1 SAMUEL 26:7-11
1 SAMUEL 26:7-11 Bybel vir almal (ABA)
Dawid en Abisai het in die nag by Saul se manne gekom. Saul het daar in die kamp gelê en slaap. Sy spies het regop gestaan naby sy kop. Abner en die manne het rondom hom gelê. Toe sê Abisai vir Dawid: “God het jou vandag gehelp om jou vyand te vang. Ek sal hom met my spies in die grond vassteek. Ek sal dit net een maal doen, dan sal hy dood wees.” Maar Dawid het vir Abisai gesê: “Moenie hom doodmaak nie. As iemand iets doen teen die gesalfde van die Here, dan moet hy weet die Here sal hom straf. Ek weet, so seker soos die Here lewe, die Here sal Saul laat sterf, of Saul sal sterf wanneer dit sy tyd is, of hy sal oorlog toe gaan en sterf. Nee, ek sal nie iets doen teen die gesalfde van die Here nie. Maar kom ons neem die spies wat by sy kop staan en die waterkruik en dan loop ons.”
1 SAMUEL 26:7-11 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Toe Dawid met Abísai in die nag by die manskappe kom, lê Saul daar en slaap in die wa-laer met sy spies aan sy koppenent in die grond gesteek, terwyl Abner en die manskappe rondom hom lê. En Abísai sê vir Dawid: Vandag het God u vyand in u hand oorgelewer; laat ek hom tog nou met sy spies in een slag teen die grond vassteek sonder om dit 'n tweede keer te doen. Maar Dawid sê vir Abísai: Bring hom nie om nie, want wie slaan sy hand aan die gesalfde van die HERE en bly ongestraf? Verder sê Dawid: So waar as die HERE leef, sekerlik sal die HERE hom slaan, òf sy dag sal kom dat hy sterwe, òf hy sal aftrek in die geveg en omkom! Mag die HERE my bewaar dat ek my hand aan die gesalfde van die HERE sou slaan! Maar neem nou tog die spies wat aan sy koppenent is, en die waterkruik, en laat ons weggaan.
1 SAMUEL 26:7-11 Afrikaans 1983 (AFR83)
Dawid en Abisai het daardie nag by die manskappe van Saul gekom, en Saul was vas aan die slaap op die wa terwyl sy spies aan die koppenent in die grond steek en Abner en die manskappe rondom hom lê en slaap. Abisai het vir Dawid gesê: “God het jou vyand nou in jou mag oorgegee. Laat ek hom nou sommer hier met die spies in die grond vassteek. Ek sal hom nie 'n tweede keer hoef te steek nie.” Maar Dawid het vir Abisai gesê: “Jy moet hom nie om die lewe bring nie, want wie sal sy hand oplig teen die gesalfde van die Here en nog onskuldig wees?” Dawid het ook gesê: “So seker as die Here leef, die Here sal hom met 'n vroeë dood tref, of sy tyd sal aanbreek en hy sal sterwe, of hy sal gaan oorlog maak en hy sal omkom. Mag die Here my verhinder dat ek my hand oplig teen die gesalfde van die Here. Vat net die spies by sy koppenent en die waterkruik en laat ons hier wegkom.”
1 SAMUEL 26:7-11 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Dawid en Abisai het in die nag tot by die manskappe gekom, en sowaar, daar lê Saul vas aan die slaap in die oornagkamp, met sy vegspies in die grond gesteek by sy kop, terwyl Abner en die manskappe rondom hom lê. Abisai sê toe vir Dawid: “God het vandag jou vyand in jou hand oorgelewer. Laat ek hom tog nou met die vegspies in die grond vaspen met een steek. Ek sal dit nie 'n tweede keer hoef te doen met hom nie.” Maar Dawid sê vir Abisai: “Moet hom nie uitwis nie. Want wie kan sy hand teen die gesalfde van die HERE uitsteek en onskuldig wees?” Verder sê Dawid: “So waar as die HERE leef, die HERE sal hom tref; óf sy dag sal kom en hy sal gewoon sterf, óf hy sal aftrek in die oorlog en weggevee word. Mag die HERE my daarvan weerhou dat ek ooit my hand teen die gesalfde van die HERE lig! Maar vat nou die vegspies wat by sy kop is en die waterkruik, en laat ons padgee.”
1 SAMUEL 26:7-11 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Daarop het Dawid en Abísai in die nag by die volk gekom, en kyk, Saul lê en slaap in die sloot, en sy spies het by sy skut in die grond gesteek, maar Abner en die manskappe het rondom hom gelê. Toe sê Abísai vir Dawid: God het vandag jou vyand in jou hand gegee; laat my hom dan tog dadelik met die spies tot op die aarde slaan, en ek sal hom nie die tweede keer verslaan nie. Toe sê Dawid vir Abísai: Verdelg hom nie, want wie kan sy hand uitsteek teen die gesalfde van die HERE en onskuldig wees? Dawid het verder gesê: So waar as die HERE leef, die HERE sal hom slaan; of sy dag kom om te sterwe; of hy sal in die geveg neerdaal en omkom. Die HERE het my verbied dat ek my hand teen die gesalfde van die HERE sou uitsteek; maar neem tog die spies wat by sy skut is en die waterkruis, en laat ons gaan.
1 SAMUEL 26:7-11 Die Boodskap (DB)
Toe dit pikdonker is, sluip Dawid en Abisai by die manskappe verby, en jou waarlik, daar lê Saul vas aan die slaap met Abner en die manskappe in ’n kring om hom. Sy spies is by sy kop in die grond gesteek. “God het vannag jou vyand in jou mag gegee,” fluister Abisai vir Dawid. “Laat ek hom nou met een hou met die spies deurboor. Net een steek sal genoeg wees.” “Nee, moenie hom doodmaak nie,” fluister Dawid vir Abisai. “Iemand wat sy hand teen die Here se gesalfde oplig, sal nie ongestraf bly nie. So waar as die Here leef, die Here self sal Saul laat doodgaan: wanneer sy tyd kom, sal hy ’n natuurlike dood sterf, of hy sal in ’n geveg omkom. Die Here bewaar my daarvan dat ek my hand teen sy gesalfde oplig. Kom ons vat liewer sy spies daar by sy kop en sy waterkruik, dan maak ons dat ons wegkom.”
1 SAMUEL 26:7-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Dawid en Abisai het toe in die nag Saul se kamp binnegesluip terwyl hy vas aan die slaap was. Sy spies het aan sy koppenent in die grond gesteek. Abner en sy manskappe rondom hom het almal vas geslaap. “God het hierdie keer beslis jou vyand aan jou oorgelewer!” fluister Abisai vir Dawid. “Laat ek hom nou met die spies in die grond vassteek. Ek sal dit nie ’n tweede keer hoef te doen nie!” “Nee!” sê Dawid. “Moenie hom doodmaak nie. Hoe kan iemand sy hand teen die gesalfde van die HERE laat uitgaan en nog onskuldig wees? So seker as die HERE leef, een of ander tyd sal die HERE Saul tref: Óf sy tyd sal aanbreek dat hy sterf, óf hy sal in die geveg sterf. Maar mag die HERE my daarvan bewaar dat ek sy gesalfde sou doodmaak. Kom ons vat nou die spies by sy koppenent en die waterkruik, dan gaan ons terug!”