2 SAMUEL 19:9-14 - Compare All Versions
2 SAMUEL 19:9-14 ABA (Bybel vir almal)
Al die mense van die Israel-stamme het met mekaar begin praat. Hulle het gesê: “Die koning het ons gered van ons vyande, hy het ons vrygemaak van die Filistyne, en nou het hy uit die land gevlug oor Absalom. Ons het vir Absalom gesalf om oor ons te regeer, maar Absalom het gesterf in die oorlog. En nou, hoekom doen julle niks om die koning te laat terugkom nie?” Maar koning Dawid het 'n boodskap gestuur vir die priesters Sadok en Abjatar. Hy het vir hulle laat weet: “Julle moet praat met die leiers van Juda en julle moet vir hulle sê: Die koning en sy huisgesin het gehoor wat die Israel-mense praat. Hoekom wil julle die laaste mense wees wat die koning wil laat terugkom na sy huis? Julle is my eie familie, hoekom is julle die laaste mense wat die koning wil laat terugkom? En julle moet vir Amasa sê: Ek en jy is familie, ek bid dat God my sal help sodat jy altyd die hoof van die leër sal wees. Joab sal nie weer die hoof van die leër wees nie.” So het Dawid gepraat totdat al die manne van Juda besluit het dat hy weer hulle koning moet wees. En hulle het vir die koning laat weet: “Jy moet terugkom, jy en al jou manne.”
2 SAMUEL 19:9-14 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
EN die hele volk onder al die stamme van Israel het onder mekaar getwis en gesê: Die koning het ons verlos uit die hand van ons vyande, en hý het ons gered uit die hand van die Filistyne, en nou moes hy die land uit vlug vir Absalom; en Absalom wat ons oor ons gesalf het, het in die geveg gesneuwel: waarom is julle dan nou nalatig om die koning terug te bring? Toe het koning Dawid gestuur na Sadok en Ábjatar, die priesters, om te sê: Spreek met die oudstes van Juda en vra: Waarom sou julle die laastes wees om die koning terug te bring na sy huis? (Die gesegde van die hele Israel het naamlik die koning in sy huis bereik.) Julle is my broers; my been en my vlees is julle: waarom sou julle dan die laastes wees om die koning terug te bring? En vir Amása moet julle sê: Is jy nie my been en my vlees nie? Mag God so aan my doen en so daaraan toedoen as jy nie al die dae leërowerste voor my in die plek van Joab sal wees nie! So het hy dan die hart van al die manne van Juda sonder uitsondering geneig, sodat hulle die koning laat weet het: Kom terug, u met al u dienaars.
2 SAMUEL 19:9-14 AFR83 (Afrikaans 1983)
Daarna het die manne van die Israelitiese stamme onder mekaar begin praat: “Dit is die kóning deur wie ons gered is uit die mag van ons vyande; hý het ons bevry uit die greep van die Filistyne, en nou moes hy die land uit vlug voor Absalom. Buitendien is Absalom vir wie ons tot koning gesalf het, in die geveg dood. Waarom talm julle nog om die koning te laat terugkom?” Hierdie gevoel onder Israel het by Dawid en sy mense uitgekom. Daarna het die koning vir die priesters, Sadok en Abjatar, laat weet: “Praat met die leiers van Juda en vra: Waarom moet julle nou die laaste wees om die koning na sy paleis toe te laat terugkom? Julle is my broers, ja, julle is my mense. Waarom moet julle nou die laaste wees om die koning te laat terugkom? Sê vir Amasa ek sê: Is jy nie my eie bloedfamilie nie? Mag God my om die lewe bring as jy nie vir altyd die hoof van my leër word in die plek van Joab nie.” So het hy die hele Juda soos een man na sy kant toe oorgehaal, en hulle het die koning laat weet: “Kom terug! U en al u manskappe!”
2 SAMUEL 19:9-14 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Al die manskappe in al die stamme van Israel het aan die stry geraak en gesê: “Die koning het ons gered uit die greep van ons vyande; ja, hy is die een wat ons laat ontsnap het uit die greep van die Filistyne. Maar nou het hy oor Absalom landuit gevlug, en Absalom, vir wie ons as koning oor ons gesalf het, is dood in die oorlog. Waarom swyg julle dan nou oor die terugbring van die koning?” Koning Dawid stuur toe 'n boodskap na die priesters Sadok en Abjatar om te laat weet: “Spreek die oudstes van Juda aan en sê, ‘Waarom moet julle die laaste wees om die koning na sy paleis terug te bring?’ ” Die gesprek van die hele Israel het immers die koning in sy verblyfplek bereik. Hy het gesê: “ ‘Julle is my broers, my bloedfamilie. Waarom moet julle die laaste wees om die koning terug te bring?’ En vir Amasa moet julle sê, ‘Is jy nie my bloedfamilie nie? Mag God my swaar straf as jy nie vir goed in my diens die bevelvoerder van die leër word in die plek van Joab nie!’ ” So het hy sonder uitsondering die harte gewen van al die manne van Juda. Hulle het toe vir die koning 'n boodskap gestuur: “Kom terug, u en al u dienaars!”
2 SAMUEL 19:9-14 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
En die hele volk het twis gehad onder al die stamme van Israel en gesê: Die koning het ons verlos uit die hand van ons vyande, en hy het ons verlos uit die hand van die Filistyne; en nou het hy vir Absalom uit die land gevlug. En Absalom, wat ons oor ons gesalf het, is dood in die geveg. Waarom spreek julle dan nie 'n woord om die koning terug te bring nie? En koning Dawid het na Sadok en die priesters Abjatar gestuur om te sê: Spreek met die oudstes van Juda en sê: Waarom is julle die laastes om die koning na sy huis terug te bring? toe hy die woord van die hele Israel sien, het hy na die koning gekom, tot by sy huis. Julle is my broers, julle is my gebeente en my vlees; waarom is julle dan die laastes om die koning terug te bring? En sê vir Amasa: Is jy nie van my been en van my vlees nie? God doen so aan my en so ook, as jy nie gedurigdeur voor my aangesig oor die leër in die kamer van Joab is nie. En hy het die hart van al die manne van Juda gebuig, soos die hart van een man; sodat hulle hierdie woord aan die koning gestuur het: Keer terug, jy en al u dienaars.
2 SAMUEL 19:9-14 DB (Die Boodskap)
het daar ’n groot stryery onder al die Israeliete begin. Die mense het vir die leiers gesê: “Die koning wat ons gehelp het teen ons vyande, ja, dié een wat ons vrygemaak het van die Filistyne, het uit die land uit gevlug vir Absalom. Maar Absalom, wat ons koning gemaak het oor ons, is dood in die oorlog. Hoekom sê julle nou niks? Hoekom bring julle nie die koning terug nie?” Koning Dawid het daarvan gehoor. Hy laat weet toe vir Sadok en Abjatar: “Praat ’n bietjie met die leiers van Juda in die suide en vra vir hulle hoekom hulle die koning nie eerste terugvat na sy paleis toe nie. Sê vir hulle die koning het gehoor die Israeliete in die Noorde wil hom terugvat. Sê vir hulle ons is broers, ons is eie bloedfamilie; hoekom is hulle dan so stadig om die koning terug te vat? En sê vir Amasa ons is ook mos naby familie en ek sweer vir hom voor God dat hy so lank ek lewe, in Joab se plek die hoofgeneraal gaan wees.” So het Dawid die Judeërs almal omgepraat en hulle het vir hom laat weet: “Kom terug saam met al u manskappe.”
2 SAMUEL 19:9-14 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Al die stamme van Israel het onder mekaar begin praat. Die volk het gesê: “Die koning het ons verlos van ons vyande, die Filistyne, maar Absalom het hom uit die land verjaag. Nou is Absalom wat ons gesalf het om oor ons te regeer, dood. Laat ons Dawid vra om terug te kom en weer ons koning te wees.” Die koning het verneem wat oral in Israel gesê word. Toe stuur hy die priesters Sadok en Abjatar om vir die leiers in Juda te sê: “Hoekom sou julle die heel laaste wees om die koning weer in sy amp te herstel? Julle is tog my familie, my bloedverwante. Hoekom is julle die laaste om die koning terug te bring?” Dawid laat weet toe vir Amasa: “Is jy dan nie bloedfamilie van my nie? Voor God beloof ek dat ek jou permanent sal aanstel as aanvoerder van die leër in die plek van Joab.” Op hierdie manier het hy almal in Juda oortuig en hulle het eenparig vir Dawid laat weet: “Kom terug na ons toe en bring almal saam wat by u is!”