2 SAMUEL 7:1-7
2 SAMUEL 7:1-7 Bybel vir almal (ABA)
Die koning het in sy paleis gewoon. Die Here het hom laat rus. Nie een van sy vyande het nog oorlog gemaak teen hom nie. Die koning sê toe vir die profeet Natan: “Kyk, ék woon in 'n paleis van sederhout, maar die kis van God staan in 'n tent.” Natan het vir die koning gesê: “Jy mag alles doen wat jy wil doen, want die Here is by jou.” Maar daardie nag het Natan gehoor die Here sê vir hom: “Jy moet vir my dienaar Dawid gaan sê dat Ek sê: ‘Is dit jý wat vir My 'n tempel wil bou om in te woon? Ek vra dit, want Ek het nie in 'n tempel gewoon nie vandat Ek die Israeliete uit Egipte gebring het tot nou toe. Ek het saam met hulle rondgegaan in 'n tent of 'n tempel-tent. Ek het oral saam met die Israeliete gegaan, maar Ek het nooit gekla by een van die leiers wat Ek gekies en aangestel het om vir my volk Israel 'n herder te wees nie. Ek het nooit gevra dat julle vir My 'n tempel moet bou van sederhout nie.’
2 SAMUEL 7:1-7 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN terwyl die koning in sy huis woon, nadat die HERE hom rus gegee het van al sy vyande rondom, sê die koning vir die profeet Natan: Kyk tog, ék woon in 'n huis van sederhout, maar die ark van God woon binnekant 'n tentdoek. Toe sê Natan aan die koning: Gaan heen, doen alles wat in u hart is, want die HERE is met u. Maar in dieselfde nag kom die woord van die HERE tot Natan en sê: Gaan sê aan my kneg, aan Dawid: So spreek die HERE: Sou jý vir My 'n huis bou om in te woon? Ek het tog in geen huis gewoon van die dag af dat Ek die kinders van Israel uit Egipte laat optrek het tot vandag toe nie; maar Ek het rondgetrek in 'n tentwoning. Oral waar Ek onder al die kinders van Israel rondgetrek het, het Ek ooit 'n woord gespreek met een van die stamme van Israel, wat Ek aangestel het om my volk Israel op te pas, en gesê: Waarom bou julle nie vir My 'n huis van sederhout nie?
2 SAMUEL 7:1-7 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe koning Dawid in sy eie huis woon, nadat die Here hom rus gegee het van al sy vyande in die omgewing, sê hy vir die profeet Natan: “Kyk, ek woon in 'n huis wat met sederhout versier is, maar die ark van God staan in 'n tent.” Natan het die koning geantwoord: “Doen gerus alles wat u in gedagte het. Die Here is by u.” Dieselfde nag het daar egter iets gebeur: die woord van die Here het tot Natan gekom en vir hom gesê: “Gaan sê vir my dienaar Dawid: So sê die Here: Wil jy vir My 'n huis bou om in te woon? Vandat Ek die Israeliete uit Egipte laat trek het tot nou toe het Ek nog nooit in 'n huis gewoon nie. Ek het in tent en tabernakel rondgeswerf saam met al die Israeliete. Het Ek ooit vir een van die stamme wat Ek beveel het om die leiding van my volk Israel op hom te neem, gesê: ‘Waarom bou julle nie vir My 'n huis wat met sederhout versier is nie?’
2 SAMUEL 7:1-7 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe die koning gevestig was in sy paleis, en die HERE hom rus gegee het van al sy vyande rondom hom, het die koning vir Natan, die profeet, gesê: “Begryp tog, ek woon in 'n huis van sederhout, terwyl die ark van God in 'n tent gehuisves word.” Natan antwoord toe die koning: “Gaan doen alles wat u in gedagte het, want die HERE is met u.” Maar in daardie nag het dit gebeur – die woord van die HERE het tot Natan gekom: “Gaan sê vir my dienskneg, vir Dawid, ‘So sê die HERE: “Gaan jý vir My 'n huis bou om in te woon? Ek het mos nie in 'n huis gewoon vanaf die dag dat Ek die Israeliete laat optrek het uit Egipte tot vandag toe nie. Ek het altyd rondgetrek in 'n tent en 'n •tabernakel. Het Ek ooit, oral waar Ek rondgetrek het onder al die Israeliete, met een van die stamme van Israel, wat Ek aangestel het om my volk Israel op te pas, die saak aangeroer en gesê, ‘Waarom het julle nie vir My 'n huis van sederhout gebou nie?’ ”
2 SAMUEL 7:1-7 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En toe die koning in sy huis sit en die HERE hom rus gegee het rondom van al sy vyande; Die koning het vir die profeet Natan gesê: Kyk tog, ek woon in 'n huis van sederhout, maar die ark van God woon binne gordyne. Toe sê Natan aan die koning: Gaan doen alles wat in jou hart is; want die HERE is met jou. En daardie nag het die woord van die HERE tot Natan gekom en gesê: Gaan sê vir my dienaar Dawid: So spreek die HERE: Sal jy vir My 'n huis bou om in te woon? Ek het in geen huis gewoon van die tyd af dat Ek die kinders van Israel uit Egipte laat optrek het tot vandag toe nie, maar in 'n tent en in 'n tabernakel gewandel het. In al die plekke waarin Ek met al die kinders van Israel gewandel het, het Ek 'n woord gespreek met enige van die stamme van Israel wat Ek beveel het om my volk Israel op te pas, en gesê: Waarom bou julle nie vir My 'n huis van seder nie?
2 SAMUEL 7:1-7 Die Boodskap (DB)
Dawid het lekker in sy paleis gebly. Niemand het hom gepla nie, want die Here het al die vyande in die lande om hom op hulle plek gehou. Eendag sê die koning vir Natan, die profeet: “Kyk hier, ek bly in ’n paleis wat met duur hout gebou is, maar die ark van God staan nog al die tyd in ’n tent.” Daarop antwoord Natan: “Doen wat u graag wil doen. Die Here sal u help.” Maar daardie nag het die Here met Natan gepraat: “Gaan sê vir Dawid Ek het gesê: ‘Jy wil vir My ’n huis bou om in te bly; maar Ek het nog nooit in ’n huis gebly nie, van daardie tyd af wat Ek die Israeliete laat wegtrek het uit Egipte tot nou toe. Oral waar Ek gegaan het, was my woonplek ’n tent. Ek het nooit, op enige plek waar Ek by die Israeliete was, iets oor ’n huis gesê nie. Ek het nooit vir enige van die leiers wat Ek aangestel het om vir my volk Israel te sorg, gevra hoekom bou hulle nie vir My ’n huis met duur hout nie.’
2 SAMUEL 7:1-7 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe Dawid in sy paleis gevestig was en die HERE hom rus gegee het van al sy vyande om hom, het Dawid die profeet Natan ontbied. “Kyk!” sê Dawid. “Hier woon ek in ’n pragtige paleis van sederhout, maar die ark van God staan in ’n tent!” Natan het die koning geantwoord: “Doen gerus wat u in gedagte het, want die HERE is met u.” Maar daardie selfde nag het die HERE vir Natan gesê: “Gaan sê vir my dienaar Dawid: ‘Dit is wat die HERE sê: Wil jy vir My ’n huis bou om in te woon? Vandat Ek die Israeliete uit Egipte gelei het tot nou toe het Ek nog nooit in ’n huis gewoon nie. My huis was ’n tentwoning wat van plek tot plek verskuif het. Ek het al die tyd saam met Israel getrek. Ek het nooit enigeen van die leiers wat Ek beveel het om die volk Israel te lei, gevra: Hoekom bou julle nie vir My ’n huis van sederhout nie?’