1 SAMUEL 18:12-16 - Compare All Versions

1 SAMUEL 18:12-16 AFR83 (Afrikaans 1983)

Saul het bang geword vir Dawid omdat die Here by hom was, maar die Here het vir Saul verlaat. Saul het daarna nie meer vir Dawid by hom laat bly nie en hom aangestel as hoof van 'n leërafdeling. Hy het in die oorlog as aanvoerder van die manskappe opgetree en in alles sukses behaal omdat die Here by hom was. Saul het opgemerk dat Dawid baie suksesvol was, en Saul was bang vir hom. Maar die hele Israel en Juda was lief vir Dawid, en hy het in die oorlog as hulle aanvoerder opgetree.

1 SAMUEL 18:12-16 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

En Saul was bevrees vir Dawid, omdat die HERE met hom was en van Saul gewyk het. Daarom het Saul hom uit sy teenwoordigheid verwyder en hom aangestel as sy owerste oor duisend, sodat hy voor die manskappe uit- en ingegaan het. EN Dawid was voorspoedig in al sy weë, want die HERE was met hom. Toe Saul sien dat hy baie voorspoedig was, het hy vir hom bang geword. Maar die hele Israel en Juda het Dawid liefgehad, want hy het voor hulle uit- en ingegaan.

1 SAMUEL 18:12-16 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Saul het bang geword vir Dawid omdat die HERE by Dawid was, maar vir hom verlaat het. Daarom het hy Dawid weggestuur en hom elders as hoof van ’n leërafdeling aangestel. Dawid was suksesvol in alles wat hy gedoen het en die HERE was met hom. Toe Saul dit opmerk, was hy bang vir hom, maar die hele Israel en Juda het van Dawid gehou omdat hy ’n suksesvolle aanvoerder was.

1 SAMUEL 18:12-16 DB (Die Boodskap)

Saul het toe bang geword vir Dawid. Die Here het vir Dawid gehelp, maar die Here was nie meer by Saul nie. Saul wou Dawid toe nie meer naby hom hê nie. Hy het hom die leier van ’n groep soldate gemaak. Dawid het die soldate in al hulle veldtogte gelei. Hy het oral sukses behaal, want die Here het hom gehelp. Toe Saul sien hoe goed Dawid vaar, het hy nog banger geword vir hom. Maar al die mense van Israel en Juda het van Dawid gehou omdat hy hulle in die oorlog gelei het.

1 SAMUEL 18:12-16 ABA (Bybel vir almal)

Saul het bang geword vir Dawid, want die Here was by Dawid en Hy was nie meer by Saul nie. Saul het vir Dawid weggestuur van hom. Hy het vir Dawid 'n offisier oor 1 000 manne gemaak, en Dawid het die manne gelei. Dit het oral goed gegaan met Dawid. Die Here was by hom. Saul het gesien dat dit baie goed gaan met Dawid, en hy het bang geword vir Dawid. Al die manne van Israel en Juda het lief geword vir Dawid, want hy het hulle gelei.

1 SAMUEL 18:12-16 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Saul het bang geword vir Dawid, want die HERE was met hom, maar van Saul het Hy gewyk. Saul het Dawid toe uit sy onmiddellike omgewing verwyder en hom aangestel as •aanvoerder van 'n leërafdeling. Dawid was op die voorpunt van die manskappe wanneer hulle uitgetrek en teruggekeer het. Dawid het oral waar hy gegaan het, sukses behaal, en die HERE was met hom. Toe Saul sien dat hy baie voorspoedig is, het hy hom gevrees. Die hele Israel en Juda was lief vir Dawid, omdat hy op die voorpunt was wanneer hulle uitgetrek en teruggekeer het.

1 SAMUEL 18:12-16 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

En Saul was bang vir Dawid, want die HERE was met hom en het van Saul af weggegaan. Daarom het Saul hom van hom verwyder en hom as owerste oor duisend aangestel; en hy het uitgegaan en voor die volk ingekom. En Dawid het in al sy weë wys gedra; en die HERE was met hom. Daarom, toe Saul sien dat hy baie wys gedra het, was hy bang vir hom. Maar die hele Israel en Juda het Dawid liefgehad, want hy het uit- en ingegaan voor hulle uit.