2 KONINGS 5:13-15 - Compare All Versions

2 KONINGS 5:13-15 ABA (Bybel vir almal)

Maar sy bediendes het met hom kom praat en hulle het vir hom gesê: “Meneer, as die profeet vir jou gesê het jy moet iets doen wat moeilik is, dan sou jy dit gedoen het. Maar nou het hy vir jou gesê: ‘Gaan was jou, dan sal jy weer rein wees.’ ” Toe gaan Naäman af na die Jordaan-rivier en hy duik sewe maal in die water soos die man van God gesê het. Daarna was sy vel so gesond soos 'n klein seuntjie se vel, en hy was weer rein. Hy het teruggegaan na die man van God toe en hy en al sy mense het voor Elisa kom staan. Naäman het gesê: “Luister asseblief, ek weet nou daar is op die hele aarde nie 'n ander God nie, daar is net die God van Israel. En nou wil ek graag vir jou 'n present gee.”

2 KONINGS 5:13-15 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

Toe kom sy dienaars nader en spreek met hom en sê: My vader, as die profeet u 'n groot saak beveel het, sou u dit nie doen nie? Hoeveel te meer nou dat hy u gesê het: Was jou, en jy sal rein word? Daarop het hy afgeklim en sewe maal in die Jordaan ondergeduik volgens die woord van die man van God, en sy vlees het teruggekeer soos die vlees van 'n jong seun, en hy het rein geword. Toe draai hy om na die man van God, hy en sy hele gevolg, en hy het ingekom en voor hom gaan staan en gesê: Kyk, nou weet ek dat daar geen God op die hele aarde is nie, behalwe in Israel. Neem dan nou tog 'n geskenk aan van u dienaar.

2 KONINGS 5:13-15 AFR83 (Afrikaans 1983)

Sy amptenare het by hom gekom en mooi met hom gepraat: “Meneer, as die profeet iets moeiliks van u verwag het, sou u dit nie gedoen het nie? Hoeveel te meer nou dat hy eenvoudig vir u gesê het: Was jou en jy sal rein wees?” Hy het toe afgegaan na die Jordaan toe en hom sewe keer daarin gebad, soos die man van God gesê het, en sy vel het gesond geword soos dié van 'n klein seuntjie en hy was weer rein. Hy en sy hele gevolg het teruggegaan na die man van God toe. Daar aangekom, het Naäman voor die man van God gaan staan en gesê: “Ek weet nou, daar is geen God op die hele aarde nie behalwe in Israel. Aanvaar asseblief hierdie geskenk van my.”

2 KONINGS 5:13-15 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Maar sy dienaars het nader gegaan en met hom gepraat. “My vader,” het hulle gesê, “as dit 'n moeilike opdrag was wat die profeet u gegee het, sou u dit nie gedoen het nie? Hoeveel te meer wanneer hy vir u gesê het, ‘Was en word rein!’ ” Hy het toe afgegaan en sy liggaam sewe keer in die Jordaan gedompel, volgens die woord van die man van God. Sy liggaam het herstel en geword soos die liggaam van 'n klein seuntjie, en hy was rein. Toe draai hy terug na die man van God, hy en sy hele gevolg. Hy het gekom en voor hom gaan staan en gesê: “Kyk, ek besef nou dat daar geen God in die hele wêreld is nie, behalwe in Israel! Daarom, aanvaar asseblief 'n buitengewone geskenk van u dienaar.”

2 KONINGS 5:13-15 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

En sy dienaars het nader gekom en met hom gespreek en gesê: My vader, as die profeet jou iets groots aangesê het om te doen, sou jy dit nie gedoen het nie? hoeveel eerder as Hy vir jou sê: Was en word rein? Toe het hy afgegaan en hom sewe maal in die Jordaan gedoop, volgens die woord van die man van God; en sy vlees het teruggekom soos die vlees van 'n kindjie, en hy was rein. En hy het na die man van God teruggekeer, hy en sy hele menigte, en gekom en voor hom gaan staan; en hy het gesê: Kyk, nou weet ek dat daar geen God op die hele aarde is nie, behalwe in Israel; Bid, neem 'n seën van u kneg.

2 KONINGS 5:13-15 DB (Die Boodskap)

Sy offisiere het Naäman tot bedaring probeer bring. Hulle het versigtig met hom gepraat en gesê: “Meneer, as hy nou vir u gesê het om ’n baie moeilike ding te gaan doen, sou u dit tog gedoen het? Maar nou het hy ’n maklike opdrag gegee. Moet u nie maar gaan was soos hy gesê het om gesond te word nie?” Naäman het toe na die Jordaanrivier toe afgedraai en hom sewe keer in die water gewas, soos Elisa gesê het. Hy het heeltemal gesond geword en sy vel was weer soos ’n jong seun s’n. Naäman en sy hele gevolg het na Elisa toe teruggegaan. Hy het vir Elisa gesê: “Ek weet nou beslis dat Israel se God die enigste God op aarde is. Aanvaar asseblief die geskenk wat ek saamgebring het.”

2 KONINGS 5:13-15 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Maar sy amptenare het probeer om hom te oortuig en gesê: “Meneer, as die profeet gesê het dat u een of ander moeilike ding moes doen, sou u dit nie gedoen het nie? Hoeveel te meer nou dat hy sê: ‘Gaan en was jou en jy sal gesond word’?” Naäman het toe afgegaan na die Jordaanrivier toe en hom sewe keer in die rivier gewas, soos die man van God hom beveel het. Toe word sy vel gesond soos dié van ’n jong seun s’n. Hy was volkome genees! Naäman en sy hele gevolg gaan toe terug na die man van God toe. Hy het voor hom gestaan en gesê: “Nou weet ek dat daar geen God in die hele wêreld is nie, behalwe in Israel. Aanvaar asseblief my geskenk.”