2 SAMUEL 7:8-17

2 SAMUEL 7:8-17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

So moet jy dan nou aan my kneg, aan Dawid, sê: So spreek die HERE van die leërskare: Ek self het jou geneem uit die weiveld agter die skape weg, om 'n vors te wees oor my volk, oor Israel; en Ek was met jou oral waar jy gegaan het, en het al jou vyande voor jou uitgeroei; en Ek sal vir jou 'n groot naam maak soos die naam van die grotes wat op die aarde is; en Ek sal vir my volk Israel 'n plek bestel en hom plant, dat hy op sy eie plek kan woon en nie langer verontrus word nie. En kwaaddoeners sal hom nie meer verdruk soos vroeër nie, naamlik van die dag af dat Ek rigters oor my volk Israel aangestel het. Maar Ek sal jou rus gee van al jou vyande; en die HERE gee jou te kenne dat die HERE vir jou 'n huis sal stig. As jou dae vol is en jy met jou vaders ontslaap het, sal Ek jou nakomeling wat uit jou liggaam sal voortkom, laat optree en sy koningskap bevestig. Hý sal vir my Naam 'n huis bou, en Ek sal sy koninklike troon bevestig tot in ewigheid. Ek sal vir hom 'n vader wees, en hy sal vir My 'n seun wees; sodat as hy verkeerd handel, Ek hom sal straf met 'n menslike roede en met slae van mensekinders. Maar my goedertierenheid sal van hom nie wyk nie, soos Ek dit onttrek het aan Saul wat Ek voor jou aangesig verwyder het. En jou huis en jou koningskap sal bestendig wees tot in ewigheid voor jou; jou troon sal vasstaan tot in ewigheid. Volgens al hierdie woorde en volgens hierdie hele gesig, so het Natan met Dawid gespreek.

2 SAMUEL 7:8-17 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Daarom, so moet jy sê vir my dienskneg, vir Dawid, ‘So sê die HERE, Heerser oor alle magte: “Ek is die Een wat jou uit die weiveld agter die kleinvee weggeneem het om 'n leier te wees oor my volk Israel. Ek was met jou oral waar jy gegaan het, en Ek het al jou vyande voor jou uitgeroei. Ek sal vir jou 'n groot naam maak soos die naam van die grotes wat op aarde is. Ek sal vir my volk, vir Israel, 'n plek aanwys; Ek sal hom plant, en hy sal op sy plek woon en nie weer beef van angs nie. Skurke sal hom nie meer verdruk soos vroeër nie, soos van die dag af dat Ek rigters oor my volk Israel aangestel het. En Ek sal jou rus gee van al jou vyande. “ ‘ “Die HERE maak aan jou bekend dat Hy, die HERE, 'n huis vir jou sal oprig. Wanneer jou tyd aangebreek het en jy by jou voorvaders gaan rus, sal Ek jou nakomeling ná jou, hy wat uit jou liggaam sal voortkom, na vore laat tree, en Ek sal sy koningskap vestig. Hy is die een wat vir my Naam 'n huis sal bou, en Ek sal sy koninklike troon vir altyd laat vasstaan. Ek sal vir hom 'n vader wees, en hy sal vir My 'n seun wees. Daarom, wanneer hy afdwaal, sal Ek hom straf met 'n stok wat manne gebruik en met houe wat mense toedien. Maar my troue liefde sal nie van hom wyk nie, soos wat Ek dit aan Saul onttrek het wat Ek voor jou verwyder het. Jou huis en jou koningskap sal vir altyd bestendig wees voor My, jou troon sal vir altyd in stand bly.” ’ ” Ooreenkomstig al hierdie woorde en hierdie hele onthulling, presies so het Natan die boodskap aan Dawid oorgedra.

2 SAMUEL 7:8-17 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Daarom moet jy dan nou vir my kneg Dawid sê: So spreek die HERE van die leërskare: Ek het jou uit die skaapstal geneem, agter die skape af, om heerser te wees oor my volk, oor Israel. En Ek was met jou waar jy ook al gegaan het, en Ek het al jou vyande uit jou aangesig uitgeroei en vir jou 'n groot naam gemaak soos die naam van die groot manne wat op die aarde is. Verder sal Ek vir my volk Israel 'n plek aanwys en hulle plant, dat hulle in 'n plek van hul eie kan woon en nie meer wankel nie; en die kinders van goddeloosheid sal hulle nie meer verdruk soos tevore nie, En soos van die tyd af dat Ek beveel het dat regters oor my volk Israel moet wees, en Ek jou laat rus het van al jou vyande. Ook sê die HERE vir jou dat Hy vir jou 'n huis sal maak. En wanneer jou dae vervul is en jy met jou vaders ontslaap het, sal Ek jou nageslag ná jou laat opstaan, wat uit jou ingewande sal voortkom, en Ek sal sy koninkryk bevestig. Hy sal vir my Naam 'n huis bou, en Ek sal die troon van sy koninkryk bevestig tot in ewigheid. Ek sal sy vader wees, en hy sal my seun wees. As hy onreg doen, sal Ek hom tugtig met die roede van mense en met die slae van die mensekinders; Maar my goedertierenheid sal van hom nie wyk nie, soos Ek dit van Saul geneem het, wat Ek voor jou weggesit het. En jou huis en jou koninkryk sal vir ewig vasstaan voor jou; jou troon sal vir ewig vasstaan. Volgens al hierdie woorde en volgens al hierdie gesig, so het Natan met Dawid gespreek.