2 SAMUEL 13:1-39
2 SAMUEL 13:1-39 Bybel vir almal (ABA)
Later het daar iets gebeur. Dawid se seun Absalom het 'n mooi suster gehad, haar naam was Tamar. Amnon, 'n ander seun van Dawid, was verlief op Tamar. Amnon was so verlief op sy half-suster Tamar dat hy siek gevoel het, want sy was nog 'n jongmeisie en hy het nie geweet hoe hy alleen by haar kon kom nie. Maar Amnon het 'n vriend gehad, sy naam was Jonadab. Jonadab was die seun van Dawid se broer Sima. Jonadab was 'n baie slim man. Hy het vir Amnon gevra: “Jy is 'n prins. Hoekom lyk jy elke dag soos 'n man wat swaarkry? Vertel vir my.” Toe sê Amnon vir Jonadab: “Ek is verlief op Tamar, my broer Absalom se suster.” Jonadab sê toe vir Amnon: “Jy moet op jou bed gaan lê en maak of jy siek is. Wanneer jou pa kom kyk hoe dit met jou gaan, dan moet jy vir hom vra: ‘Laat my suster Tamar asseblief kom, sy moet hier vir my iets gaarmaak en sy moet dit vir my gee om te eet.’ ” Amnon het toe op sy bed gaan lê en hy het gemaak of hy siek is.Toe die koning kom kyk hoe dit met hom gaan, het hy vir die koning gevra: “Laat my suster Tamar asseblief kom, sy moet hier vir my twee broodjies bak en sy moet dit vir my gee om te eet.” Die koning het toe vir Tamar in haar huis laat weet: “Gaan asseblief na jou broer Amnon se huis en maak vir hom iets om te eet.” Tamar het na haar broer Amnon se huis gegaan. Hy was in die bed. Sy het deeg geneem en sy het dit geknie en sy het daar by hom broodjies gebak. Toe het sy die pan geneem en sy het die broodjies voor hom uitgehaal. Maar hy wou dit nie eet nie. Hy het gesê almal moet uitgaan, en hulle het almal gegaan. Toe sê hy vir Tamar: “Bring die kos na my kamer en gee dit daar vir my.” Tamar het die broodjies geneem wat sy gebak het en sy het dit vir haar broer Amnon in die kamer gebring. Maar toe sy dit nader bring sodat hy dit kon eet, gryp hy haar en sê vir haar: “My suster, kom lê by my.” Maar sy het vir hom gesê: “Nee, my broer, jy moenie vir my verkrag nie. So iets is verkeerd, Israeliete mag dit nie doen nie. Moenie hierdie slegte ding doen nie. Dink aan my. Waarnatoe sal ek gaan? Dit sal 'n skande wees. En jy, almal sal dink jy is 'n dwaas. Daarom, praat asseblief met die koning, hy sal jou met my laat trou.” Maar Amnon wou nie na haar luister nie. Hy was sterker as sy en hy het haar verkrag. En daarna het Amnon niks meer van haar gehou nie. Hy het haar meer gehaat as wat hy voorheen verlief was op haar. Hy het vir haar gesê: “Jy moet opstaan en loop.” Sy het vir hom gesê: “Nou jaag jy my weg. Jy wil 'n ding doen wat baie slegter is as die ding wat jy klaar aan my gedoen het.” Maar Amnon wou nie luister na haar nie. Hy het die jongman geroep wat hom bedien het en hy het vir hom gesê: “Jaag weg hierdie vrou en maak toe die deur agter haar.” Tamar het 'n lang rok aangehad, die rok het moue gehad. Prinsesse wat nog jongmeisies was, het altyd dit aangetrek. Amnon se bediende het haar uitgestoot buitetoe en hy het die deur toegemaak agter haar. Tamar het as op haar kop gegooi en sy het haar lang rok geskeur. Sy het haar hand op haar kop gesit en sy het geloop en skree en sy het gevra dat iemand haar moet help. Haar broer Absalom het vir haar gevra: “Het jou broer Amnon iets aan jou gedoen? Toemaar, bly stil. Hy is jou broer. Moenie sleg voel daaroor nie.” Tamar het toe in haar broer Absalom se huis gaan bly. Sy was 'n eensame vrou. Toe koning Dawid van al hierdie dinge hoor, was hy baie kwaad. En Absalom het niks met Amnon gepraat nie, niks sleg of goed nie, maar hy het vir Amnon gehaat oor die ding wat hy aan sy suster Tamar gedoen het. Twee jaar later het Absalom mense gekry om sy skape se wol af te skeer by die stad Baäl-Gasor. Die stad het behoort aan die Efraim-stam. Absalom het al die prinse genooi om saam te gaan. Hy het ook vir die koning gaan sê: “Ek kry mense om my skape te skeer, ek vra dat die koning en sy amptenare asseblief saam met my moet gaan.” Die koning het vir Absalom gesê: “Nee, my seun, dit sal beter wees as ons nie almal gaan nie. Dit sal te veel werk wees vir jou.” Absalom het weer en weer vir die koning gevra, maar die koning wou nie gaan nie. Toe hy vir Absalom groet, het Absalom vir hom gevra: “Mag my broer Amnon dan saam met ons gaan?” Die koning vra toe: “Hoekom moet hy saam met jou gaan?” Absalom het aangehou om vir die koning te vra, en die koning het toe gesê Amnon en al die prinse mag saamgaan. Absalom het vir die jongmanne by hom gesê: “Julle moet asseblief kyk wat Amnon doen. Wanneer hy dronk is van die wyn en ek sê: ‘Slaan vir Amnon dood!’ dan moet julle hom doodmaak. Julle moenie bang wees nie, dit is ék wat sê julle moet dit doen. Julle moet sterk wees, julle moet dapper manne wees.” Absalom se jongmanne het met Amnon gedoen soos Absalom vir hulle gesê het. Toe staan al die prinse op en hulle spring op hulle muile en hulle vlug. Hulle was nog op die pad toe Dawid hoor dat Absalom al die prinse doodgeslaan het en dat nie een prins nog lewe nie. Die koning het opgestaan en hy het sy klere geskeur en op die grond gaan lê. Al sy amptenare het ook hulle klere geskeur en hulle het by hom kom staan. Maar toe sê Jonadab, die seun van Dawid se broer Sima: “Meneer moenie dink al die jongmanne, die prinse, is dood nie. Net Amnon is dood. 'n Mens kon op Absalom se gesig sien dat hy besluit het om vir Amnon dood te maak, van die dag toe Amnon vir Tamar, Absalom se suster, verkrag het. Maar nou moet Meneer die koning nie sleg voel en dink al die prinse is dood nie, want dit is net Amnon wat dood is, en Absalom het gevlug.” Die jongman wat waggestaan het, het gesien daar kom 'n groot klomp mense op die pad agter hom, teen die kant van die berg. Jonadab sê toe vir die koning: “Kyk, daar kom die prinse. Dit is wat ek vir die koning gesê het.” En toe Jonadab dit klaar gesê het, het die prinse daar aangekom, en hulle het hard begin huil, en die koning en sy amptenare het ook baie hard begin huil. Absalom het gevlug en hy het na Talmai seun van Ammigur, koning van Gesur, toe gegaan. Dawid het aangehou treur oor sy seun. Absalom het na Gesur gevlug en hy het drie jaar daar gebly. Koning Dawid het nie na Absalom toe gegaan nie, want hy was baie hartseer omdat sy seun Amnon dood is.
2 SAMUEL 13:1-39 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN daarna het dít gebeur. Absalom, die seun van Dawid, het naamlik 'n mooi suster gehad met die naam van Tamar, en Amnon, die seun van Dawid, was verlief op haar. En Amnon het dit hom so aangetrek, dat hy siek was oor sy suster Tamar; want sy was 'n jongmeisie, en dit was in Amnon se oë onmoontlik om haar iets aan te doen. Maar Amnon het 'n vriend gehad, met die naam van Jónadab, 'n seun van Dawid se broer Símea; en Jónadab was 'n baie skrander man. En dié vra hom: Waarom lyk jy môre vir môre so bedruk, seun van die koning? Sal jy my dit nie te kenne gee nie? Toe sê Amnon vir hom: Ek is verlief op Tamar, die suster van my broer Absalom. Toe sê Jónadab vir hom: Gaan lê op jou bed en hou jou siek. As jou vader dan kom om jou te sien, moet jy vir hom sê: Laat my suster Tamar tog kom en my iets gee om te eet en die ete voor my oë klaarmaak, dat ek dit kan sien en uit haar hand eet. En Amnon het gaan lê en hom siek gehou. Toe die koning kom om hom te sien, sê Amnon aan die koning: Laat my suster Tamar tog kom en voor my oë twee koekies maak, dat ek uit haar hand kan eet. Daarop het Dawid na Tamar in die huis gestuur en gesê: Gaan tog in die huis van jou broer Amnon en maak vir hom ete klaar. Toe gaan Tamar in die huis van haar broer Amnon terwyl hy daar lê, en sy het deeg geneem en geknie en koekies voor sy oë gemaak en die koekies gebak. En sy het die pan geneem en dit voor hom omgekeer, maar hy het geweier om te eet. En Amnon het gesê: Laat almal van my weggaan! En almal het van hom weggegaan. Toe sê Amnon aan Tamar: Bring die ete in die slaapkamer, dat ek uit jou hand kan eet. En Tamar het die koekies wat sy gemaak het, geneem en vir haar broer Amnon in die slaapkamer gebring. Terwyl sy dit nader bring na hom om te eet, het hy haar gegryp en vir haar gesê: Kom lê by my, my suster! Maar sy sê vir hom: Asseblief nie, my broer, onteer my nie, want so iets mag in Israel nie gedoen word nie; moenie so 'n skande begaan nie. Waar sou ék tog met my skande heen, en jý sou soos een van die dwase in Israel wees; spreek dan tog nou met die koning, want hy sal my nie van jou terughou nie. Maar hy wou nie na haar luister nie en het haar oorweldig en haar onteer en met haar gemeenskap gehad. Toe het Amnon 'n baie groot afkeer van haar gekry, ja, die afkeer wat hy van haar gekry het, was groter as die liefde waarmee hy haar liefgehad het; en Amnon sê vir haar: Staan op, gaan weg! Maar sy sê vir hom: Aangaande die kwaad om my weg te stuur, dit is groter as die ander wat jy my aangedoen het. Maar hy wou nie na haar luister nie. Daarop roep hy sy kneg wat hom bedien, en sê: Stuur hierdie vrou tog van my af weg buitentoe, en sluit die deur agter haar toe. En sy het 'n lang rok met moue aangehad, want sulke mantels het die koninklike dogters wat maagde was, gedra. Toe sy bediende haar buitentoe uitgebring en die deur agter haar toegesluit het, het Tamar as op haar hoof gestrooi en daardie lang rok met moue geskeur; daarby het sy haar hand op haar hoof gelê en aldeur geloop en weeklaag. En haar broer Absalom sê vir haar: Was jou broer Amnon by jou? Swyg dan nou, my suster! Hy is jou broer, sit jou hart nie op hierdie saak nie. So het Tamar dan as 'n verlatene in die huis van haar broer Absalom gebly. Toe koning Dawid al hierdie dinge hoor, het hy baie kwaad geword. Maar Absalom het met Amnon geen kwaad of goed gepraat nie, maar Absalom het Amnon gehaat, omdat hy sy suster Tamar onteer het. En ná twee volle jare het Absalom skeerders gehad in Baäl-Hasor wat by Efraim is, en Absalom het al die seuns van die koning genooi. Daarop kom Absalom by die koning en sê: Kyk tog, u dienaar het skeerders. Laat die koning en sy dienaars tog met u dienaar saamgaan. Maar die koning sê vir Absalom: Ag nee, my seun, laat ons tog nie almal saamgaan nie, sodat ons jou nie lastig val nie. En hy het by hom aangehou, maar hy wou nie gaan nie en het hom die afskeidseën gegee. Daarop sê Absalom: So nie, laat my broer Amnon tog saam met ons gaan. Maar die koning sê vir hom: Waarom moet hy met jou saamgaan? Toe Absalom dan by hom aanhou, het hy Amnon en al die seuns van die koning met hom saam laat gaan. En Absalom het sy dienaars bevel gegee en gesê: Let tog op, net soos Amnon se hart vrolik is van die wyn en ek vir julle sê: Slaan Amnon dood! dan moet julle hom doodmaak. Wees nie bevrees nie; het ék julle dit nie beveel nie? Wees sterk en wees wakker manne. En die dienaars van Absalom het met Amnon gedoen soos Absalom hulle beveel het. Toe het al die seuns van die koning opgestaan, en hulle het elkeen op sy muil geklim en gevlug. Terwyl hulle op pad was, kom die gerug by Dawid: Absalom het al die seuns van die koning doodgeslaan en nie een van hulle het oorgebly nie. Toe staan die koning op en skeur sy klere en gaan lê op die grond, terwyl al sy dienaars met geskeurde klere daarby staan. Maar Jónadab, die seun van Dawid se broer Símea, het geantwoord en gesê: My heer moet nie dink dat hulle al die jongmanne, die seuns van die koning, gedood het nie, maar Amnon alleen is dood, want dit was aan die gesig van Absalom te sien van die dag af dat hy sy suster Tamar onteer het. My heer die koning moet dit dan nou nie ter harte neem en dink al die seuns van die koning is dood nie. Maar Amnon alleen is dood. En Absalom het gevlug. Toe die jongman wat op wag staan, sy oë opslaan, sien hy dat daar 'n groot skare kom van 'n pad agter hom, aan die kant van die berg. En Jónadab sê aan die koning: Kyk, daar kom die seuns van die koning; volgens die woord van u dienaar, so het dit gebeur. En net toe hy klaar gespreek het — daar kom die seuns van die koning aan en verhef hulle stem en ween. En ook die koning en al sy dienaars het geween met 'n baie groot geween. Maar Absalom het gevlug en na Talmai, die seun van Ammíhur, die koning van Gesur, gegaan. En Dawid het al die dae gerou oor sy seun. En Absalom het gevlug en na Gesur gegaan, en hy was daar drie jaar lank. En die gees van koning Dawid het baie verlang om na Absalom uit te gaan, want hy het homself getroos oor Amnon, dat hy dood was.
2 SAMUEL 13:1-39 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe het daar 'n ding gebeur. Dawid se seun Absalom het 'n mooi suster gehad met die naam Tamar. Amnon, 'n ander seun van Dawid, het op haar verlief geraak. Hy was siek van begeerte na sy suster Tamar, want sy was nog 'n maagd en dit was vir hom onmoontlik om by haar te kom en iets aan haar te doen. Amnon het 'n vriend gehad. Sy naam was Jonadab, 'n seun van Dawid se broer Samma, en hy was 'n vindingryke man. “Waarom lyk jy wat 'n koningskind is, dag vir dag so bedruk?” het hy vir Amnon gevra. “Vertel my!” “Dis Tamar, my broer Absalom se suster,” was sy antwoord. “Ek is verlief op haar.” Jonadab het hom toe aangeraai: “Gaan lê op jou bed en maak of jy siek is. As jou pa dan kom kyk hoe dit gaan, moet jy vir hom sê: Laat my suster Tamar tog vir my iets te ete bring. Laat sy die ete hier by my kom voorberei dat ek dit kan sien, want ek wil uit haar eie hande eet.” Amnon het gaan lê en hom siek gehou. Toe die koning kom kyk hoe dit gaan, het Amnon vir hom gevra: “Laat my suster Tamar tog asseblief vir my twee hartvormige broodjies hier voor my kom bak sodat ek dit uit haar hande kan eet.” Dawid het 'n boodskap na Tamar by haar woonplek gestuur: “Kom tog na jou broer Amnon se woonplek toe en berei vir hom 'n ete voor.” Tamar het na haar broer se huis toe gekom terwyl hy op sy bed gelê het. Sy het deeg gevat en geknie en die broodjies voorberei en gebak waar hy dit kon sien. Maar toe sy die pan neem en dit vir hom neersit, het Amnon geweier om te eet. Hy het beveel: “Gaan julle ander almal weg hier van my af.” Toe hulle weg is, het Amnon vir Tamar gesê: “Bring jy die kos hier na die kamer toe sodat ek dit uit jou hand kan eet.” Tamar het die broodjies wat sy gereed gemaak het, na haar broer in die kamer gebring. Net toe sy naby hom kom om hom te laat eet, gryp hy haar vas en sê vir haar: “My suster, kom lê hier by my.” “Nee, my broer,” sê sy vir hom, “moet my nie onteer nie, want so iets word nie in Israel gedoen nie. Moet nou nie 'n dwaas ding doen nie. Hoe sal ek my skande kan wegsteek? En jý sal in die oë van Israel 'n dwaas wees. Praat liewer met die koning, want hy sal ons toelaat om te trou.” Amnon wou nie na haar luister nie. Hy het haar gepak en verkrag. Maar daarna het hy haar verag; hy het 'n groot afsku in haar gekry, en sy afsku was baie groter as sy verliefdheid. Hy het toe vir haar gesê: “Loop!” Maar sy sê vir hom: “Moenie die skande wat jy my aangedoen het, vererger deur my weg te jaag nie.” Hy wou nie na haar luister nie en beveel toe sy slaaf wat hom bedien: “Smyt hierdie vroumens uit en sluit die deur agter haar!” Volgens die gebruik van koningsdogters wat nog maagde was, het sy 'n lang mantel met moue aangehad. Nadat die slaaf haar uitgesit en die deur gesluit het, het Tamar stof op haar kop gegooi. Sy het haar lang mantel geskeur, haar hand op haar kop gesit en sover sy loop, het sy geskreeu. Haar broer Absalom het toe vir haar gesê: “Was jou broer Amnon by jou? Toe maar, my suster, bly nou maar stil. Hy is jou broer. Moet jou nie hieroor verknies nie.” Tamar het toe in haar broer Absalom se huis gaan bly en sy was 'n wrak. Koning Dawid het van alles gehoor en hy was woedend. Absalom het nie 'n enkele woord met Amnon gepraat nie, maar hy het hom gehaat omdat hy sy suster Tamar onteer het. Twee jaar later was Absalom besig om sy skape te laat skeer in Baäl-Gasor in Efraim. Hy het al die seuns van die koning uitgenooi. Hy het naamlik na die koning toe gegaan en gesê: “Ekskuus tog, ek gaan my skape skeer. Wil die koning en sy paleispersoneel nie miskien na my toe kom nie?” “Nee, my seun, beslis nie,” was die koning se antwoord. “Ons kan nie almal gaan en vir jou 'n oorlas wees nie.” Ten spyte van sy aandrang wou die koning nie gaan nie, maar tog het hy hom voorspoed toegewens. Absalom vra hom toe: “Kan my broer Amnon dan nie maar saamgaan nie?” “Waarom juis hy?” vra die koning. Absalom het by hom daarop aangedring, en die koning het Amnon en al die koningseuns laat gaan. Absalom het sy lyfwagte beveel: “Julle moet oplet: net as Amnon lekker jolig raak van die wyn, sal ek vir julle die teken gee. Slaan hom dood. Moenie bang wees nie: ek gee mos self die bevel. Pak hom. Moenie weifel nie.” Die lyfwagte van Absalom het met Amnon gemaak soos hulle beveel is. Toe het al die ander koningseuns elkeen op sy muil gespring en gevlug. Terwyl hulle nog op pad terug was, het die volgende gerug Dawid bereik: “Absalom het al die koningseuns doodgemaak. Daar het nie 'n enkele oorgebly nie.” Die koning het van sy troon afgeklim, sy klere geskeur en op die grond gaan lê. Al sy onderdane het ook hulle klere geskeur en by hom kom staan. Maar Jonadab seun van Dawid se broer Samma het gesê: “U moet tog nie dink hulle het al die jongmanne, die koning se seuns, doodgemaak nie. Net Amnon is dood. Waarlik, daar was moord in Absalom se oë vandat Amnon sy suster Tamar onteer het. “Die koning moet nou nie die gerug dat al sy seuns dood is, ernstig opneem nie: net Amnon is dood.” Absalom het weggevlug. Terwyl 'n paleiswag uitkyk, sien hy meteens 'n groot klomp mense uit die rigting van die bergskuiling aankom. “Kyk daar kom die koning se seuns,” het Jonadab vir die koning gesê. “Dit is net soos ek gesê het.” Net na hierdie woorde het die koningseuns ingekom. Hulle het hardop begin huil, en die koning en al sy dienaars het bitterlik saamgehuil. Absalom het na koning Talmai van Gesur, seun van Ammigur toe gevlug, maar koning Dawid het die hele tyd net oor sy seun Amnon getreur. Absalom het na sy vlug drie jaar in Gesur gebly. Omdat koning Dawid hom met die dood van Amnon versoen het, het hy nie teen Absalom gaan oorlog maak nie.
2 SAMUEL 13:1-39 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Daarna het die volgende gebeur: Absalom, seun van Dawid, het 'n mooi suster gehad. Haar naam was Tamar, en Amnon, seun van Dawid, het op haar verlief geraak. Amnon was so terneergedruk, hy was skoon siek oor Tamar, sy suster. Sy was immers 'n maagd, en dit het vir hom onmoontlik gelyk om enigiets aan haar te doen. Maar Amnon het 'n vriend gehad met die naam Jonadab, 'n seun van Samma, die broer van Dawid. Dié Jonadab was 'n baie uitgeslape man. Hy het vir Amnon gevra: “Waarom lyk jy, seun van die koning, oggend ná oggend so ellendig? Wil jy my nie maar vertel nie?” Amnon sê toe vir hom: “Ag, dit is Tamar, die suster van my broer Absalom – ek is verlief!” “Gaan lê op jou bed, en maak of jy siek is,” het Jonadab vir hom gesê. “Wanneer jou pa dan inkom om jou te sien, moet jy vir hom sê, ‘Laat Tamar, my suster, asseblief kom en my met kos versorg. Sy moet die voedsel voor my voorberei, sodat ek dit kan sien en uit haar hand kan eet.’ ” Amnon het toe gaan lê en gemaak of hy siek is. Toe die koning kom om hom te sien, sê Amnon vir die koning: “Laat Tamar, my suster, asseblief kom en twee hartvormige koekies voor my voorberei, sodat ek dit uit haar hand kan eet.” Dawid stuur toe 'n boodskap vir Tamar in die paleis: “Gaan asseblief na die huis van Amnon, jou broer, en berei vir hom voedsel voor.” Tamar het toe na die huis van haar broer gegaan terwyl hy in die bed lê. Sy het die deeg geneem, dit geknie en hartvormige koekies voor hom voorberei, en die koekies gaargemaak. Sy het die bakpan geneem en dit voor hom leeggemaak, maar hy het geweier om te eet. Amnon sê toe: “Kry almal uit hier by my!” Almal by hom het toe uitgegaan. Toe sê Amnon vir Tamar: “Bring die voedsel na die slaapkamer, sodat ek dit uit jou hand kan eet.” Tamar het die hartvormige koekies wat sy voorberei het, geneem en dit vir Amnon, haar broer, in die slaapkamer gebring. Maar toe sy dit vir hom naderbring om te eet, gryp hy haar en sê: “Kom lê by my, my suster!” Maar sy het vir hom gesê: “Asseblief nie, my broer! Moet my nie verkrag nie, want so iets mag nie in Israel gedoen word nie. Moenie hierdie gruweldaad pleeg nie! En ek, waarheen sal ek gaan met die bespotting wat ek dra? En jy, jy sal soos een van die dwase in Israel wees. Daarom, praat liewer met die koning, want hy sal my nie van jou weerhou nie. ” Maar hy wou nie na haar luister nie. Hy was sterker as sy, en het haar verkrag en met haar gemeenskap gehad. Maar toe kry hy 'n baie groot weersin in haar; ja, die weersin wat hy in haar gekry het, was groter as die liefde waarmee hy haar liefgehad het. Amnon sê toe vir haar: “Staan op! Gaan weg!” Sy het vir hom gesê: “Nee, my broer, want hierdie groot onreg om my weg te stuur, is erger as dit wat jy my reeds aangedoen het.” Maar hy wou nie na haar luister nie. Hy roep toe sy lyfbediende en sê: “Vat tog net hierdie vrou van my af weg buitentoe en sluit die deur agter haar.” Sy het 'n lang rok met moue aangehad, want die dogters van die koning wat nog maagde was, het sulke mantels gedra. Nadat sy bediende haar buitentoe geneem en die deur agter haar gesluit het, het Tamar as geneem en op haar kop gesit, en die lang rok met moue wat sy aangehad het, geskeur. Sy het haar hand op haar kop gesit en aangestap terwyl sy aanhou skreeu. Haar broer Absalom vra toe vir haar: “Was jou broer Amnon by jou? Bly nou maar stil, my suster; hy is jou broer. Moet jou nie oor hierdie gebeure kwel nie. ” Tamar het in haar broer Absalom se huis gaan woon, 'n eensame vrou. Toe koning Dawid hoor wat alles gebeur het, het hy briesend kwaad geword. Absalom het met Amnon nie weer 'n woord, goed of sleg, gepraat nie. Maar Absalom het Amnon gehaat omdat hy Tamar, sy suster, verkrag het. Twee jaar later was daar skeerders by Absalom in Baäl-Gasor, by Efraim. Absalom het al die koning se seuns genooi. Absalom het by die koning aangekom en gesê: “Kyk, daar is skeerders by u dienaar. Die koning en sy amptenare moet asseblief saam met u dienaar gaan.” Maar die koning het Absalom geantwoord: “Nee my seun; ons kan nie almal gaan nie, sodat ons nie 'n las op jou is nie.” Alhoewel Absalom by hom aangedring het, wou hy nie gaan nie en het hom seën toegewens. Absalom sê toe: “As u nie kan nie, laat my broer Amnon asseblief saam met ons gaan.” “Waarom moet hy dan saam met jou gaan?” het die koning gevra. Absalom het egter so by hom aangedring dat hy Amnon en al die koning se seuns saam met hom gestuur het. Absalom het vir sy jong manne opdrag gegee: “Let goed op; sodra Amnon se hart vrolik raak van die wyn, sal ek vir julle sê, ‘Val Amnon aan!’ Dan moet julle hom doodmaak; moenie bang wees nie. Dit is immers ek wat julle die opdrag gee. Wees dapper en wys dat julle onverskrokke manne is!” Die jong manne van Absalom het toe met Amnon gemaak soos Absalom beveel het. Toe spring al die seuns van die koning op, klim elkeen op sy muil en vlug weg. Hulle was nog op pad, toe kom die berig by Dawid uit: “Absalom het al die koning se seuns neergevel! Daar het nie een van hulle oorgebly nie.” Die koning het opgestaan, sy klere geskeur en op die grond gaan lê. Al sy dienaars het ook met geskeurde klere daar gestaan. Maar Jonadab, die seun van Dawid se broer Samma, het gesê: “My heer moet nie dink dat hulle al die jong manne, die seuns van die koning, doodgemaak het nie; slegs Amnon is dood; want van die dag af dat hy Tamar, sy suster, verkrag het, is dit al waaroor Absalom gepraat het. Daarom moet my heer die koning die saak nie ter harte neem en dink dat al die koning se seuns dood is nie. Net Amnon alleen is dood.” Absalom het intussen gevlug. Toe die jong man wat moes waghou, opkyk, sien hy meteens 'n groot groep wat vanaf die pad agter hom, al langs die berg, aankom. Jonadab sê toe vir die koning: “Kyk, daar kom die koning se seuns – dit gebeur net soos u dienaar gesê het.” Net toe hy dit gesê het, kom die koning se seuns toe werklik daar aan! Hulle het hardop begin huil, en ook die koning en al sy amptenare het bitterlik gehuil. Absalom het gevlug en na Talmai, seun van Ammigur, die koning van Gesur, gegaan. Dawid het die hele tyd oor sy seun gerou. Toe Absalom gevlug en na Gesur gegaan het, het hy drie jaar daar gebly. Koning Dawid het daarvan afgesien om teen Absalom uit te trek, want hy het berusting gevind oor Amnon – dat hy dood was.
2 SAMUEL 13:1-39 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En daarna het Absalom, die seun van Dawid, 'n mooi suster gehad met die naam van Tamar; en Amnon, die seun van Dawid, het haar liefgehad. En Amnon was so ontsteld dat hy siek geword het oor sy suster Tamar; want sy was 'n maagd; en Amnon het dit vir hom moeilik geag om iets aan haar te doen. Maar Amnon het 'n vriend gehad met die naam van Jonadab, die seun van Simea, Dawid se broer; en Jonadab was 'n baie listige man. En hy sê vir hom: Waarom is jy, wat die seun van die koning is, van dag tot dag maer? sal jy dit nie vir my sê nie? En Amnon sê vir hom: Ek het Tamar lief, my broer Absalom se suster. En Jonadab sê vir hom: Lê jou op jou bed neer en maak jou siek; en as jou vader jou kom sien, sê vir hom: Laat tog my suster Tamar kom en vir my vleis gee en die vleis berei voor my oë, dat ek dit kan sien en dit van haar hand kan eet. Amnon het toe gaan lê en homself siek gemaak; en toe die koning kom om hom te sien, sê Amnon vir die koning: Laat tog my suster Tamar kom en vir my 'n paar koeke maak voor my oë, dat ek kan eet aan haar hand. Dawid het toe na Tamar huis toe gestuur en gesê: Gaan nou na die huis van jou broer Amnon en maak vir hom vleis klaar. Toe het Tamar na haar broer Amnon se huis gegaan; en hy is neergelê. En sy het meel geneem en dit geknie en koeke voor sy oë gemaak en die koeke gebak. En sy het 'n pan geneem en dit voor hom uitgegooi; maar hy het geweier om te eet. En Amnon sê: Laat almal van my af weggaan. En hulle het elkeen van hom uitgegaan. En Amnon sê vir Tamar: Bring die vleis in die kamer, dat ek uit jou hand kan eet. En Tamar het die koeke wat sy gemaak het, geneem en dit na haar broer Amnon in die kamer gebring. En nadat sy dit na hom gebring het om te eet, het hy haar gegryp en vir haar gesê: Kom lê by my, my suster. En sy antwoord hom: Nee, my broer, moet my nie dwing nie; want so iets mag nie in Israel gedoen word nie; moenie hierdie sotheid nie. En ek, waarheen sal ek my skande laat gaan? en wat jou aangaan, jy sal wees soos een van die dwase in Israel. Spreek tog nou tog met die koning; want hy sal my nie van jou weerhou nie. Maar hy wou nie na haar stem luister nie, maar omdat hy sterker was as sy, het hy haar gedwing en met haar gemeenskap gehad. Toe het Amnon haar baie gehaat; sodat die haat waarmee hy haar gehaat het groter was as die liefde waarmee hy haar liefgehad het. En Amnon sê vir haar: Staan op, gaan weg. En sy sê vir hom: Daar is geen oorsaak nie: hierdie onheil deur my weg te stuur, is groter as die ander wat jy my aangedoen het. Maar hy wou nie na haar luister nie. Toe roep hy sy dienaar wat hom dien, en sê: Sit tog hierdie vrou van my af weg en sluit die deur agter haar aan. En sy het 'n kleed van verskillende kleure aan haar gehad, want met sulke klere was die koningsdogters wat maagde was, geklee. Toe bring sy dienaar haar uit en sluit die deur agter haar aan. Toe het Tamar as op haar hoof gegooi en haar kleurvolle kleed wat op haar was, geskeur en haar hand op haar hoof gelê en aangehou huil. En haar broer Absalom sê vir haar: Was jou broer Amnon by jou? maar swyg nou, my suster, hy is jou broer; ag hierdie ding nie. Tamar het toe woes gebly in haar broer Absalom se huis. Maar toe koning Dawid van al hierdie dinge hoor, was hy baie kwaad. En Absalom het met sy broer Amnon nie goed of sleg gespreek nie, want Absalom het Amnon gehaat, omdat hy sy suster Tamar gedwing het. En ná twee volle jare het Absalom skaapskeerders gehad in Baäl-Hazor wat langs Efraim is, en Absalom het al die koning se seuns genooi. Toe kom Absalom na die koning en sê: Kyk tog, u dienaar het skaapskeerders; laat tog die koning en sy dienaars saam met u dienaar gaan. Daarop sê die koning vir Absalom: Nee, my seun, laat ons nie almal nou gaan nie, sodat ons jou nie verskuldig is nie. En hy het hom gedruk, maar hy wou nie gaan nie, maar het hom geseën. Toe sê Absalom: Indien nie, laat my broer Amnon tog saam met ons gaan. En die koning sê vir hom: Waarom sou hy saam met jou gaan? Maar Absalom het hom verdruk, dat hy Amnon en al die koning se seuns saam met hom laat gaan het. En Absalom het sy dienaars bevel gegee en gesê: Let tog op wanneer Amnon se hart vrolik is van die wyn, en as ek vir julle sê: Slaan Amnon; maak hom dan dood, wees nie bevrees nie. Het ek jou nie beveel nie? wees moedig en dapper. En die dienaars van Absalom het met Amnon gedoen soos Absalom beveel het. Toe het al die seuns van die koning opgestaan, en elkeen het hom op sy muil getrek en gevlug. En terwyl hulle op die pad was, het die tyding tot Dawid gekom en gesê: Absalom het al die seuns van die koning gedood, en daar is nie een van hulle oor nie. Toe het die koning opgestaan en sy klere geskeur en op die aarde gaan lê; en al sy dienaars het daar gestaan met geskeurde klere. En Jonadab, die seun van Simea, Dawid se broer, het geantwoord en gesê: Laat my heer nie dink dat hulle al die jongmanne, die seuns van die koning, gedood het nie; want Amnon alleen is dood, want volgens Absalom se besluit is dit vasgestel van die dag af dat hy sy suster Tamar gedwing het. Laat my heer die koning dan nou die saak nie ter harte neem om te dink dat al die seuns van die koning dood is nie; want Amnon alleen is dood. Maar Absalom het gevlug. En die jongman wat die wag gehou het, slaan sy oë op en kyk, en kyk, daar kom baie mense op die pad van die heuwel agter hom aan. En Jonadab sê vir die koning: Kyk, die koning se seuns kom; soos u dienaar gesê het, so is dit. En net toe hy klaar gepraat het, kom die seuns van die koning en verhef hulle stem en geween; en ook die koning en al sy dienaars het baie hard geween. Maar Absalom het gevlug en na Talmai, die seun van Ammihud, die koning van Gesur, gegaan. En Dawid het elke dag oor sy seun getreur. Absalom het toe gevlug en na Gesur gegaan, en hy was daar drie jaar. En die siel van koning Dawid het verlang om na Absalom uit te gaan, want hy was getroos oor Amnon, omdat hy dood was.
2 SAMUEL 13:1-39 Die Boodskap (DB)
Hierna het daar ’n lelike ding gebeur. Dawid se seun Absalom het ’n suster gehad. Haar naam was Tamar. Sy was baie mooi en haar halfbroer Amnon was verlief op haar. Hy was skoon siek soos hy die hele dag oor Tamar, sy halfsuster, geloop en dink het. Hy kon nie naby haar kom nie, want sy was nog ’n jongmeisie wat eenkant moes bly. Amnon en sy neef Jonadab, Samma se seun, was maats. Jonadab het altyd slim planne gehad. Op ’n dag vra hy vir Amnon: “Hoekom lyk jy elke dag so moedeloos, prins? Wil jy nie maar vir my sê wat jou pla nie?” “Ek is verlief op Tamar, my halfbroer Absalom se suster,” sê Amnon. Jonadab gee hom toe hierdie raad: “Gaan lê op jou bed, dan maak jy of jy siek is. Jou pa sal kom kyk hoe dit gaan, dan sê jy vir hom jou suster Tamar moet na jou toe kom om vir jou die kos te maak wat ’n siek mens nodig het. Sê vir hom sy moet dit daar voor jou kom maak en jou dan voer.” Amnon het toe gaan lê en gemaak of hy siek is. Toe die koning kom kyk hoe dit met hom gaan, sê Amnon vir die koning: “Laat my suster Tamar asseblief kom en hier voor my twee hartbroodjies bak en my dan voer.” Dawid het Tamar laat haal uit die huis waar die jongmeisies bly en vir haar gesê: “Gaan na jou broer Amnon se huis toe en maak vir hom kos wat hom beter sal laat voel.” Tamar is toe na haar halfbroer se huis toe. Hy was nog in die bed. Sy het deeg gevat en dit geknie. Sy het hartbroodjies gemaak en dit gebak. Hy het haar die hele tyd dopgehou. Sy het die broodjies uit die bakpan gegooi en voor hom neergesit. Maar hy wou nie eet nie. Hy het gesê al die mans moet eers uit die kamer uitgaan. Toe almal uit die kamer is, sê hy vir Tamar: “Bring die broodjies na die agterste kamer, dan voer jy my daar.” Tamar het die hartbroodjies wat sy gebak het, vir Amnon in die agterste kamer gevat. Toe sy by hom kom om hom te voer, gryp hy haar en sê: “Kom lê by my in die bed!” Maar sy het gesê: “Nee, my broer! Moenie my verkrag nie! Ons doen nie so iets in Israel nie! Moenie ’n dom ding doen nie! Wat moet van my word as ek so ’n skande oorkom? Dink aan jouself! Almal in Israel sal dink jy’s ’n skurk! Praat liewer met die koning; ek is seker hy sal my met jou laat trou.” Maar hy wou nie na haar luister nie. En omdat hy sterker was as sy, het hy haar vasgedruk en verkrag. Toe hy met haar klaar is, wou hy niks met haar te doen hê nie. So verlief as wat hy voor die tyd was, so min wou hy daarna met haar te doen hê. Hy het vir haar gesê: “Staan op! Gaan uit my huis uit!” “Nee!” sê sy vir hom. “As jy my nou wegjaag, doen jy nog ’n leliker ding as wat jy alreeds gedoen het.” Maar hy wou nie na haar luister nie. Hy roep toe sy kamerbediende en sê vir hom: “Smyt hierdie vrou uit my huis uit en sluit die deur!” Die bediende het haar uit die huis uitgesit en die deur agter haar toegesluit. Tamar het ’n lang rok met moue aangehad. Al die prinsesse wat nog jongmeisies was, het so aangetrek. Toe sy buite kom, het sy haar lang rok geskeur en grond op haar kop gegooi. Sy het met haar hande op haar kop daar weggeloop en die hele tyd hard geskree. Toe sy by haar broer Absalom kom, sê hy vir haar: “Daardie broer Amnon van jou het dit gedoen, nè? Toemaar, my ou sus! Moenie daaroor praat nie, hoor! Hy’s darem jou broer. Moenie jou te veel daaroor kwel nie.” Tamar het by haar broer Absalom ingetrek. Sy was ’n gebroke mens. Toe koning Dawid hoor wat alles gebeur het, was hy woedend. Absalom het Amnon gehaat omdat hy sy suster Tamar verkrag het, maar hy het nie ’n woord met hom daaroor gepraat nie. Twee jaar later was die skeerders besig om Absalom se skape te skeer by Baäl-Gasor, naby die dorp Efraim. Hy wou al die koning se seuns daarheen nooi en het na die koning toe gegaan en vir hom gesê: “My mense is op die oomblik besig om my skape te skeer. Wil die koning en sy amptenare nie maar vir die fees na my toe oorkom nie?” “Nee, my seun,” sê die koning. “Ons kan nie almal na jou toe gaan nie. Ons sal te veel mense wees.” Absalom het by sy pa aangehou, maar Dawid wou nie saamgaan nie en het vir Absalom gesê hy hoop dit gaan goed met die skeerdery. “Kan my broer Amnon dan nie maar net saamgaan nie?” het Absalom gevra. “Maar hoekom moet hy saamgaan?” het die koning gevra. Absalom het só by hom aangehou dat die koning naderhand vir Amnon en al sy seuns saamgestuur het. Absalom het ’n groot fees gehou en vir sy manne gesê: “Julle moet wakker wees! As Amnon vrolik begin raak van die wyn en ek sê vir julle: ‘Steek hom dood!’ dan moet julle hom doodmaak. Julle hoef nie bang te wees nie. Ek sal die skuld kry daarvoor. Wees julle net sterk en vasberade!” Absalom se manne het toe met Amnon gedoen wat hy vir hulle gesê het. Al die koning se seuns het van die tafel af opgespring, elkeen op sy muil gespring en weggejaag. Hulle was nog op pad, toe kom die nuus by Dawid aan dat Absalom al die koning se seuns vermoor het en dat nie een oorgebly het nie. Die koning het van sy stoel af opgespring en sy klere geskeur. Toe het hy op die grond gaan lê. Al sy amptenare het met geskeurde klere daar om hom gestaan. Jonadab, Dawid se broerskind, sê toe: “U Majesteit, u hoef nie bang te wees dat al die jongmans, al u seuns, dood is nie. Ek dink net Amnon is dood. Dit was Absalom se bedoeling van die dag af dat Amnon sy suster verkrag het. U Majesteit moet regtig nie die storie glo dat al u seuns dood is nie. Dis net Amnon wat dood is.” Absalom het natuurlik intussen gevlug. Die man wat by die paleis waggehou het, het skielik aan die westekant ’n klomp mense gesien wat teen die bult afkom. Jonadab sê toe vir die koning: “Daar kom die prinse! Sien u, dis net soos ek vir u gesê het!” Sy woorde was nog nie koud nie, toe kom die koning se seuns by die paleis aan. Hulle het sommer hardop begin huil. Die koning en al sy amptenare het ook sonder ophou gehuil dat die trane loop. Absalom het na Talmai, Ammigur se seun, toe gevlug. Talmai was die koning van Gesur. Dawid het baie lank oor sy seun Amnon gehuil. So het Absalom dan na Gesur toe gevlug. Hy het sowat drie jaar daar gebly. Dawid het ’n plan gehad om teen Absalom te gaan oorlog maak, want hy was nog bitter oor Amnon se dood.
2 SAMUEL 13:1-39 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Daarna het iets leliks gebeur. Dawid se seun Absalom het ’n mooi suster met die naam Tamar gehad. Amnon het smoorverlief op haar geraak. Dit het so ’n obsessie geword dat hy siek van begeerte was. Omdat sy ’n maagd was, het dit onmoontlik gelyk om iets met haar te doen. Amnon het ’n vriend gehad met die naam Jonadab, ’n uitgeslape man. Hy was die seun van Dawid se broer Samma. Op ’n dag vra Jonadab vir Amnon: “Wat is verkeerd? Hoe is dit dat die seun van ’n koning dag na dag so neerslagtig lyk? Kom vertel my!” Amnon sê toe: “Ek is verlief op Tamar, Absalom se suster.” “Ek sal jou sê wat jy moet doen,” sê Jonadab. “Gaan lê in die bed en maak of jy siek is. Wanneer jou pa kom kyk hoe dit gaan, vra hom: ‘Laat Tamar asseblief kom om vir my iets te ete te bring. Sy moet dit voor my oë voorberei sodat ek dit uit haar hande kan eet.’” Amnon het gaan lê en voorgegee dat hy siek is. Toe die koning kom om te sien wat verkeerd is, vra Amnon: “Laat my suster Tamar asseblief kom en voor my oë vir my twee hartvormige roosterkoeke bak sodat ek uit haar hande kan eet.” Dawid het ingestem en vir Tamar na Amnon se huis toe gestuur om vir hom kos voor te berei. Toe Tamar by Amnon se huis kom, gaan sy in die kamer in waar hy gelê het. Sy het deeg geneem en dit voor sy oë geknie, hartvormige koeke gemaak en dit gebak. Maar toe sy die pan voor hom neersit, het hy geweier om te eet. “Almal van julle moet hier uitgaan!” sê hy. Toe almal weg was, vra hy vir Tamar: “Bring die kos hier na my toe dat ek dit uit jou hand kan eet.” Tamar neem toe die hartvormige koeke wat sy voorberei het en bring dit na haar broer Amnon se bed. Maar net toe sy vir hom die kos wou voer, gryp hy haar en eis: “Kom slaap by my, my suster.” “Nee, my broer!” smeek sy. “Moenie my onteer nie! Jy weet mos dat so iets nie in Israel gedoen word nie. Moenie hierdie dwase ding aanvang nie! Waarheen sal ek met hierdie skande vlug? Jy sal soos ’n dwaas in Israel wees. Praat gerus met die koning hieroor. Hy sal toelaat dat jy met my trou.” Maar Amnon wou nie luister nie. Omdat hy sterker was as sy, het hy haar oorrompel en verkrag. Toe verander sy verliefdheid in haat. Sy haat was selfs groter as sy verliefdheid vir haar. “Staan op en loop!” skree hy vir haar. “Nee!” sê sy. “Om my nou weg te jaag is ’n groter onreg as wat jy my reeds aangedoen het.” Maar Amnon wou nie na haar luister nie. Hy roep toe sy slaaf en beveel hom: “Smyt hierdie vrou hier uit en sluit die deur agter haar!” Die slaaf het haar toe uitgeneem en die deur gesluit. Sy het ’n lang mantel gedra volgens die destydse gebruik vir die koning se dogters wat nog maagde was. Tamar het stof op haar kop gegooi, die mantel stukkend geskeur, haar hand op haar kop gesit en hardop gehuil so ver sy gegaan het. Haar broer Absalom het haar gevra: “Was Amnon by jou? Wees nou eers stil, my suster. Aangesien hy jou broer is, moet jy jou nie daaroor ontstel nie.” Daarna het Tamar as ’n eensame vrou in Absalom se huis gaan woon. Toe koning Dawid hiervan hoor, was hy baie kwaad. Hoewel Absalom nooit met Amnon hieroor gepraat het nie, het hy Amnon intens gehaat oor wat hy aan sy suster gedoen het. Twee jaar later was Absalom besig om sy skape in Baäl-Gasor naby Efraim te laat skeer. Hy het al die seuns van die koning soontoe uitgenooi. Hy het ook na die koning toe gegaan en gesê: “My skeerders is nou besig. Sal die koning en sy personeel asseblief saamkom om deel te neem aan die geleentheid?” Die koning antwoord: “Nee, my seun. As ons almal gaan, sal dit vir jou ’n groot oorlas wees.” Alhoewel Absalom daarop aangedring het, wou die koning nie kom nie, maar het hom voorspoed toegewens. “As u nie kan kom nie, kan my broer Amnon dan asseblief saamgaan?” vra Absalom. “Hoekom nou juis Amnon?” vra die koning. Maar Absalom het by die koning daarop aangedring totdat hy ingestem het dat al sy seuns, insluitend Amnon, kon gaan. Absalom het vir sy lyfwagte gesê: “Wag totdat Amnon dronk is. Wanneer ek die teken gee, moet julle hom doodmaak. Moenie bang wees nie. Ek is die een wat die bevel gegee het. Wees sterk en dapper.” Die lyfwagte het met Amnon gemaak soos Absalom hulle beveel het en Amnon doodgemaak. Die ander seuns van die koning het elkeen op sy muil gespring en gevlug. Terwyl hulle nog op pad terug was, het die gerug Dawid bereik: “Absalom het al u seuns doodgemaak sodat niemand oorgebly het nie!” Die koning het opgestaan van sy troon, sy klere geskeur en op die grond neergeval. Sy onderdane by hom het ook hulle klere geskeur. Maar Jonadab, seun van Dawid se broer Samma sê: “Nee, my heer, moenie dink al die seuns van die koning is doodgemaak nie. Dit is net Amnon wat dood is. Dit was duidelik dat Absalom dit lankal beplan het, sedert Amnon sy suster Tamar verkrag het. Nee, die koning moenie die gerug ernstig opneem nie. Die seuns is nie almal dood nie. Dit is net Amnon wat dood is!” Intussen het Absalom gevlug. Die wagter het opgekyk en ’n groot klomp mense sien aankom uit die rigting van Bet-Goron teen die kant van die heuwel. “Kyk!” sê Jonadab vir die koning. “Daar kom u seuns. Dis net soos ek gesê het.” Hulle het kort daarna daar aangekom terwyl hulle huil en treur. Die koning en sy amptenare het ook bitterlik saam met hulle gehuil. Absalom het na sy oupa Talmai van Gesur, seun van Ammigur, gevlug. Dawid het nog lank oor sy seun Amnon getreur. Absalom het drie jaar lank daar in Gesur gebly. Dawid het homself versoen met die dood van Amnon en het nie teen Absalom opgetree nie.