2 PETRUS 2:9-11 - Vergelyk alle weergawes | YouVersion
2 PETRUS 2:9-11 AFR83 (Afrikaans 1983)
Die Here weet dus om dié wat Hom dien, uit beproewing te red, maar om die goddeloses te straf en vir die oordeelsdag gevange te hou. Veral húlle sal gestraf word wat toegee aan hulle wellustige vleeslike begeertes en wat die gesag van die Here verag. Hierdie leraars is uitdagend en verwaand en huiwer nie om hemelwesens te beledig nie. Selfs die engele, wat tog baie sterker en magtiger is, bring nie voor die Here lasterlike aanklagte teen hierdie wesens in nie.
2 PETRUS 2:9-11 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
die Here weet om die godsaliges uit versoeking te verlos en die onregverdiges te bewaar vir die dag van oordeel om gestraf te word; en veral die wat die vlees in vuile begeerlikheid agternaloop en die heerskappy verag. Vermetel en aanmatigend, skroom hulle nie om die heerlike wesens te belaster nie, terwyl die engele, hoewel groter in sterkte en krag, geen lasterlike oordeel teen hulle by die Here voorbring nie.
2 PETRUS 2:9-11 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Die Here weet dus om dié mense wat naby aan Hom leef, uit beproewing en swaarkry te red, maar om dié wat ’n verkeerde lewe lei, te straf en vir die oordeelsdag te bêre. Hy gaan veral húlle straf wat toegee aan die vuil begeertes van hulle natuurlike drange en wat geen respek vir gesag het nie. Hierdie leraars is uitdagend en vermetel. Hulle huiwer selfs nie om glansryke wesens te beledig nie. Selfs die engele, wat tog baie sterker en magtiger as die vals leraars is, maak nie in die Here se Naam lasterlike uitsprake teen hierdie wesens nie.
2 PETRUS 2:9-11 DB (Die Boodskap)
Gelukkig weet die Here hoe om almal te help wat in ’n opregte verhouding met Hom leef as hulle voor versoekings te staan kom. Hy help hulle om nie daaraan toe te gee nie. Maar die Here weet ook hoe om slegte mense te straf en hoe om hulle gevange te hou tot op die groot oordeelsdag. Dit is veral daardie mense wat agter al hulle seksuele begeertes aanloop en hulle oorgee aan elke vorm van seksuele perversiteit wat moet lig loop. Hierdie mense wys dat hulle hulle nie aan die Here se gesag steur nie. Daarom gaan Hy hulle swaar straf. Hierdie vals leraars oor wie ek met julle praat, dink heeltemal te veel van hulleself. Hulle is arrogant. Dit pla hulle nie wanneer hulle die glorieryke hemelse wesens beledig nie. Nie eens een van die engele, wat baie sterker en belangriker as daardie mense is, sal so iets waag nie. Geen engel sal ooit beledigende dinge oor hierdie wesens sê voor die Here nie.
2 PETRUS 2:9-11 ABA (Bybel vir almal)
Maar die Here weet dat Hy die mense sal red wat Hom dien, Hy sal hulle red wanneer hulle baie swaar kry, en Hy sal die mense wat verkeerd lewe, aanhou straf totdat die oordeelsdag kom. Vir wie sal die Here die meeste straf? Hy sal die mense straf wat graag dinge wil doen wat 'n skande is en wat hulleself vuil van die sonde laat word. Hulle dink die Here wat regeer, is nie belangrik nie. Hierdie vals leermeesters praat verkeerd, maar hulle is nie bekommerd daaroor nie. Hulle dink hulle is beter as ander mense. Daarom is hulle nie bang om slegte dinge te sê oor die engele nie. Maar die Here se engele is sterker en hulle het meer krag as die vals leermeesters. Die Here se engele beskuldig nie die ander engele nie.
2 PETRUS 2:9-11 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
dan weet die Here tog baie goed om daardie mense wat godvresend leef, uit versoeking te red, maar ook om die onregverdiges tot op die dag van oordeel gevange te hou, sodat hulle gestraf kan word – veral dié wat agter die besoedelende begeerte van die natuurlike liggaam aanloop, en wat gesag verag. Hulle is roekelose, arrogante mense. Hulle skram nie daarvan weg om die hemelse wesens te belaster nie; terwyl selfs engele, wat daardie wesens tog in sterkte en krag oortref, nie teen hulle 'n klag van laster voor die Here inbring nie.
2 PETRUS 2:9-11 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
Die Here weet hoe om die godvresendes uit versoekings te verlos en om die onregverdiges te bewaar tot die dag van oordeel om gestraf te word. Maar veral die wat na die vlees wandel in die begeerlikheid van onreinheid en die regering verag. Vermetel is hulle, eiewillig, hulle is nie bang om van waardigheid kwaad te praat nie. Terwyl engele, wat groter is in krag en mag, geen lasterlike beskuldiging teen hulle voor die Here bring nie.