2 KORINTIËRS 12:6-7
2 KORINTIËRS 12:6-7 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Al sou ek ook wou spog, sou ek nie dwaas wees nie, want dan sou ek die waarheid praat. Maar ek weerhou my daarvan sodat niemand méér oor my sal sê as wat hy van my sien en van my hoor nie, selfs nie as gevolg van die buitengewone openbarings nie. Daarom, sodat ek nie hoogmoedig moet word nie, is aan my ’n doring in die vlees gegee, ’n boodskapper van Satan om my te kasty.
2 KORINTIËRS 12:6-7 Bybel vir almal (ABA)
As ek besluit om te spog, dan sal ek nie 'n dom mens wees nie, want ek sal die waarheid praat. Maar ek het besluit om nie te spog nie. Want ek wil nie hê dat die mense moet dink ek is beter as wat ek was toe hulle my gesien of gehoor het nie. Want hulle weet van die belangrike dinge in die hemel wat God vir my gewys het. Maar God het iets in my lewe gegee, dit pla my baie. Hy het dit gegee sodat ek nie baie van myself moet dink nie. Hierdie ding is soos 'n engel van Satan. Die engel slaan my met sy vuis sodat ek nie baie van myself moet dink nie.
2 KORINTIËRS 12:6-7 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want as ek sou wil roem, sou ek nie 'n dwaas wees nie, want ek sou die waarheid praat; maar ek laat dit ná, sodat niemand my hoër mag skat as wat hy van my sien of wat hy van my hoor nie. En dat ek my oor die voortreflikheid van die openbaringe nie sou verhef nie, is my 'n doring in die vlees gegee, 'n engel van die Satan, om my met die vuis te slaan, dat ek my nie sou verhef nie.
2 KORINTIËRS 12:6-7 Afrikaans 1983 (AFR83)
Al sou ek wil roem, sal ek tog nie dwaas wees nie, omdat ek die waarheid sal praat. Maar ek weerhou my daarvan omdat ek nie wil hê dat iemand aan my meer moet toeskryf as wat hy my sien doen of my hoor sê nie, selfs nie vanweë die verhewenheid van die openbarings nie. Daarom, sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie, is daar vir my 'n doring in die vlees gegee, 'n boodskapper van Satan om my met vuiste te slaan.
2 KORINTIËRS 12:6-7 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
As ek my wel daarop wil beroem, sal ek nie dwaas wees nie, want ek sal die waarheid praat. Maar ek weerhou my daarvan, sodat niemand meer aan my sal toedig as wat hy van my sien of by my hoor nie, selfs met inagneming van die buitengewone aard van my openbarings. Daarom, om te keer dat ek opgeblase word, en sodat ek nie hoogmoedig mag word nie, is daar vir my 'n doring in die vlees gegee, 'n engel van Satan, om my met die vuis te slaan.
2 KORINTIËRS 12:6-7 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want al sou ek wou roem, ek sal nie 'n dwaas wees nie; want ek sal die waarheid sê; maar nou laat ek dit, dat niemand meer aan my dink as wat hy my sien wees of wat hy van my hoor nie. En dat ek nie deur die oorvloed van die openbaringe bo die maat verhef sou word nie, is aan my 'n doring in die vlees gegee, die boodskapper van Satan om my met die vuis te slaan, sodat ek nie bo die maat verhef sou word nie.
2 KORINTIËRS 12:6-7 Die Boodskap (DB)
As ek dit wel sou waag om ’n bietjie oor myself te praat, sal ek nie regtig ’n gek van myself maak nie, want alles wat ek sê, is die reine waarheid. Maar ek het besluit om dit nie te doen nie. Netnou dink mense dat ek verskriklik belangrik is as ek heeltyd net oor my groot geestelike ervarings praat. En dit is tog nie waaroor ons geloof gaan nie. Al wat julle eintlik oor my hoef te weet, is dit wat julle my sien doen en dit wat julle oor my werk as apostel hoor. Om seker te maak dat ek nie te veel van myself sou begin dink oor al die openbarings wat ek ontvang het nie, het God ’n groot struikelblok oor my pad gestuur. Al my swaarkry en swakhede was soos ’n doring wat die hele tyd in my voet bly vassit het. Ja, dit was soos ’n boodskapper wat die duiwel na my toe gestuur het om my pimpel en pers te kom slaan. Hierdie struikelblok moes keer dat ek verwaand raak oor al die wonderlike geestelike ervarings wat ek al beleef het.