2 KRONIEKE 24:1-27
2 KRONIEKE 24:1-27 Bybel vir almal (ABA)
Joas was sewe jaar oud toe hy koning geword het, en hy was 40 jaar lank koning in Jerusalem. Sy ma se naam was Sibja, sy het van die stad Berseba gekom. Terwyl die priester Jojada gelewe het, het Joas dinge gedoen waarvan die Here hou. Jojada het vir Joas twee vroue gekry, en Joas het seuns en dogters gehad. Later het Joas besluit om die tempel reg te maak. Hy het die priesters en die Leviete bymekaargeroep en vir hulle gesê: “Julle moet na die stede van Juda gaan en julle moet geld kry van al die Israeliete sodat julle elke jaar die tempel van julle God kan regmaak. Julle moet gou maak.” Maar die Leviete het nie gou gemaak nie. Toe roep die koning die hoëpriester Jojada en hy vra vir hom: “Hoekom het jy nie gekyk dat die Leviete die geld van die mense van Juda en Jerusalem kry nie? Dit is die geld wat hulle elke jaar moet betaal. Moses, die dienaar van die Here, het gesê die volk Israel moet die geld betaal vir die tent waarin die tien gebooie is.” Dit was nodig om die tempel reg te maak, want die slegte Atalia en haar mense het nie die tempel reggemaak nie en hulle het die gewyde dinge van die tempel gebruik vir die Baäls. Die koning het gesê hulle moet 'n kis maak en hulle moet dit voor die poort van die tempel sit, en hulle het dit gedoen. Hulle het toe vir die mense van Juda en Jerusalem gesê dat hulle die geld moet bring wat Moses, die dienaar van God, in die woestyn vir die Israeliete gevra het. Al die amptenare en die hele volk was bly daaroor. Hulle het almal die geld gebring en hulle het dit alles in die kis gegooi. Die Leviete moes elke maal die kis na die koning se amptenare toe bring. Wanneer die amptenare gesien het daar is baie geld in die kis, dan het die sekretaris van die koning en 'n priester gekom. Hulle het die kis leeggemaak en dit dan teruggesit op sy plek. Hulle het dit elke dag gedoen, en hulle het baie geld bymekaargemaak. Die koning en Jojada het dan die geld gegee vir die mense wat die tempel moes regmaak. Hulle het mense wat klippe gekap het, gehuur om die tempel reg te maak, en ook ambagsmanne en mense wat met yster en brons kon werk. Die mense wat die werk moes doen, het dit gedoen, en dit het goed gegaan met die werk. Hulle het die tempel reggemaak soos dit moet wees, hulle het dit weer sterk gemaak. Toe hulle klaar was, het hulle die geld wat oorgebly het, vir die koning en vir Jojada gegee, en hulle het gereedskap laat maak vir die tempel, gereedskap vir die werk by die tempel en vir die brand-offers. Hulle het ook panne en goue goed en silwergoed gemaak. Hulle het brand-offers gebring na die tempel so lank soos Jojada gelewe het. Jojada het oud geword. Hy het gesterf toe hy 130 jaar oud was. Hulle het hom begrawe by die konings in die Dawidstad, want hy het goeie dinge vir Israel en vir God en sy tempel gedoen. Nadat Jojada gesterf het, het die amptenare van Juda voor die koning kom buig, en hy het gedoen wat hulle gevra het. Hulle het die tempel gelos en hulle het gewyde pale en afgode gedien. Die Here het kwaad geword vir die mense van Juda en Jerusalem oor hierdie verkeerde dinge wat hulle gedoen het. Hy het profete na hulle toe gestuur om hulle te laat terugkom na Hom toe. Die profete het vir hulle gesê hulle doen verkeerde dinge, maar hulle het nie geluister nie. Toe het die Gees van God gekom in Sagaria seun van die priester Jojada. Sagaria het voor die mense gaan staan en hy het vir hulle gesê: “Hoekom doen julle nie wat die gebooie van die Here sê nie? Dit sal nie goed gaan met julle nie, want julle het die Here gelos, en nou het Hy júlle gelos.” Maar die mense het saam besluit om vir Sagaria dood te maak en hulle het hom met klippe doodgegooi op die oop stuk grond by die tempel. Die koning het gesê hulle moet dit doen. Koning Joas het nie onthou dat Sagaria se pa Jojada goed was vir hom nie, hy het gesê hulle moet Jojada se seun vermoor. Toe Sagaria sterf, het hy gesê: “Ek bid dat die Here dit sien en dat Hy jou sal straf.” Dit was die einde van die jaar. Die leër van die Arameërs het vir Joas en sy leër kom aanval. Die Arameërs het na Juda en Jerusalem gekom en hulle het al die leiers van die volk doodgemaak. Hulle het al die goed wat hulle gevat het, vir die koning van Damaskus gestuur. Die leër van die Arameërs was klein, maar die Here het hulle laat wen teen die groot leër van Juda, want die mense van Juda en Jerusalem het die Here, die God van hulle voorvaders, gelos. Die Arameërs het vir Joas gestraf. Toe hulle weggaan, het Joas ernstige seerplekke gehad. Party van sy amptenare het besluit om hom dood te maak omdat hy gesê het hulle moet die seun van die priester Jojada vermoor. Die amptenare het vir Joas op sy bed vermoor. Hy het gesterf, en hulle het hom begrawe in die Dawidstad, maar nie in die grafte waar hulle die konings begrawe het nie. Die manne wat hom vermoor het, was Sabad seun van Simat, en Josabad seun van Simrat. Simat was 'n Ammonitiese vrou, en Simrat was 'n Moabitiese vrou. Die name van Joas se seuns en die baie dinge wat profete teen hom gesê het en hoe hy die tempel laat regmaak het, is geskryf in die Verduidelikings van die Boek van die Konings. Joas se seun Amasia het koning geword ná hom.
2 KRONIEKE 24:1-27 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
JOAS was sewe jaar oud toe hy koning geword het, en hy het veertig jaar in Jerusalem geregeer; en die naam van sy moeder was Sibja, uit Berséba. En Joas het gedoen wat reg was in die oë van die HERE, al die dae van die priester Jójada. En Jójada het vir hom twee vroue geneem, en hy het die vader geword van seuns en dogters. En daarna het Joas hom voorgeneem om die huis van die HERE te herstel. Daarom het hy die priesters en die Leviete versamel en aan hulle gesê: Gaan uit na die stede van Juda en versamel geld uit die hele Israel om van jaar tot jaar die huis van julle God te herstel; en júlle moet gou maak met die saak! Maar die Leviete het nie gou gemaak nie. Toe roep die koning die hoofpriester Jójada en sê vir hom: Waarom het jy nie gesorg dat die Leviete uit Juda en uit Jerusalem die belasting van Moses, die kneg van die HERE, en van die vergadering van Israel vir die tent van die Getuienis inbring nie? Want die goddelose Atália — haar seuns het in die huis van God ingebreek en selfs al die heilige gawes van die huis van die HERE vir die Baäls gebruik. Op bevel van die koning maak hulle toe 'n kis en sit dit buitekant by die poort van die huis van die HERE neer. En hulle het uitgeroep in Juda en in Jerusalem om aan die HERE die belasting wat Moses, die kneg van God, op Israel in die woestyn gelê het, te bring. Toe was al die owerstes en die hele volk bly, en hulle het dit ingebring en in die kis gegooi totdat hulle klaar was. En elke keer as hulle die kis deur die diens van die Leviete by die wag van die koning bring en hulle sien dat die geld baie is, kom die skrywer van die koning en die opsigter van die hoofpriester en hulle maak die kis leeg en bring dit weer na sy plek terug; so het hulle van dag tot dag gedoen en geld in menigte versamel. En die koning en Jójada het dit aan die uitvoerders van die werk aan die huis van die HERE gegee, en dié het klipkappers en skrynwerkers gehuur om die huis van die HERE te herstel, en ook yster- en kopersmede om die huis van die HERE te verbeter. En die uitvoerders van die werk was ywerig besig, sodat die herstellingswerk deur hulle hand gevorder het, en hulle het die huis van God herstel volgens sy oorspronklike bouplan en dit reggemaak. En toe hulle klaar was, het hulle die orige geld voor die koning en Jójada gebring, en hy het daarvan gereedskap laat maak vir die huis van die HERE, diens- en offergereedskap en rookpanne en goue en silwervoorwerpe; en hulle was gedurigdeur besig om brandoffers te bring in die huis van die HERE al die dae van Jójada. En Jójada het oud geword en was afgeleef en het gesterwe; hy was honderd-en-dertig jaar oud toe hy gesterf het. En hy is begrawe in die stad van Dawid by die konings; want hy het goed gedoen in Israel teenoor God sowel as teenoor sy huis. Maar ná die dood van Jójada kom die owerstes van Juda en buig hulle voor die koning neer. Toe het die koning na hulle geluister, en hulle het die huis van die HERE, die God van hulle vaders, verlaat en het die heilige boomstamme en die afgode gedien. Toe kom daar 'n toorn oor Juda en Jerusalem weens hierdie skuld van hulle. En Hy het profete onder hulle gestuur om hulle na die HERE terug te bring; en dié het hulle gewaarsku, maar hulle het nie gehoor gegee nie. Toe het die Gees van God Sagaría, die seun van die priester Jójada, vervul, en dié het voor die volk gaan staan en aan hulle gesê: So spreek God: Waarom oortree julle die gebooie van die HERE en wil julle nie voorspoedig wees nie? Omdat julle die HERE verlaat het, het Hy julle verlaat. Daarop smee hulle 'n sameswering teen hom en stenig hom op bevel van die koning in die voorhof van die huis van die HERE. En koning Joas het nie gedink aan die guns wat sy vader Jójada aan hom bewys het nie en het sy seun vermoor. Maar toe dié sterwe, het hy gesê: Mag die HERE dit sien en rekenskap vorder! En by die wisseling van die jaar het 'n leër van Aram teen hom opgetrek, en hulle het in Juda en Jerusalem aangekom en al die volksowerstes onder die volk uitgeroei en al hulle buit na die koning van Damaskus gestuur. Alhoewel die leër van Aram met 'n geringe aantal manne gekom het, het die HERE tog 'n baie groot leër in hulle hand gegee, omdat hulle die HERE, die God van hulle vaders, verlaat het. En hulle het strafgerigte geoefen teen Joas. En toe hulle van hom wegtrek — want hulle het hom in hewige pyne agtergelaat — smee sy dienaars 'n sameswering teen hom vanweë die bloed van die seun van die priester Jójada; en hulle het hom op sy bed vermoor, sodat hy gesterf het; en hy is begrawe in die stad van Dawid, maar hulle het hom nie in die grafte van die konings begrawe nie. En dít is hulle wat teen hom saamgesweer het: Sabad, die seun van Símeat, die Ammonitiese, en Jósabad, die seun van Simrit, die Moabitiese. En sy seuns en die baie godsprake teen hom en die grondvesting van die huis van God — kyk, dit is beskrywe in die Uitleg van die boek van die konings. En sy seun Amásia het in sy plek koning geword.
2 KRONIEKE 24:1-27 Afrikaans 1983 (AFR83)
Joas was sewe toe hy koning geword het en hy het veertig jaar in Jerusalem geregeer. Sy ma was Sibja, uit Berseba. Solank die priester Jojada geleef het, het Joas gedoen wat reg is in die oë van die Here. Jojada het vir Joas twee vrouens gekies, en Joas het seuns en dogters gehad. Joas het besluit om herstelwerk aan die huis van die Here te doen. Hy het die priesters en die Leviete bymekaar laat kom en vir hulle gesê: “Gaan die stede van Juda deur en samel by al die Israeliete geld in om die huis van julle God te herstel soos dit van jaar tot jaar nodig mag wees. Doen dit dadelik.” Die Leviete het die opdrag egter nie dadelik uitgevoer nie, en die koning het die hoëpriester Jojada laat roep en vir hom gevra: “Waarom het jy nie toegesien dat die Leviete die bydraes uit Juda en Jerusalem inbring nie? Dit is tog die bydraes wat Moses, die dienaar van die Here, van die gemeente van Israel gevra het vir die tent met die getuienis!” Dit was die goddelose Atalia en haar volgelinge wat die tempel in verval laat raak het. Hulle het selfs die wydingsgeskenke van die huis van die Here vir die Baäls gebruik. In opdrag van die koning is daar toe 'n kis gemaak en voor die tempelpoort gesit, en in Juda en in Jerusalem is aangekondig dat die bydraes wat Moses, die dienaar van die Here, in die woestyn al van Israel gevra het, vir die Here gebring moes word. Al die leiers en die hele volk het die geld met blymoedigheid gebring en in die kis gegooi. So het al die bydraes ingekom. Telkens wanneer die kis na die Leviete toe gebring is vir kontrole namens die koning, en hulle vasgestel het dat daar baie geld in is, het die sekretaris van die koning en 'n beampte van die hoëpriester gekom en die kis leeggemaak. Dit is dan weer op sy plek terug gesit. So het hulle elke keer gedoen, en daar is baie geld ingesamel. Die koning en Jojada het die geld oorhandig aan die mense wat vir die instandhouding van die huis van die Here moes sorg, en dié het klipkappers en ander vakmanne in diens geneem om die huis van die Here te herstel, en ook vakmanne in yster en brons vir die opknapwerk. Die werkers het gewerk en die herstelwerk het vinnig gevorder. Hulle het die tempel herbou sodat dit weer was soos vroeër; hulle het dit weer sterk gemaak. Nadat die werk afgehandel is, is die geld wat oorgebly het, aan die koning en Jojada oorhandig, wat daarmee tempelgereedskap laat maak het: gereedskap vir die tempeldiens en die offers, panne, en ook goue en silwergereedskap. Solank Jojada geleef het, is daar voortdurend brandoffers by die tempel gebring. Jojada het 'n hoë ouderdom bereik. Hy is dood toe hy honderd en dertig jaar was. Hy is in die Dawidstad begrawe, by die konings, omdat hy goeie werk gedoen het vir Israel, vir God en sy tempel. Na die dood van Jojada het die leiers van Juda die koning kom ophemel, en hy het hom dit laat geval. Toe het hulle die huis van die Here die God van hulle voorvaders verlaat en gewyde pale en afgodsbeelde gaan dien. Met dié sondige optrede van hulle het Juda en Jerusalem die toorn van die Here op hulle gehaal. Die Here het profete na hulle toe gestuur om hulle na Hom toe terug te bring, en die profete het hulle gewaarsku, maar hulle het nie geluister nie. Die Gees van God het vir Sagaria seun van die priester Jojada in besit geneem. Sagaria het voor die volk gaan staan en vir hulle gesê: “So sê God: Waarom oortree julle die gebooie van die Here? Dit sal nie met julle goed gaan nie. Omdat julle die Here verlaat het, sal Hy julle verlaat.” Maar hulle het 'n vals aanklag teen Sagaria bedink en hom op bevel van die koning met klippe doodgegooi in die voorhof van die huis van die Here. Koning Joas het nie gedink aan die liefde wat sy pleegvader Jojada aan hom bewys het nie. Hy het Jojada se seun vermoor. Sagaria het, toe hy sterf, gesê: “Die Here sien dit, Hy sal julle straf!” Met die wisseling van die jaar het die leër van die Arameërs 'n aanval op Joas gemaak. Hulle het Juda en Jerusalem binnegedring, al die leiers van die volk doodgemaak en die buit wat hulle gemaak het, vir die koning van Damaskus gestuur. Die Aramese leër het met 'n klein klompie manskappe gekom, en die Here het 'n baie groot leër in hulle mag oorgegee. Dit was omdat die volk die Here die God van hulle voorvaders verlaat het. Die Arameërs het die straf van God oor Joas voltrek. Toe hulle weggaan, het hulle hom swaar gewond agtergelaat, en sy eie amptenare het teen hom saamgesweer en hom in sy bed vermoor. Dit was omdat hy die seun van die priester Jojada laat doodmaak het. So is Joas dood. Hy is in die Dawidstad begrawe, maar nie in 'n koningsgraf nie. Die manne wat teen hom saamgesweer het, was die Ammoniet Sabad seun van Simat en die Moabiet Josabad seun van Somer. Die gegewens oor sy seuns, oor die grootte van die afkoopsom wat hy moes betaal, en oor die herbou van die tempel, is opgeneem in Die Kommentaar op die Boek van die Konings. Sy seun Amasia het hom as koning opgevolg.
2 KRONIEKE 24:1-27 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Jehoas was sewe jaar oud toe hy koning geword het, en hy het veertig jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Sy moeder se naam was Sibja, uit Berseba. Jehoas het gedoen wat reg is in die oë van die HERE solank as wat die priester Jojada geleef het. Jojada het vir Jehoas twee vroue gekies, en hy het seuns en dogters verwek. 'n Tyd daarna het Jehoas hom voorgeneem om die huis van die HERE op te knap. Hy het die priesters en Leviete byeengebring en vir hulle gesê: “Gaan uit na die dorpe van Juda en samel geld in by die hele Israel vir die jaarlikse herstelwerk aan die huis van julle God. Julle moet die saak vinnig afhandel.” Die Leviete het egter nie vinnig opgetree nie. Die koning ontbied toe die hoëpriester Jojada, en sê vir hom: “Waarom het jy nie by die Leviete daarop aangedring om uit Juda en Jerusalem die heffing vir die tent met die Getuienis in te vorder nie, soos ingestel deur Moses, die dienskneg van die HERE, en deur die geloofsgemeenskap van Israel? Want die goddelose Atalia – dit was haar seuns wat by die huis van God ingebreek en selfs al die •heilige gawes van die huis van die HERE vir die Baäls gebruik het.” Die koning het toe opdrag gegee, en hulle het 'n kis gemaak en dit buite by die poort van die huis van die HERE neergesit. 'n Oproep is in Juda en Jerusalem gemaak om vir die HERE die heffing te bring wat Moses, die dienskneg van God, Israel in die woestyn opgelê het. Al die leiers en die hele volk was verheug. Hulle het dit gebring en in die kis gegooi, totdat dit vol was. Telkens wanneer die kis, onder beheer van die Leviete, na die toesighouer van die koning gebring is, en hulle sien dat daar baie geld in is, het die sekretaris van die koning en die verteenwoordiger van die hoëpriester gekom, die kis leeggemaak, dit opgetel en weer teruggeneem na sy plek. So het hulle dag ná dag gemaak en baie geld ingesamel. Die koning en Jojada het dit gegee aan hulle wat die dienswerk in die huis van die HERE moes uitvoer. Hulle het dan klipkappers en skrynwerkers gehuur om die huis van die HERE op te knap, ook bewerkers van yster en brons, om die huis van die HERE te herstel. Die werksmanne het gewerk, en die herstelwerk het in hulle hande goed gevorder. Hulle het die huis van God opgebou tot sy oorspronklike ontwerp en dit versterk. Toe hulle klaar was met die werk, het hulle die res van die geld voor die koning en Jojada gebring. Hy het daarvan gereedskap gemaak vir die huis van die HERE: gereedskap vir die dienswerk en die •brandoffers, bakke en ander goue en silwergereedskap. Hulle het gereeld brandoffers gebring in die huis van die HERE, solank Jojada geleef het. Jojada het oud geword, en ná 'n vol lewe het hy gesterf. Hy was honderd-en-dertig jaar oud toe hy gesterf het. Hulle het hom begrawe in die Stad van Dawid, by die konings, omdat hy goed gedoen het in Israel, ook met betrekking tot God en sy •tempel. Ná die dood van Jojada het die leiers van Juda gekom en diep voor die koning neergebuig; toe het die koning na hulle geluister. Hulle het die huis van die HERE, die God van hulle voorouers, verlaat, en die asjeras en afgodsbeelde gedien. Toe het 'n oordeel uit toorn Juda en Jerusalem getref oor hierdie skuldlas van hulle. Die HERE het profete onder hulle ingestuur om hulle na Hom te laat terugkeer. Die profete het hulle tereggewys, maar hulle het nie geluister nie. Die Gees van God het toe van Sagaria, seun van die priester Jojada, besit geneem. Hy het hoër as die volk gaan staan en vir hulle gesê: “So sê God, ‘Waarom oortree julle die gebooie van die HERE? Julle sal nie voorspoedig wees nie. Omdat julle die HERE verlaat het, het Hy julle verlaat.’ ” Hulle het egter 'n komplot teen Sagaria gesmee en hom op bevel van die koning met klippe doodgegooi in die voorhof van die huis van die HERE. Koning Jehoas het nie die troue liefde onthou wat Sagaria se vader, Jojada, aan hom betoon het nie, en het sy seun vermoor. Toe hy sterf, het hy gesê: “Mag die HERE dit sien en rekenskap eis.” Teen die wending van die jaar het die leër van die Arameërs teen hom opgetrek. Hulle het Juda en Jerusalem binnegedring, al die bevelvoerders van die volk uit die geledere van die volk uitgewis, en al die buit wat hulle gemaak het, na die koning van Damaskus gestuur. Alhoewel die leër van die Arameërs met 'n klein getal manne gekom het, het die HERE 'n baie groot leër in hulle hand gegee, omdat Juda die HERE, die God van hulle voorouers, verlaat het. Hulle het die straf oor Jehoas voltrek. Toe hulle van hom weggetrek het – ja, hulle het hom ernstig gewond agtergelaat – het sy amptenare teen hom 'n komplot gesmee oor die bloed van die seun van Jojada, die priester. Hulle het hom op sy bed om die lewe gebring – so het hy gesterf. Hy is in die Stad van Dawid begrawe, maar hulle het hom nie in die grafte van die konings begrawe nie. Dit was die manne wat teen hom 'n komplot gesmee het: Sabad, seun van Simeat die Ammoniet, en Josabad, seun van Simriet die Moabiet. Wat sy nageslag betref, die talle profesieë teen hom, en die instandhouding van die huis van God, kyk, dit is opgeteken in die aantekeninge in die boekrol van die konings. Sy seun Amasia het in sy plek koning geword.
2 KRONIEKE 24:1-27 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Joas was sewe jaar oud toe hy koning geword het, en hy het veertig jaar in Jerusalem geregeer. Sy moeder se naam was ook Sibja van Berseba. En Joas het gedoen wat reg was in die oë van die HERE al die dae van die priester Jójada. En Jójada het vir hom twee vroue geneem; en hy het seuns en dogters verwek. En daarna het Joas dit voorgeneem om die huis van die HERE te herstel. En hy het die priesters en die Leviete bymekaar laat kom en vir hulle gesê: Gaan uit na die stede van Juda, en samel geld bymekaar uit die hele Israel om die huis van julle God van jaar tot jaar te herstel, en sorg dat julle die saak verhaas. Maar die Leviete het dit nie verhaas nie. En die koning het Jojada, die owerste, geroep en vir hom gesê: Waarom het jy nie van die Leviete gevra om die versameling uit Juda en Jerusalem in te bring nie, volgens die bevel van Moses, die kneg van die HERE, en van die vergadering van Israel, vir die tabernakel van die getuienis? Want die seuns van Atalia, daardie goddelose vrou, het die huis van God opgebreek; en ook al die heilige gawes van die huis van die HERE het hulle aan die Baäls gegee. En op bevel van die koning het hulle 'n kis gemaak en dit buitekant by die poort van die huis van die HERE neergesit. En hulle het 'n uitroep deur Juda en Jerusalem gedoen om die versameling wat Moses, die kneg van God, in die woestyn op Israel gelê het, aan die HERE in te bring. En al die vorste en die hele volk was bly en het ingebring en in die kis gegooi totdat hulle klaar was. En dit het gebeur dat die kis deur die hand van die Leviete na die koning se amp gebring is, en toe hulle sien dat daar baie geld was, het die skrywer van die koning en die hoof van die hoëpriester gekom en die kis leeggemaak. Hy het dit geneem en dit weer na sy plek gedra. So het hulle dag vir dag gedoen en geld in oorvloed ingesamel. En die koning en Jójada het dit gegee aan diegene wat die dienswerk van die huis van die HERE gedoen het, en hulle het messelaars en skrynwerkers gehuur om die huis van die HERE te herstel, en ook aan die yster en koper om die huis van die HERE te herstel. Die werksmanne het toe gewerk, en die werk is deur hulle voltooi, en hulle het die huis van God in sy toestand gestel en dit versterk. En toe hulle dit klaar gemaak het, het hulle die res van die geld voor die koning en Jójada gebring, waarvan die voorwerpe gemaak is vir die huis van die HERE, voorwerpe om te dien en om saam te offer, en lepels en voorwerpe van goud en silwer. En hulle het gedurigdeur brandoffers in die huis van die HERE gebring, al die dae van Jójada. Maar Jójada het oud geword en was vol dae toe hy gesterf het; honderd-en-dertig jaar oud was hy toe hy gesterf het. En hulle het hom in die stad van Dawid onder die konings begrawe, omdat hy goed gedoen het in Israel, aan God sowel as teenoor sy huis. En ná die dood van Jójada het die vorste van Juda gekom en hulle voor die koning neergebuig. Toe het die koning na hulle geluister. En hulle het die huis van die HERE, die God van hulle vaders, verlaat en heilige boomstamme en drekgode gedien, en toorn het oor Juda en Jerusalem gekom oor hierdie hulle oortreding. Maar hy het profete na hulle gestuur om hulle na die HERE terug te bring; en hulle het teen hulle getuig, maar hulle het nie geluister nie. En die Gees van God het oor Sagaria, die seun van die priester Jójada, gekom wat bo die volk gestaan het, en vir hulle gesê: So sê God: Waarom oortree julle die gebooie van die HERE, sodat julle nie voorspoedig kan wees nie? omdat julle die HERE verlaat het, het Hy julle ook verlaat. En hulle het teen hom sameswering gemaak en hom met klippe gestenig op bevel van die koning in die voorhof van die huis van die HERE. Daarom het koning Joas nie gedink aan die goedhartigheid wat sy vader Jojada aan hom bewys het nie, maar sy seun gedood. En toe hy gesterf het, sê hy: Mag die HERE dit aanskou en eis dit. En aan die einde van die jaar het die leër van Aram teen hom opgetrek, en hulle het na Juda en Jerusalem gekom en al die vorste van die volk onder die volk uit verdelg en al die buit van hulle gestuur aan die koning van Damaskus. Want die leër van die Arameërs het gekom met 'n klein menigte manne, en die HERE het 'n baie groot leër in hulle hand gegee, omdat hulle die HERE, die God van hulle vaders, verlaat het. Daarom het hulle oordeel teen Joas voltrek. En toe hulle van hom weggegaan het (want hulle het hom in groot siektes agtergelaat), het sy dienaars teen hom 'n sameswering gemaak ter wille van die bloed van die seuns van die priester Jójada, en hom op sy bed gedood, en hy het gesterwe; en hulle het hom begrawe in die stad van Dawid, maar hulle het hom nie in die grafte van die konings begrawe nie. En dit is hulle wat teen hom saamgesweer het; Sabad, die seun van Simeat, 'n Ammonitiese, en Jósabad, die seun van Simrit, 'n Moabietiese. En aangaande sy seuns en die groot laste wat op hom gelê is, en die herstel van die huis van God, kyk, dit is beskrywe in die verhaal van die boek van die konings. En sy seun Amásia het in sy plek geregeer.
2 KRONIEKE 24:1-27 Die Boodskap (DB)
Joas was net sewe jaar oud toe hy koning geword het. Hy het 40 jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Sibja, ’n vrou uit Berseba. Joas se optrede het die Here tevrede gestel so lank as wat Jojada gelewe het. Jojada het vir Joas twee vroue uitgesoek en hulle het ’n gesin met seuns en dogters gehad. ’n Ruk later het Joas besluit om die tempel van die Here op te knap. Hy het die priesters en die Leviete bymekaargeroep en gesê: “Gaan na die stede en dorpe van Juda toe. Roep al die Israeliete op om hulle jaarlikse bydraes te gee sodat ons die tempel kan opknap. Maak gou! Ek beskou dit as ’n dringende saak.” Die Leviete het getalm en nie dadelik daaraan begin werk nie. Joas het toe met Jojada, die hoëpriester, geraas: “Waarom het u nie gesorg dat die Leviete die tempelbelasting van die mense in Juda en Jerusalem gaan insamel nie? Moses het die belasting al in die woestyn ingestel om die tent waar die Here aanbid is te kon onderhou!” Oor die jare het Atalia en haar mense die Here se tempel van sy spesiale voorwerpe beroof. Hulle het selfs die tempelbelasting gebruik om die Baäls te dien. Joas het toe opdrag gegee dat hulle ’n kis moes maak. Die kis is by die ingang van die tempel neergesit. Hulle het toe al die mense in Juda en Jerusalem opgeroep om hulle belasting in die kis te kom gooi. Hulle is daaraan herinner dat Moses, God se dienaar, dié belasting reeds in die woestyn van alle Israeliete geëis het. Die leiers en al die mense was bly hieroor. Hulle het hulle bydraes gebring en die kis volgemaak. Elke keer as die kis vol was, het die Leviete dit na die koning se amptenare gebring. Die staatsekretaris en ’n amptenaar van die hoëpriester het die kis dan kom leegmaak en die geld getel. Daarna is die kis teruggevat na sy plek toe. Dit het elke dag so aangehou en ’n groot bedrag geld is uiteindelik ingesamel. Koning Joas en Jojada het die geld aan die kontrakteurs uitbetaal wat aangestel is om die tempel te herstel. Die kontrakteurs het klipkappers en skrynwerkers aangestel om die herstelwerk aan die tempel te doen. Hulle het ook metaalsmede aangestel om yster- en bronsvoorwerpe vir die tempel te maak. Die kontrakteurs het hulle goed van hulle taak gekwyt. Die werk het vinnig gevorder en die tempel is tot sy oorspronklike glorie herstel. Toe hulle klaar was, het die kontrakteurs die geld wat oorgebly het, vir Joas en Jojada teruggebring. Dit is gebruik om ’n klomp spesiale voorwerpe vir die tempel te laat maak. Die voorwerpe is in die erediens en die offerdiens gebruik: panne en gereedskap van goud en silwer. So lank as wat Jojada die priester geleef het, is daar gereeld brandoffers in die tempel van die Here gebring. Jojada het baie oud geword en is uiteindelik in die ouderdom van 130 oorlede. Hy is tussen die konings in die Dawidstad begrawe, want hy het vir Israel, vir God en vir die tempel baie beteken. Ná Jojada se dood het die leiers van Juda vir Joas besoek en voor hom neergebuig. Hulle het hom oortuig om van nou af húlle raad te volg. Hulle het besluit om die tempel van die Here, die God van hulle voorouers, te verwaarloos. Hulle het pale wat ter ere van die afgod Asjera opgerig is, saam met ander afgodsbeelde begin vereer. Hieroor was die Here woedend vir Juda en Jerusalem. Hy het profete gestuur om vir hulle te sê om hulle tot Hom te bekeer, maar hulle wou nie luister nie. Die Here se Gees het toe vir Sagaria in besit geneem. Hy was Jojada, die priester, se seun. Hy het voor die volk opgestaan en vir hulle gesê: “Hier is ’n boodskap van God spesiaal vir julle: Waarom luister julle nie na die Here se opdragte nie? Dit is tot julle eie nadeel! Julle het die Here verlaat, nou gaan Hy julle verlaat.” Die leiers het toe teen Sagaria saamgesweer. Op koning Joas se bevel het hulle hom in die voorhof van die Here se tempel met klippe doodgegooi. Sonder om terug te dink aan Jojada se lojaliteit aan hom, het Joas vir Sagaria, Jojada se seun, laat doodmaak. Sagaria se laaste woorde was: “Mag die Here sien wat hulle doen en hulle daarvoor straf!” Teen die einde van die jaar het die Arameërs Joas aangeval. Hulle het Juda en Jerusalem ingeval en al die leiers doodgemaak. Hulle het al die goed wat hulle gevat het, na hulle koning in Damaskus teruggestuur. Die Aramese leër was baie kleiner as die Judeërs s’n, maar die Here het die Arameërs gehelp. Juda het die Here, die God van hulle voorouers, verlaat. Daarom het Hy hulle die oorlog laat verloor. So is Joas gestraf vir sy sondes. Toe die Arameërs terugtrek, het hulle Joas swaar gewond agtergelaat. Joas se eie amptenare het toe teen hom saamgesweer om hom terug te betaal vir Sagaria se dood. Hulle het Joas in sy bed vermoor. Joas is in die Dawidstad begrawe, maar nie in die koningsgrafte nie. Sy moordenaars was Sabad, Simat die Ammoniet se seun en Josabad, Somer die Moabiet se seun. Oor sy seuns, die swaar belasting wat hy aan ander konings moes betaal en sy herstelwerk aan die tempel van God, kan ’n mens meer lees in Die Kommentaar op die Koningsboek. Sy seun Amasia het hom opgevolg.
2 KRONIEKE 24:1-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Joas was sewe jaar oud toe hy koning geword het en hy het 40 jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Sibja uit Berseba. So lank as wat Jojada die priester geleef het, het Joas gedoen wat reg was vir die HERE. Jojada het twee vroue vir Joas gekies. Hy het seuns en dogters gehad. Met verloop van tyd het Joas besluit om die tempel van die HERE te herstel. Hy het die priesters en Leviete opgeroep en die volgende opdrag gegee: “Gaan dadelik na al die dorpe van Juda en samel die vereiste jaarlikse bydrae van die hele Israel in sodat ons die tempel van julle God kan herstel. Moenie versuim nie!” Die Leviete het egter nie dadelik gegaan nie. Die koning roep toe vir Jojada die hoëpriester en vra hom: “Hoekom het jy nie geëis dat die Leviete uitgaan en die tempelbelasting in die dorpe van Juda en Jerusalem insamel nie? Moses, die dienaar van die HERE, het hierdie belasting gehef op die gemeente van Israel om die tent van die getuienis te onderhou.” Die volgelinge van die goddelose Atalia het destyds by die tempel van God ingebreek. Hulle het al die gewyde voorwerpe in die tempel van die HERE vir die Baäldiens gebruik. Joas het nou opdrag gegee dat ’n kis gemaak word en by die ingang na die tempel van die HERE gesit moet word. Hy het toe ’n bevel deur die hele Juda en Jerusalem gestuur dat die volk die belasting moes bring wat Moses, dienaar van God, in die woestyn van die Israeliete vereis het. Dit het byval gevind by die leiers en die volk. Hulle het met blydskap die geld gebring en die kis daarmee vol gemaak. Telkens wanneer die kis vol was, het die Leviete dit na die koning se amptenare gebring. Dan het die hofsekretaris en ’n amptenaar van die hoëpriester die geld getel en die kis weer na die tempel toe teruggebring. Dit het dag na dag gebeur sodat ’n groot bedrag geld op dié wyse ingesamel is. Die koning en Jojada het die geld aan die toesighouers oor die konstruksiewerk van die tempel van die HERE gegee. Húlle het weer messelaars en skrynwerkers gekry om die tempel van die HERE te herstel. Hulle het ook metaalwerkers gehuur. Hulle het voorwerpe van yster en brons gemaak vir die herstelwerk van die tempel van die HERE. Die manne in bevel van die opknapping het hard gewerk en geleidelik vordering gemaak. Hulle het die tempel van God volgens die oorspronklike planne gerestoureer en dit versterk. Toe al die herstelwerk afgehandel was, het hulle die oorblywende bedrag geld teruggebring na die koning en na Jojada. Dit is gebruik om gereedskap vir die tempel van die HERE te maak. Dit was werktuie vir die brandoffers, insluitend die bakke en ook goue en silwer gereedskap. So lank as wat Jojada die priester gelewe het, is die brandoffers voortdurend in die tempel van die HERE gebring. Jojada het tot ’n baie rype ouderdom geleef en het gesterf toe hy 130 jaar oud was. Hy is begrawe by die konings in die Dawidstad, want hy het baie goeie dinge in Israel gedoen, vir God en sy tempel. Na Jojada se dood het die leiers van Juda gekom, voor koning Joas gebuig en hom oorreed om na hulle raad te luister. Hulle het toe besluit om die tempel van die HERE, die God van hulle voorouers, te verlaat. Hulle het eerder die Asjerapale en afgode aanbid. Die toorn van God het weens hierdie sonde teen Juda en Jerusalem ontbrand. Die HERE het profete gestuur om hulle na Hom terug te bring. Die profete het die mense gewaarsku, maar hulle wou nie luister nie. Toe het die Gees van God op Sagaria seun van Jojada die priester gekom. Hy het voor die volk gesê: “Dit is wat God sê: Hoekom oortree julle die gebooie van die HERE? Julle sal nie voorspoedig wees nie. Julle het die HERE verlaat, en nou het Hy julle verlaat!” Toe het die leiers saamgesweer om Sagaria dood te maak. Op bevel van koning Joas het hulle hom in die voorhof van die tempel gestenig. Koning Joas het nie gedink aan die goedheid wat Jojada aan hom bewys het nie, maar sy seun doodgemaak. Sagaria se laaste woorde toe hy sterf, was: “Mag die HERE sien wat julle doen en julle straf!” Met die wisseling van die jaar het die Aramese leër teen Joas opgetrek. Hulle het Juda en Jerusalem binnegeval en al die leiers van die volk doodgemaak. Daarna het hulle al die buit na hulle koning in Damaskus gestuur. Hoewel die Arameërs met min soldate opgetrek het, het die HERE hulle gehelp om die baie groter leër van Juda te verslaan. Die volk het die HERE die God van hulle voorouers verlaat. Daarom is die oordeel oor Joas voltrek. Die Arameërs het teruggetrek en Joas ernstig gewond agtergelaat. Sy eie offisiere het teen hom saamgesweer en hom in sy bed vermoor. Dit was omdat hy die seun van Jojada die priester laat doodmaak het. Hy is begrawe in die Dawidstad, maar nie in die koninklike begraafplaas nie. Die moordenaars was Sabad seun van ’n Ammonitiese vrou met die naam Simat, en Josabad, seun van ’n Moabitiese vrou met die naam Somer. Die volledige vertelling oor die seuns van Joas, die profesieë oor hom, en die verslag oor die herstel van die tempel van God is geskryf in die Kommentaar op die boek Konings. Toe hy sterf, het sy seun Amasia hom opgevolg.