1 KONINGS 4:20-34 - Compare All Versions
1 KONINGS 4:20-34 ABA (Bybel vir almal)
Die mense van Juda en Israel was so baie soos die sand langs die see. Hulle het genoeg gehad om te eet en te drink, en hulle was gelukkig. Salomo het regeer oor al die lande van die Eufraat-rivier tot by Filistyne-land en die grens van die land Egipte. Die mense van hierdie lande het vir Salomo presente gebring en hulle het vir hom gewerk totdat hy gesterf het. Die kos wat hulle elke dag moes bring vir die mense in Salomo se paleis, was 30 kor fynmeel en 60 kor broodmeel, tien beeste wat hulle in die stalle kos gegee het en 20 beeste wat in die veld gewei het, 100 skape en bokke, en ook nog takbokke, gaselle, gemsbokke en ribbokke, en hoenders en ganse wat hulle in hokke vetgemaak het. Salomo het regeer oor al die lande wes van die Eufraat-rivier, dit was van die stad Tifsag tot by die stad Gasa. Hy het regeer oor al die konings wes van die Eufraat-rivier. Daar was vrede tussen hom en al die konings rondom hom. Die mense van Juda en Israel, van die stad Dan in die noorde tot by die stad Berseba in die suide, het veilig gewoon terwyl Salomo gelewe het. Elkeen kon rustig onder sy eie wingerdstok en onder sy eie vyeboom sit. Salomo het 40 000 perde in sy stalle gehad vir sy oorlogkarre en hy het 12 000 ryperde gehad. Die distrikshoofde het elkeen een maand lank kos gebring vir koning Salomo en vir almal wat by sy tafel geëet het. Daar was genoeg kos vir almal. Die distrikshoofde het ook vir die perde genoeg gars en strooi gebring na die plekke waar die perde was. God het vir Salomo baie wysheid en verstand gegee, hy het geweet van baie dinge, so baie soos die sand op die strand by die see. Hy het meer wysheid gehad as die Oosmense en die mense van Egipte, meer wysheid as al die ander mense, meer wysheid as Etan die Esragiet en meer wysheid as Heman en Kalkol en Darda, die seuns van Magol. Almal in die lande rondom Israel het geweet van Salomo. Hy het 3 000 spreuke en 1 005 liedere geskryf. In die spreuke en liedere het hy gepraat van bome en plante, van die sederbome op die Libanon-berg tot by die hisop-bossies wat uit die mure gegroei het. Hy het ook gepraat van diere en voëls en die klein diertjies wat op die aarde kruip, en oor die visse. Mense van al die volke het kom luister na die wysheid van Salomo. Die konings van die aarde wat gehoor het van Salomo se wysheid, het die mense gestuur om na hom te gaan luister.
1 KONINGS 4:20-34 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
Juda en Israel was talryk soos die sand wat aan die seestrand is in menigte; hulle het geëet en gedrink en was bly. Verder was Salomo heerser oor al die koninkryke van die Eufraat af tot by die land van die Filistyne, en tot by die grens van Egipte; hulle het belasting aangebring en Salomo gedien al die dae van sy lewe. En Salomo se voedsel vir een dag was dertig kor fynmeel en sestig kor meel; tien vetgemaakte beeste en twintig veldbeeste en honderd stuks kleinvee, behalwe die takbokke en gemsbokke en gestippelde takbokke en vetgemaakte ganse. Want hy het geheers oor alles wes van die Eufraat, van Tifsag af tot by Gasa, oor al die konings wes van die Eufraat, en vrede gehad aan alle kante rondom; sodat Juda en Israel veilig gewoon het, elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, van Dan tot Berséba, al die dae van Salomo. Verder het Salomo veertigduisend krippe gehad vir sy trekperde, en twaalfduisend ryperde. En daardie bestuurders het elkeen in sy maand koning Salomo onderhou en almal wat aan die tafel van koning Salomo kom; hulle het niks laat kortkom nie. En die gars en die strooi vir die perde en die renperde het hulle gebring op die plek waar dit moes wees, elkeen volgens sy orde. EN God het aan Salomo wysheid gegee en 'n baie groot verstand en 'n ruimte van insig soos die sand wat aan die seestrand lê, sodat die wysheid van Salomo groter was as die wysheid van al die kinders van die Ooste en as al die wysheid van Egipte. Ja, hy was wyser as al die mense, as Etan, die Esrahiet, en Heman en Kalkol en Darda, die seuns van Mahol, sodat hy beroemd was onder al die nasies rondom. En hy het drieduisend spreuke uitgespreek, en sy liedere was duisend-en-vyf. En hy het oor die bome gespreek, van die seder op die Líbanon tot die hisop wat teen die muur uitspruit; ook het hy gespreek oor die vee en oor die voëls en oor die kruipende diere en oor die visse. En van al die volke het hulle gekom om na die wysheid van Salomo te luister, van al die konings van die aarde wat van sy wysheid gehoor het.
1 KONINGS 4:20-34 AFR83 (Afrikaans 1983)
Juda en Israel was so baie soos die sand aan die see. Hulle het volop te eet en te drink gehad, en hulle was gelukkig. Salomo het geheers oor al die koninkryke van die Eufraatrivier af tot by die gebied van die Filistyne, dit wil sê tot by die grens van Egipte. Hulle het belasting betaal en was onderhorig aan Salomo solank hy geleef het. Salomo se daaglikse kosvoorrade was vyf ton fynmeel en tien ton broodmeel, tien vetgevoerde beeste, twintig veldbeeste en honderd stuks kleinvee, behalwe nog takbokke, gemsbokke, ribbokke en vetgemaakte pluimvee. Salomo het geheers oor alles wes van die Eufraatrivier, van Tifsag af tot by Gasa, oor al die konings wes van die Eufraat. Na alle kante toe was daar vrede, en solank Salomo geleef het, het die Judeërs en die Israeliete van Dan af tot by Berseba veilig gewoon, elkeen met sy eie wingerdstok en sy eie vyeboom om onder te sit. Salomo het veertig duisend trekperde op stal gehad vir sy strydwaens en ook twaalf duisend ryperde. Die streekbestuurders het elkeen een maand per jaar vir koning Salomo en almal wat van sy tafel af geëet het, van kos voorsien. Hulle het gesorg dat niks ontbreek nie. Hulle het ook die gars en die hooi vir die ryperde en die trekperde gebring op die plekke wat met elkeen gereël was. God het aan Salomo baie groot wysheid en verstand gegee en insig in soveel sake as wat daar sand aan die see is. Salomo het meer wysheid gehad as al die ander mense, van die ooste af tot in Egipte. Hy het meer wysheid gehad as enigiemand anders, meer as Etan die Esragiet, en meer as Heman, Kalkol en Darda, seuns van Magol. Sy naam het bekend geraak onder al die nasies in die omtrek. Hy het drie duisend spreuke gemaak en duisend en vyf liedere gedig. Hy het verse gemaak oor bome en plante, van die seders op die Libanon tot die hisop wat uit die mure groei; hy het gedig oor diere, voëls, reptiele en visse. Van oral af het daar mense gekom om na Salomo se wysheid te luister, afgesante van al die konings wat gehoor het dat hy so 'n wyse man is.
1 KONINGS 4:20-34 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Die mense van Juda en Israel was baie, so talryk soos die sand wat langs die see is, hulle het geëet en gedrink en was gelukkig. Salomo was die heerser in al die koninkryke, van die Rivier af na die land van die Filistyne, en tot by die grens van Egipte. Hulle was aan Salomo skatpligtig en het hom gedien solank hy geleef het. Die voedsel gelewer aan Salomo vir een dag was dertig kor gesifte meel en sestig kor gewone meel; tien vetgemaakte beeste en twintig beeste van die veld af; 'n honderd stuks kleinvee, afgesien van rooitakbokke, gaselle, hartbeeste en gevoerde pluimvee. Ja, hy het oor die hele gebied wes van die Rivier regeer: van Tifsag tot by Gasa, oor al die konings wes van die Rivier. Hy het rondom, aan alle kante, vrede gehad. Juda en Israel het toe veilig gewoon, elkeen onder sy wingerdstok en sy vyeboom, van Dan tot Berseba, so lank as wat Salomo geleef het. Salomo het vierduisend stalle vir die perde van sy strydwamag gehad, en die bemanning van sy strydwaens was twaalfduisend. Daardie landvoogde moes kos voorsien aan koning Salomo en aan almal wat by die tafel van koning Salomo aangesit het, elkeen in die maand aan hom toegewys. Hulle het niks laat kortkom nie, ook nie die gars en strooi vir die perde van die strydwaens en die pakperde nie. Hulle het dit gebring na die plek waarheen elkeen gewoond was om dit te neem. God het aan Salomo wysheid gegee – 'n besondere insig en begrip so omvangryk soos die sand wat langs die seestrand is. Die wysheid van Salomo was omvattender as die wysheid van al die mense uit die ooste, en as al die wysheid van Egipte. Hy was wyser as enige mens, wyser as Etan die man uit Esrag, en as Heman, Kalkol en Darda, seuns van Magol. Hy was beroemd onder al die omliggende nasies. Hy het drieduisend spreuke gedig, en eenduisend-en-vyf liedere. Hy het gedig oor bome – van die seder wat op die Libanon is tot die marjolein wat uit die mure groei. Hy het gedig oor diere, oor voëls, oor kruipende diere en oor visse. Mense uit al die volke het gekom om die wysheid van Salomo te hoor; hulle het gekom van al die konings van die aarde wat van sy wysheid gehoor het.
1 KONINGS 4:20-34 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
Juda en Israel was baie, soos die sand wat by die see is in menigte, wat geëet en gedrink en vrolik gemaak het. En Salomo het geregeer oor al die koninkryke van die rivier af tot by die land van die Filistyne en tot by die grens van Egipte; hulle het geskenke gebring en Salomo gedien al die dae van sy lewe. En Salomo se voorsiening vir een dag was dertig kor fynmeel en sestig kor meel, Tien vet beeste en twintig beeste uit die weiveld, en honderd kleinvee, behalwe takbokke en gemsbokke en damherte en vetgemaakte voëls. Want hy het geheers oor die hele gebied aan die weskant van die Eufraat, van Tifsa af tot by Aza, oor al die konings aan die oorkant van die Eufraat; en hy het vrede gehad van alle kante rondom hom. En Juda en Israel het veilig gewoon, elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, van Dan tot Berséba, al die dae van Salomo. En Salomo het veertigduisend perdestalle vir sy strydwaens en twaalfduisend perderuiters gehad. En daardie amptenare het vir koning Salomo en almal wat na koning Salomo se tafel gekom het, elkeen in sy maand kos voorsien; hulle het niks kortgekom nie. Ook gars en strooi vir die perde en dromedarisse het hulle gebring na die plek waar die beamptes was, elkeen volgens sy opdrag. En God het aan Salomo wysheid en baie insig gegee, en 'n grootheid van hart, soos die sand wat aan die seestrand is. En die wysheid van Salomo was beter as die wysheid van al die kinders van die oostelike land en al die wysheid van Egipte. Want hy was wyser as alle mense; as Etan, die Esrahiet, en Heman en Kalkol en Darda, die seuns van Mahol; en sy gerug was onder al die nasies rondom. En hy het drie duisend spreuke gespreek, en sy liedere was duisend en vyf. En hy het gespreek oor bome, van die sederboom wat op die Líbanon is tot by die hisop wat uit die muur uitspring; ook het hy gespreek van diere en voëls en kruipende diere en visse. En daar het van al die mense gekom om die wysheid van Salomo te hoor, van al die konings van die aarde wat van sy wysheid gehoor het.
1 KONINGS 4:20-34 DB (Die Boodskap)
Die mense van Juda en Israel was so baie soos die sand van die see. Hulle het geëet en gedrink en was baie gelukkig. Salomo het oor al die nasies vanaf die groot Eufraatrivier tot by die land van die Filistyne en tot by die Egiptiese grens regeer. Hierdie nasies het almal belasting betaal en was aan Salomo getrou. Salomo se huishouding en personeel se daaglikse kosgebruik was vyf ton fynmeel en tien ton broodmeel, tien vetgevoerde beeste, twintig veldbeeste en honderd stuks kleinvee, behalwe nog takbokke, gemsbokke, ribbokke en vetgemaakte pluimvee. Salomo het oor die hele land wes van die Eufraatrivier regeer, vanaf Tifsag by die Eufraat tot so ver wes as Gasa. Al die konings wes van die Eufraat was deel van Salomo se koninkryk. En Salomo het in vrede geleef met al die omliggende volke. So lank as wat Salomo geleef het, het dit met die mense van Juda en Israel baie goed gegaan. Dit was ’n tyd van groot voorspoed en vrede. Elke familie het op sy eie grond gewoon en sy eie wingerde en vyebome gehad. Salomo het 40 000 stalle vir die perde van sy strydwaens gebou en 12 000 vir sy ryperde. Elkeen van Salomo se twaalf streeksbestuurders het ’n beurt gekry om ’n maand lank kos aan die koning en al sy baie amptenare te voorsien. Streeksbestuurders moes ook vir die ryperde en trekperde se gars en hooi sorg. Hulle moes dit daar gaan aflaai waar die mense dit nodig gehad het. Die Here het Salomo gehelp om goed te regeer en om die land met wysheid te bestuur. Sy kennis van landsake het geen gelyke in die wêreld gehad nie. Salomo was slimmer en wyser as al die slimkoppe van die Ooste of Egipte. Hy was selfs slimmer as Etan die Esragiet, asook Heman, Kalkol en Darda, die seuns van Magol. Al die omliggende lande het van Salomo se wysheid gehoor en hy het al hoe bekender geword. Hy het meer as 3 000 spreuke gemaak en 1 005 liedere gekomponeer. Hy het gedigte oor bome en plante gemaak en oor alles geskryf, van die seders van die Libanon tot die hisop wat op die mure groei. Oor diere, voëls, reptiele en visse het hy graag gepraat. Oor die hele wêreld het mense van Salomo se wysheid gehoor en hulle het kom luister. Konings oor die hele wêreld het vir hom geskenke gestuur.
1 KONINGS 4:20-34 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Die inwoners van Juda en Israel was so baie soos die sand by die see. Hulle het genoeg gehad om te eet en te drink, en was gelukkig en tevrede. Koning Salomo het regeer oor al die koninkryke vanaf die Eufraatrivier tot by die land van die Filistyne, en so ver suid as die grens van Egipte. Hierdie lande het belasting aan Salomo betaal en was aan hom onderdanig solank hy gelewe het. Die daaglikse kosvoorraad vir Salomo se paleis was vyf ton fynmeel en tien ton broodmeel, tien vetgemaakte beeste, twintig beeste uit die veld, 100 kleinvee, asook takbokke, gemsbokke, ribbokke en vetgemaakte pluimvee. Salomo se ryk het al die koninkryke wes van die Eufraatrivier ingesluit, vanaf Tifsag tot by Gasa. Deur die hele landstreek het daar vrede geheers. Gedurende die leeftyd van Salomo het Juda en Israel in veiligheid gelewe. Vanaf Dan in die noorde tot by Berseba in die suide het hulle veilig gewoon, elkeen met sy eie wingerdstok en sy eie vyeboom. Salomo het 4 000 stalle vir sy strydwaens se perde gehad en 12 000 ryperde. Die streekbestuurders het elkeen een maand per jaar gesorg dat daar genoeg kos vir koning Salomo en sy hofhouding was. Hulle het ook gars en hooi vir die ryperde en die trekperde op die bestemde plekke besorg. God het vir Salomo baie wysheid en onderskeiding gegee, en ook kennis wat soos die sand aan die see nie gemeet kan word nie. Trouens, sy wysheid het dié van die wyse manne van die ooste en dié van Egipte ver oortref. Hy was wyser as enigiemand anders, meer as Etan die Esragiet en Heman, Kalkol en Darda, die seuns van Magol. Sy naam het bekend geword onder al die omliggende nasies. Hy het 3 000 spreuke geskryf en 1 005 liedere gedig. Hy kon met gesag praat oor bome en plante, van die groot seders van die Libanon tot die kleinste hisop wat uit die mure groei. Hy kon ook praat oor diere, voëls, reptiele en visse. Mense het van oral af gekom om na die wysheid van Salomo te luister. Al die konings van die wêreld wat van sy wysheid gehoor het, het gesante gestuur.