2 KRONIEKE 18:1-34

2 KRONIEKE 18:1-34 Bybel vir almal (ABA)

Koning Josafat was baie ryk, en almal het hom gerespekteer. Sy seun was getroud met 'n dogter van koning Agab. Josafat het ná 'n paar jaar vir Agab in die stad Samaria gaan kuier. Agab het 'n groot klomp skape en bokke en beeste geslag vir Josafat en die mense by hom. Agab het met Josafat gepraat en hy het gevra Josafat moet saam met hom oorlog gaan maak teen die stad Ramot in Gilead. Josafat het ja gesê. Koning Agab van Israel het vir koning Josafat van Juda gevra: “Sal jy saam met my gaan na die stad Ramot in Gilead?” Josafat het gesê: “Ek sal saam met jou gaan, en jy kan my manne ook gebruik.” Josafat het ook vir die koning van Israel gesê: “Maar jy moet asseblief eers vra en luister na wat die Here sê.” Die koning van Israel sê toe al die profete moet bymekaarkom. Daar was 400 profete, en hy vra toe vir hulle: “Moet ons oorlog gaan maak teen Ramot in Gilead of moet ek dit nie doen nie?” Die profete het gesê: “Jy moet gaan. God sal jou laat wen.” Toe sê Josafat: “Is hier nog 'n profeet van die Here? Ons moet vir hom ook vra.” Die koning van Israel het vir Josafat gesê: “Ja, hier is nog 'n profeet. Dit is Miga seun van Jimla. Ons kan vir hom vra wat die Here sê, maar ek hou nie van die man nie, want die dinge wat hy sê, is nooit goed vir my nie, dit is altyd sleg.” Josafat sê toe: “Die koning moenie so praat nie.” Die koning van Israel roep toe 'n amptenaar en hy sê vir hom: “Gaan roep gou vir Miga seun van Jimla.” Die koning van Israel en koning Josafat van Juda het hulle koningsklere aangehad en elkeen het op sy troon gesit by die dorsvloer voor die poort van Samaria. Al die profete was besig om vir hulle te sê wat sal gebeur. Sedekia seun van Kenaäna het vir hom 'n paar ysterhorings gemaak en hy het gesê: “Die Here sê: Met hierdie horings sal jy die Arameërs stoot totdat hulle almal dood is.” Al die ander profete het gesê dit sal so gebeur. Hulle het gesê: “Koning, jy moet gaan na die stad Ramot in Gilead. Jy sal wen, die Here sal die stad vir jou gee.” Die boodskapper wat vir Miga moes gaan roep, het vir hom gesê: “Al die profete sê dit sal goed gaan met die koning. Jy moet asseblief ook soos hulle sê, jy moet sê dit sal goed gaan.” Miga het gesê: “So seker soos die Here lewe, ek sal sê wat my God vir my sê.” Toe Miga by die koning kom, vra die koning vir hom: “Miga, moet ons oorlog gaan maak teen die stad Ramot in Gilead of moet ons dit nie doen nie?” Miga het geantwoord: “Koning, julle moet gaan. Julle sal wen, die Here gee die stad vir julle.” Maar toe sê die koning vir Miga: “Ek het baie maal vir jou gesê jy moet net die waarheid praat wanneer die Here jou stuur. Hoekom doen jy dit nie?” En toe sê Miga: “Ek het gesien die vyande het al die mense van Israel na al die kante toe op die berge gejaag. Hulle is soos skape wat nie 'n skaapwagter het nie. Die Here het gesê: ‘Hierdie mense het nie 'n koning nie. Hulle moet teruggaan, elkeen moet veilig na sy huis gaan.’ ” Die koning van Israel sê toe vir Josafat: “Ek het vir jou gesê dat die profeet Miga altyd sê dit sal sleg gaan met my, nie goed nie.” Miga het toe weer gepraat: “Luister wat sê die Here. Ek het gesien die Here sit op sy troon, en almal wat in die hemel is, staan by Hom, hulle staan regs en links langs Hom. En die Here het gesê: ‘Vir wie kan Ek stuur om vir Agab te bedrieg? Daardie een moet sê Agab moet na Ramot in Gilead gaan, Ek wil hê Agab moet daar sterf.’ Almal wat in die hemel is, het daaroor met mekaar gepraat, en toe kom een van hulle en hy gaan staan voor die Here en hy sê: ‘Ek sal hom bedrieg.’ Toe vra die Here vir hom: ‘Hoe sal jy dit doen?’ en hy sê: ‘Ek sal gaan en ek sal 'n leuengees word. Ek sal vir al die profete sê om leuens te vertel vir koning Agab.’ Die Here het gesê: ‘Jy sal hom bedrieg, jy sal dit regkry. Gaan doen dit.’ Koning, daarom moet jy dit weet: Die Here het 'n leuengees laat kom in die mond van al hierdie profete van jou. Maar weet jy wat die Here regtig gesê het? Die Here het gesê dit sal sleg gaan met jou.” Toe kom Sedekia seun van Kenaäna nader en hy slaan vir Miga op sy kakebeen en hy vra: “Dink jy die gees wat van die Here gekom het, het weggegaan van my om met jóú te praat?” Miga het vir Sedekia gesê: “Jy sal dit sien daardie dag wanneer jy van een kamer na die ander kamer gaan om te probeer wegkruip.” Toe sê die koning van Israel: “Vat vir Miga na Amon die burgemeester en na prins Joas toe, en sê vir hulle die koning sê: ‘Julle moet hierdie man in die tronk sit en julle moet vir hom min kos en water gee totdat ek veilig terugkom.’ ” Miga sê toe: “Koning Agab, as jy regtig veilig sal terugkom, dan kom die woorde wat ek gesê het, nie van die Here nie.” Miga het ook gesê: “Manne, julle moet almal luister na wat ek sê.” Die koning van Israel en koning Josafat van Juda het gegaan na die stad Ramot in Gilead. Die koning van Israel het vir Josafat gesê: “Ek sal ander klere aantrek sodat die vyande nie sal weet wie ek is nie en dan sal ek saam met die manne oorlog begin maak. Jy moenie jou koningsklere uittrek nie.” Die koning van Israel het toe ander klere aangetrek en hy het saam met die manne oorlog begin maak. Die koning van Aram het offisiere van die oorlogkarre by hom gehad. Hy het vir hulle gesê: “Julle moet net die koning van Israel skiet. Julle moenie die ander manne skiet nie, dit maak nie saak of hulle belangrik of onbelangrik is nie.” En toe die offisiere van die oorlogkarre vir Josafat sien, het hulle gedink dit is die koning van Israel. Hulle het van al die kante gekom om hom te skiet. Josafat het geskree en gevra dat die Here hom moet help, en God het hulle laat wegdraai van hom. Toe die offisiere sien dit is nie die koning van Israel nie, het hulle opgehou om vir Josafat te jaag. Een van die Arameërs het 'n pyl geskiet. Hy het sommer in die lug geskiet, hy het nie geweet waarnatoe die pyl gaan nie. Hy het die koning van Israel raakgeskiet. Die pyl het ingegaan onder die plate van sy harnas. Die koning het vir die man wat sy oorlogkar gedryf het, gesê: “Draai om en neem my uit die oorlog, want iemand het my raakgeskiet.” Maar almal het daardie dag so hard geveg dat die koning van Israel tot die aand op sy oorlogkar moes bly staan teen die Arameërs. Hy het gesterf toe die son ondergaan.

2 KRONIEKE 18:1-34 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN toe Jósafat rykdom en eer in oorvloed gehad het, het hy hom verswaer met Agab. En ná verloop van enkele jare het hy afgetrek na Agab, na Samaría, en Agab het vir hom en die manskappe wat by hom was, skape en beeste in menigte geslag en hom aangehits om teen Ramot in Gílead op te trek. Toe sê Agab, die koning van Israel, vir Jósafat, die koning van Juda: Sal u met my saam na Ramot in Gílead trek? En hy antwoord hom: Ek is soos u, en my volk soos u volk, en ons sal saam met u in die oorlog wees. Verder het Jósafat aan die koning van Israel gesê: Raadpleeg tog eers die woord van die HERE. Toe laat die koning van Israel die profete, vierhonderd man, bymekaarkom en sê vir hulle: Sal ons teen Ramot in Gílead trek om te veg, of sal ek dit laat staan? En hulle antwoord: Trek op, en God sal dit in die hand van die koning gee. Maar Jósafat sê: Is hier nie nog 'n profeet van die HERE, dat ons deur hom kan raadpleeg nie? En die koning van Israel antwoord Jósafat: Daar is nog een man om die HERE deur hom te raadpleeg; maar ék haat hom, want hy profeteer oor my niks goeds nie, maar altyd onheil; dit is Miga, die seun van Jimla. En Jósafat sê: Die koning moet nie so spreek nie! Daarop roep die koning van Israel 'n hofdienaar en sê: Gaan haal gou vir Miga, die seun van Jimla. Onderwyl die koning van Israel en Jósafat, die koning van Juda, elkeen op sy troon sit, beklee met koninklike klere, en hulle op 'n dorsvloer sit by die ingang van die poort van Samaría, en al die profete voor hulle profeteer, het Sedekía, die seun van Kenáäna, vir hom ysterhorings gemaak en gesê: So spreek die HERE: Hiermee sal u die Arameërs stoot totdat hulle vernietig is. En so het al die profete geprofeteer en gesê: Trek op na Ramot in Gílead en u sal voorspoedig wees, en die HERE sal dit in die hand van die koning gee. Toe sê die boodskapper wat gegaan het om Miga te roep, vir hom dít: Kyk, die woorde van die profete is uit een mond goed vir die koning: laat jou woord nou tog wees soos die van een van hulle, en spreek goeie dinge. Maar Miga sê: So waar as die HERE leef, wat God my sal sê, dit sal ek spreek! Toe hy by die koning kom, sê die koning vir hom: Miga, sal ons na Ramot in Gílead trek om te veg, of sal ek dit laat staan? En hy antwoord: Trek op, en u sal voorspoedig wees, en hulle sal in julle hand gegee word. En die koning sê vir hom: Hoeveel maal moet ek jou besweer dat jy niks as die waarheid in die Naam van die HERE tot my moet spreek nie? Daarop antwoord hy: Ek het die hele Israel gesien, verstrooid op die berge soos skape wat geen wagter het nie. En die HERE het gesê: Hulle het geen heer nie; laat hulle elkeen in vrede teruggaan na sy huis. Toe sê die koning van Israel vir Jósafat: Het ek u nie gesê hy profeteer oor my niks goeds nie, maar onheil? Verder sê hy: Daarom, hoor die woord van die HERE: Ek het die HERE sien sit op sy troon, terwyl al die hemelse leërskare aan sy regter- en sy linkerhand staan. En die HERE het gesê: Wie sal Agab, die koning van Israel, oorhaal, dat hy kan optrek en val by Ramot in Gílead? En die een het so gesê, en die ander weer so. Toe kom die gees vorentoe en gaan voor die aangesig van die HERE staan en sê: Ek sal hom oorhaal. En die HERE vra hom: Waarmee? En hy sê: Ek sal uitgaan en 'n leuengees word in die mond van al sy profete. En Hy sê: Jy sal oorhaal, ja, jy sal ook oorwin; gaan uit en doen so. En nou, kyk, die HERE het 'n leuengees in die mond van hierdie profete van u gegee, terwyl die HERE tog onheil oor u gespreek het. Daarop kom Sedekía, die seun van Kenáäna, nader en hy slaan Miga op die kakebeen en sê: Langs watter weg het die Gees van die HERE van my af weggegaan om met jou te spreek? En Miga antwoord: Kyk, jy sal dit sien op dieselfde dag as jy van kamer tot kamer sal gaan om jou weg te steek. Maar die koning van Israel sê: Neem Miga en bring hom terug by Amon, die owerste van die stad, en by Joas, die seun van die koning. En julle moet sê: So spreek die koning: Sit hierdie man in die gevangenis en spysig hom met brood van verdrukking en water van verdrukking totdat ek behoue tuiskom. Daarop sê Miga: As u ooit behoue tuiskom, dan het die HERE nie deur my gespreek nie. Verder sê hy: Volke, luister almal saam! En die koning van Israel en Jósafat, die koning van Juda, het opgetrek na Ramot in Gílead. En die koning van Israel het aan Jósafat gesê: Ek sal my onkenbaar maak en in die geveg kom; trek u maar u eie klere aan. So het die koning van Israel hom dan onkenbaar gemaak, en hulle het in die geveg gegaan. En die koning van Aram het die owerstes van sy strydwaens bevel gegee en gesê: Julle moet nie klein of groot beveg nie, net die koning van Israel alleen. En sodra die owerstes van die waens Jósafat sien, sê hulle: Dit is die koning van Israel! En hulle het hom omsingel om te veg; maar Jósafat het geskreeu, en die HERE het hom gehelp, en God het hulle van hom af weggelok. En toe die owerstes van die waens sien dat dit nie die koning van Israel was nie, draai hulle agter hom weg. Toe het 'n man in sy eenvoudigheid die boog gespan en die koning van Israel getref tussen die aanhegsels en die pantser. Daarop sê hy aan die drywer: Ruk om en bring my uit die leër uit, want ek is gewond. En die geveg het dié dag toegeneem, terwyl die koning hom staande hou in die strydwa teenoor die Arameërs tot die aand toe; maar teen sononder het hy gesterwe.

2 KRONIEKE 18:1-34 Afrikaans 1983 (AFR83)

Toe Josafat ryk geword het en groot aansien geniet het, het hy 'n huwelik tussen 'n lid van sy familie en een uit die familie van Agab gereël. Na 'n paar jaar het hy vir Agab in Samaria gaan besoek. Agab het ter ere van Josafat en sy gevolg 'n groot aantal skape en beeste geslag en hom ook probeer omhaal om 'n veldtog teen Ramot in Gilead te begin. Koning Agab van Israel het vir koning Josafat van Juda gesê: “Sal jy met my saamgaan na Ramot in Gilead toe?” Josafat het geantwoord: “Ek en jy is een, en ons leërs is een. Ons is saam met jou in dié oorlog, maar,” het Josafat verder vir die koning van Israel gesê, “vind nou eers uit wat sê die Here.” Die koning van Israel het toe vier honderd profete bymekaargeroep en vir hulle gevra: “Moet ons teen Ramot in Gilead gaan veg? Of moet ek dit laat staan?” Hulle antwoord was: “Gaan gerus. God gee die stad aan die koning oor.” Toe sê Josafat: “Is hier nie nóg 'n profeet van die Here dat ons hom ook kan raadpleeg nie?” “Hier is nog een man deur wie ons die Here kan raadpleeg,” het die koning van Israel vir Josafat gesê, “maar ek haat hom, want hy voorspel vir my nooit iets goeds nie, net altyd die slegste. Dit is Miga seun van Jimla.” Josafat sê toe: “Die koning moenie so praat nie!” Die koning van Israel roep toe 'n paleisamptenaar en sê: “Gaan haal gou vir Miga seun van Jimla.” Die koning van Israel en koning Josafat van Juda het elkeen in sy koninklike gewaad op sy troon gesit by die dorsvloer voor die poort van Samaria. Voor hulle was al die profete besig met hulle voorspellings. Sedekia seun van Kenaäna het vir hom 'n paar horings van yster gemaak en gesê: “So sê die Here: Met hierdie horings sal u die Arameërs stoot tot dit klaar is met hulle.” So het al die profete voorspel. Hulle uitspraak was: “Trek op teen Ramot in Gilead. U sal wen. Die Here gee die stad aan die koning oor.” Die boodskapper wat vir Miga gaan roep het, het vir hom gesê: “Kyk, die uitspraak van die profete was eenstemmig gunstig vir die koning. Laat joune nou tog dieselfde wees. Sê iets goeds!” Maar Miga sê: “So seker as die Here leef, wat my God vir my sê, dit sal ek sê!” Toe hy by die koning kom, sê dié vir hom: “Miga, moet ons teen Ramot in Gilead gaan veg? Of moet ek dit laat staan?” “Gaan gerus,” antwoord Miga, “en mag dit goed gaan, mag die stad aan u oorgegee word.” Maar die koning sê vir hom: “Hoeveel keer moet ek nog by jou daarop aandring dat jy vir my niks anders as die waarheid in die Naam van die Here moet sê nie!” Toe sê Miga: “Ek het die hele Israel verstrooi op die berge gesien soos skape wat nie 'n wagter het nie. Die Here het gesê: Hulle het nie 'n koning nie, laat hulle maar in vrede teruggaan, elkeen na sy huis toe.” Die koning van Israel sê toe vir Josafat: “Ek het jou mos gesê hy voorspel vir my nie iets wat goed is nie, net die slegste.” En Miga praat verder: “Hoor die woord van die Here! Ek het die Here op sy troon sien sit met die hele hemelse leërmag wat weerskante van Hom staan. En die Here het gesê: ‘Wie sal vir Agab koning van Israel so ver kry dat hy na Ramot in Gilead gaan en daar sneuwel?’ Die een het toe dit gesê en die ander dat, totdat die gees vorentoe gekom en voor die Here gaan staan en gesê het: ‘Ek sal hom so ver kry.’ En toe die Here vir hom vra: ‘Hoe?’ sê die gees: ‘Ek sal uitgaan en 'n leuengees word in die mond van al sy profete.’ Toe sê die Here: ‘Jy sal hom so ver kry. Gaan doen dit, jy sal dit regkry.’ So het die Here 'n leuengees in die mond van hierdie profete van u laat kom, maar Hy het in werklikheid vir u 'n ramp aangekondig.” Toe kom Sedekia seun van Kenaäna nader en hy slaan vir Miga op die kakebeen en sê: “Met watter pad is die Gees van die Here van my af weg om met jou te praat?” En Miga antwoord: “Dit sal jy sien die dag as jy in een donker kamer na die ander probeer wegkruip.” Die koning van Israel het toe beveel: “Vat vir Miga en bring hom na Amon, die stadsbevelvoerder, en na prins Joas toe. Sê vir hulle die koning sê hulle moet hierdie man in die tronk sit en hom 'n skraal rantsoen kos en water gee tot ek behoue terugkom.” Maar Miga het gesê: “As u behoue terugkom, het die Here nie deur my gepraat nie.” Verder het hy gesê: “Hoor dit, alle manskappe!” Die koning van Israel en koning Josafat van Juda is toe na Ramot in Gilead toe. Die koning van Israel het vir Josafat gesê: “Ek gaan my vermom voor ek in die geveg betrokke raak. Hou jy jou koninklike gewaad aan.” Die koning van Israel het hom toe vermom en so die geveg ingegaan. Die Aramese koning het die aanvoerders van sy strydwaens opdrag gegee: “Spits die geveg toe op die koning van Israel, moenie aan die ander aandag gee nie, klein of groot.” Toe die aanvoerders van sy strydwaens vir Josafat sien, sê hulle: “Daar is die koning van Israel!” en hulle het op hom toegesak. Josafat het om hulp geroep, en die Here het hom gehelp. God het die aanval van Josafat af weggekeer. Die aanvoerders van die strydwaens het gesien dit is nie die koning van Israel nie en het die agtervolging gestaak. Iemand het egter losweg 'n pyl afgeskiet, en dié het die koning van Israel getref tussen die skubbe van sy harnas en die borsplaat. Hy sê toe vir sy drywer: “Ruk die perde om en bring my uit die geveg uit. Ek is gewond.” Die geveg was dié dag egter so hewig dat die koning van Israel tot die aand toe op sy strydwa moes bly staan in die geveg teen die Arameërs. Teen laatmiddag is hy dood.

2 KRONIEKE 18:1-34 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Josafat het rykdom en aansien in oorvloed verwerf, en toe het hy Agab se aangetroude familie geword. Ná 'n paar jaar het hy na Agab in Samaria afgegaan. Agab het vir hom en die manskappe by hom kleinvee en beeste in oorvloed geslag, en hom mislei om teen Ramot in Gilead op te trek. Agab, die koning van Israel, vra toe vir Josafat, die koning van Juda: “Sal jy saam met my na Ramot in Gilead gaan?” Josafat het hom geantwoord: “Ek is soos jy, en my manskappe is asof dit jou manskappe is, saam met jou in die stryd.” Josafat sê toe vir die koning van Israel: “Raadpleeg net eers die woord van die HERE.” Die koning van Israel het toe die profete, vierhonderd man, byeengebring en vir hulle gevra: “Moet ons na Ramot in Gilead optrek vir die geveg, of moet ek daarvan afsien?” Hulle antwoord was: “Trek op! God sal dit in die hand van die koning gee.” Toe vra Josafat: “Is hier nie nog 'n profeet van die HERE nie, sodat ons deur hom die HERE kan raadpleeg?” Die koning van Israel het Josafat geantwoord: “Daar is nog een man deur wie ons die HERE kan raadpleeg. Maar ek, ek het 'n weersin in hom, want hy profeteer niks goeds oor my nie, net altyd onheil. Dit is Miga, seun van Jimla.” Josafat sê toe: “Die koning moenie so sê nie.” Die koning van Israel ontbied toe 'n paleisamptenaar en sê: “Gaan haal gou vir Miga, seun van Jimla.” Terwyl die koning van Israel en Josafat, koning van Juda, elkeen op sy troon gesit het, geklee in koninklike drag, op 'n dorsvloer by die ingang van die stadspoort van Samaria, het al die profete voor hulle vurig geprofeteer. Sedekia, seun van Kenaäna, het vir hom ysterhorings gemaak en gesê: “So sê die HERE, ‘Hiermee gaan u die Arameërs gaffel totdat hulle vernietig is.’ ” Al die ander profete was besig om dieselfde te profeteer en het gesê: “As u optrek na Ramot in Gilead, sal u sukses behaal. Die HERE sal dit in die hand van die koning gee.” Die boodskapper wat gegaan het om Miga te ontbied, het vir hom gesê: “Kyk, die woorde van die profete is, asof uit een mond, gunstig vir die koning. Laat jou woorde asseblief wees soos een van hulle se woorde. Voorspel iets goeds!” Maar Miga het geantwoord: “So waar as die HERE leef, wat my God vir my sê, dit sal ek oordra.” Toe hy by die koning aankom, sê die koning vir hom: “Miga, moet ons na Ramot in Gilead gaan vir die geveg of moet ek daarvan afsien?” Hy antwoord hom toe: “As julle optrek, sal julle sukses behaal. Hulle sal in julle hand gegee word.” Daarop sê die koning vir hom: “Hoeveel keer moet ek jou laat sweer dat jy in die Naam van die HERE met my niks anders as die waarheid sal praat nie?” Toe sê Miga: “Ek het die hele Israel gesien, uitmekaar gedryf op die berge soos 'n kudde wat nie 'n herder het nie. Die HERE het gesê, ‘Hierdie mense het geen gesagvoerder nie. Laat elkeen van hulle in vrede terugkeer na sy huis.’ ” Daarop sê die koning van Israel vir Josafat: “Het ek dit nie vir jou gesê nie? Hy profeteer oor my niks goeds nie, net onheil.” Maar Miga het gesê: “Daarom, hoor die woord van die HERE! Ek het die HERE sien sit op sy troon, met die hele hemelse leër wat by Hom staan, aan sy regter- en aan sy linkerkant. Toe sê die HERE, ‘Wie sal Agab, die koning van Israel, mislei, sodat hy optrek en val by Ramot in Gilead?’ ” Verder sê Miga: “Die een het dit voorgestel en die ander dat. 'n Gees tree toe na vore, gaan staan voor die HERE en sê, ‘Ek is die een wat hom sal mislei.’ Toe vra die HERE vir hom, ‘Hoe?’ Hy het geantwoord, ‘Ek sal uitgaan en 'n leuengees wees in die mond van al sy profete.’ Daarop sê die HERE, ‘Jy sal hom mislei en ook slaag. Gaan maak so!’ Daarom, kyk, die HERE het 'n leuengees in die mond van hierdie profete van u geplaas. Die HERE self het onheil teen u gelas.” Daarop het Sedekia, seun van Kenaäna, na vore gekom; hy het Miga op die wang geslaan en gesê: “Op watter manier het die Gees van die HERE dan van my af na jou oorgegaan om met jou te praat?” Maar Miga het gesê: “Kyk, jy gaan dit ervaar op daardie dag wanneer jy van een binnekamer na die ander gaan om weg te kruip.” Toe sê die koning van Israel: “Neem Miga en laat hom teruggaan na Amon, die stadsbestuurder, en Joas, die seun van die koning, en sê, ‘So sê die koning: “Sit hierdie man in die gevangenis, en gee hom 'n karige rantsoen brood en water totdat ek ongedeerd terugkom. ” ’ ” Maar Miga het gesê: “As u wel ongedeerd terugkom, het die HERE nie deur my gespreek nie.” Hy sê toe ook nog: “Mense, luister, almal van julle!” Daarna het die koning van Israel en Josafat, koning van Juda, opgetrek na Ramot in Gilead. Die koning van Israel het vir Josafat gesê: “Ek gaan vermom in die geveg in, maar dra jy jou koninklike drag.” So het die koning van Israel hom vermom en in die geveg ingegaan. Die koning van Aram het die •aanvoerders van sy strydwamag opdrag gegee: “Moet niemand, belangrik of onbelangrik, die stryd aansê nie, behalwe die koning van Israel alleen.” Toe die aanvoerders van die strydwamag Josafat sien, sê hulle: “Dit is die koning van Israel!” Hulle het na hom weggedraai om te veg, maar Josafat het om hulp geroep, en die HERE het hom te hulp gekom. God het hulle van hom af weggelok. En toe die aanvoerders van die strydwamag sien dat hy nie die koning van Israel is nie, het hulle agter hom omgedraai. Iemand het egter lukraak sy boog gespan en die koning van Israel getref tussen die skubbe en die pantser. Hy sê toe vir die drywer van sy strydwa: “Ruk die perde om en neem my uit die geveg, want ek is swaar gewond.” Die geveg het egter daardie dag hewig geword, en die koning van Israel het hom teenoor die Arameërs tot die aand toe staande gehou op sy strydwa. Teen sononder het hy gesterf.

2 KRONIEKE 18:1-34 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En Josafat het rykdom en eer in oorvloed gehad, en het 'n band met Agab aangesluit. En ná 'n aantal jare het hy na Agab na Samaria gegaan. En Agab het skape en beeste vir hom in menigte geslag en vir die mense wat hy by hom gehad het, en hom oorgehaal om saam met hom op te trek na Ramot in Gílead. Toe sê Agab, die koning van Israel, vir Jósafat, die koning van Juda: Sal jy saam met my na Ramot in Gílead gaan? En hy antwoord hom: Ek is soos jy en my volk soos jou volk; en ons sal saam met jou in die oorlog wees. En Jósafat het aan die koning van Israel gesê: Vra tog vandag na die woord van die HERE. Daarom het die koning van Israel vier honderd man profete bymekaargeroep en vir hulle gesê: Moet ons na Ramot in Gílead gaan om te veg, of moet ek dit laat staan? En hulle sê: Trek op; want God sal dit in die hand van die koning gee. Maar Jósafat sê: Is hier nie ook 'n profeet van die HERE, dat ons hom kan raadpleeg nie? Toe sê die koning van Israel vir Jósafat: Daar is nog een man deur wie ons die HERE kan raadpleeg; maar ek haat hom; want hy het vir my nooit goed geprofeteer nie, maar altyd kwaad; dit is Miga, die seun van Imla. En Jósafat sê: Laat die koning nie so sê nie. En die koning van Israel het een van sy dienaars laat roep en gesê: Haal gou vir Miga, die seun van Imla. En die koning van Israel en Jósafat, die koning van Juda, het een van hulle op sy troon gesit, geklee in hul klere, en hulle het in 'n leë plek gesit by die ingang van die poort van Samaria; en al die profete het voor hulle geprofeteer. En Sedekía, die seun van Kenaäna, het vir hom ysterhorings gemaak en gesê: So spreek die HERE: Hiermee moet jy Aram verstoot totdat hulle verteer is. En al die profete het so geprofeteer en gesê: Trek op na Ramot in Gílead en voorspoedig, want die HERE sal dit in die hand van die koning gee. En die boodskapper wat gegaan het om Miga te roep, het met hom gespreek en gesê: Kyk, die woorde van die profete is goed vir die koning met een instemming; laat u woord dan tog wees soos een van hulle, en spreek goed. Toe sê Miga: So waar as die HERE leef, wat my God spreek, dit sal ek spreek. En toe hy by die koning kom, sê die koning vir hom: Miga, moet ons na Ramot in Gílead gaan om te veg, of moet ek dit laat staan? En hy sê: Trek op en wees voorspoedig, en hulle sal in julle hand oorgegee word. Toe sê die koning vir hom: Hoeveel keer sal ek jou besweer dat jy niks anders as die waarheid vir my moet sê in die Naam van die HERE nie? Toe sê hy: Ek het die hele Israel op die berge verstrooi gesien, soos skape wat geen herder het nie; en die HERE het gesê: Hulle het geen heer nie; laat hulle dan elkeen in vrede na sy huis teruggaan. Toe sê die koning van Israel vir Jósafat: Het ek nie vir jou gesê dat hy vir my nie goed sal profeteer nie, maar kwaad? Weer sê hy: Daarom, hoor die woord van die HERE; Ek het die HERE op sy troon sien sit en die hele leër van die hemel aan sy regter- en aan sy linkerhand staan. Toe sê die HERE: Wie sal Agab, die koning van Israel, verlei, dat hy kan optrek en val by Ramot in Gílead? En die een het gespreek op hierdie manier, en 'n ander wat op die manier gesê het. Toe het 'n gees uitgegaan en voor die aangesig van die HERE gaan staan en gesê: Ek sal hom verlei. En die HERE sê vir hom: Waarmee? En hy sê: Ek sal uitgaan en 'n leuengees wees in die mond van al sy profete. En die HERE het gesê: Jy moet hom verlei, en jy sal ook oorwin; gaan uit en doen so. Nou dan, kyk, die HERE het 'n leuengees in die mond van hierdie profete van jou gegee, en die HERE het kwaad teen jou gespreek. Toe het Sedekía, die seun van Kenaäna, nader gekom en Miga op die wang geslaan en gesê: Watter pad het die Gees van die HERE van my af gegaan om met jou te spreek? En Miga sê: Kyk, jy sal dit sien op daardie dag as jy in 'n binnekamer ingaan om jou weg te steek. Toe sê die koning van Israel: Neem Miga en bring hom terug na Amon, die goewerneur van die stad, en na Joas, die seun van die koning; En sê: So sê die koning: Sit hierdie man in die gevangenis en voed hom met brood van ellende en water van ellende, totdat ek in vrede terugkeer. En Miga sê: As jy beslis in vrede terugkom, dan het die HERE nie deur my gespreek nie. En hy sê: Luister, alle volke! Toe het die koning van Israel en Jósafat, die koning van Juda, opgetrek na Ramot in Gílead. Toe sê die koning van Israel vir Jósafat: Ek sal my vermom en na die geveg gaan; maar trek jou klere aan. Toe het die koning van Israel hom vermom; en hulle het na die geveg gegaan. En die koning van Aram het die owerstes van die strydwaens wat by hom was, bevel gegee en gesê: Moenie teen klein of groot veg nie, behalwe net teen die koning van Israel. En toe die owerstes van die waens Josafat sien, sê hulle: Dit is die koning van Israel. Daarom het hulle hom omsingel om te veg, maar Jósafat het uitgeroep, en die HERE het hom gehelp; en God het hulle aangespoor om van Hom af weg te gaan. Want dit het gebeur dat, toe die owerstes van die waens bemerk dat dit nie die koning van Israel was nie, het hulle weer omgedraai om hom te agtervolg. En 'n sekere man het met 'n waagstuk 'n boog getrek en die koning van Israel tussen die gewrigte van die tuig verslaan want ek is gewond. En die geveg het daardie dag toegeneem, maar die koning van Israel het in sy strydwa teen die Arameërs gebly tot die aand toe; en omtrent die tyd van sononder het hy gesterf.

2 KRONIEKE 18:1-34 Die Boodskap (DB)

Josafat was baie ryk en belangrik. Later is sy seun met Agab, die koning van Israel, se dogter getroud. ’n Paar jaar later het hy by Agab in Samaria gaan kuier. Agab het ’n groot onthaal vir hom en sy amptenare gereël. Hulle het ’n klomp skape en beeste vir die geleentheid geslag om Josafat te probeer oorhaal om Ramot in Gilead saam met Israel aan te val. Agab vra toe vir Josafat: “Sal jy saam met my teen Ramot in Gilead gaan oorlog maak?” Josafat het gesê: “Maar natuurlik! Ons is mos familie. My soldate is tot jou beskikking.” Maar Josafat het bygevoeg: “Laat ons net eers seker maak wat die Here daarvan sê.” Agab het toe 400 profete bymekaar laat kom. Hy het vir hulle gevra: “Kan ons voortgaan met die plan om teen Ramot in Gilead te gaan veg, of moet ons dit los?” Hulle antwoord toe: “Gaan maar, want God sal julle laat wen.” Josafat was nog nie tevrede nie. “Is hier nie nog ’n profeet by wie ons kan hoor wat die Here wil hê nie?” het hy gevra. Agab het geantwoord: “Ja, hier is nog één, maar ek haat hom. Hy het nooit ’n goeie boodskap vir my nie. Hy het net altyd negatiewe dinge vir my te sê. Hy is Miga, Jimla se seun.” “Jy moet darem nie só praat nie!” sê Josafat toe. “Kom ons hoor wat hy sê.” Die koning van Israel het toe ’n amptenaar gestuur en gesê: “Gaan haal dadelik vir Miga, Jimla se seun.” Die twee konings het op hulle koninklike stoele op die dorsvloer net buite die ingang na Samaria gesit. Terwyl hulle daar sit en wag het met hulle koninklike klere aan, het al die profete hulle boodskappe gebring. Een van die profete was Sedekia, Kenaäna se seun. Hy het vir hom ysterhorings gemaak. “Met sulke horings,” het hy gesê, “sal u die Arameërs doodmaak.” Al die profete het saamgepraat en die konings aangemoedig om by Ramot in Gilead te gaan veg, “want,” het hulle gesê, “die Here sal u laat wen.” Die boodskapper wat Miga moes gaan roep, het vir hom gesê: “Luister nou ’n bietjie na my. Al die profete het vir die koning ’n oorwinning voorspel. Ek hoop net jy sal dieselfde sê en vir die koning ’n goeie boodskap gee!” Miga het hom geantwoord: “Ek sal net sê wat die Here vir my sê om te sê!” Toe hy by die koning kom, sê Agab vir hom: “Miga, kan ons na Ramot in Gilead toe gaan om te gaan veg, of moet ons dit los?” “Gaan gerus,” het Miga geantwoord, “dit sal goed gaan en julle sal wen.” Die koning het skerp reageer: “Hoeveel keer moet ek by jou aandring om niks anders vir my te sê as wat die Here vir jou sê nie?” Toe antwoord Miga hom: “In ’n visioen het ek Israel op die berge sien ronddwaal, net soos skape sonder ’n skaapwagter. Toe hoor ek die Here sê: ‘Hulle leier is dood, laat hulle in vrede huis toe gaan.’” Israel se koning herinner toe vir Josafat: “Ek het jou mos gesê hy kan niks goeds vir my voorspel nie. Dis net altyd slegte nuus!” Maar Miga het voortgegaan en die res van die visioen wat die Here hom laat sien het, vir hulle beskryf: “Ek het die Here op sy troon sien sit. Al die hemelwesens het weerskante voor Hom gestaan. “Die Here sê toe: ‘Wie van julle sal Israel se koning, Agab, kan ompraat om Ramot in Gilead te gaan aanval, sodat hy daar kan doodgaan?’ “Toe kom staan daar ’n gees voor die Here en sê: ‘Ek sal hom kan ompraat.’ “‘Maar hoe?’ het die Here hom gevra. “Hy het geantwoord: ‘Ek sal sorg dat al sy profete vir hom lieg.’ “‘Jy kan dit maar gaan doen, want jy sal dit regkry!’ het die Here gesê. “Verstaan nou mooi, geagte koning. Die Here het toegelaat dat die profete vir u lieg, want Hy beplan ’n groot ramp vir u.” Toe hy dit hoor, het Sedekia op Miga afgestorm en hom in die gesig geslaan. “Hoe is die Here se Gees nogal van my af weg om met jou te gaan praat?” wou hy weet. Miga het gesê: “Jy sal dit sommer gou uitvind, wanneer jy in ’n kamer moet invlug om weg te kruip!” Die koning het beveel: “Vang Miga en vat hom vir Amon, die stadsbevelvoerder, en vir my seun Joas. Sê vir hulle ek sê hulle moet hom in die tronk gooi. Hy moet net brood en water kry, tot ek veilig van die geveg af terugkom.” Maar Miga het vir die koning gesê: “As u veilig terugkom, het die Here nooit deur my gepraat nie,” en vir die omstanders het hy gesê: “Onthou maar wat ek gesê het!” Die twee konings het toe met hulle leërs na Ramot in Gilead vertrek. Agab het vir Josafat gesê: “As die geveg begin, gaan ek my vermom sodat niemand my kan herken nie. Hou jy liewer jou koninklike klere aan.” Agab het hom toe vermom en toe die geveg begin, was hulle daar. Die koning van Aram, teen wie hulle geveg het, het vir sy offisiere wat strydwabevelvoerders was, gesê: “Val net die koning van Israel aan, niemand anders nie!” Toe hulle vir Josafat sien, het die offisiere geskree: “Daar is die koning van Israel!” en hulle het hom aangeval. Josafat het egter geskree en die Here gevra om hom te red. God het toe ingegryp en die aanvallers van hom af laat padgee. Die offisiere het intussen besef dat hy nie Israel se koning is nie en die agtervolging gestaak. Een van die gewone Aramese soldate het sy boog gespan en ’n pyl weggeskiet sonder om na enigiets spesifieks te mik. Die pyl het vir Agab getref en tussen die plate van sy pantser ingesteek. Agab het besef wat gebeur het en vir sy strydwadrywer gesê: “Swaai om, kry my uit die geveg uit, want ek is gewond.” Die geveg het egter al hoe hewiger geword en die hele dag lank aangehou. Agab het aan die kant van sy strydwa vasgehou en so regop gebly om teen die Arameërs te veg, maar teen sononder is hy dood.

2 KRONIEKE 18:1-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Josafat het baie rykdom besit en het groot agting geniet. Hy het gereël dat sy seun trou met ’n familielid van koning Agab. Etlike jare later het hy Agab in Samaria besoek. Agab het baie skape en beeste vir Josafat en sy gevolg geslag. Hy het toe vir Josafat probeer oorhaal om saam met hom Ramot-Gilead aan te val. “Sal jy saam met my teen Ramot-Gilead optrek?” vra Agab, koning van Israel. Josafat het geantwoord: “Maar natuurlik! Ek en jy is mos broers en my soldate is onder jou bevel. Ons sal jou sekerlik bystaan in die geveg. Maar laat ons net eers vasstel wat die HERE daaroor sê.” Koning Agab het sy profete laat kom. Daar was 400 van hulle. Agab vra hulle toe: “Moet ons oorlog maak teen Ramot-Gilead of nie?” Hulle het geantwoord: “Gaan gerus, want God sal vir u die oorwinning gee!” Maar Josafat vra: “Is hier nie ook ’n profeet van die HERE nie, dat ons dieselfde vraag vir hom kan vra.” Koning Agab antwoord: “Daar is nog een man deur wie ons die HERE se raad kan vra, maar ek haat hom. Hy voorspel altyd net slegte nuus vir my! Sy naam is Miga seun van Jimla.” “Jy moenie so praat nie,” sê Josafat. “Laat ons hoor wat hy sê.” Die koning van Israel roep toe een van sy amptenare en sê: “Gou! Gaan roep vir Miga seun van Jimla.” Koning Agab van Israel en koning Josafat van Juda, elkeen in sy koninklike kleed, het op hulle trone by die dorsvloer by die poort van Samaria gesit. Al Agab se profete het daar voor hulle bly profeteer. Een van hulle, Sedekia seun van Kenaäna, het horings van yster gemaak en aangekondig: “Dit is wat die HERE sê: Met hierdie horings sal u die Arameërs stoot tot hulle vernietig is!” Al die ander profete het saamgestem. “Ja,” het hulle gesê. “Gaan na Ramot-Gilead. U sal wen. Die HERE gee die stad oor aan die koning.” Intussen het die boodskapper wat gestuur is om Miga te gaan haal, vir hom gesê: “Kyk, al die profete belowe ’n oorwinning vir die koning. Maak seker dat jy met hulle saamstem en gee goeie nuus.” Maar Miga antwoord: “So seker as wat die HERE lewe, ek sal net sê wat my God sê.” Toe Miga voor die koning verskyn, vra Agab vir hom: “Miga, moet ons teen Ramot-Gilead optrek of nie?” Miga antwoord hom: “Gaan gerus! Die stad sal aan u oorgelewer word!” Maar die koning het skerp gereageer: “Hoeveel keer moet ek jou beveel om onder eed niks anders as die waarheid in die Naam van die HERE te sê nie?” Miga sê toe vir hom: “Ek het in ’n visioen gesien dat Israel verstrooi is op die berge, soos skape sonder ’n herder. Die HERE sê: ‘Hulle leier is doodgemaak. Laat elkeen in vrede na sy huis toe gaan.’” “Wat het ek jou gesê?” sê die koning van Israel vir Josafat. “Hy doen dit altyd! Hy voorspel nooit enigiets anders nie as net slegte nuus vir my.” Miga het voortgegaan: “Luister na wat die HERE sê! Ek het die HERE sien sit op sy troon met al die hemelse leërs aan sy regterkant en aan sy linkerkant. En die HERE het gesê: ‘Wie sal koning Agab van Israel oorhaal om oorlog teen Ramot-Gilead te maak sodat hy daar kan omkom?’ Daar was baie voorstelle, tot ’n gees na die HERE kom en sê: ‘Ek kan dit doen!’ “‘Hoe sal jy dit doen?’ vra die HERE. “Die gees antwoord: ‘Ek sal gaan en al Agab se profete oorhaal om leuens te vertel.’ “‘Jy sal suksesvol wees,’ sê die HERE. ‘Gaan en doen dit!’ “Só het die HERE ’n leuengees in die monde van u profete gegee, want die HERE het bepaal dat ’n ramp u sal tref.” Sedekia seun van Kenaäna gaan toe na Miga en slaan hom deur die gesig: “Wanneer het die Gees van die HERE my verlaat om met jou te praat?” vra hy. Miga antwoord hom: “Jy sal dit binnekort agterkom wanneer jy van een vertrek na ’n ander vlug om weg te kruip!” Koning Agab het toe beveel: “Vat Miga en neem hom na Amon, die stadsbevelvoerder en na my seun Joas. Gee hulle hierdie opdrag van die koning: ‘Sit hierdie man in die tronk en gee hom net brood en water totdat ek veilig terugkeer van die oorlog!’” Maar Miga het geantwoord: “As u veilig terugkom, het die HERE nie deur my gepraat nie!” Hy voeg toe by vir die omstanders: “Neem kennis van wat ek gesê het.” Die koning van Israel en koning Josafat van Juda het hulle leërs teen Ramot-Gilead gelei. Koning Agab het vir Josafat gesê: “Wanneer ons gaan veg, sal ek myself vermom sodat niemand my sal herken nie. Maar jy moet jou koninklike kleed dra.” Agab het homself vermom en hulle het begin veg. Die koning van Aram het die aanvoerders van die strydwaens beveel: “Val net die koning van Israel aan, nie al die ander soldate nie!” Toe die Aramese aanvoerders van die strydwaens vir Josafat in sy koninklike kleed sien, roep hulle: “Dit is die koning van Israel!” Hulle het hulle aanval op hom gerig. Maar Josafat het tot die HERE geroep om hom te red, en God het hom gehelp deur die aanval van hom af weg te keer. Toe die aanvoerders van die strydwaens besef dat hy nie die koning van Israel was nie, het hulle hom nie verder agtervolg nie. ’n Aramese soldaat het egter blindweg ’n pyl na die soldate van Israel afgeskiet. Die pyl het die koning van Israel tussen die skubbe van sy harnas en die borsplaat getref. “Draai om en kry my hier uit!” roep Agab vir die drywer van sy strydwa. “Ek is ernstig gewond!” Die geveg het egter die hele dag gewoed en Agab het homself in die strydwa gestut en tot die aand toe teen die Arameërs geveg. Net toe die son sak, het hy gesterf.