1 SAMUEL 13:1-15 - Compare All Versions

1 SAMUEL 13:1-15 AFR83 (Afrikaans 1983)

Saul het al 'n jaar of twee as koning oor Israel geregeer, toe kies hy vir hom drie afdelings uit Israel uit. Twee afdelings was by hom in Mikmas en in die bergwêreld van Bet-El. Een afdeling was by Jonatan in Gibea in Benjamin. Saul het die res van die manskappe huis toe gestuur. Toe Jonatan die Filistynse wagpos wat in Gibea was, oorrompel het, het die Filistyne daarvan gehoor. Saul het oor die hele land die ramshoring laat blaas om die Hebreërs op te roep. Die hele Israel het gehoor dat Saul die wagpos van die Filistyne oorrompel het en dat Israel in onguns gebring was by die Filistyne. Die manskappe is bymekaargeroep by Saul in Gilgal. Die Filistyne het bymekaargekom om teen Israel te veg: dertig afdelings strydwaens en ses afdelings perderuiters en manskappe so baie soos die sand van die see. Hulle het opgetrek en kamp opgeslaan by Mikmas oos van Bet-Awen. Israel het gemerk dat hy in die moeilikheid is, want die volk was in 'n hoek vasgekeer. Die volk het in spelonke, grotte, hol kranse, gate en droë putte gaan wegkruip. En sommige Hebreërs het deur die Jordaan gegaan na Gad en na Gilead toe. Saul was egter nog in Gilgal en al die manskappe by hom was doodbang. Hy het sewe dae gewag, die tyd soos afgespreek met Samuel, maar Samuel het nie by Gilgal opgedaag nie. Toe die manskappe wat by Saul was, begin dros het, het hy gesê: “Bring die brandoffer en die maaltydoffers na my toe.” Hy het toe self die brandoffer geoffer. En toe gebeur dit! Net toe hy die brandoffer klaar verbrand het, kom Samuel daar aan. Saul het na hom toe uitgegaan om hom te groet. Samuel vra hom toe: “Wat het jy aangevang?” En Saul het gesê: “Ek het gesien die manskappe loop van my af weg, en u het nie opgedaag op die tyd wat ons afgespreek het nie. Die Filistyne het bymekaargekom by Mikmas, en toe dink ek: die Filistyne sal nou-nou teen my afkom na Gilgal toe en ek het nog nie aan die Here 'n offer gebring nie. Toe het ek dit gewaag om self die brandoffer te bring.” Maar Samuel sê vir Saul: “Jy het dwaas gehandel. As jy maar die bevel van die Here jou God wat Hy jou gegee het, nagekom het! Waarlik, dan sou die Here nou jou koningskap oor Israel vir altyd bevestig het. Maar nou sal jou koningskap nie bestendig word nie. Die Here sal vir Hom 'n man na sy hart soek. Die Here sal hóm aanstel as regeerder oor sy volk, want jy het nie gedoen wat die Here jou beveel het nie.” Samuel het daarna opgestaan en van Gilgal af na Gibea in Benjamin toe vertrek. Saul het toe die manskappe wat nog by hom was, getel: omtrent ses honderd man.

1 SAMUEL 13:1-15 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

SAUL het 'n jaar geregeer. En toe hy twee jaar oor Israel geregeer het, het Saul vir hom drieduisend man uit Israel uitgesoek; en by Saul was tweeduisend in Migmas en op die gebergte van Bet-el, en duisend was by Jónatan in Gíbea in Benjamin; maar die orige manskappe het hy laat gaan, elkeen na sy tente toe. En Jónatan het die wagpos van die Filistyne verslaan wat in Geba was, en die Filistyne het dit gehoor. Daarop het Saul op die ramshoring laat blaas in die hele land om te sê: Laat die Hebreërs dit hoor! En die hele Israel het hoor sê: Saul het die wagpos van die Filistyne verslaan, en ook het Israel homself gehaat gemaak by die Filistyne. So is dan die manskappe opgeroep agter Saul aan na Gilgal toe. En die Filistyne het bymekaargekom om teen Israel te veg: drieduisend strydwaens en sesduisend perderuiters en voetgangers soos die sand wat op die seestrand is in menigte; en hulle het opgetrek en laer opgeslaan by Migmas, oos van Bet-Awen. Toe die manne van Israel sien dat hulle in die nood is — want die volk was in die noute gedruk — het die volk weggekruip in die spelonke en in die doringbosse en in die rotse en in die grotte en in die kuile. En die Hebreërs het die Jordaan deurgetrek na die land Gad en Gílead; maar Saul was nog in Gilgal met al die manskappe wat bewende agter hom aan gegaan het. En hy het sewe dae lank gewag, tot die tyd wat Samuel bepaal het; maar toe Samuel nie na Gilgal kom nie en die manskappe van hom af verstrooid raak, het Saul gesê: Bring na my die brandoffer en die dankoffers; en hy het die brandoffer geoffer. En toe hy net gereed was om die brandoffer te bring, kom Samuel meteens daar aan; en Saul het uitgegaan hom tegemoet om hom te groet. Daarop vra Samuel: Wat het jy gedoen? En Saul sê: Ek het gesien dat die manskappe verstrooid raak van my af; en toe u nie kom op die afgesproke tyd nie, terwyl die Filistyne in Migmas bymekaarkom, het ek gesê: Nou sal die Filistyne na my toe aftrek in Gilgal, en ek het die aangesig van die HERE nie om genade gesmeek nie; daarom het ek myself sterk gehou en die brandoffer gebring. Toe sê Samuel vir Saul: Jy het dwaas gehandel, jy het die gebod van die HERE jou God wat Hy jou beveel het, nie gehou nie; want anders sou die HERE jou koningskap oor Israel vir goed bevestig het. Maar nou sal jou koningskap nie bestaan nie. Die HERE het vir Hom 'n man na sy hart gesoek; en die HERE het hom as vors oor sy volk aangestel, omdat jy nie gehou het wat die HERE jou beveel het nie. Toe het Samuel klaargemaak en opgegaan van Gilgal na Gíbea in Benjamin, en Saul het die manskappe gemonster wat by hom aanwesig was, omtrent seshonderd man.

1 SAMUEL 13:1-15 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Saul was ’n kort tyd koning in Israel toe het hy vir hom 3 000 manskappe uit Israel gekies en die res huis toe gestuur. 2 000 van hulle was by hom by Mikmas en in die heuwelagtige omgewing van Bet-El gestasioneer. Die ander 1 000 was saam met sy seun Jonatan in Gibea in Benjamin. Jonatan het die garnisoen Filistyne by Gibea aangeval en verslaan. Die nuus het vinnig onder die Filistyne versprei. Saul het oor die hele land op die ramshoring laat blaas om die Hebreërs vir oorlog op te roep. Almal in Israel het gehoor dat Saul die garnisoen van die Filistyne verslaan en so hulle die onguns van die Filistyne op die hals gehaal het. Daarom is almal in Israel opgeroep om hulle agter Saul te skaar en in Gilgal saam te trek. Die Filistyne het ’n groot mag bymekaargemaak: 3 000 oorlogwaens, 6 000 perderuiters en voetsoldate soveel as die sand aan die see. Hulle het by Mikmas, oos van Bet-Awen, kamp opgeslaan. Toe die Israeliete hierdie groot leër sien, het hulle paniekbevange geword en in gate, grotte, grafkelders, rotsskeure en droë putte probeer wegkruip. Sommige het deur die Jordaanrivier gegaan en na die gebied van Gad en Gilead gevlug. Intussen het Saul in Gilgal vertoef terwyl sy manskappe van vrees gebewe het. Soos afgespreek, het Saul sewe dae daar vir Samuel gewag, maar hy het nie opgedaag nie. Die manskappe het intussen begin dros. Toe beveel Saul: “Bring die brandoffer en die maaltydoffer hiernatoe!” Toe offer hy self die brandoffer. Net toe Saul daarmee klaar was, kom Samuel daar aan! Saul het hom tegemoetgegaan om hom te groet. Maar Samuel sê vir hom: “Wat het jy nou aangevang?” Saul antwoord hom: “Ek het gesien hoe my manskappe dros terwyl die Filistyne by Mikmas saamgetrek het, maar u daag nie op soos ons afgespreek het nie. Toe het ek gedink: ‘Die Filistyne gaan teen my in Gilgal optrek, en ek het nog nie die HERE om hulp gevra nie!’ Ek het toe verplig gevoel om die brandoffer self te bring, aangesien u nog nie gekom het nie.” “Dit was dwaas van jou!” sê Samuel. “Jy het nie geluister na die bevel van die HERE jou God nie. As jy geluister het, sou die HERE jou koningskap oor Israel vir altyd bevestig het. Maar nou sal jou koningskap nie voortduur nie, want die HERE het reeds ’n man na sy hart gesoek. Die HERE het hom alreeds gekies om koning oor sy volk te wees, want jy het nie die bevele van die HERE gehoorsaam nie.” Daarna het Samuel vanaf Gilgal na Gibea in Benjamin gegaan. Saul het die manskappe by hom getel, en dit was net 600!

1 SAMUEL 13:1-15 DB (Die Boodskap)

Saul was ’n jong man toe hy koning geword het, en hy was altesaam 42 jaar lank koning oor Israel. Aan die begin het Saul vir hom 3 000 van die Israeliete uitgesoek as sy soldate. Hy het 2 000 van hierdie troepe by hom in Mikmas en in die bergwêreld om Bet-El gehou, en 1 000 van hulle het hy by Jonatan in Gibea van Benjamin laat bly. Die res van die volk het hy huis toe gestuur. Jonatan het die wagte van die Filistyne in Gibea aangeval. Die Filistyne het ook gehoor dat Saul al die Hebreeuse huursoldate in die land opgeroep het. Die boodskap wat by al die Israeliete uitgekom het, was: “Saul het die wagte van die Filistyne aangeval en die Filistyne is nou baie kwaad vir die Israeliete.” Die gewone burgers is toe ook opgeroep om by Saul in Gilgal aan te sluit. Die Filistyne het hulle gereedgemaak vir oorlog teen die Israeliete. Hulle het by Mikmas, oos van Bet-Awen, saamgetrek met 30 afdelings strydwaens, ses afdelings perderuiters en soveel gewone burgers as wat daar sandkorrels op die seestrand is. Toe die gewone burgers van Israel sien dat hulle in die moeilikheid is en dat hulle in ’n hoek is, het hulle oral gaan wegkruip: in grotte, rotsskeure, klowe, gate en droë putte. Die Hebreeuse huursoldate het padgegee na die streke van Gad en Gilead oorkant die Jordaan. Saul het in Gilgal agtergebly. Die mense wat nog by hom was, was doodbang. Saul het sewe dae gewag soos Samuel met hom afgespreek het. Maar toe Samuel nie opdaag nie, het die mense van Saul af begin wegloop. Daarom het hy gesê: “Bring vir my die brandoffer en die offer vir die heilige ete.” Hy het die brandofferdier geoffer, en net toe hy dit klaar gedoen het, kom Samuel daar aan. Saul het uitgegaan om Samuel te groet. “Wat het jy gedoen?” vra Samuel. “Ek het gesien die mense begin wegloop toe u nie op die afgespreekte tyd hier is nie,” antwoord Saul, “en omdat die Filistyne by Mikmas saamgetrek is, het ek gedink: die Filistyne gaan hier in Gilgal op my toesak voordat ek die Here gevra het om my te help. Ek het my toe maar sterk gehou en die brandofferdier geoffer.” Toe sê Samuel vir Saul: “Dit was dom van jou. Jy het nie gedoen wat die Here jou God vir jou gesê het nie. Die Here was bereid om die koningskap oor Israel vir altyd vir jou familie te gee. Maar nou sal jou koningskap nie langer bestaan nie. Die Here het klaar vir Hom ’n man uitgesoek van wie Hy baie hou en Hy het hóm as leier van sy volk gekies, want jy het nie gedoen wat die Here vir jou gesê het nie.” Samuel het toe opgestaan en weggeloop. Saul het van Gilgal na Gibea in Benjamin opgegaan. Daar het hy die manskappe getel wat nog by hom was: daar was omtrent 600 van hulle oor.

1 SAMUEL 13:1-15 ABA (Bybel vir almal)

Saul was 'n jong man toe hy koning geword het en hy het twee jaar lank oor die Israeliete regeer. Hy het drie groepe manne gekies uit die Israeliete. Twee groepe was by Saul by die stad Mikmas en op die berg by Bet-El, en een groep was by Jonatan by die stad Gibea in die land Benjamin. Saul het die ander manne laat teruggaan na hulle huise. Jonatan het die Filistyne oorwin wat by die stad Geba moes wagstaan, en die ander Filistyne het gehoor wat gebeur het. Saul het toe gesê sy manne moet ramshorings blaas oral in die land en hulle moet vir die Hebreërs sê dat hulle moet luister. Al die Israeliete het gehoor dat Saul die Filistyne oorwin het wat waggestaan het. Hulle het ook gehoor dat die Filistyne nou baie kwaad is vir die Israeliete. Daarom het Saul gesê die manne moet bymekaarkom by die stad Gilgal. Die Filistyne het ook bymekaargekom om oorlog te maak teen die Israeliete. Hulle het 1 000 oorlogkarre en 6 000 manne op perde gehad en nog baie ander manne, so baie soos die sand langs die see. Hulle het gekom en hulle het hulle tente opgeslaan by die stad Mikmas naby Bet-Awen. Die Israeliete het besef dat hulle probleme het. Daarom het hulle weggekruip in grotte en tussen doringbosse en rotse, en in plekke onder die grond en in gate. Party Hebreërs het oor die Jordaan-rivier gegaan na die land Gad en die land Gilead. Saul was nog in Gilgal, en al die manne by hom was baie bang. Samuel het gesê Saul moet sewe dae vir hom wag, en Saul het dit gedoen. Maar Samuel het nie na Gilgal gekom nie. Toe Saul se manne begin wegloop, het hy gesê: “Bring vir my die brand-offer en die ete-offers.” Saul offer toe self die brand-offer. En toe hy klaar die brand-offer ge-offer het, het Samuel daar aangekom. Saul het gegaan om hom te ontmoet en te groet. Samuel het gevra: “Wat het jy gedoen?” Saul het gesê: “Jy het gesê ek moet sewe dae vir jou wag, maar jy het nie gekom nie. Ek het gesien die manne begin wegloop. Die Filistyne is bymekaar in Mikmas, en ek het gedink hulle sal hier na Gilgal kom voordat ek vir die Here 'n offer gebring het en vir Hom gevra het om te help. Ek het toe self die brand-offer ge-offer.” Samuel het vir Saul gesê: “Jy het 'n verkeerde ding gedoen, jy het nie gedoen wat jou God die Here gesê het nie. As jy gehoorsaam was, dan sou die Here jou lank laat regeer het oor die Israeliete. Maar nou sal jy nie lank koning wees nie. Die Here het vir Hom 'n man gesoek van wie Hy hou. Die Here het gesê daardie man sal koning word oor sy volk, want jy het nie gedoen wat die Here gesê het nie.” Samuel het toe opgestaan en hy het weggegaan van Gilgal. Hy het na die stad Gibea in die land Benjamin gegaan. Saul het die manne getel wat by hom was. Daar was omtrent 600 manne.

1 SAMUEL 13:1-15 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Saul was dertig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het twee jaar lank oor Israel regeer. Saul het vir hom drieduisend man uit Israel gekies. Tweeduisend was by Saul in Migmas en in die bergland by Bet-El, en eenduisend was by Jonatan in Gibea in Benjamin. Die res van die manskappe het hy weggestuur, elkeen na sy woonplek toe. Jonatan het die Filistynse wagpos wat in Gibea was, aangeval, en die Filistyne het daarvan te hore gekom. Saul het in die hele land op die •ramshoring laat blaas om te laat weet: “Die Hebreërs moet dit hoor!” In die hele Israel is die nuus versprei: “Saul het die Filistynse wagpos aangeval; maar wat erger is, Israel is veragtelik gemaak by die Filistyne.” Die manskappe is toe opgeroep na Saul in Gilgal. Die Filistyne het saamgetrek om teen Israel te veg met dertig afdelings strydwaens, ses afdelings perderuiters en manskappe so talryk soos die sand wat langs die seestrand is. Hulle het opgetrek en kamp opgeslaan in Migmas, oos van Bet-Awen. Die manne van Israel sien toe dat daar vir hulle moeilikheid wag, want die manskappe was vasgekeer. Die manskappe het toe in grotte, klipskeure, rotswande, grafte en opgaarputte gaan wegkruip. Van die Hebreërs het die Jordaan oorgesteek na die landstreke van Gad en Gilead. Saul was egter nog in Gilgal. Al die manskappe het hom bewend gevolg. Hy het sewe dae lank gewag vir die vasgestelde tyd waarvan Samuel gepraat het, maar toe Samuel nie in Gilgal opdaag nie, het die manskappe van Saul af gedros. Saul sê toe: “Bring vir my die •brandoffer en •maaltydoffers!” En hy het die brandoffer geoffer. En toe, net toe hy die brandoffer gebring het – daar kom Samuel aan! Saul het uitgegaan om hom te ontmoet en om hom te groet. Maar Samuel het gesê: “Wat het jy gedoen?” Waarop Saul toe antwoord: “Omdat ek gesien het dat die manskappe van my af gedros het, dat u self nie op die vasgestelde tyd opgedaag het nie, en dat die Filistyne by Migmas saamgetrek het, het ek gedink: Nou gaan die Filistyne na my toe aftrek in Gilgal, terwyl ek nog nie die HERE se guns gesoek het nie. Ek het toe moed bymekaargeskraap en die brandoffer geoffer.” Toe sê Samuel vir Saul: “Jy het dwaas opgetree. Jy het nie die opdrag van die HERE jou God, dit wat Hy jou beveel het, nagekom nie. Het jy dit maar gedoen! Want dan sou die HERE jou koningskap oor Israel vir altyd bevestig het. Maar nou sal jou koningskap nie standhou nie. Die HERE het vir Hom 'n man na sy hart uitgesoek, en die HERE het hom as leier volmag oor sy volk gegee, omdat jy dit wat die HERE jou beveel het, nie nagekom het nie.” Toe het Samuel opgestaan en van Gilgal af opgegaan na Gibea in Benjamin.

1 SAMUEL 13:1-15 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

Saul het een jaar regeer oor Israel. Saul het vir hom drieduisend man uit Israel gekies; waarvan twee duisend by Saul was in Migmas en op die berg Bet-el, en duisend by Jónatan in Gíbea in Benjamin; en die res van die manskappe het hy elkeen na sy tent gestuur. En Jónatan het die wagpos van die Filistyne wat in Geba was, verslaan, en die Filistyne het daarvan gehoor. En Saul het op die basuin geblaas deur die hele land en gesê: Laat die Hebreërs hoor! En die hele Israel het gehoor dat Saul 'n wagpos van die Filistyne verslaan het, en dat Israel ook 'n gruwel gehad het met die Filistyne. En die manskappe is saamgeroep agter Saul aan na Gilgal. En die Filistyne het bymekaargekom om teen Israel te veg, dertigduisend strydwaens en sesduisend ruiters en manskappe soos die sand wat aan die seestrand is in menigte; en hulle het opgetrek en laer opgeslaan in Migmas, oos van Bet-Aven. Toe die manne van Israel sien dat hulle in die nood was (want die volk was benoud), het die volk hulle verberg in grotte en in ruigtes en in rotse en op hoogtes en in kuile. En van die Hebreërs het oor die Jordaan getrek na die land Gad en Gílead. Wat Saul betref, hy was nog in Gilgal, en die hele volk het hom bewend gevolg. En hy het sewe dae gebly volgens die vasgestelde tyd wat Samuel bepaal het; maar Samuel het nie in Gilgal gekom nie; en die volk is van hom af verstrooi. Toe sê Saul: Bring vir my 'n brandoffer en dankoffers hierheen. En hy het die brandoffer gebring. En dit het gebeur dat sodra hy klaar was met die offer van die brandoffer, kyk, kom Samuel; en Saul het uitgegaan hom tegemoet om hom te groet. Toe sê Samuel: Wat het jy gedoen? Toe sê Saul: Omdat ek gesien het dat die manskappe van my af verstrooi was en dat jy nie binne die vasgestelde dae gekom het nie, en dat die Filistyne by Migmas vergader het; Daarom het ek gesê: Die Filistyne sal nou op my afkom na Gilgal, en ek het die HERE nie gesmeek nie; Toe sê Samuel vir Saul: Jy het dwaas gehandel: jy het die gebod van die HERE jou God wat Hy jou beveel het, nie gehou nie; want nou sou die HERE jou koningskap oor Israel vir ewig bevestig het. Maar nou sal jou koninkryk nie bestaan nie: die HERE het vir hom 'n man na sy hart gesoek, en die HERE het hom beveel om owerste oor sy volk te wees, omdat jy nie gehou het wat die HERE jou beveel het nie. En Samuel het opgestaan en hom van Gilgal af opgetrek na Gíbea in Benjamin. En Saul het die manskappe getel wat by hom was, omtrent seshonderd man.