1 TIMOTEUS 4:1-16 - Compare All Versions
1 TIMOTEUS 4:1-16 AFR83 (Afrikaans 1983)
Die Gees sê uitdruklik dat in die eindtyd sommige afvallig sal word van die geloof. Hulle sal misleidende geeste navolg en die leerstellings van bose geeste aanhang. Hierdie dwaalleraars is skynheilige leuenaars wie se gewete toegeskroei is. Hulle verbied mense om te trou en om bepaalde soorte kos te eet. Maar God het die voedsel gemaak, sodat dié wat glo en tot die kennis van die waarheid gekom het, dit met danksegging kan gebruik. Alles wat God gemaak het, is immers goed. Niks wat met danksegging ontvang word, is verwerplik nie, want dit word deur die woord van God en deur die gebed geheilig. As jy hierdie dinge aan die broers voorhou, sal jy 'n goeie dienaar van Christus Jesus wees wat jouself voed met die woorde van die geloof en die goeie leer waarvan jy 'n aanhanger geword het. Maar van onheilige en sinlose verdigsels moet jy wegbly. Oefen jou liewer om in toewyding aan God te lewe. Om jou liggaam te oefen, het wel 'n bietjie waarde, maar om in toewyding aan God te lewe, het in alle opsigte groot waarde, want dit bevat 'n belofte van lewe, vir nou en die toekoms. Dit is 'n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word. Met hierdie vooruitsig span ons ons kragte in en stry ons, want ons het ons hoop op die lewende God gevestig, wat die Verlosser is van alle mense, van almal wat glo. Hierdie dinge moet jy die mense beveel en leer. Niemand mag op jou neersien omdat jy jonk is nie, maar wees jy vir die gelowiges 'n voorbeeld in woord en gedrag, in liefde, geloof en reinheid. Totdat ek kom, moet jy jou daarop toelê om uit die Skrif voor te lees, te preek en onderrig te gee. Moenie die genadegawe wat jy het, verwaarloos nie. Dit is aan jou gegee deur die profesieë toe die raad van ouderlinge jou die hande opgelê het. Lê jou op hierdie dinge toe, leef daarin, sodat almal jou vordering kan sien. Let goed op jou lewe en jou leer, volhard daarin, want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as dié wat na jou luister.
1 TIMOTEUS 4:1-16 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
MAAR die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang deur die geveinsdheid van leuenaars wat gebrandmerk is in hulle eie gewete, wat verbied om te trou en gebied dat die mense hulle moet onthou van voedsel wat God geskape het om met danksegging gebruik te word deur die gelowiges en die wat die waarheid ken. Want alles wat deur God geskape is, is goed, en niks is verwerplik as dit met danksegging ontvang word nie; want dit word geheilig deur die woord van God en die gebed. AS jy hierdie dinge aan die broeders voorhou, sal jy 'n goeie dienaar van Jesus Christus wees terwyl jy jouself voed met die woorde van die geloof en van die goeie leer waarvan jy 'n navolger geword het. Maar verwerp onheilige en oudwyfse fabels, en oefen jou in die godsaligheid. Want die liggaamlike oefening is tot weinig nut, maar die godsaligheid is nuttig vir alles, omdat dit die belofte van die teenwoordige en die toekomende lewe het. Dit is 'n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word; want hiervoor arbei ons ook en word ons gesmaad, omdat ons gehoop het op die lewende God wat 'n behouder is van alle mense, insonderheid van die gelowiges. Beveel en leer hierdie dinge. Laat niemand jou jonkheid verag nie, maar wees 'n voorbeeld vir die gelowiges in woord, in wandel, in liefde, in gees, in geloof, in reinheid. Totdat ek kom, moet jy aanhou met voorlesing, vermaning en lering. Verwaarloos nie die genadegawe wat in jou is nie, wat jou gegee is deur die profesie met die handoplegging van die ouderlinge. Wees vlytig in hierdie dinge, leef daarin, sodat jou vooruitgang vir almal duidelik kan wees. Let op jouself en op die leer; volhard daarin; want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as die wat jou hoor.
1 TIMOTEUS 4:1-16 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Die Heilige Gees leer ons duidelik dat in die laaste tye sommige mense sal wegdraai van wat ons glo; hulle sal leuengeeste volg en leerstellings wat van bose geeste af kom. Hierdie dwaalleraars is skynheiliges en leuenaars. Hulle gee voor om godsdienstig te wees, maar hulle gewete is dood. Hulle sal sê dit is verkeerd om getroud te wees en verkeerd om sekere kosse te eet. Maar God het daardie kosse geskep om met danksegging geëet te word deur mense wat die waarheid ken en glo. Aangesien alles wat God geskep het goed is, moet ons nie enigiets daarvan verwerp nie. Ons moet dit met blydskap ontvang, met dankbare harte. Want ons weet dit word deur die woord van God en gebed aan God toegewy. As jy dit aan die broers en susters voorhou, sal jy jou plig doen as ’n waardige dienaar van Christus Jesus, een wat gevoed word deur die boodskap van geloof en die ware leringe wat jy navolg. Moenie tyd verkwis met redenasies oor goddelose idees en ouvroustories nie. Bestee jou tyd en energie daaraan om jouself te oefen tot geestelike fiksheid. Liggaamlike oefening het wel waarde, maar geestelike oefening is baie belangriker, want dit hou die belofte in van beloning, sowel in hierdie lewe as in die volgende. Dit is ’n betroubare boodskap, een wat verdien om ten volle aanvaar te word. Hiervoor swoeg en veg ons, want ons hoop is op die lewende God wat die Verlosser is van alle mense, en veral van dié wat glo. Gee instruksies oor hierdie dinge en onderrig die mense daarvolgens. Moenie dat enigiemand minder van jou dink omdat jy jonk is nie. Wees ’n voorbeeld vir alle gelowiges deur wat jy leer, in die manier waarop jy lewe, in jou liefde, jou geloof en jou integriteit. Totdat ek daar opdaag, konsentreer daarop om die Skrif aan die gemeente voor te lees, die gelowiges te bemoedig en om hulle te onderrig. Moenie die geestelike gawe verwaarloos wat jy ontvang het deur die profesieë wat oor jou uitgespreek is toe die ouderlinge van die gemeente jou die hande opgelê het nie. Gee jou volle aandag aan hierdie sake. Werp jouself in jou werksaamhede sodat almal jou vordering kan sien. Let goed op jouself en jou leer. Bly getrou aan wat reg is, en jy sal jouself red sowel as almal wat na jou luister.
1 TIMOTEUS 4:1-16 DB (Die Boodskap)
Die Heilige Gees het baie duidelik gesê dat in die tyd voor die Here weer kom party mense niks meer met geloof te doen sal wil hê nie. Hulle sal eerder agter geeste aanhardloop wat hulle op verkeerde paaie lei en sal gretig luister na wat demone vir hulle vertel. Dit sal gebeur wanneer hulle hulle ore uitleen aan mense wat kamma goed is, maar eintlik almal kul en vir almal lieg. Hierdie mense sal nie eens omgee om hulle op allerhande verkeerde paaie te lei nie, want hulle het geen gewete meer oor nie. Hulle sal nie eens sleg voel oor al die godsdienstige onsin wat hulle verkoop nie. Dink net, hulle sê mense mag nie trou nie en vertel vir hulle dat hulle sekere kos nie mag eet nie. Wat hulle vergeet, is dat God alles gemaak het, ook die kos. Ons wat op God vertrou en weet wat waar is en wat nie, eet daardie selfde kos sonder enige probleme, want God het dit mos gemaak. Om die waarheid te sê, ons sê ook nog vir Hom dankie daarvoor. En dit is reg so, want alles wat God gemaak het, is goed. ’n Mens hoef nie jou neus op te trek vir enigiets as jy vir God daarvoor dankie sê nie. God self het vir ons gesê dat alles wat gemaak is Syne is. Deur gebed sê ons vir Hom dat ons Hom erken as die Een wat alles gemaak het. Jy sal doen wat Christus Jesus van jou as sy werker vra as jy die mense van hierdie gevare vertel. Die boodskap waarin jy glo, moet jou sterk maak. Jy het mos die Christelike leer aanvaar. Juis daarom moet jy jou nie steur aan al die stories wat mense uitdink en wat eintlik niks met God te doen het nie. Sorg jy liewer dat jy God reg dien. Jy moet oefen om dit te doen soos ’n atleet oefen om fiks te bly. ’n Atleet wat oefen om fiks te bly doen goed, maar dit help nie vir alles nie. Om egter geestelik te oefen om fiks te bly deur God te dien, is regtig die moeite werd. Dit help ’n mens op alle maniere, vir die lewe hier op aarde én die lewe wat vir ons wag in die toekoms. Hierna kan julle maar luister, want dit is die absolute waarheid. Hiervoor probeer ons ons uiterste bes en ons werk hard daarvoor. Ons weet mos dat die lewende God alles wat Hy beloof het, sal doen. Hy is die Een wat almal red, veral dié wat op Christus vertrou. Jy moet vir mense hierdie dinge leer en vir hulle sê om dit te doen. Moenie dat mense op jou neersien omdat jy so jonk is nie. Neem liewer die leiding onder hulle en wys vir hulle hoe ’n Christen moet praat en wat ’n Christen moet doen. Ja, wys vir hulle hoe ’n Christen moet liefhê en op God en Christus moet vertrou, en hoe skoon ’n Christen se lewe moet wees. Hou aan om vir mense uit die Skrif voor te lees en praat met hulle daaroor sodat hulle ook meer van God se boodskap kan verstaan. Moenie ophou of vergeet om die gawe te gebruik wat God jou so onverdiend gegee het nie. Dit is die gawe wat God jou gegee het toe die leiers in die gemeente hulle hande op jou gesit het omdat God mense gelei het om sulke mooi dinge oor jou te voorspel. Probeer jou bes en doen jou deel so goed jy kan sodat almal kan sien hoe jy as Christen ryper word. Maak doodseker dat jy reg lewe en ander so leer. Moenie ’n duim van hierdie pad afwyk nie. As jy op hierdie pad bly, sal nie net jy by God uitkom nie, maar ook almal wat luister na wat jy vir hulle sê.
1 TIMOTEUS 4:1-16 ABA (Bybel vir almal)
Maar die Heilige Gees sê baie duidelik dat party mense in hierdie laaste dae van die wêreld sal ophou glo. Dit sal gebeur omdat hulle luister na bose geeste wat vir hulle verlei, en hulle doen dinge wat duiwels vir hulle leer. Die mense wat daardie dinge vir die gelowiges leer, is skynheilig en hulle vertel leuens. Hulle wil nie weet wat reg is en wat verkeerd is nie. Hierdie mense sê mense moenie trou nie en hulle moenie party soorte kos eet nie. Maar God het al die soorte kos gemaak sodat mense die kos mag eet en vir Hom dankie kan sê daarvoor. Dit is die mense wat in Christus glo en wat weet dat die boodskap van Christus waar is. Elke ding wat God gemaak het, is goed, en as mense vir God dankie sê vir die kos wat hulle van Hom kry, dan mag hulle al die soorte kos eet. Al die dinge wat God gemaak het, is goed. God het dit self gesê. En as julle vir Hom dankie sê vir die kos wat van Hom kom, dan is die kos goed. Jy moet aanhou om vir die gelowiges te sê hulle moet die dinge onthou wat ek nou vir jou geskryf het. Dan sal jy 'n goeie dienaar van Christus Jesus wees omdat jy aanhou om te luister na die boodskap oor die geloof wat jy geleer het. Die boodskap is waar, en jy het begin lewe soos jy geleer het. Daar is mense wat niks van God weet nie, mense wat self stories maak en vertel, stories wat niks beteken nie. Jy moenie na hulle stories luister nie. Jy moet oefen om God altyd beter te dien. Wanneer 'n mens jou liggaam oefen, dan help dit 'n bietjie. Maar wanneer 'n mens oefen om vir God beter te dien, dan help dit heeltemal, want God belowe om vir 'n mens die ewige lewe te gee, nou en in die tyd wat later kom. Wat ek nou gesê het, is waar, en jy kan dit glo. Daarom werk ons baie hard. Ons weet dat die God wat lewe, vir ons sal help, en ons weet dat Hy sal doen wat Hy belowe het. Hy wil al die mense red, spesiaal die mense wat in Hom glo. Jy moet aanhou om hierdie dinge vir die mense te sê en om dit vir hulle te leer. Jy is jonk, maar niemand moet dink daarom is jy nie belangrik nie. Nee, jy moet vir die gelowiges wys hoe hulle moet lewe. Jy moet dit vir hulle wys met wat jy sê en met jou mooi lewe. Jy moet wys dat jy lief is vir mense, en jy moet aanhou glo en jy moet heeltemal reg lewe. Jy moet aanhou om vir die gemeente te lees uit die Bybel. Jy moet aanhou om vir hulle te sê hoe hulle moet lewe en jy moet aanhou om vir hulle te leer. Jy moet dit doen totdat ek kom. Jy moet aanhou om die genadegawe te gebruik wat jy gekry het. Die Here het hierdie genadegawe vir jou gegee. Die profete het dit gesê, en die ouderlinge het hulle hande op jou gesit. Jy moet aanhou om hierdie dinge te doen, jy moet so lewe dat almal kan sien dat jy meer en meer glo. Jy moet baie goed dink en versigtig wees oor hoe jy lewe en wat jy vir die mense leer. Jy moet aanhou om reg te lewe en om vir die mense reg te leer, want as jy hierdie dinge doen, dan sal jy jouself red en ook die mense wat luister na jou.
1 TIMOTEUS 4:1-16 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste dae sommige mense van die geloof afvallig sal word, omdat hulle hulle ophou met dwaalgeeste en die leringe van demone. Hulle word beïnvloed deur die skynheiligheid van leuenaars, wie se gewete toegeskroei is. Hulle verhinder mense om te trou, en laat hulle sekere kossoorte vermy, terwyl God dit geskep het vir gelowiges, diegene wat die waarheid insien, om dit met dankbaarheid te geniet. Want alles wat God geskep het, is goed, en niks wat met danksegging ontvang word, is verwerplik nie, omdat dit deur die woord van God en gebed geheilig word. Wanneer jy hierdie dinge aan die broers uitwys, sal jy 'n goeie dienskneg van •Christus Jesus wees, gevoed met die woorde van die geloof, en die goeie leer wat jy noukeurig navolg. Vermy goddelose en dwase mites. Oefen jouself om godvresend te leef; want liggaamlike oefening is wel in 'n geringe mate nuttig, maar godvresendheid is nuttig in alle opsigte. Dit hou belofte in vir die huidige én die toekomstige lewe. Dié uitspraak is betroubaar en werd om ten volle aanvaar te word. Want hiervoor werk ons hard en stry ons, omdat ons ons hoop geplaas het op die lewende God, wat die Verlosser van alle mense is, veral van die gelowiges. Beveel en onderrig hierdie dinge. Laat niemand op jou neersien omdat jy jonk is nie, maar wees 'n voorbeeld vir die gelowiges in woord, in gedrag, in liefde, in betroubaarheid, in reinheid. Totdat ek kom, moet jy jou toelê op voorlesing, bemoediging en onderrig. Moenie die genadegawe in jou verwaarloos wat deur profesie aan jou geskenk is toe die raad van ouderlinge jou die hande opgelê het nie. Lê jou toe op hierdie dinge, leef daarin, sodat jou vordering vir almal duidelik kan wees. Wees noulettend op jouself en die leer; volhard daarin; want sodoende sal jy jouself red en ook hulle wat na jou luister.
1 TIMOTEUS 4:1-16 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
En die Gees spreek uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof sal afvallig word en ag gee op verleidende geeste en leringe van duiwels; Spreek lê in skynheiligheid; dat hulle gewete met 'n warm yster geskroei word; verbied om te trou en beveel om te onthou van voedsel wat God geskep het om met danksegging ontvang te word van die wat glo en die waarheid ken. Want elke skepsel van God is goed en niks wat verwerp moet word as dit met danksegging ontvang word nie. Want dit is geheilig deur die woord van God en deur gebed. As jy die broeders aan hierdie dinge herinner, sal jy 'n goeie dienaar van Jesus Christus wees, gevoed in die woorde van geloof en goeie leer waartoe jy gekom het. Maar weier onheilige en ou vrouens se fabels, en oefen jou liewer tot godsaligheid. Want liggaamlike oefening baat min, maar die godsaligheid is vir alles nuttig, met die belofte van die lewe wat nou is en van die toekomstige. Dit is 'n betroubare woord en verdien om aan te neem. Want daarom arbei ons sowel as smaad, omdat ons op die lewende God vertrou, wat die Verlosser is van alle mense, veral van die wat glo. Hierdie dinge beveel en leer. Laat niemand jou jeug verag nie; maar wees 'n voorbeeld van die gelowiges in woord, in gesprek, in liefde, in gees, in geloof, in reinheid. Totdat ek kom, gee aandag aan lees, vermaning, leer. Verwaarloos nie die gawe wat in jou is, wat aan jou gegee is deur profesie, met die handoplegging van die ring nie. Peins oor hierdie dinge; gee Uself geheel en al aan hulle; sodat u voordeel aan almal kan verskyn. Let op jouself en op die leer; bly daarin, want deur dit te doen, sal jy jouself sowel as die wat na jou luister red.