1 KONINGS 8:22-43

1 KONINGS 8:22-43 Bybel vir almal (ABA)

Toe het Salomo voor die altaar van die Here gaan staan. Hy het voor die hele volksvergadering van Israel gestaan en hy het sy hande uitgesteek en hy het gesê: “Here, God van Israel, in die hemel daar bo en op die aarde hier onder is daar nie 'n ander God soos U nie. U het aangehou om vir u dienaars te doen wat U in u verbond belowe het, u dienaars wat met hulle hele hart lewe soos U wil hê. U het gedoen wat U vir u dienaar, my pa Dawid, gesê het. U het dit belowe en U het dit gedoen, dit is vandag soos U belowe het. En nou, Here, God van Israel, moet U vir u dienaar, my pa Dawid, doen wat U belowe het. U het vir hom gesê: ‘Iemand van jou nageslag sal altyd op die troon van Israel sit, maar dan moet jou nageslag reg doen. Hulle moet lewe soos Ek wil hê en soos jy ook gelewe het.’ En nou, God van Israel, laat die woorde asseblief waar word wat U gesê het vir u dienaar, my pa Dawid. Maar sal God regtig op die aarde woon? Daar is nie genoeg plek vir U in die hoogste hemel nie, en hierdie tempel wat ek gebou het, het nóg minder plek. Maar my God die Here, luister nou wanneer ek bid en soebat, luister na wat ek vir U vra wanneer ek, u dienaar, vandag tot U bid. U moet asseblief altyd sorg vir hierdie tempel. Dit is die plek waar U gesê het U wil wees. Luister na die gebed wat 'n dienaar van U bid wanneer hy na hierdie plek kyk en bid. Luister wanneer u dienaar en u volk Israel bid en soebat terwyl hulle na hierdie plek kyk en bid. En wanneer U dit hoor in u woonplek, die hemel, vergewe dan ons sonde. “Wanneer iemand sê 'n ander persoon het verkeerd gedoen teen hom, en hy wil hê die ander persoon moet voor U kom sê dat U hom moet straf as hy dit gedoen het, dan sal die ander persoon miskien voor die altaar in hierdie tempel kom staan en sê hy is onskuldig. Dan moet U asseblief in die hemel luister en U moet oordeel tussen u dienaars. Die persoon wat skuldig is, moet die straf kry vir dit wat hy gedoen het en die persoon wat onskuldig is, moet vry wees omdat hy onskuldig is. “U volk Israel sal miskien 'n oorlog verloor teen vyande omdat u volk sonde gedoen het teen U. As u volk dan hulle lewe verander en hulle doen wat U wil hê en hulle prys u Naam en hulle bid tot U in hierdie tempel en hulle soebat vir U, dan moet U asseblief in die hemel luister en U moet u volk Israel se sonde vergewe en hulle laat terugkom na die land wat U vir hulle voorvaders gegee het. “U sal miskien die hemel toesluit en dit sal nie reën nie omdat u volk sonde doen teen U. As hulle dan na hierdie plek kyk en bid, en hulle prys u Naam en hulle verander hulle lewe en hulle doen wat U wil hê en hulle vra dat U moet luister na hulle gebed, dan moet U asseblief in die hemel luister en U moet u dienaars en u volk Israel se sonde vergewe. U moet iets doen om hulle te help, U moet reën gee op die land wat U vir u volk gegee het. So sal U vir hulle leer om reg te lewe. “Daar sal miskien hongersnood in die land wees, of almal sal begin siek word en sterf, of daar sal siektes kom in die koring op die land, of daar sal swerms sprinkane kom, of vyande van die volk sal kom en hulle sal die stede aanval van al die kante, of ander slegte dinge sal gebeur. Dan moet U asseblief luister wanneer iemand of u volk Israel bid en soebat, U moet luister wanneer elke persoon sy hande uitsteek na hierdie tempel en sê wat met hom gebeur het. Luister dan asseblief in u woonplek, die hemel, en vergewe sy sonde en help hom. Gee vir elkeen wat hy moet kry, want net U weet hoe 'n mens se hart regtig is. Dan sal hulle altyd gehoorsaam wees aan U terwyl hulle in die land woon wat U vir hulle voorvaders gegee het. “Maar U moet ook luister na iemand wat nie van u volk Israel is nie en wat van 'n ver land kom omdat hy u Naam gehoor het. As hy gehoor het van u groot Naam en van die groot dinge wat U gedoen het, en hy kom en hy kyk na hierdie tempel en hy bid, dan moet U luister in die hemel waar U woon en U moet alles doen wat hy vir U in sy gebed vra, sodat elke volk op die aarde u Naam kan ken en gehoorsaam kan wees aan U, soos u volk Israel. Doen dit sodat hulle kan weet dat hierdie tempel aan U behoort, hierdie tempel wat ek gebou het.

1 KONINGS 8:22-43 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Toe het Salomo voor die altaar van die HERE gaan staan, teenoor die hele vergadering van Israel, en sy hande uitgebrei na die hemel en gesê: HERE, God van Israel, daar is bo in die hemel of onder op die aarde geen God soos U nie, wat die verbond en die goedertierenheid hou vir u knegte wat voor u aangesig wandel met hulle hele hart, wat vir u kneg, my vader Dawid, u belofte aan hom gehou het; ja, met u mond het U dit gespreek en met u hand volbring soos dit vandag is. Hou nou ook, HERE, God van Israel, die belofte wat U aan u kneg, my vader Dawid, gedoen het, naamlik: Daar sal vir jou nooit 'n man voor my aangesig ontbreek wat op die troon van Israel sal sit nie as jou seuns net hulle weg in ag neem deur te wandel voor my aangesig soos jy voor my aangesig gewandel het. Laat dan nou, o God van Israel, u woord tog waar gemaak word wat U gespreek het tot u kneg, my vader Dawid. Maar sou God werklik op die aarde woon? Kyk, die hemel, ja, die hoogste hemel kan U nie bevat nie, hoeveel minder hierdie huis wat ek gebou het. Wend U dan tot die gebed van u kneg en tot sy smeking, HERE my God, deur te luister na die geroep en die gebed wat u kneg vandag voor u aangesig bid; sodat u oë oop mag wees nag en dag oor hierdie huis, oor die plek waarvan U gesê het: My Naam sal daar wees! sodat U mag luister na die gebed wat u kneg na hierdie plek toe sal bid. Luister dan na die smeking van u kneg en van u volk Israel wat hulle na hierdie plek toe sal bid; ja, mag U hoor elke gebed na u woonplek, na die hemel toe, en as U dit hoor, vergewe dan. As iemand teen sy naaste sondig en hulle hom 'n eed oplê om hom tot selfvervloeking te bring en hy voor u altaar in hierdie huis kom sweer, wil U dan hoor in die hemel en handel en u knegte reg verskaf deur die skuldige skuldig te verklaar en sy wandel op sy hoof te lê en die regverdige regverdig te verklaar deur hom te gee na sy geregtigheid. As u volk Israel verslaan word voor 'n vyand, omdat hulle teen U gesondig het, en hulle hul tot U bekeer en u Naam bely en tot U bid en smeek in hierdie huis, wil U dan hoor in die hemel en die sonde van u volk Israel vergewe en hulle terugbring na die land wat U aan hulle vaders gegee het. As die hemel toegesluit bly, dat daar geen reën is nie, omdat hulle teen U gesondig het, maar hulle na hierdie plek toe bid en u Naam bely en van hulle sonde hul bekeer, omdat U hulle verootmoedig, wil U dan hoor in die hemel en die sonde van u knegte en van u volk Israel vergewe — want U leer hulle die goeie weg waar hulle in moet wandel — en gee reën op u land wat U aan u volk as 'n erfenis gegee het. As daar hongersnood is in die land, as daar pes is, as daar brandkoring, heuningdou, sprinkane, kaalvreters is, as sy vyand hom in die land, in sy poorte dit benoud maak, watter plaag, watter siekte ook al, enige gebed, enige smeking wat enigeen van u hele volk Israel sal doen, as elkeen die plaag van sy hart ken, sodat hy sy hande na hierdie huis toe uitbrei — wil U dan hoor in die hemel, u vaste woonplek, en vergewe en handel en aan elkeen gee volgens sy weë, U wat sy hart ken — want U alleen ken die hart van al die mensekinders — sodat hulle U kan vrees al die dae wat hulle leef in die land wat U aan ons vaders gegee het. Ja, ook na die uitlander wat nie van u volk Israel is nie, en uit 'n ver land ter wille van u Naam kom — want hulle sal hoor van u grote Naam en u sterke hand en u uitgestrekte arm — as hy kom en bid na hierdie huis toe, wil U dan hoor uit die hemel, u vaste woonplek, en doen volgens alles waaroor die uitlander U sal aanroep, sodat al die volke van die aarde u Naam mag ken, om U te vrees soos u volk Israel, en mag gewaar word dat u Naam uitgeroep is oor hierdie huis wat ek gebou het.

1 KONINGS 8:22-43 Afrikaans 1983 (AFR83)

Toe gaan staan Salomo regoor die altaar van die Here, voor die hele gemeente van Israel, en strek sy hande uit na die hemel toe en sê: “Here, God van Israel, in die hemel of op die aarde is daar nie nog 'n God soos U nie. U hou U aan die verbond en U bly getrou teenoor u dienaars wat met volle oorgawe voor U lewe. U het U gehou aan wat U u dienaar, my vader Dawid, beloof het. U het die belofte gemaak en dit so soos dit vandag is, deur u woord en u mag vervul. “Here, God van Israel, bly dan nou by wat U u dienaar, my vader Dawid, beloof het toe U gesê het: ‘Ek sal sorg dat daar altyd iemand uit jou nageslag op die troon van Israel sal wees, mits jou nakomelinge let op hulle optrede en volgens my woord lewe, soos jy gemaak het.’ “God van Israel, laat die belofte wat U aan u dienaar, my vader Dawid, gemaak het, ook verder vas staan. “Sou God werklik op die aarde woon? Die hemel, selfs die hoogste hemel, kan U nie bevat nie, hoe dan nog hierdie tempel wat ek gebou het! “Hoor tog, Here my God, die gebed van u dienaar, hoor sy smeking, luister na die hulpgeroep, die gebed wat u dienaar vandag tot U rig. Hou hierdie tempel dag en nag onder u sorg, die plek waarvan U gesê het dat U u Naam daar wil vestig, sodat U die gebed kan hoor wat 'n dienaar van U na hierdie plek toe bid. Hoor tog die smeekbedes van u dienaar en u volk Israel wat hulle na hierdie plek toe bid, hoor dit tog uit u hemelse woonplek, en wanneer U dit hoor, vergewe tog! “As iemand sy naaste kwaad aandoen en dié hom 'n eedverpligting oplê om hom onder 'n vloek te plaas, en hy kom en spreek die eed uit voor u altaar in hierdie tempel, luister tog uit die hemel en gryp in en vel die beslissing oor u dienaars sodat die skuldige die straf vir sy dade dra en die onskuldige gelyk gegee word soos dit by sy onskuld pas. “As u volk Israel deur 'n vyand verslaan word omdat hulle teen U gesondig het en hulle kom tot inkeer en bely u Naam en bid tot U in hierdie huis en smeek U, luister tog uit die hemel en vergeef u volk Israel se sonde en laat hulle terugkom na die land wat U aan hulle voorvaders gegee het. “Wanneer die hemele toegesluit bly en daar nie reën is nie omdat hulle teen U sondig, en hulle bid na hierdie plek toe en bely u Naam terwyl hulle hulle van hulle sonde bekeer en vra dat U hulle gebed sal verhoor, luister tog uit die hemel en vergeef u dienaars en u volk Israel se sonde en gee reën op u land wat U aan u volk as besitting gegee het. So leer U hulle die goeie weg wat hulle moet bewandel. “Sou daar hongersnood in die land kom, sou daar pes uitbreek, brandkoring of roes, swerms sprinkane en voetgangers, sou dit gebeur dat die volk se vyande hom in sy stede hier in die land beleër, watter plaag of siekte hom ook al tref, luister tog na elke gebed, elke smeking wat van enige mens of van u hele volk Israel mag kom soos elkeen sy plaag te kenne gee en sy hande na hierdie tempel toe uitstrek; luister tog uit die hemel, u woonplek, vergeef en gryp in en gee aan elkeen wat hy verdien soos U sy hart ken, want net U ken elke mens se hart, sodat hulle aan U gehoorsaam sal wees die hele tyd dat hulle in die land leef wat U aan ons voorvaders gegee het. “Luister ook na die vreemdeling wat nie uit u volk Israel is nie en, omdat hy gehoor het van u groot Naam, u mag en krag, selfs uit 'n ver land kom en na hierdie tempel toe bid. Luister tog uit die hemel, u woonplek, en doen alles wat die vreemdeling U in sy gebed vra, sodat al die volke van die aarde u Naam kan ken en ook aan U gehoorsaam kan wees net soos u volk Israel, en dat hulle kan weet u Naam is uitgeroep oor hierdie tempel wat ek gebou het.

1 KONINGS 8:22-43 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Toe het Salomo voor die altaar van die HERE gaan staan, reg voor die hele geloofsgemeenskap van Israel. Hy het sy hande na die hemel uitgestrek en gesê: “HERE, God van Israel, daar is geen god soos U in die hemel daar bo of op die aarde hier onder nie; U wat die verbond en troue liefde in stand hou vir u diensknegte wat met hulle hele hart voor U leef; U wat ter wille van u dienskneg, my vader Dawid, gehou het by dit wat U hom beloof het. U het dit met u mond gesê en met u hand volbring, soos dit vandag is. Daarom, HERE, God van Israel, hou nou ter wille van u dienskneg, my vader Dawid, by wat U hom beloof het toe U gesê het, ‘Daar sal nooit iemand vir jou ontbreek wat voor my aangesig op die troon van Israel sit nie, as jou seuns maar net ag slaan op hulle optrede deur voor My te leef soos jy voor My geleef het.’ Daarom, o God van Israel, laat u belofte wat U aan u dienskneg, my vader Dawid, gemaak het, tog waar word. “ Maar kan God werklik op aarde woon? Kyk, die hemelruim en die hoogste hemele kan U nie omvat nie – hoeveel minder hierdie tempel wat ek gebou het? U moet aandag gee aan die gebed van u dienskneg, aan sy smeekbede, HERE my God, deur te luister na die klaagroep, na die gebed wat u dienskneg vandag voor U bid, dat u oë dag en nag oop sal wees na hierdie tempel, na die plek waarvan U gesê het, ‘My Naam sal daar wees,’ sodat U sal luister na die gebed wat u dienskneg in die rigting van hierdie plek rig. Luister dan na die smeekbede van u dienskneg en van u volk Israel wat hulle in die rigting van hierdie plek bid. U self moet dit hoor tot by die plek waar U woon, tot in die hemel. U moet dit hoor, en U moet vergewe. “Wanneer iemand teen sy naaste sondig, en dié 'n verwensing uitspreek om 'n vloek oor hom te bring, en hy dan met die vervloeking voor u altaar in hierdie tempel kom, moet U self hoor in die hemel en optree en die reg handhaaf van u diensknegte deur die skuldige skuldig te verklaar, deur sy optrede op sy eie kop te laat neerkom, en die regverdige regverdig te verklaar deur aan hom te gee wat hy volgens sy regverdige optrede verdien. “Wanneer u volk Israel deur 'n vyand verslaan word omdat hulle teen U gesondig het, en wanneer hulle na U terugkeer, u Naam prys en bid en by U smeek in hierdie tempel, moet U self hoor in die hemel. Vergewe dan die sonde van u volk Israel en laat hulle terugkeer na die grond wat U aan hulle voorouers gegee het. “ Wanneer die hemel toegesluit is en daar geen reën val nie omdat hulle teen U gesondig het, en hulle bid dan in die rigting van hierdie plek en prys u Naam en bekeer hulle van hulle sondes omdat U hulle verneder, moet U self hoor in die hemel en die sonde van u diensknegte en u volk Israel vergewe, want U leer hulle die goeie pad waarop hulle moet gaan. Gee dan reën oor u land, wat U vir u volk as erfenis gegee het. “ Wanneer daar hongersnood in die land is, wanneer pessiektes uitbreek, wanneer skroeisiekte, witroes, treksprinkane, kaalvreters toeslaan, wanneer u volk se vyand hom beleër in van sy stede in die land – tydens enige plaag, enige siekte – en daar enige gebed is, enige smeekbede by enige mens, by enigiemand van u volk Israel wat elkeen die teistering van sy eie hart ken, en hy dan sy hande na hierdie tempel uitstrek, moet U self hoor in die hemel, die plek van u verblyf. U moet dan vergewe en optree en met elkeen handel volgens al sy dade, U wat sy hart ken – U alleen ken immers die harte van alle mensekinders – sodat hulle vir U ontsag mag hê solank as wat hulle leef op die grond wat U vir ons voorouers gegee het. “ En ook die buitelander wat nie deel van u volk Israel is nie, maar uit 'n ver land kom ter wille van u Naam – ja, hulle sal hoor van u groot Naam en u sterk hand en uitgestrekte arm – wanneer hy dan kom en in die rigting van hierdie tempel bid, moet U self hoor in die hemel, die plek van u verblyf. U moet dan optree volgens alles waaroor die buitelander U aanroep, sodat al die volke van die aarde u Naam mag ken, dat hulle vir U ontsag mag hê, soos u volk Israel, en sal besef dat dit u Naam is wat uitgeroep is oor hierdie tempel wat ek gebou het.

1 KONINGS 8:22-43 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En Salomo het voor die altaar van die HERE gestaan voor die aangesig van die hele vergadering van Israel en sy hande na die hemel uitgebrei. En hy het gesê: HERE, God van Israel, daar is geen God soos U, bo in die hemel of onder op die aarde, wat die verbond en barmhartigheid hou met u dienaars wat met hulle hele hart voor U wandel nie. Wat by u kneg, my vader Dawid, gehou het wat u hom beloof het; u het ook met u mond gespreek en dit met u hand vervul soos dit vandag is. Daarom nou, HERE, God van Israel, hou by u kneg, my vader Dawid, wat U hom beloof het deur te sê: Daar sal vir U geen man in my oë ontbreek om op die troon van Israel te sit nie; sodat u kinders op hul weg ag gee, dat hulle voor my aangesig wandel soos u voor my aangesig gewandel het. En nou, o God van Israel, laat u woord tog waar gemaak word wat U aan u kneg, my vader Dawid, gespreek het. Maar sal God werklik op die aarde woon? kyk, die hemel en die hemel van die hemele kan jou nie bevat nie; hoeveel minder hierdie huis wat ek gebou het? Maar let op die gebed van u kneg en sy smeking, HERE my God, om te luister na die geroep en die gebed wat u dienaar vandag voor u aangesig bid. Sodat jou oë geopen mag wees oor hierdie huis, nag en dag, ook na die plek waarvan jy gesê het: My Naam sal daar wees, sodat jy kan luister na die gebed wat u dienaar na hierdie plek sal doen. En luister na die smeking van u kneg en van u volk Israel wanneer hulle na hierdie plek toe bid; en luister na U in die hemel, u woonplek; en as u dit hoor, vergewe. As iemand teen sy naaste oortree en hom 'n eed opgelê word om hom te laat sweer, en die eed kom voor u altaar in hierdie huis, Hoor dan in die hemel en doen en oordeel u dienaars deur die goddelose te veroordeel, om sy weg op sy hoof te bring; en die regverdige regverdig, om hom te gee na sy geregtigheid. Wanneer jou volk Israel voor die vyand verslaan word, omdat hulle teen jou gesondig het, en hulle na jou terugdraai en jou Naam bely en bid en jou in hierdie huis smeek, Hoor dan in die hemel en vergewe die sonde van u volk Israel, en bring hulle terug na die land wat U aan hulle vaders gegee het. As die hemel toegesluit is en daar geen reën is nie, omdat hulle teen U gesondig het; as hulle na hierdie plek toe bid en u Naam bely en hulle bekeer van hulle sonde as U hulle verdruk; Hoor dan in die hemel en vergewe die sonde van u knegte en van u volk Israel, dat U hulle die goeie weg leer waarop hulle moet wandel en reën gee op u land wat U aan u volk as erfenis gegee het. As daar hongersnood in die land is, as daar pes, branders, muf, sprinkane of ruspes is; as hulle vyand hulle beleër in die land van hulle stede; enige plaag, watter siekte daar ook al mag wees; Watter gebed en smeking mag ook al gedoen word deur iemand of deur jou hele volk Israel, wat elkeen die plaag van sy eie hart sal ken en sy hande na hierdie huis sal uitbrei; Hoor dan in die hemel, jou woonplek, en vergewe en doen en gee aan elkeen volgens sy weë wie se hart jy ken; (want jy alleen ken die harte van al die mensekinders;) sodat hulle U kan vrees al die dae wat hulle woon in die land wat U aan ons vaders gegee het. En wat 'n vreemdeling betref, wat nie uit u volk Israel is nie, maar ter wille van u Naam uit 'n ver land kom; (Want hulle sal hoor van u groot Naam en van u sterke hand en van u uitgestrekte arm) as hy kom en in die rigting van hierdie huis bid; Hoor U in die hemel, u woonplek, en doen volgens alles waarvoor die vreemdeling U aanroep, sodat al die volke van die aarde u Naam kan ken, om U te vrees, net soos u volk Israel; en dat hulle kan weet dat oor hierdie huis wat Ek gebou het, u Naam uitgeroep is.

1 KONINGS 8:22-43 Die Boodskap (DB)

Terwyl al die mense daar was, het Salomo voor die altaar gaan staan. Hy het sy arms opgelig en begin bid. “Here, U is die God van Israel. Daar is niemand soos U in die hemel of op die aarde nie. U is aan u verbond met ons getrou en U het u mense met ’n groot deernis lief. U is lief vir elkeen wat U dien. U het u belofte aan my pa, Dawid, nagekom. Vandag het elke woord van daardie belofte waar geword. Here, God van Israel, maak asseblief tog ook u belofte waar dat daar altyd een van my pa se kinders oor Israel sal regeer. Help elke koning dat hulle U soos my pa sal liefhê en volgens u woord sal leef. Laat alles tog waar word wat U vir Dawid, my pa, oor die jare beloof het.” “Here, my God, kan U regtig hier op aarde in die tempel woon? Nie eens die ganse hemel is vir U groot genoeg nie. Hoe kan hierdie geboutjie, hierdie tempel wat ek gebou het, dan ooit groot genoeg vir U wees? Here my God, voor U is ek niks. Luister tog na my woorde en verhoor vandag my gebed. Here, beskerm hierdie gebou dag en nag. Dit is tog die plek wat U gekies het; die plek waar U wou hê ons U moes aanbid. Hoor elke keer my gebed as ek my gesig na hierdie tempel toe draai. Hoor ook die smekinge van u mense wanneer hulle in die rigting van die tempel kyk en bid. Hoor tog ons gebede in u hemelse woonplek en vergewe ons ons sondes. “Wanneer iemand van ’n oortreding teenoor sy naaste beskuldig word en hy sweer by die altaar in hierdie tempel dat hy onskuldig is, luister dan vanuit u hemelse woonplek en oordeel U self. Straf die skuldige en spreek die onskuldige vry. “Wanneer u volk, Israel, ’n geveg verloor omdat hulle aan U ontrou was, maar hulle bely hulle sondes vol berou hier by die tempel, hoor dan hulle gebede in u hemelse woonplek. Vergewe hulle sondes en maak hulle weer gelukkig in hierdie land wat U lank gelede al aan hulle voorouers beloof het. “Wanneer U die reën terughou omdat u mense gesondig het, maar hulle bely hulle foute en bid met hulle gesig in die rigting van die tempel, hoor dan hulle gebede in u hemelse woonplek. Vergewe die koning en die volk hulle sondes en leer hulle om die regte dinge te doen. Gee dan reën vir u land; die land wat U aan Israel as permanente woonplek gegee het. “Wanneer daar hongersnood of die een of ander epidemie in die land is, of ’n verwoestende wind of sprinkaanswerms vernietig die oes, of die vyand verslaan u volk onverwags, of allerlei siektes maai u mense af, hoor dan hulle smeekgebede. As u volk in hulle gebrokenheid hulle hande na U toe uitsteek en in die rigting van hierdie tempel bid, hoor hulle in u hemelse woonplek. Vergewe hulle sondes en help hulle. U alleen ken die donker dieptes van ’n mens se hart en U alleen weet wie opreg is en wie nie. Leer u volk om U lief te hê en U getrou te dien in hierdie land wat U aan hulle voorvaders beloof het. “Luister ook na die vreemdeling wat nie deel van u volk is nie, maar in ’n ver en vreemde land van U gehoor het. Die vreemdeling wat van u liefde vir u mense gehoor het en wat toe besluit het om U in hierdie tempel te dien en te aanbid. Hoor tog die gebed van die vreemdeling in u hemelse woonplek. Hoor as hy sy hart in hierdie plek voor U uitstort en verhoor sy gebede. Al die volke van die aarde sal dan na Jerusalem toe wil kom om U te dien. Soos Israel sal hulle U in die tempel wil dien. Al die volke sal dan weet dat U by hierdie tempel wat ek gebou het, aanbid word.

1 KONINGS 8:22-43 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Daarna het Salomo in die teenwoordigheid van die hele vergadering van Israel voor die altaar van die HERE gaan staan en sy hande na die hemel toe uitgestrek. Hy het gebid: “HERE, God van Israel, in die hemel of op die hele aarde is daar geen God soos U nie. U bly getrou aan u verbond en het u troue liefde bly betoon aan almal wat U heelhartig met ywer dien. U het u beloftes aan u dienaar, my pa Dawid, nagekom. U het die belofte met u eie mond gemaak, en vandag het U dit met u eie hande vervul. En nou, HERE, God van Israel, laat tog ook u beloftes aan u dienaar, my pa Dawid, waar word. Want U het vir hom gesê: ‘As jou afstammelinge voor My lewe soos jy geleef het, sal hulle altyd oor Israel regeer.’ Nou, God van Israel, bevestig tog hierdie beloftes aan u dienaar, my pa Dawid. “Maar kan dit moontlik wees dat God op die aarde sou woon? Die hemel, selfs die hoogste hemel, kan U nie bevat nie. Wat nog te sê hierdie tempel wat ek vir U gebou het! Luister tog na my gebed en smeking, HERE my God. Luister na die roepstem en die gebed wat u dienaar vandag tot U rig. Hou tog dag en nag ’n wakende oog oor hierdie tempel. Dis die plek waarvan U gesê het dat u Naam daar sal woon sodat U altyd die gebed sal hoor wat ek na hierdie plek toe rig. Luister tog na die smekinge wat ek en u volk Israel na hierdie plek toe sal bid. Mag U ons hoor in die hemel waar U woon, en wanneer U hoor, vergewe tog. “As ’n persoon iemand anders kwaad aandoen en hy moet voor die altaar in hierdie tempel ’n eed van onskuld kom aflê, hoor dan uit die hemel en oordeel tussen u dienaars, die klaer en die aangeklaagde. Straf die skuldige persoon en spreek die onskuldige vry. “As u volk deur hulle vyande verslaan word omdat hulle teen U gesondig het, en as hulle dan na U toe terugdraai en u Naam bely en hier in die tempel tot U bid en smeek, luister dan tog uit die hemel en vergewe die sondes van u volk en bring hulle terug na hierdie land wat U aan hulle voorouers gegee het. “As die hemele toegesluit bly en daar geen reën val nie omdat u volk teen U gesondig het; en as hulle na hierdie plek toe bid en u Naam bely, en hulle bekeer van hulle sondes omdat U hulle gestraf het, hoor dan tog uit die hemel en vergewe die sondes van u dienaars, u volk Israel. Leer hulle om te doen wat reg is, en stuur die reën oor die land wat U aan u volk as eiendom gegee het. “Indien daar hongersnood in die land kom, of pes in die land uitbreek, of heuningdou of skimmel, of treksprinkane, of indien die vyande van u volk die stede beleër, watter ramp of siekte hulle ook al tref, luister dan. Luister na die gebed en die smeking van die enkelinge of die hele volk Israel, soos elkeen sy behoefte bekendmaak en die hande na hierdie tempel toe uitstrek. Luister dan uit die hemel waar U is en vergewe en gryp in. U wat elke mens se binnekant ken, gee tog aan elkeen wat hy nodig het, want net U weet wat in die mens se gemoed aangaan. Dan sal hulle aan U gehoorsaam wees, solank hulle woon in die land wat U aan ons voorouers gegee het. “Ook as vreemdelinge wat nie van u volk Israel is nie, van U hoor en uit verre lande kom ter wille van u groot Naam – want hulle sal van U hoor en van u kragtige dade en u mag – as hulle na hierdie tempel toe bid, hoor dan uit die hemel waar U woon en gee dit wat hulle vra. Dan sal al die mense van die aarde U leer ken en eerbied vir U hê net soos u eie volk Israel. Hulle sal ook weet dat hierdie tempel wat ek gebou het aan u Naam gewy is.