1 KONINGS 8:56-61 - Compare All Versions

1 KONINGS 8:56-61 AFR83 (Afrikaans 1983)

“Geloof sy die Here wat aan sy volk Israel 'n vaste woonplek gegee het soos Hy beloof het. Nie een van die goeie beloftes wat Hy deur sy dienaar Moses gemaak het, het onvervul gebly nie. Mag die Here ons God by ons wees soos Hy by ons voorvaders was. Mag Hy ons nooit verlaat of laat vaar nie. Mag Hy ons gewillig maak om altyd volgens sy wil te leef en ons te hou aan sy gebooie, sy voorskrifte en sy bepalings wat Hy ons voorvaders opgelê het. Mag hierdie woorde van my wat ek in my smeking voor die Here uitgespreek het, dag en nag by Hom, die Here ons God, wees, sodat Hy die reg van sy dienaar en van sy volk Israel sal handhaaf soos dit van dag tot dag nodig mag wees. Dan sal al die volke van die wêreld besef die Here is God; daar is nie 'n ander nie. Mag julle met volle oorgawe voor die Here ons God leef volgens sy voorskrifte en julle hou aan sy gebooie, so soos dit vandag is.”

1 KONINGS 8:56-61 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

Geloofd sy die HERE wat aan sy volk Israel rus gegee het net soos Hy gespreek het: geen enkele woord het onvervuld gebly van al die goeie woorde wat Hy deur die diens van sy kneg Moses gespreek het nie. Mag die HERE onse God met ons wees soos Hy met ons vaders gewees het; mag Hy ons nie verlaat en ons nie verwerp nie — deur ons hart tot Hom te neig om in al sy weë te wandel en om sy gebooie en sy insettinge en sy verordeninge wat Hy ons vaders beveel het, te onderhou. En mag hierdie woorde van my, waarmee ek voor die aangesig van die HERE gesmeek het, dag en nag naby die HERE onse God wees, sodat Hy reg kan verskaf aan sy kneg en aan sy volk Israel na die eis van elke dag; sodat al die volke van die aarde kan weet dat die HERE God is, niemand meer nie. Laat julle hart dan volkome met die HERE onse God wees om te wandel in sy insettinge en sy gebooie te onderhou, soos vandag.

1 KONINGS 8:56-61 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

“Loof die HERE wat vir sy volk Israel rus gegee het soos Hy beloof het. Nie een woord van al die goeie beloftes wat Hy vir Moses gegee het, het onvervuld gebly nie. Mag die HERE ons God met ons wees soos Hy met ons voorouers was. Mag Hy ons nooit verlaat of ons laat vaar nie. Mag Hy ons die gewilligheid gee om in alles sy wil te doen en om al sy gebooie, bevele en bepalings wat Hy vir ons voorouers gegee het, te gehoorsaam. En mag hierdie woorde wat ek voor die HERE gebid het voortdurend, dag en nag, by Hom wees sodat die HERE ons God my saak en die saak van sy volk Israel volgens ons daaglikse behoeftes in stand sal hou. Dan sal mense oor die hele wêreld weet dat die HERE God is en dat daar geen ander god is nie. En mag julle ten volle toegewy wees aan die HERE ons God sodat julle altyd sy bevele en gebooie gehoorsaam soos wat julle dit vandag doen.”

1 KONINGS 8:56-61 DB (Die Boodskap)

Hy het ook gesê: “Loof die Here wat ons ’n land en vrede gegee het. Hy het sy beloftes gehou wat Hy lank reeds gemaak het. Mag die Here so naby aan ons wees soos Hy destyds aan ons voorvaders was. Mag Hy ons nooit sommer los of verlaat nie. Mag Hy ons gehoorsaam maak sodat ons sal doen wat Hy vra, sodat ons uit liefde vir Hom sy gebooie en sy wette sal uitleef. Mag die Here tog altyd hierdie gebed onthou en alles wat ek gevra het, waar maak. Mag Hy sy volk Israel en die koning altyd liefhê en mag Hy elke dag vir hulle sorg. As dit gebeur, sal al die volke van die wêreld begin besef dat die Here God is en dat daar niemand anders soos Hy is nie. Mag julle, die volk van die Here, altyd aan Hom getrou wees. Mag julle, soos vandag, ook môre en oormôre na die Here se wil in sy gebooie en al sy wette luister.”

1 KONINGS 8:56-61 ABA (Bybel vir almal)

“Ek prys die Here. Hy het belowe om vir sy volk Israel 'n woonplek te gee, en Hy het dit gedoen. Hy het goeie dinge gesê toe Hy sy dienaar Moses gestuur het, en dit het gebeur. Ek bid dat ons God die Here by ons sal wees soos Hy by ons voorvaders was. Ek bid dat Hy nie sal weggaan van ons nie en dat Hy ons nie sal los nie. Ek bid dat Hy in ons harte sal werk sodat ons Hom graag sal wil dien en sodat ons sal lewe soos Hy wil hê en gehoorsaam sal wees aan al die wette wat Hy vir ons voorvaders gegee het. Ek bid dat ons God die Here elke dag en nag sal dink aan wat ek gesê het toe ek gesoebat het en tot Hom gebid het. Ek bid ook dat Hy sal help sodat mense elke dag reg sal doen aan my en aan sy volk Israel. Dan sal al die volke van die aarde weet die Here is God en daar is nie nog 'n ander God nie. Julle moet lewe soos ons God die Here vir julle in sy wette sê, julle moet Hom dien met julle hele hart, soos julle vandag doen.”

1 KONINGS 8:56-61 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

“Die HERE moet geprys word, Hy wat aan sy volk Israel 'n rusplek gegee het, net soos Hy beloof het. Nie een van al sy goeie beloftes wat Hy by monde van sy dienskneg Moses gemaak het, het onvervuld gebly nie. Mag die HERE ons God met ons wees, soos Hy met ons voorouers was. Mag Hy ons nie verlaat nie, ons nie in die steek laat nie, sodat Hy ons harte na Hom sal wend om al sy paaie te volg en sy gebooie, vaste voorskrifte en bepalings na te kom wat Hy ons voorouers beveel het. Mag hierdie woorde van my waarmee ek voor die HERE smeek, dag en nag by die HERE ons God wees, sodat Hy die reg van sy dienskneg en van sy volk Israel sal handhaaf, volgens die eis van elke dag, sodat al die volke van die aarde mag besef dat die HERE, dat Hy, God is, niemand anders nie. En mag julle harte volkome by die HERE ons God wees, deur sy vaste voorskrifte te volg en sy gebooie na te kom soos dit vandag is.”

1 KONINGS 8:56-61 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

Geloofd sy die HERE wat aan sy volk Israel rus gegee het volgens alles wat Hy beloof het; daar het nie een woord gemis van al sy goeie belofte wat Hy deur die hand van Moses, sy kneg, beloof het nie. Die HERE onse God wees met ons soos Hy met ons vaders was; laat Hy ons nie verlaat en ons nie verlaat nie sodat Hy ons harte tot Hom kan neig, om in al sy weë te wandel en sy gebooie en sy insettinge en sy verordeninge te onderhou wat Hy ons vaders beveel het. En laat hierdie my woorde waarmee ek voor die aangesig van die HERE gesmeek het, dag en nag naby die HERE onse God wees, dat Hy die saak van sy kneg en die saak van sy volk Israel te alle tye handhaaf, soos die saak vereis: sodat al die mense van die aarde kan weet dat die HERE God is en dat daar niemand anders is nie. Laat julle hart dan volkome wees met die HERE onse God, om in sy insettinge te wandel en sy gebooie te onderhou, soos dit vandag is.