2 KONINGS 14:1-22
2 KONINGS 14:1-22 Bybel vir almal (ABA)
Amasia seun van Joas het koning van Juda geword in die tweede jaar nadat Joas seun van Joahas koning van Israel geword het. Amasia was 25 jaar oud toe hy koning geword het, en hy was 29 jaar lank koning in Jerusalem. Sy ma se naam was Jehoaddan, sy was van Jerusalem. Amasia het dinge gedoen waarvan die Here hou, maar hy het nie alles gedoen soos sy voorvader Dawid nie. Amasia het gedoen soos sy pa Joas gedoen het. Amasia het ook nie die offer-plekke afgebreek nie. Die mense het nog op die offer-plekke ge-offer en wierook gebrand. Toe Amasia seker was dat hy koning sal bly, het hy sy amptenare doodgemaak wat vir sy pa vermoor het. Hy het nie die kinders van die moordenaars doodgemaak nie, want in die Wette van Moses is geskryf dat die Here gesê het: “ Wanneer 'n kind sonde doen, dan moet sy pa nie daaroor sterf nie, en wanneer 'n pa sonde doen, dan moet sy kind nie daaroor sterf nie. Elkeen mag net vir sy eie sondes sterf.” Dit is Amasia wat 10 000 Edomiete oorwin het in die Sout-vallei. Hy het die stad Sela in die oorlog oorwin en gevat, en hy het die naam van die stad verander na Jokteël. Dit is tot vandag toe die naam van daardie stad. In daardie tyd het Amasia boodskappers gestuur na Joas seun van Joahas seun van koning Jehu van Israel. Die boodskappers moes vir Joas sê: “Kom ons maak oorlog teen mekaar.” Koning Joas van Israel het vir koning Amasia van Juda geantwoord: “Die doringbos op die Libanon-berg laat weet vir die sederboom op die Libanon-berg: ‘Gee jou dogter sodat my seun met haar kan trou.’ En toe kom daar 'n wilde dier van die Libanon-berg verby en hy trap die doringbos plat. Jy het die Edomiete oorwin, dit is seker. En nou verbeel jy jou dat jy baie belangrik is. Bly by jou huis. Hoekom wil jy probleme maak vir jouself? Jy sal sterf, en die mense van Juda saam met jou.” Maar Amasia wou nie luister nie. Toe het koning Joas van Israel gekom, en hy en koning Amasia van Juda het teen mekaar oorlog gemaak in die stad Bet-Semes. Bet-Semes het aan Juda behoort. Israel het gewen teen Juda, en die manne van Juda het gevlug, elkeen na sy huis. Koning Joas van Israel het vir koning Amasia seun van Joas seun van Ahasia gevang by Bet-Semes en hy het vir Amasia na Jerusalem gebring. Daar het Joas 'n stuk van Jerusalem se muur laat afbreek, die stuk muur was 400 el lank. Dit was tussen die Efraim-poort en die Hoek-poort. Joas het ook al die goud en silwer en die ander goed gevat wat hy in die tempel en in die stoorkamers van die paleis kon kry. Hy het ook gyselaars saam met hom geneem. En toe het hy teruggegaan na die stad Samaria. Al die ander dinge wat Joas gedoen het, ook die dapper dinge wat hy gedoen het en sy oorlog teen koning Amasia van Juda, is geskryf in die dagboeke van die konings van Israel. Joas het gesterf, en sy mense het hom begrawe in Samaria by die konings van Israel. Sy seun Jerobeam het koning geword ná hom. Koning Amasia van Juda, seun van Joas, het nog 15 jaar gelewe nadat Joas seun van Joahas koning van Israel gesterf het. Die ander dinge wat Amasia gedoen het, is geskryf in die dagboek van die konings van Juda. Mense in Jerusalem het besluit om Amasia dood te maak. Hy het gevlug na die stad Lakis, maar hulle het mense daarnatoe gestuur om hom te vang, en hulle het hom daar doodgemaak. Hulle het sy liggaam op perde teruggebring, en hulle het hom begrawe in Jerusalem by sy voorvaders in die Dawidstad. Al die mense in Jerusalem het toe vir Ussia geneem en hulle het hom koning gemaak ná sy pa Amasia. Ussia was toe 16 jaar oud. Dit is hý wat die stad Elat weer gebou het en wat die stad teruggevat het vir Juda. Ussia het dit gedoen nadat koning Amasia gesterf het.
2 KONINGS 14:1-22 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
IN die tweede jaar van Joas, die seun van Jóahas, die koning van Israel, het Amásia, die seun van Joas, die koning van Juda, koning geword. Vyf-en-twintig jaar was hy oud toe hy koning geword het; en negen-en-twintig jaar het hy in Jerusalem geregeer; en die naam van sy moeder was Joáddan van Jerusalem. En hy het gedoen wat reg was in die oë van die HERE, hoewel nie soos sy vader Dawid nie; net soos sy vader Joas gedoen het, het hy gedoen. Net die hoogtes is nie afgeskaf nie: die volk het nog op die hoogtes geoffer en rook laat opgaan. En sodra die koningskap in sy hand bevestig was, het hy sy dienaars, die moordenaars van sy vader, die koning, omgebring. Maar die kinders van die moordenaars het hy nie laat doodmaak nie, soos geskrywe is in die wetboek van Moses, waar die HERE dít beveel het: Die vaders mag nie vir die kinders, en die kinders mag nie vir die vaders gedood word nie; maar elkeen moet vir sy eie sonde sterwe. Hý het die Edomiete in die Soutdal verslaan, tienduisend man, en Sela in die oorlog verower en dit Jókteël genoem, tot vandag toe. Toe stuur Amásia boodskappers na Joas, die seun van Jóahas, die seun van Jehu, die koning van Israel, om te sê: Kom, laat ons mekaar se aangesig sien. Maar Joas, die koning van Israel, het Amásia, die koning van Juda, dít laat weet: Die distel wat op die Líbanon is, het die seder wat op die Líbanon is, laat weet: Gee jou dogter aan my seun as vrou! Maar die diere van die veld wat op die Líbanon is, het verbygegaan en die distel vertrap. U het inderdaad die Edomiete verslaan, daarom is u hart hoogmoedig; geniet die eer en bly tuis. Waarom wil u u tog in die ongeluk stort, dat u sou val, u en Juda saam met u? Maar Amásia het nie geluister nie. Toe trek Joas, die koning van Israel, op; en hy en Amásia, die koning van Juda, het mekaar se aangesig gesien by Bet-Semes wat aan Juda behoort. En Juda is voor Israel verslaan, en hulle het gevlug elkeen na sy tente toe. En Joas, die koning van Israel, het Amásia, die koning van Juda, die seun van Joas, die seun van Ahásia, by Bet-Semes gevang; en hy het in Jerusalem gekom en vierhonderd el van die muur van Jerusalem afgebreek, van die Efraimspoort af tot by die Hoekpoort. En hy het al die goud en die silwer geneem, en al die voorwerpe wat in die huis van die HERE en in die skatkamers van die huis van die koning te vinde was, en ook die gyselaars, en omgedraai na Samaría. En die verdere geskiedenis van Joas, wat hy gedoen het, en sy magtige dade en hoe hy teen Amásia, die koning van Juda, geveg het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel nie? En Joas het ontslaap met sy vaders en is begrawe in Samaría by die konings van Israel; en sy seun Jeróbeam het in sy plek koning geword. En Amásia, die seun van Joas, die koning van Juda, het ná die dood van Joas, die seun van Jóahas, die koning van Israel, vyftien jaar gelewe. En die verdere geskiedenis van Amásia, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Juda nie? En hulle het 'n sameswering in Jerusalem teen hom gesmee, sodat hy na Lagis gevlug het; maar hulle het agter hom aan gestuur na Lagis en hom daar gedood. En hulle het hom op perde vervoer, en hy is begrawe in Jerusalem by sy vaders in die stad van Dawid. En die hele volk van Juda het Asárja geneem, wat toe sestien jaar oud was, en hom koning gemaak in die plek van sy vader Amásia. Hý het Elat gebou en weer aan Juda teruggebring, nadat die koning met sy vaders ontslaap het.
2 KONINGS 14:1-22 Afrikaans 1983 (AFR83)
In die tweede regeringsjaar van koning Joas van Israel, seun van Joahas, het Amasia seun van koning Joas van Juda op die troon gekom. Hy was vyf en twintig toe hy koning geword het en hy het nege en twintig jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Jehoaddan, uit Jerusalem. Hy het gedoen wat reg is in die oë van die Here, maar nie heeltemal soos sy voorvader Dawid gedoen het nie; hy het alles gedoen wat Joas, sy pa, gedoen het. Hy het net nie van die hoogtes ontslae geraak nie: die volk het nog diereoffers en wierookoffers gebring op die hoogtes. Nadat hy goed gevestig was in sy koningskap, het hy die amptenare laat doodmaak deur wie sy pa, die koning, vermoor is. Hy het nie die kinders van die moordenaars ook laat doodmaak nie, soos dit op bevel van die Here geskrywe staan in die wetboek van Moses: “Vaders mag nie oor die optrede van kinders en kinders nie oor die optrede van vaders doodgemaak word nie. Elkeen kan net vir sy eie sonde die doodstraf kry.” Hy het tien duisend Edomiete in die Soutvlakte verslaan en Sela in die oorlog verower en dit Jokteël genoem, soos dit vandag nog bekend staan. Amasia het 'n boodskap gestuur na koning Joas van Israel, seun van Joahas, seun van Jehu: “Kom ons veg teen mekaar.” Koning Joas van Israel het vir koning Amasia van Juda terug laat weet: “Die doringbos op die Libanon laat weet vir die seder op die Libanon: ‘Laat jou dogter met my seun trou,’ en toe kom die wilde diere van die Libanon verby en trap die doringbos plat. Noudat jy Edom 'n groot neerlaag toegedien het, soek jy meer roem. Bly liewer by die huis. Waarom wil jy jou in die ongeluk stort en tot 'n val kom, jy en Juda saam met jou?” Koning Amasia van Juda het nie geluister nie. Hy het teen koning Joas van Israel opgetrek en in Bet-Semes in Juda het hulle slaags geraak. Juda het 'n neerlaag gely teen Israel, en die manskappe het op die vlug geslaan, elkeen na sy huis toe. Koning Joas van Israel het vir koning Amasia van Juda, seun van Joas seun van Ahasia, gevange geneem in Bet-Semes. Toe Joas in Jerusalem kom, het hy 'n stuk muur van Jerusalem laat afbreek van die Efraimspoort af tot by die Hoekpoort, honderd en tagtig meter. Hy het al die goud en silwer gevat en al die ander goed wat hy in die huis van die Here en in die skatkamers van die paleis kon kry, en dit saam met gyselaars na Samaria toe gebring. Die ander verhale oor Joas en wat hy gedoen het, sy dapperheid en hoe hy teen koning Amasia van Juda geveg het, is opgeteken in die annale van die konings van Israel. Joas is oorlede, en hy is begrawe in Samaria by die ander konings van Israel. Sy seun Jerobeam het hom as koning opgevolg. Koning Amasia van Juda, seun van Joas, het ná die dood van koning Joas van Israel, seun van Joahas, nog vyftien jaar geleef. Die ander verhale oor Amasia is opgeteken in die annale van die konings van Juda. Toe hulle in Jerusalem teen hom saamgesweer het, het hy na Lakis toe gevlug, maar hulle het mense agter hom aan gestuur daarheen, en hulle het hom daar doodgemaak. Hulle het sy lyk met perde teruggebring, en hy is begrawe in sy familiegraf in die Dawidstad. Die hele Judese volk het vir Asarja gevat en hom in die plek van Amasia, sy pa, koning gemaak. Hy was toe sestien jaar oud en het Elat herbou en onder die gesag van Juda teruggebring nadat die koning van daardie gebied dood is.
2 KONINGS 14:1-22 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
In die tweede regeringsjaar van Joas, seun van Joagas, die koning van Israel, het Amasia, seun van Jehoas, die koning van Juda geword. Hy was vyf-en-twintig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het nege-en-twintig jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Sy moeder se naam was Jehoaddan, uit Jerusalem. Hy het gedoen wat reg is in die oë van die HERE, maar nie soos sy voorvader Dawid nie. Hy het opgetree net soos sy vader Jehoas opgetree het – net die offerhoogtes is nie verwyder nie. Die volk het nog steeds geslag en offers verbrand by die offerhoogtes. Pas nadat hy die koningskap stewig in sy hand gehad het, het hy sy amptenare tereggestel – dié wat sy vader, die koning, vermoor het. Die moordenaars se kinders het hy egter nie laat doodmaak nie, soos geskryf is in die •boekrol met die Wet van Moses, waar die HERE beveel: “Ouers mag nie doodgemaak word oor kinders nie, en kinders mag nie doodgemaak word oor ouers nie; maar elkeen moet vir sy eie sonde sterf.” Hy is die een wat tienduisend Edomiete in die Soutvallei verslaan het. Hy het Sela in die geveg verower, en dit die naam Jokteël gegee, soos dit vandag nog is. In dié tyd het Amasia boodskappers na Joas, seun van Joagas, seun van Jehu, die koning van Israel, gestuur om vir hom te sê: “Kom ons kyk mekaar in die oë. ” Maar Joas, koning van Israel, het vir Amasia, koning van Juda, laat weet: “Die sydissel wat op die Libanon is, het vir die seder wat op die Libanon is, laat weet, ‘Gee jou dogter aan my seun as vrou.’ Die wilde diere wat op die Libanon is, het egter verbygegaan en die sydissel vertrap. Jy het inderdaad die Edomiete 'n nederlaag toegedien, en jou hart is opgetoë. Geniet die eer en bly tuis! Waarom wil jy jouself in die ongeluk dompel en tot 'n val kom, jy en Juda saam met jou?” Amasia het egter nie geluister nie. Joas, koning van Israel, trek toe op en hy en Amasia, koning van Juda, het mekaar in die oë gekyk by Bet-Semes, wat aan Juda behoort. Maar Juda is voor Israel verslaan, en hulle het gevlug, elkeen na sy tente toe. Joas, koning van Israel, het Amasia, seun van Jehoas, seun van Ahasia, koning van Juda, in Bet-Semes gevange geneem. Joas het Jerusalem binnegegaan en die stadsmuur van Jerusalem afgebreek, van die Efraimspoort tot by die Hoekpoort – vierhonderd el. Hy het al die goud en silwer geneem, en al die voorwerpe wat in die huis van die HERE en in die skatkamers van die koninklike paleis te vinde was, saam met gyselaars, en na Samaria teruggekeer. Die verdere geskiedenis van Joas, alles wat hy gedoen het, en sy magtige dade, hoe hy teen Amasia, die koning van Juda oorlog gevoer het, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Israel nie? Joas het by sy voorouers gaan rus, en hy is in Samaria begrawe by die konings van Israel. Jerobeam, sy seun, het in sy plek koning geword. Amasia, seun van Jehoas, koning van Juda, het ná die dood van Joas, seun van Joagas, koning van Israel, nog vyftien jaar lank geleef. Die verdere geskiedenis van Amasia, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Juda nie? Toe daar in Jerusalem 'n komplot teen hom gesmee is, het hy na Lagis gevlug. Maar hulle het manne agter hom aan gestuur na Lagis, en dié het hom daar doodgemaak. Hulle het hom op perde vervoer, en hy is in Jerusalem begrawe by sy voorouers in die •Stad van Dawid. Die hele bevolking van Juda het toe vir Asarja geneem – hy was sestien jaar oud – en hom koning gemaak in die plek van sy vader Amasia. Hy is die een wat Elat herbou en teruggebring het onder Juda se beheer, nadat die koning by sy voorouers gaan rus het.
2 KONINGS 14:1-22 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
In die tweede jaar van Joas, seun van Joahas, die koning van Israel, het Amásia, die seun van Joas, die koning van Juda, geregeer. Hy was vyf en twintig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het nege en twintig jaar in Jerusalem geregeer. En die naam van sy moeder was Joaddan van Jerusalem. En hy het gedoen wat reg was in die oë van die HERE, maar nie soos sy vader Dawid nie; hy het gedoen volgens alles soos sy vader Joas gedoen het. Maar die hoogtes is nie weggeneem nie, maar die volk het nog op die hoogtes geoffer en rook laat opgaan. En sodra die koningskap in sy hand bevestig is, het hy sy dienaars gedood wat die koning, sy vader, doodgemaak het. Maar die kinders van die moordenaars het hy nie gedood nie, volgens wat geskrywe is in die wetboek van Moses, waarin die HERE beveel het en gesê het: Die vaders mag nie vir die kinders gedood word en die kinders nie gedood word nie en dood vir die vaders; maar elkeen moet vir sy eie sonde gedood word. Hy het Edom in die soutdal tienduisend verslaan en Sela in die oorlog ingeneem en dit Jokteel genoem tot vandag toe. Toe stuur Amasia boodskappers na Joas, die seun van Joahas, die seun van Jehu, die koning van Israel, om te sê: Kom, laat ons mekaar in die aangesig kyk. En Joas, die koning van Israel, het na Amásia, die koning van Juda, gestuur om te sê: Die distel wat op die Líbanon was, het na die seder wat op die Líbanon was, gestuur om te sê: Gee jou dogter aan my seun as vrou, en daar het 'n wilde dier verbygegaan wat was in die Líbanon en die distel getrap. Waarlik, jy het Edom geslaan, en jou hart het jou verhef; eer hiervan, en vertoef by die huis; Maar Amasia wou nie hoor nie. Daarom het Joas, die koning van Israel, opgetrek; en hy en Amásia, die koning van Juda, het mekaar in die aangesig gekyk by Bet-Semes, wat aan Juda behoort. En Juda is vererger voor Israel; en hulle het elkeen na hulle tente gevlug. En Joas, die koning van Israel, het Amásia, die koning van Juda, die seun van Joas, die seun van Ahásia, in Bet-Semes geneem en in Jerusalem gekom en die muur van Jerusalem afgebreek van die Efraim-poort af tot by die Hoekpoort, vier honderd el. En hy het al die goud en silwer en al die voorwerpe wat in die huis van die HERE en in die skatte van die huis van die koning gevind was, en gyselaars geneem en na Samaria teruggekeer. En die verdere geskiedenis van Joas wat hy gedoen het en sy magtige dade en hoe hy teen Amásia, die koning van Juda, geveg het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel nie? En Joas het ontslaap met sy vaders en is begrawe in Samaría by die konings van Israel; en sy seun Jeróbeam het in sy plek geregeer. En Amásia, die seun van Joas, die koning van Juda, het ná die dood van Joas, die seun van Joahas, die koning van Israel, vyftien jaar gelewe. En die verdere geskiedenis van Amásia, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Juda nie? En hulle het 'n sameswering teen hom in Jerusalem gemaak, en hy het na Lagis gevlug; maar hulle het agter hom aan na Lagis gestuur en hom daar gedood. En hulle het hom op perde gebring, en hy is in Jerusalem by sy vaders in die stad van Dawid begrawe. En die hele volk van Juda het Asárja, wat sestien jaar oud was, geneem en hom koning gemaak in die plek van sy vader Amásia. Hy het Elat gebou en dit aan Juda teruggegee, nadat die koning met sy vaders ontslaap het.
2 KONINGS 14:1-22 Die Boodskap (DB)
Amasia, die seun van Joas, het koning van Juda geword. Dit was in die tweede jaar wat koning Joas, die seun van Joahas, in Israel regeer het. Amasia was 25 toe hy koning geword het en hy het 29 jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Jehoaddan, afkomstig uit Jerusalem. Wat Amasia gedoen het, het die Here tevrede gestel, maar nie soos sy voorvader Dawid nie. Hy het dieselfde dinge as sy pa Joas gedoen: hy het nie die heidene se heilige plekke vernietig nie. Die mense kon aanhou om diere daar te gaan offer en wierook te brand. Toe die mag stewig in Amasia se hande gevestig was, het hy die amptenare wat sy pa vermoor het, laat doodmaak. Hy het egter nie hulle kinders laat doodmaak nie, want die Here verbied dit in die wetboek van Moses. Daar staan dat ’n ouer nie vir die oortreding van ’n kind, of ’n kind vir die oortreding van ’n ouer die doodstraf kan kry nie. Elkeen moet vir sy eie oortredings gestraf word. Dit was Amasia wat 10 000 Edomiete in die Soutdal verslaan het. Hy het ook die dorp Sela verower en die naam na Jokteël verander, soos dit nou nog genoem word. Op ’n dag het Amasia boodskappers na koning Joas van Israel, die seun van Joahas en kleinseun van Jehu, gestuur. Die boodskap was: “Kom, laat ons teen mekaar veg!” Joas het Amasia met ’n fabel geantwoord: “In die Libanonberg was daar ’n distelbos wat vir die sederboom gesê het: ‘Laat jou dogter met my seun trou.’ Net toe kom daar egter ’n wilde dier verby wat die distelbos vertrap. Jy het inderdaad nou vir Edom verslaan en jy voel trots daarop. Wees tog nou tevrede daarmee en bly by die huis! Waarom wil jy nou moeilikheid maak wat vir jou én die mense van Juda net ongeluk kan bring?” Amasia wou nie luister nie. Joas van Israel het toe teen Amasia van Juda gaan veg en hulle het by Bet-Semes in Juda slaags geraak. Juda is deur Israel oorwin en die soldate het huis toe gevlug. Joas het Amasia in Bet-Semes gevang en verder getrek Jerusalem toe. Daar het hy ’n stuk van Jerusalem se muur laat afbreek: omtrent 180 meter tussen die Efraimspoort en die Hoekpoort. Toe het hy die stad geplunder: hy het al die goud en silwer wat hy kon kry, gevat, asook die waardevolle goed in die tempel en die stoorkamers van die paleis. Hy het dit, saam met die gyselaars wat hy gevang het, Samaria toe geneem. Die res van Joas se geskiedenis en wat hy alles gedoen het, ook sy dapperheid in sy gevegte teen Amasia, die koning van Juda, word vertel in Die lewe en werk van al Israel se konings. Na sy dood is hy by die konings van Israel in Samaria begrawe. Jerobeam II het hom opgevolg. Amasia het ná Joas se dood nog vyftien jaar lank gelewe. Die res van Amasia se geskiedenis word vertel in Die lewe en werk van al Juda se konings. Daar is ’n komplot in Jerusalem teen Amasia gesmee en hy het na Lagis toe gevlug. Die samesweerders het die moordenaars agter hom aangestuur en hom daar in Lagis vermoor. Hulle het sy lyk op perde na Jerusalem toe teruggeneem, waar hy in sy familiegraf in die Stad van Dawid begrawe is. Al die mense van Juda het toe Amasia se sestienjarige seun Asarja koning gemaak in sy pa se plek. Na sy pa se dood het Asarja die stad Elat herbou en dit vir Juda teruggeneem.
2 KONINGS 14:1-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
In die tweede jaar van die regering van koning Joas van Israel, seun van Joahas, het Amasia seun van Joas koning van Juda geword. Amasia was 25 jaar oud toe hy koning geword het en hy het 29 jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Jehoaddan van Jerusalem. Amasia het gedoen wat vir die HERE reg was, maar nie soos sy voorvader Dawid nie. Hy het die voorbeeld van sy pa Joas gevolg. Hy het net nie die heidense hoogtes waar die volk offers gebring het en wierook gebrand het, vernietig nie. Toe hy as koning gevestig was, het hy die mans wat sy pa in ’n sluipmoord doodgemaak het, tereggestel. Hy het egter nie die sluipmoordenaars se kinders doodgemaak nie, want hy was gehoorsaam aan die eise van die HERE volgens die boek van die bepalings van Moses, wat lui: “Ouers moenie doodgemaak word vir die sondes van hulle kinders nie, of die kinders vir die sondes van die ouers nie. Elkeen moet vir sy eie misdade tereggestel word.” Amasia het 10 000 Edomiete in die Soutvlakte verslaan. Hy het ook Sela verower en die naam na Jokteël verander, soos dit vandag nog genoem word. Op ’n dag stuur Amasia hierdie uitdaging aan Israel se koning Joas, seun van Joahas en kleinseun van Jehu: “Kom ons veg teen mekaar!” Maar koning Joas van Israel antwoord koning Amasia van Juda: “Die doringbos op die Libanon het ’n boodskap aan die sederboom op die Libanon gestuur: ‘Gee my jou dogter as vrou vir my seun.’ Maar ’n wilde dier van die Libanon het daar verbygekom en die doringbos vertrap. Jy het wel vir Edom verslaan, maar nou gaan dit na jou kop toe. Wees nou tevrede met jou oorwinning en bly tuis! Hoekom soek jy moeilikheid wat vir jou en Juda saam met jou ellende sal bring?” Maar Amasia wou nie luister nie. Koning Joas van Israel het toe sy leër opgeroep om teen koning Amasia oorlog te maak. Die twee leërs het by Bet-Semes in Juda teenoor mekaar stelling ingeneem. Die leër van Israel het egter vir Juda verslaan en die manskappe het huis toe gevlug. Koning Joas van Israel het vir koning Amasia van Juda by Bet-Semes gevang. Daarna ruk hy op na Jerusalem toe waar hy ongeveer 180 meter van Jerusalem se muur afgebreek het. Dit was vanaf die Efraimspoort tot by die Hoekpoort. Hy het al die goud en silwer en al die voorwerpe uit die tempel van die HERE en die skatkamers van die paleis gevat en saam met gyselaars na Samaria toe geneem. Die ander gebeurtenisse tydens Joas se bewind, wat hy gedoen het en sy oorlog teen koning Amasia van Juda is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Israel. Toe Joas sterf, is hy in Samaria by die ander konings van Israel begrawe. Sy seun Jerobeam II het hom opgevolg. Koning Amasia van Juda, seun van Joas, het ná die dood van koning Joas van Israel, seun van Joahas, nog vyftien jaar gelewe. Die ander gebeurtenisse tydens Amasia se bewind is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Juda. Daar is in Jerusalem teen Amasia saamgesweer sodat hy na Lakis gevlug het. Sy vyande het egter mense agter hom aan gestuur en hom daar doodgemaak. Hulle het sy liggaam op perde na Jerusalem toe gebring en hy is begrawe in die familiegraf in die Dawidstad. Al die mense van Juda het toe vir Asarja, die sestienjarige seun van Amasia, as koning gekroon in sy pa se plek. Hy het die dorp Elat herbou en dit ná die betrokke koning se dood weer onder die mag van Juda gebring.