2 SAMUEL 20:1-3 - Compare All Versions

2 SAMUEL 20:1-3 ABA (Bybel vir almal)

Daar was 'n slegte man, sy naam was Seba. Hy was 'n seun van Bikri. Hy was van die Benjamin-stam. Hy het die ramshoring geblaas en gesê: “Ons is nie van Dawid se mense nie, ons behoort nie aan die seun van Isai nie. Ons is die mense van Israel, ons moet teruggaan na ons huise.” Al die manne van Israel het toe weggegaan van Dawid en hulle het saam met Seba seun van Bikri gegaan. Maar die manne van Juda het by hulle koning gebly, van die Jordaan-rivier tot in Jerusalem. Koning Dawid het voorheen tien byvroue in Jerusalem laat bly om die paleis op te pas. Toe hy nou by sy paleis kom, het hy die byvroue apart in 'n huis laat bly, en hy het hulle daar laat oppas. Hy het aangehou om vir hulle te sorg, maar hy het nie by hulle geslaap nie. Hulle het gebly in 'n huis wat toegesluit was en hulle het soos weduwees gelewe totdat hulle gesterf het.

2 SAMUEL 20:1-3 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

EN daar was by geval 'n deugniet met die naam van Seba, die seun van Bigri, 'n Benjaminiet — hy het op die ramshoring geblaas en gesê: Ons het geen deel aan Dawid, en ons het geen erfdeel aan die seun van Ísai nie: elkeen na sy tente toe, o Israel! Daarop trek al die manne van Israel van Dawid af weg, agter Seba, die seun van Bigri, aan; maar die manne van Juda het hulle koning aangehang van die Jordaan af tot by Jerusalem. Toe Dawid in sy huis in Jerusalem kom, het die koning die tien vroue, die byvroue wat hy laat agterbly het om die huis op te pas, geneem en in 'n bewaakte huis gesit en hulle onderhou, maar nie by hulle ingegaan nie; en hulle was opgesluit tot die dag van hulle dood as lewenslange weduwees.

2 SAMUEL 20:1-3 AFR83 (Afrikaans 1983)

Daar was 'n opruier met die naam Seba seun van Bikri, 'n Benjaminiet. Hy het die ramshoring geblaas en gesê: “Dawid is nie deel van ons nie; ons het niks aan Isai se seun nie. Elkeen terug na sy woonplek toe, Israel!” Toe het die hele Israel weggetrek van Dawid af agter Seba seun van Bikri aan. Maar Juda het hulle koning van die Jordaan af Jerusalem toe gevolg. Toe koning Dawid in Jerusalem in sy paleis kom, het hy die tien vrouens, die byvrouens, wat hy agtergelaat het om die paleis op te pas, in 'n bewaakte huis gesit. Hy het hulle onderhou, maar nie by hulle geslaap nie, en hulle was tot met hulle dood afgesonder en lewenslank feitlik weduwees.

2 SAMUEL 20:1-3 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

'n Opstoker met die naam Seba, seun van Bigri, 'n Benjaminiet, was toevallig daar. Hy het op die •ramshoring geblaas en gesê: “Ons het geen aanspraak op Dawid, geen erfdeel in die seun van Isai nie; elkeen na sy tente toe, Israel!” Al die manne van Israel het toe opgetrek, weg van Dawid af, agter Seba, seun van Bigri, aan. Maar die manne van Juda was aan hulle koning se sy van die Jordaan af tot by Jerusalem. Toe Dawid by sy paleis in Jerusalem aankom, het die koning die tien vroue, die byvroue wat hy agtergelaat het om die paleis op te pas, geneem en hulle geplaas in 'n plek van veilige bewaring. Hy het aan hulle kos voorsien, maar hy het nie by hulle ingegaan nie. Hulle was afgesonder tot die dag van hulle dood – 'n lewenslange weduweeskap.

2 SAMUEL 20:1-3 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

En daar was toevallig 'n man van Belial met die naam van Seba, die seun van Bigri, 'n Benjaminiet; en hy het op die basuin geblaas en gesê: Ons het geen deel aan Dawid nie, en ons het geen erfdeel aan die seun van Isai nie en elkeen na sy tente, o Israel! En elke man van Israel het van Dawid af opgetrek en Skeba, die seun van Bigri, gevolg; maar die manne van Juda het by hulle koning aankleef, van die Jordaan af tot by Jerusalem. En Dawid het by sy huis in Jerusalem aangekom; en die koning het die tien vroue van sy byvroue wat hy agtergelaat het om die huis te bewaak, geneem en hulle in bewaring gesit en hulle versorg, maar nie by hulle ingegaan nie. Hulle was toe opgesluit tot die dag van hulle dood toe, terwyl hulle in weduweeskap gelewe het.

2 SAMUEL 20:1-3 DB (Die Boodskap)

’n Man met die naam Seba was toevallig in Gilgal. Hy was Bikri se seun uit die stam van Benjamin. Hy was ’n regte niksnut. Hy het op ’n ramshoring geblaas en geskree: “Ons het niks met Dawid te doen nie! Die seun van Isai is nie van ons mense nie! Kom ons gaan huis toe, Israeliete!” Al die Israeliete het vir Dawid gelos en is saam met Seba, seun van Bikri. Maar die mans van Juda het by hulle koning gebly en saam met hom gegaan van die Jordaanrivier af tot by Jerusalem. Toe Dawid in sy paleis in Jerusalem kom, het hy die tien haremvroue wat hy daar gelos het om die paleis op te pas gevat en hulle eenkant in ’n huis laat oppas. Hy het vir hulle gesorg, maar hy het nooit weer by hulle geslaap nie. Solank hulle geleef het, het hulle so eenkant gebly. Hulle was eintlik maar so te sê weduwees.

2 SAMUEL 20:1-3 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

’n Moeilikheidmaker met die naam Seba seun van Bikri, ’n Benjaminiet, was ook daar. Hy het op die ramshoring geblaas en gesê: “Ons het niks te doen met Dawid nie. Ons wil geen aandeel hê in hierdie seun van Isai nie. Komaan, manne van Israel, laat ons almal huis toe gaan!” Toe het al die manne van Israel Dawid verlaat en vir Seba gevolg. Maar die manskappe van Juda het getrou gebly aan hulle koning en hom van die Jordaanrivier af na Jerusalem toe begelei. Toe die koning by sy paleis in Jerusalem aankom, beveel hy dat die tien byvroue wat hy agtergelaat het om die paleis te versorg, in afsondering geplaas moes word. Hy het hulle versorg, maar hy het nooit weer by hulle geslaap nie. Tot die dag van hulle dood was hulle afgesonder en het soos weduwees gelewe.