1 SAMUEL 10:1-27
1 SAMUEL 10:1-27 Bybel vir almal (ABA)
Samuel neem toe 'n klein kruikie olyf-olie en hy gooi dit uit oor Saul se kop. Hy soen toe vir Saul en sê vir hom: “Die Here salf jou om koning te wees oor die volk wat aan Hom behoort. Wanneer jy vandag hier weggaan van my, dan sal jy twee mans kry by die graf van Ragel by die stad Selsag in die land Benjamin. Hulle sal vir jou sê die mense het die donkies gekry wat jy gaan soek het, en jou pa is nou nie meer bekommerd oor die donkies nie, hy is bekommerd oor julle. Jou pa vra: ‘Wat moet ek doen om my seun terug te kry?’ En wanneer jy van daar af verder gaan, dan sal jy by die stad Elon-Tabor drie mans kry wat na die tempel in Bet-El gaan. Die een man dra drie bokkies, die een dra drie brode en die een dra 'n velsak wyn. Hulle sal vra hoe dit met jou gaan en hulle sal twee brode vir jou gee, en jy sal dit neem. Daarna sal jy kom by die stad Gibea-van-God. Daar is 'n groep Filistynse soldate wat wagstaan. Wanneer jy daar by die stad kom, dan sal jy 'n groep profete kry wat van die offer-plek kom. Hulle sal musiek maak met harpe, tamboeryne, fluite en liere en hulle sal soos profete praat. Dan sal die Gees van die Here in jou kom, en jy sal ook soos 'n profeet praat, jy sal verander en jy sal soos 'n ander man word. Wanneer al die dinge gebeur het wat ek vir jou gesê het, dan moet jy doen wat jy moet doen, want jy sal weet dat die Here by jou is. Jy moet voor my na Gilgal gaan, en ek sal na jou toe kom om brand-offers en ete-offers te bring. Jy moet sewe dae lank daar vir my wag, totdat ek vir jou kom sê wat jy moet doen.” Toe Saul omdraai om weg te gaan van Samuel, het God vir Saul heeltemal verander, en hy het soos 'n ander man geword. Alles wat Samuel gesê het, het daardie dag so gebeur. Toe Saul en die slaaf by Gibea kom, het daar 'n groep profete na hom toe gekom. Die Gees van God het in hom gekom, en hy het saam met die profete gepraat. Mense wat voorheen vir Saul geken het, en wat nou gesien het hy praat saam met die profete, was verbaas en hulle het vir mekaar gesê: “Wat het gebeur met die seun van Kis? Is Saul nou ook by die profete?” Iemand wat daar was, het ook nog gevra: “Van watter familie kom die profete?” Daarom sê die mense vandag nog: “Is Saul ook by die profete?” Toe Saul klaar soos 'n profeet gepraat het, het hy na die offer-plek gegaan. Sy oom het vir hom en sy slaaf gevra: “Waar was julle?” Saul het gesê: “Ons het die donkies gaan soek, en toe ons hulle nie kry nie, het ons na Samuel toe gegaan.” Toe sê Saul se oom: “Sê asseblief vir my wat het Samuel gesê.” Saul het vir sy oom gesê: “Hy het net vir ons gesê dat die mense die donkies gekry het.” Samuel het ook nog gesê dat Saul koning sal word, maar Saul het niks daarvan gesê nie. Samuel het die volk bymekaargeroep by die tempel in Mispa. Daar het hy vir die Israeliete gesê: “Die Here, die God van Israel, sê: ‘Ek het julle uit Egipte gebring en Ek het julle gered van die Egiptenaars en van al die volke wat julle verdruk het.’ Maar julle het vandag vir julle God gesê dat julle Hom nie wil hê nie, Hy wat julle altyd red wanneer julle swaarkry en wanneer dit sleg gaan met julle. Julle het vir Hom gesê: ‘U moet 'n koning kies en U moet hom aanstel oor ons.’ Nou goed, kom staan nou voor die Here, elke stam en groep bymekaar.” Samuel het toe al die stamme van Israel laat nader kom, en die Here het die Benjamin-stam gekies. Toe het hy die families van die Benjamin-stam laat nader kom, en die Here het die Matri-familie gekies. Daarna het die Here vir Saul seun van Kis gekies. Maar toe hulle vir Saul soek, kon hulle hom nie kry nie. Hulle het toe vir die Here gevra: “Is die man hier?” En die Here het gesê: “Ja, kyk, hy kruip weg tussen die sakke.” Hulle het toe gehardloop en vir Saul uitgebring. Toe hy tussen die mense staan, was hy 'n kop langer as al die ander mense. Samuel het vir al die mense gesê: “Julle sien die Here het hierdie man gekies. Nie een van die ander mense is soos hy nie.” Toe skree al die mense: “Ons bid dat die koning lank moet lewe!” Samuel het toe vir die mense gesê wat die koning alles mag doen, en Samuel het dit in 'n boek geskryf. Hy het die boek in die tempel neergesit. Daarna het hy die mense laat gaan, elkeen na sy huis. Saul het ook na sy huis in Gibea gegaan. Die Here het 'n paar manne laat besluit om saam met Saul te gaan. Party slegte mense het gesê: “Hierdie man kan niks doen vir ons nie.” Hulle het hom nie gerespekteer nie en hulle het nie presente vir hom gebring nie. Maar Saul het gemaak of hy nie hoor wat hulle sê nie.
1 SAMUEL 10:1-27 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN Samuel het die kruik met olie geneem en dit op sy hoof uitgegiet en hom gesoen en gesê: Het die HERE jou nie gesalf as vors oor sy erfdeel nie? As jy vandag van my af weggaan, sal jy by die graf van Ragel, op die grens van Benjamin in Selsag, twee manne aantref wat vir jou sal sê: Die esels wat jy gaan soek het, is gevind. En kyk, jou vader het die saak van die esels laat vaar en is besorg oor julle en vra: Wat kan ek vir my seun doen? Gaan jy dan vandaar verder en kom by die terpentynboom van Tabor, dan sal drie manne jou daar kry wat na God, na Bet-el opgaan: een dra drie bokkies, en een dra drie broodjies, en een dra 'n sak wyn. En hulle sal jou na die welstand vra en sal jou twee brode gee; dit moet jy dan uit hulle hand aanneem. Daarna sal jy kom by Gíbea van God waar die wagposte van die Filistyne is; en net soos jy daar die stad inkom, sal jy 'n groep profete ontmoet wat van die hoogte afkom, en voor hulle uit harpe en tamboeryne en fluite en siters, terwyl hulle self profeteer. En die Gees van die HERE sal oor jou vaardig word, sodat jy saam met hulle sal profeteer en in 'n ander mens verander word. En as hierdie tekens vir jou uitkom, doen dan wat jou hand vind om te doen, want God is met jou. En jy moet voor my uit na Gilgal afgaan, en kyk, ek sal na jou afkom om brandoffers te offer, om dankoffers te slag; sewe dae lank moet jy wag, totdat ek by jou kom en jou bekend maak wat jy moet doen. En net toe hy sy skouer draai om van Samuel af weg te gaan, het God sy hart verander, en al hierdie tekens het op dié dag uitgekom. Nadat hulle daar by Gíbea gekom het, ontmoet hom meteens 'n groep profete, en die Gees van God het oor hom vaardig geword, sodat hy onder hulle geprofeteer het. En toe elkeen wat hom van gister en eergister af geken het, sien dat hy saam met die profete profeteer, het die mense die een aan die ander gesê: Wat het tog gebeur met die seun van Kis? Is Saul ook onder die profete? En 'n man daarvandaan het geantwoord en gesê: Wie is tog hulle vader? Daarom het dit 'n spreekwoord geword: Is Saul ook onder die profete? Toe hy klaar was met profeteer, het hy op die hoogte aangekom. En die oom van Saul het vir hom en sy dienaar gevra: Waar het julle heen gegaan? Daarop sê hy: Om die esels te soek; en toe ons sien dat hulle daar nie was nie, het ons na Samuel gegaan. En die oom van Saul sê: Vertel my tog wat Samuel julle meegedeel het. Toe sê Saul vir sy oom: Hy het ons verseker meegedeel dat die esels gevind is. Maar die saak van die koningskap, waar Samuel van gespreek het, het hy hom nie vertel nie. En Samuel het die volk na die HERE in Mispa byeengeroep en aan die kinders van Israel gesê: So spreek die HERE, die God van Israel: Ek het Israel uit Egipte laat optrek en julle gered uit die hand van die Egiptenaars en uit die hand van al die koninkryke wat julle verdruk het. Maar julle verwerp vandag julle God wat julle uit al jul onheile en node verlos het, en sê: Nee, maar jy moet 'n koning oor ons aanstel. Stel julle dan nou op voor die aangesig van die HERE volgens julle stamme en volgens julle geslagte. Toe Samuel dan al die stamme van Israel laat nader kom het, is die stam van Benjamin aangewys; en toe hy die stam van Benjamin volgens sy geslagte laat nader kom het, is die geslag van Matri aangewys; verder is Saul, die seun van Kis, aangewys. En hulle het hom gesoek, maar hy was nie te vinde nie. En hulle het die HERE verder geraadpleeg: Het nog iemand hierheen gekom? En die HERE sê: Kyk, hy het tussen die pakgoed weggekruip. Daarop het hulle geloop en hom daarvandaan gebring; en toe hy tussen die mense gaan staan, was hy van sy skouers af boontoe hoër as die hele volk. En Samuel sê aan die hele volk: Sien julle hom wat die HERE uitgekies het? Want daar is nie een onder die hele volk soos hy nie. Toe juig die hele volk en sê: Mag die koning lewe! Daarna het Samuel die reg van die koningskap voor die volk afgekondig en dit in 'n boek geskrywe en voor die aangesig van die HERE neergelê. En Samuel het die hele volk elkeen na sy huis laat gaan. En Saul het ook na sy huis gegaan in Gíbea; en die helde wie se hart God geroer het, het met hom saamgegaan. Maar die deugniete het gesê: Hoe kan hierdie man ons verlos? En hulle het hom verag en hom geen geskenk gebring nie; maar hy het hom doof gehou.
1 SAMUEL 10:1-27 Afrikaans 1983 (AFR83)
Nadat die slaaf vooruitgeloop het, het Samuel 'n kruik olie gevat en dit oor Saul se kop uitgegiet, hom gesoen en gesê: “Die Here het jou tot regeerder oor sy besitting gesalf. Wanneer jy vandag van my af weggaan, sal jy by Selsag, by die graf van Ragel op die grens van Benjamin, twee mans teëkom en hulle sal vir jou sê: ‘Die donkies wat jy gaan soek het, is gekry. Maar kyk, jou pa het die saak van die donkies al laat vaar. Hy is bekommerd oor julle en vra: Wat kan ek omtrent my seun doen?’ “En wanneer jy daarvandaan verder gaan, sal jy by Elon-Tabor kom. Daar sal jy drie mans teëkom wat na God in Bet-El opgaan. Die een sal drie bokkies dra, die ander een drie ringbrode en die derde 'n kruik wyn. Hulle sal vra hoe dit met jou gaan. Dan sal hulle jou twee brode gee, en jy moet dit van hulle aanneem. Daarna sal jy uitkom by Gibea-van-God waar wagposte van die Filistyne is. Wanneer jy die stad binnekom, sal jy op 'n groep profete afkom. Hulle sal van die hoogte af gaan onder begeleiding van harpe, tamboeryne, fluite en liere, en hulle sal as profete optree. “Dan sal die Gees van die Here kragtig in jou werk. Jy sal saam met hulle as profeet optree en 'n ander mens word. Wanneer hierdie tekens oor jou kom, moet jy doen wat jou hand vind om te doen, want God is by jou. Daarna moet jy voor my na Gilgal toe gaan en ek sal later kom om brandoffers te offer en maaltydoffers te bring. Jy moet sewe dae wag tot ek by jou kom. Dan sal ek jou sê wat jy moet doen.” Net toe hy omdraai om van Samuel af weg te gaan, het God Saul se gesindheid verander. Al hierdie tekens het op dié dag uitgekom. Hulle het daar in Gibea gekom, en toe hy weer sien, kom 'n groep profete hom tegemoet. Die Gees van God het kragtig in hom gewerk, en hy het saam met hulle as profeet opgetree. Almal wat hom voorheen geken het en nou gesien het hoe hy saam met die profete as profeet optree, het vir mekaar gevra: “Wat het met Kis se seun gebeur? Is Saul ook onder die profete?” En iemand uit die omgewing het bygevoeg: “En waarvandaan kom hulle nogal?” Daarom het dit 'n spreekwoord geword: Is Saul ook onder die profete? Toe hy klaar as profeet opgetree het, het hy na die hoogte toe gegaan. Saul se oom het vir hom en sy slaaf gevra: “Waarheen was julle?” Saul het geantwoord: “Ons het die donkies gaan soek, maar ons het niks gesien nie en het toe na Samuel toe gegaan.” Saul se oom sê toe: “Vertel my tog wat Samuel vir julle gesê het.” “Hy het ons verseker dat die donkies gekry is,” het Saul vir sy oom gesê. Maar oor die saak van die koningskap wat Samuel genoem het, het Saul niks gesê nie. Daarna het Samuel die volk by Mispa na die Here toe geroep. Hy het vir die Israeliete gesê: “So het die Here die God van Israel gesê: Ek het Israel uit Egipte laat optrek en julle gered uit die mag van Egipte en al die koninkryke wat vir julle verdruk het. Maar deurdat julle sê: ‘Nee, U móét 'n koning oor ons aanstel,’ verwerp julle vandag julle God wat vir julle uit alle gevare en verdrukking verlos het. Kom staan dan nou voor die Here volgens julle stamme en julle onderafdelings.” Samuel het al die stamme van Israel laat nader kom, en die stam Benjamin is aangewys. Samuel het die stam Benjamin volgens sy families laat nader kom, en die familie van Matar is aangewys. Vervolgens is Saul seun van Kis aangewys, maar toe hulle hom soek, was hy weg. Hulle het die Here gevra: “Moet hy nog kom?” Die Here het geantwoord: “Nee, hy is al hier. Hy kruip weg tussen die bondels goed.” Hulle het gehardloop en hom daarvandaan gebring en hom tussen die volk laat staan. Hy was 'n kop langer as enige van sy volksgenote. Samuel sê toe vir die hele volk: “Sien julle die een vir wie die Here uitgekies het? Daar is niemand soos hy onder die hele volk nie!” Toe juig almal en sê: “Lank lewe die koning!” Samuel het hierna die reg van die koning aan die volk bekend gemaak, dit in 'n boek opgeteken en voor die Here neergesit. Daarna het Samuel die hele volk weggestuur, elkeen na sy woonplek toe. Ook Saul het na sy huis toe gegaan in Gibea. Die dapperes wie se hart deur God geroer is, het saam met hom gegaan. Maar die kwaadwilliges het gevra: “Hoe sal hý ons red?” Hulle het hom met minagting behandel en geen geskenk vir hom gebring nie, maar daaraan het Saul hom nie gesteur nie.
1 SAMUEL 10:1-27 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Samuel het die fles met olie geneem en dit op Saul se kop uitgegiet. Hy het hom gesoen en vir hom gesê: “Is dit nie so dat die HERE jou as leier oor sy erfdeel gesalf het nie? Wanneer jy vandag van my af weggaan, sal jy twee mans teëkom by die graf van Ragel, by Selsag, in die gebied van Benjamin. Hulle sal vir jou sê, ‘Die donkiemerries wat jy gaan soek het, is gevind. Kyk, jou pa het die saak van die donkiemerries al laat vaar. Hy is besorg oor julle en vra: “Wat moet ek doen oor my seun?” ’ “As jy daarvandaan verder gaan, sal jy by die akkerboom van Tabor kom. Daar sal drie mans wat opgaan na God in Bet-El, jou teëkom. Een dra drie bokkies, een dra drie rondebrode en een dra 'n kruik wyn. Hulle sal vra hoe dit met jou gaan en vir jou twee brode gee. Jy moet dit uit hulle hand aanvaar. “Daarna sal jy by Gibea van God uitkom, waar wagposte van die Filistyne is. Sodra jy daar die stad binnegaan, sal jy 'n groep profete raakloop wat afkom van die •offerhoogte af. Voor hulle word daar op harpe, tamboeryne, fluite en liere gespeel, terwyl hulle in geestesvervoering is. Die Gees van die HERE sal jou oorweldig, en jy sal saam met hulle in geestesvervoering wees. Jy sal in 'n ander mens verander word. “Wanneer hierdie tekens vir jou vervul word, doen dan wat jou hand vind om te doen, want God is met jou. Jy moet voor my uit na Gilgal toe afgaan. Kyk, ek sal na jou toe afkom om •brandoffers te offer en •maaltydoffers te slag. Sewe dae lank moet jy wag, totdat ek by jou aankom en jou te kenne gee wat jy moet doen. ” Net toe Saul omdraai om van Samuel af weg te gaan, het God sy hart verander. Al hierdie tekens is dieselfde dag nog vervul. Toe hulle daar in Gibea aankom – kyk, daar kom die groep profete hom tegemoet! Die Gees van God het hom oorweldig, en hy was tussen hulle in geestesvervoering. Toe almal wat hom voorheen geken het, sien dat hy sowaar saam met profete profeteer, het hulle vir mekaar gevra: “Wat is dit wat met die seun van Kis gebeur het? Is Saul ook onder die profete?” Iemand wat daar was, het gevra: “En wie is hulle vader? ” Daarom het dit 'n spreekwoord geword: “Is Saul ook onder die profete?” Toe Saul uit sy geestesvervoering kom, het hy na die offerhoogte gegaan. Saul se oom het vir hom en sy handlanger gevra: “Waarheen het julle gegaan?” “Om die donkies te gaan soek,” het hy geantwoord, “en toe ons sien dat hulle nie daar is nie, het ons na Samuel gegaan.” Saul se oom sê toe: “Vertel my tog wat het Samuel vir julle gesê.” Saul het sy oom geantwoord: “Hy het ons maar net verseker dat die donkiemerries gevind is. ” Oor die saak van die koningskap waaroor Samuel gepraat het, het Saul egter niks vir hom gesê nie. Samuel het die volk opgeroep na die HERE in Mispa. Hy het vir die Israeliete gesê: “So sê die HERE, die God van Israel, ‘Ek is die Een wat Israel uit Egipte laat optrek het. Ek het julle gered uit die hand van die Egiptenare en uit die hand van al die koninkryke wat julle onderdruk het.’ “Julle, egter, het vandag julle God verwerp wat julle uit alle gevare en benoudhede verlos. Julle het gesê, ‘Nee, maar 'n koning moet jy oor ons aanstel. ’ Neem dan nou plek in voor die HERE volgens julle stamme en volgens julle afdelings.” Samuel het toe al die stamme van Israel laat nader kom, en die stam van Benjamin is aangewys. Hy het die stam van Benjamin volgens familiegroepe laat nader kom, en die familiegroep van Matri is aangewys. Toe is Saul, seun van Kis, aangewys. Hulle het hom gesoek, maar hy kon nie gevind word nie. Hulle het die HERE weer geraadpleeg: “Het nog iemand hierheen gekom?” Die HERE het gesê: “Kyk, hy kruip weg by die pakgoed.” Hulle het gehardloop en hom van daar af gebring. Hy het kop en skouers uitgestaan bo die hele volk. Samuel sê toe vir die hele volk: “Sien julle die een vir wie die HERE gekies het? Ja, daar is niemand soos hy onder die hele volk nie.” Die hele volk het hom toegejuig met die woorde: “Lank lewe die koning!” Samuel het toe met die volk gepraat oor die regte verbonde aan die koningskap, en dit in 'n •boekrol geskryf. Hy het dit voor die HERE neergelê. Daarna het Samuel die hele volk laat gaan, elkeen na sy huis. Ook Saul het na sy huis in Gibea gegaan. Bekwame manne wie se harte deur God aangeraak is, het saam met hom gegaan. Maar booswigte het gesê: “Hoe kan hierdie man ons verlos?” En hulle het hom geminag en geen geskenk vir hom geneem nie, maar hy het hom doof gehou.
1 SAMUEL 10:1-27 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe neem Samuel 'n skaal olie en gooi dit op sy hoof uit en soen hom en sê: Is dit nie omdat die HERE jou gesalf het as owerste oor sy erfdeel nie? Wanneer jy vandag van my af weggaan, dan sal jy twee manne vind by die graf van Ragel, in die grens van Benjamin by Selsa; en hulle sal vir jou sê: Die esels wat jy gegaan het om te soek, is gevind; en kyk, jou vader het die sorg van die esels verlaat en bedroef oor jou en gesê: Wat moet ek met my seun doen? Dan moet jy daarvandaan verder gaan, en jy sal by die Taborvlakte kom, en drie manne sal jou ontmoet wat opgaan na God na Bet-el, een wat drie bokkies dra, en een wat drie brode dra, en een wat 'n bottel wyn: En hulle sal jou groet en jou twee brode gee; wat jy uit hulle hande sal ontvang. Daarna sal jy by die heuwel van God kom, waar is die wagpos van die Filistyne; en as jy daar in die stad kom, sal jy 'n menigte profete teëkom wat van die hoogte afkom met 'n harp en 'n tameletjie en 'n pyp en 'n siter voor hulle uit; en hulle sal profeteer: En die Gees van die HERE sal oor jou kom, en jy sal saam met hulle profeteer en in 'n ander mens verander word. En laat dit wees, wanneer hierdie tekens vir jou kom, dat jy jou dien as geleentheid; want God is met jou. En jy moet voor my uit aftrek na Gilgal; en kyk, Ek kom na jou toe om brandoffers te bring en dankoffers te slag; sewe dae lank moet jy uitbly totdat Ek na jou kom en jou te kenne gee wat jy moet doen. En toe hy sy rug gedraai het om van Samuel af weg te gaan, het God hom 'n ander hart gegee, en al daardie tekens het daardie dag gebeur. En toe hulle daar by die heuwel kom, kom daar 'n menigte profete hom tegemoet; en die Gees van God het oor hom gekom, en hy het onder hulle geprofeteer. En toe almal wat hom vantevore geken het, sien dat hy onder die profete geprofeteer het, het die volk vir mekaar gesê: Wat is dit wat met die seun van Kis oorgekom het? Is Saul ook onder die profete? En een van dieselfde plek antwoord en sê: Maar wie is hulle vader? Daarom het dit 'n spreekwoord geword: Is Saul ook onder die profete? En toe hy klaar geprofeteer het, het hy by die hoogte gekom. En Saul se oom sê vir hom en sy dienaar: Waarheen het julle gegaan? Toe sê hy: Om die esels te soek; en toe ons sien dat hulle nêrens was nie, het ons by Samuel gekom. Toe sê Saul se oom: Vertel my tog wat Samuel vir jou gesê het. En Saul sê vir sy oom: Hy het ons duidelik vertel dat die esels gevind is. Maar van die saak van die koninkryk waarvan Samuel gespreek het, het hy hom nie vertel nie. En Samuel het die volk tot die HERE byeengeroep in Mispa; en aan die kinders van Israel gesê: So sê die HERE, die God van Israel: Ek het Israel uit Egipte laat optrek en julle gered uit die hand van die Egiptenaars en uit die hand van al die koninkryke en van die wat julle verdruk het. En julle het vandag julle God verwerp, wat julle uit al julle benoudhede en julle verdrukkinge gered het; en julle het vir hom gesê: Nee, maar stel 'n koning oor ons aan. Stel julle dan nou voor die aangesig van die HERE volgens julle stamme en volgens julle duisende. En toe Samuel al die stamme van Israel laat nader kom, is die stam van Benjamin geneem. Toe hy die stam van Benjamin volgens hulle families laat nader kom het, is die geslag van Matri geneem, en Saul, die seun van Kis, is gevange geneem; en toe hulle hom soek, kon hy nie gevind word nie. Daarom het hulle die HERE verder geraadpleeg of die man nog daarheen sou kom. En die HERE antwoord: Kyk, hy het hom tussen die goed verberg. En hulle het gehardloop en hom daarvandaan gaan haal; en toe hy tussen die volk staan, was hy hoër as al die mense van sy skouers af en boontoe. Toe sê Samuel aan die hele volk: Sien julle hom wat die HERE uitverkies het, dat daar onder die hele volk niemand soos hy is nie? En die hele volk het uitgeroep en gesê: Mag die koning die koning red! Toe het Samuel aan die volk die wyse van die koninkryk vertel en dit in 'n boek geskryf en dit voor die aangesig van die HERE neergelê. En Samuel het die hele volk weggestuur, elkeen na sy huis. En Saul het ook huis toe gegaan in Gíbea; en daar het saam met hom 'n bende manne gegaan wie se harte God aangeraak het. Maar die kinders van Belial het gesê: Hoe sal hierdie man ons red? En hulle het hom verag en vir hom geen geskenke gebring nie. Maar hy het stilgebly.
1 SAMUEL 10:1-27 Die Boodskap (DB)
Toe vat Samuel ’n kruik met olyfolie en gooi dit op Saul se kop uit. Hy omhels hom en sê: “Die Here salf jou as die leier van sy eie volk.” Verder sê hy: “Wanneer jy nou van my af weggaan, sal jy twee mans teëkom by Selsag, naby die graf van Ragel in die Benjaminstreek. Hulle sal vir jou sê: ‘Die donkies waarna jy soek, is gekry. Jou pa dink nie meer oor hulle nie; hy is bekommerd oor julle twee en wonder wat hy moet doen om sy seun terug te kry.’ “As jy van daar af verder gaan en jy kom by die eikeboom van Tabor, sal jy drie mans teëkom. Hulle is op pad na die plek van God by Bet-El. Een dra drie boklammers, die ander een drie ringbrode en die laaste een ’n kruik wyn. Hulle sal jou groet en vir jou twee brode gee wat jy by hulle sal vat. “Daarna sal jy by Gibea-Elohim kom, waar die Filistyne se wagte is. As jy naby die dorp kom, sal jy ’n groep profete kry wat bo van die offerplek af kom met harpe, tamboeryne, fluite en liere. Hulle sal in profetiese ekstase wees. Die Gees van die Here sal in jou werk sodat jy ’n ander mens sal word en saam met hulle in profetiese ekstase sal wees. “Wanneer hierdie tekens gebeur wat ek vir jou gee, doen wat jy moet doen, want God help jou. Gaan dan af Gilgal toe. Ek sal later by jou aansluit om brandoffers en offers vir die gesamentlike ete te bring. Jy moet sewe dae wag totdat ek daar aankom en vir jou sê wat jy verder moet doen.” Die oomblik toe Saul omdraai om van Samuel af weg te gaan, het God klaar sy hart verander. Al die dinge wat Samuel gesê het sal gebeur, het werklik nog dieselfde dag gebeur. Hy kom by Gibea aan, en jou waarlik, daar is die groep profete! Die Gees van God werk toe só in hom dat hy saam met hulle gaan en net soos hulle in profetiese ekstase raak. Almal wat hom jare al geken het, kon hulle oë skaars glo toe hy so saam met die profete is en net soos hulle maak. “Wat het met Kis se seun gebeur?” vra hulle vir mekaar. “Hoort Saul dan by die profete?” Iemand daar naby merk toe op: “En wie is nogal hulle leier?” Dit is waar die spreekwoord vandaan kom wat sê: “Hoort Saul dan by die profete?” Toe die profetiese ekstase verby was, het Saul na die offerplek toe gegaan. Saul se oom het vir hom en die werker gevra: “Waar was julle al die tyd?” “Die donkies gesoek,” antwoord hy, “en toe ons sien ons kry hulle nie, het ons na Samuel toe gegaan.” “Sê vir my, wat sê Samuel toe vir julle?” vra sy oom. “Hy het ons verseker dat die donkies gekry is,” antwoord Saul. Maar oor die koningskap waarvan Samuel gepraat het, het Saul nie ’n woord gesê nie. Samuel het die volk bymekaargeroep by die Here se altaar in Mispa. Hy het vir die Israeliete gesê: “Die Here, die God van Israel, sê: ‘Ek self het julle, die Israeliete, laat wegtrek uit Egipte en Ek het julle vrygemaak van die mag van die Egiptenaars en van al die ander regerings wat julle onderdruk het.’” Verder sê Samuel: “Maar julle, Israeliete, het nou die rug vir God gedraai, dié God wat julle altyd uithelp wanneer daar rampe is en julle moeilikheid het. Julle het mos gesê: ‘Nee, stel ’n koning oor ons aan!’ Kom staan dan nou hier voor die Here volgens julle stamme en families.” Toe Samuel al die stamhoofde van Israel by die altaar laat staan, is die stam van Benjamin geloot. Toe die familiehoofde van die stam van Benjamin na die altaar kom, is die familie van Matri geloot. Uiteindelik is Saul, Kis se seun, geloot. Maar toe hulle hom soek, is hy nie daar nie! Daarop vra hulle vir die Here: “Is die man wat geloot is hier?” Die Here se antwoord was: “Ja, hy kruip tussen die bagasie weg.” Hulle het hom gou daar gaan haal, en toe hy tussen die ander mense staan, was hy ’n kop langer as hulle. Samuel sê toe vir die volk: “Sien julle wie het die Here gekies? Daar is nie nog een soos hy nie.” Daarop skree die volk: “Lank lewe die koning!” Samuel het vir die volk die reëls van die koningskap verduidelik en dit op ’n rol geskryf wat hy in die tempel neergesit het. Daarna het hy almal huis toe gestuur. Saul is ook na sy huis in Gibea toe. ’n Klompie dapper mans is saam met hom, want die Here het hulle elkeen se hart geroer. Maar ’n klomp niksnutte het gesê: “Moet dié vent ons uit die moeilikheid kry?” Hulle het nie respek vir hom gehad nie en het nie eers ’n geskenk vir hom gevat nie. Saul het hom maar doof gehou.
1 SAMUEL 10:1-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Samuel neem toe ’n kruik met olie, gooi dit op Saul se kop uit, soen hom en sê: “Die HERE het jou gesalf as leier oor sy besitting. Wanneer jy vandag van my af weggaan, sal jy twee persone by Ragel se graf naby Selsag op die grens van Benjamin teëkom. Hulle sal vir jou vertel: ‘Die donkies wat jy gesoek het, is gekry. Nou is jou pa oor jou bekommerd en vra: Ek wonder waar is my seun!’ “Wanneer jy by die groot boom by Tabor kom, sal jy drie persone sien wat opgaan om God by Bet-El te dien. Een sal drie jong bokkies dra, die tweede drie brode en die derde ’n sak wyn. Hulle sal jou groet en twee brode aanbied. Jy moet dit aanvaar. “Daarna sal jy aankom by Gibea-van-God waar die garnisoen van die Filistyne is. Naby die dorp sal jy ’n klompie profete teëkom op pad vanaf die altaar op die hoogte. Hulle sal met begeleiding van ’n harp, ’n tamboeryn, ’n fluit en ’n lier profeteer. Dan sal die Gees van die HERE met krag op jou kom en jy sal soos hulle profeteer en ’n ander mens word. Ná hierdie tekens moet jy doen wat nodig is, want God is met jou. Gaan dan vooruit na Gilgal toe en wag daar vir my. Ná sewe dae sal ek kom om brandoffers en maaltydoffers te bring en verdere opdragte aan jou te gee.” Toe Saul omdraai om te gaan, het God sy hart verander. Al die tekens waarvan Samuel gepraat het, het daardie dag gebeur. Toe Saul en die jong man by Gibea aankom, sien hulle die profete hulle tegemoetkom. Die Gees van God het toe met krag in Saul begin werk sodat hy ook soos ’n profeet opgetree het. Almal wat hom voorheen geken het en gesien het hoe hy soos ’n profeet optree, het vir mekaar gesê: “Wat het dan met die seun van Kis gebeur? Hoe is dit dat Saul ook tussen die profete is?” Iemand uit die omgewing het gevra: “Waarvandaan kom hulle nou eintlik?” Daarom het dit ’n spreekwoord geword: “Is Saul ook onder die profete?” Toe Saul klaar soos ’n profeet opgetree het, het hy na die altaar toe opgegaan. “Waar was jy die hele tyd?” vra sy oom vir hom en die jong man by hom. “Ons het die donkies gaan soek. Toe ons hulle nie kry nie, het ons na Samuel toe gegaan,” antwoord hy. “Is dit so,” sê sy oom. “Vertel my tog asseblief wat Samuel vir julle gesê het.” “Hy het gesê dat die donkies alreeds gekry is,” antwoord Saul. Saul het egter stilgebly oor wat Samuel van die koningskap gesê het. Samuel het die hele volk voor die HERE by Mispa bymekaargeroep en die volgende boodskap van die HERE God aan die Israeliete oorgedra: “Ek het Israel uit Egipte gelei en julle gered uit die mag van Egipte en al die koninkryke wat julle verdruk het. Hoewel Ek julle van al die onheil en ellende verlos het, het julle My verwerp en gesê: ‘Nee, ons wil liewer ’n koning hê!’ Kom stel julle nou op voor die HERE volgens julle stamme en familiegroepe.” Samuel het toe die stamleiers nadergeroep voor die HERE en die stam van Benjamin is aangewys. Toe het Samuel al die families in die stam van Benjamin nadergeroep voor die HERE, en die familie van Matar is aangewys. Daarna is Saul, die seun van Kis aangewys. Maar toe hulle hom soek, kon hulle hom nie kry nie. Hulle vra toe vir die HERE: “Maar is die man al hier?” Toe antwoord die HERE: “Hy kruip weg agter die mense se reisgoed.” Hulle het hom daar gekry en vorentoe laat kom. Hy was van sy skouers af ’n kop langer as enigiemand anders. Samuel sê toe vir die volk: “Dit is die man wat die HERE gekies het om julle koning te wees. Daar is niemand in Israel wat sy gelyke is nie!” Toe roep al die mense: “Mag die koning lank lewe!” Daarna het Samuel die mense ingelig oor die regte en verpligtings van ’n koning. Hy het dit op ’n rol neergeskryf en dit voor die HERE neergesit. Toe het Samuel die mense huis toe gestuur. Saul het teruggegaan na sy huis in Gibea. Hy was vergesel van ’n groep dapper manne wie se harte deur God aangeraak is. Maar daar was ook sommige kwaadwillige manne wat ontevrede was en gesê het: “Hoe kan hierdie man ons red?” Hulle het hom verag en het geen geskenke vir hom gebring nie. Saul het hom egter nie aan hulle gesteur nie.