woord of deur brief wat van ons afkomstig sou wees — asof die dag van Christus al daar is.

2 TESSALONISENSE 2:2 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Moenie so gou verward raak of van stryk gebring word deur ’n profesie of ’n uitspraak of ’n brief wat sogenaamd van ons afkomstig sou wees en wat beweer dat die Dag van die Here alreeds gekom het nie.

2 TESSALONISENSE 2:2 DB (Die Boodskap)

Ek wil julle baie mooi vra om al julle vrese en twyfel oor die wederkoms te laat staan. Party van julle het al skoon moed verloor. Ander weer is doodbang. Dit is omdat julle alles vir soetkoek opeet wat mense vir julle oor die wederkoms vertel, veral hulle woorde dat hierdie groot dag op hande is. Sekere profete en predikers het julle skoon op hol. En asof dit nie erg genoeg is nie, is julle verder deurmekaar gemaak deur ’n vals brief wat in my naam daar by julle aangekom het.

2 TESSALONISENSE 2:2 ABA (Bybel vir almal)

Julle moenie dat mense julle hieroor deurmekaar maak of bekommerd maak nie. Want daar is mense wat sê dat die dag van die Here al klaar gekom het. Hierdie mense sê dat die dinge wat hulle dink, van die Here self kom, of hulle sê iemand het dit vir hulle geleer, of hulle sê hulle het 'n brief van ons gekry wat so leer.

2 TESSALONISENSE 2:2 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

om nie skielik kop te verloor en verontrus te word deur 'n geestesuitspraak of 'n woord of 'n brief, wat skynbaar van ons af sou kom, en waarvolgens die dag van die Here reeds aangebreek het nie.

2 TESSALONISENSE 2:2 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

dat julle nie gou in gedagtes geskud of verskrik word nie, nie deur gees of deur woord of deur brief soos van ons af nie, aangesien die dag van Christus naby is.