1 KONINGS 19:8-15 - Compare All Versions

1 KONINGS 19:8-15 ABA (Bybel vir almal)

Elia het toe opgestaan en geëet en gedrink. En daardie kos het hom so sterk gemaak dat hy 40 dae en 40 nagte lank geloop het tot by Horeb, die berg van God. Daar het hy by 'n grot gekom en gaan slaap. Toe hoor hy die Here vra vir hom: “Elia, wat doen jy hier?” Elia het gesê: “Ek het baie hard gewerk vir die Here, die God wat oor alles regeer, maar die Israeliete het nie gedoen wat U in u verbond gesê het nie. Hulle het u altare afgebreek en hulle het u profete doodgemaak, ek het alleen oorgebly. En nou wil hulle my ook doodmaak.” Toe sê die Here: “Gaan uit en gaan staan op die berg voor My.” En toe kom die Here daar verby. Daar was 'n sterk wind, dit het die berg geskud en die rotse gebreek voor die Here. Maar die Here was nie in die wind nie. En ná die wind was daar 'n aardbewing. Maar die Here was nie in die aardbewing nie. En ná die aardbewing was daar 'n vuur. Die Here was ook nie in die vuur nie. En ná die vuur het Elia iets gehoor soos wanneer iemand baie sag praat. Toe hy dit hoor, het hy sy gesig toegemaak met sy bo-kleed. Hy het uitgegaan en hy het voor die grot gaan staan. En daar hoor hy toe 'n stem wat vra: “Elia, wat doen jy hier?” Elia het gesê: “Ek het baie hard gewerk vir die Here, die God wat oor alles regeer, maar die Israeliete het nie gedoen wat U in u verbond gesê het nie. Hulle het u altare afgebreek en hulle het u profete doodgemaak, ek het alleen oorgebly. En nou wil hulle my ook doodmaak.” Toe sê die Here vir hom: “Gaan terug op dieselfde pad. Jy moet gaan tot in die woestyn van Damaskus, en wanneer jy daar kom, dan moet jy vir Gasael salf om koning te wees van die Arameërs.

1 KONINGS 19:8-15 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)

Hy het toe opgestaan en geëet en gedrink en deur die krag van die voedsel veertig dae en veertig nagte lank geloop tot by die berg van God, Horeb. En hy het daar in 'n spelonk gegaan en die nag daar oorgebly. En kyk, die woord van die HERE het tot hom gekom en vir hom gesê: Wat maak jy hier, Elía? En hy antwoord: Ek het baie geywer vir die HERE, die God van die leërskare; want die kinders van Israel het u verbond verlaat, u altare afgebreek en u profete met die swaard gedood, sodat ek alleen oorgebly het, en hulle soek my lewe om dit weg te neem. En Hy sê: Gaan uit en staan op die berg voor die aangesig van die HERE. En kyk, die HERE het verbygegaan, terwyl 'n groot en sterk wind die berge skeur en die rotse verbreek voor die HERE uit; in die wind was die HERE nie. En ná die wind 'n aardbewing; in die aardbewing was die HERE nie. En ná die aardbewing 'n vuur; in die vuur was die HERE nie. En ná die vuur die gesuis van 'n sagte koelte. En toe Elía dit hoor, het hy sy gelaat met sy mantel toegedraai en uitgegaan en by die ingang van die spelonk gaan staan. En daar kom 'n stem na hom wat sê: Wat maak jy hier, Elía? En hy antwoord: Ek het baie geywer vir die HERE, die God van die leërskare; want die kinders van Israel het u verbond verlaat, u altare afgebreek en u profete met die swaard gedood, sodat ek alleen oorgebly het; en hulle soek my lewe om dit weg te neem. Maar die HERE sê vir hom: Gaan terug op jou pad na die woestyn van Damaskus, en gaan heen en salf Hásael as koning oor Aram.

1 KONINGS 19:8-15 AFR83 (Afrikaans 1983)

Toe staan hy op en hy eet, en deur die krag van die kos kon hy veertig dae en veertig nagte lank loop tot by Horeb, die berg van God. Hy het in 'n grot ingegaan en die nag daar deurgebring. Toe het die woord van die Here tot hom gekom en vir hom gesê: “Wat maak jy hier, Elia?” Hy antwoord toe: “Ek het my met hart en siel gewy aan u saak, Here, Almagtige God. Die Israeliete het die verbond met U verbreek. Hulle het u altare afgebreek en u profete doodgemaak. Net ek alleen het oorgebly, en hulle soek my om my ook om die lewe te bring.” Maar die Here sê vir hom: “Kom uit, en gaan staan op die berg voor My, die Here, Ek wil verbygaan.” Skielik was daar 'n baie sterk wind wat die berg stukkend geruk en die rotse gebreek het voor die Here. Maar in die wind was die Here nie. Na die wind was daar 'n aardbewing. Maar in die aardbewing was die Here nie. Na die aardbewing was daar 'n vuur. Maar in die vuur was die Here nie. En na die vuur was daar 'n fluistering in die windstilte. Toe Elia dit hoor, het hy sy gesig met sy mantel toegemaak en by die bek van die grot gaan staan. Toe hoor hy 'n stem wat vir hom sê: “Wat maak jy hier, Elia?” Hy het geantwoord: “Ek het my met hart en siel gewy aan u saak, Here, Almagtige God. Die Israeliete het die verbond met U verbreek. Hulle het u altare afgebreek en u profete doodgemaak. Net ek het oorgebly, en hulle soek my om my ook om die lewe te bring.” Maar die Here sê vir hom: “Draai in jou spore om na die Damaskuswoestyn toe, en as jy daar aangekom het, moet jy vir Gasael salf tot koning van Aram.

1 KONINGS 19:8-15 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)

Hy het toe opgestaan, geëet en gedrink. Met die krag van daardie voedsel het hy veertig dae en veertig nagte geloop, tot by Horeb, die berg van God. Daar het hy in 'n grot ingegaan en daar oornag. En kyk, die woord van die HERE het tot hom gekom. Hy het vir hom gesê: “Wat maak jy hier, Elia?” Hy het geantwoord: “Ek het my volle ywer getoon vir die HERE, die God van alle magte, want die Israeliete het u verbond verlaat, u altare het hulle afgebreek en u profete met die swaard om die lewe gebring. Ek alleen het oorgebly, en hulle soek my lewe om dit te neem. ” Maar Hy sê: “Gaan uit en staan op die berg voor die HERE. Kyk, die HERE sal weldra verbygaan.” Daar was 'n geweldige sterk wind wat die berge geskeur het, wat die rotse verbrysel het voor die HERE; in die wind was die HERE nie. Ná die wind was daar 'n aardbewing; in die aardbewing was die HERE nie. Ná die aardbewing was daar vuur; in die vuur was die HERE nie. Ná die vuur was daar 'n sagte gesuis. Toe Elia dit hoor, het hy dadelik sy gesig met sy mantel bedek. Hy het uitgegaan en by die ingang van die grot gaan staan. Meteens was daar 'n stem wat vir hom vra: “Wat maak jy hier, Elia?” Hy het geantwoord: “Ek het my volle ywer getoon vir die HERE, die God van alle magte, want die Israeliete het u verbond verlaat, u altare het hulle afgebreek en u profete met die swaard om die lewe gebring. Ek alleen het oorgebly, en hulle soek my lewe om dit te neem.” Toe sê die HERE vir hom: “Gaan terug op jou pad deur die woestyn, na Damaskus. Wanneer jy daar aankom, moet jy Gasael as koning salf oor Aram.

1 KONINGS 19:8-15 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)

En hy het opgestaan en geëet en gedrink en met die krag van daardie spys veertig dae en veertig nagte na Horeb, die berg van God, gegaan. En hy het daar in 'n spelonk gekom en daar vernag; en kyk, die woord van die HERE het tot hom gekom, en Hy sê vir hom: Wat maak jy hier, Elia? Toe sê hy: Ek was baie jaloers op die HERE, die God van die leërskare, want die kinders van Israel het u verbond verlaat, u altare afgebreek en u profete met die swaard gedood; en ek alleen het oorgebly; en hulle soek my lewe, om dit weg te neem. En hy sê: Gaan uit en staan op die berg voor die aangesig van die HERE. En kyk, die HERE het verbygegaan, en 'n groot en sterk wind het die berge verskeur en die rotse voor die aangesig van die HERE verpletter; maar die HERE was nie in die wind nie, en ná die wind 'n aardbewing; maar die HERE was nie in die aardbewing nie. En ná die aardbewing 'n vuur; maar die HERE was nie in die vuur nie, en ná die vuur 'n sagte stemmetjie. En toe Elia dit hoor, het hy sy gesig in sy mantel toegedraai en uitgegaan en by die ingang van die spelonk gaan staan. En kyk, daar het 'n stem na hom gekom en gesê: Wat maak jy hier, Elia? En hy sê: Ek was baie jaloers op die HERE, die God van die leërskare, omdat die kinders van Israel u verbond verlaat het, u altare afgebreek en u profete met die swaard gedood het; en ek alleen het oorgebly; en hulle soek my lewe, om dit weg te neem. En die HERE het vir hom gesê: Gaan, keer terug na die woestyn van Damaskus; en as jy kom, salf Hásael as koning oor Aram.

1 KONINGS 19:8-15 DB (Die Boodskap)

Elia het alles geëet en gedrink en dit het hom krag gegee om 40 dae lank na Horeb, die berg van die Here, te stap. By Horeb het Elia die eerste nag in ’n spelonk gebly. Diep in die nag het die Here met hom gepraat: “Elia, wat presies maak jy hier?” Elia het geantwoord: “Here, U is die enigste ware God. My lewe lank dien ek met groot ywer net vir U. Israel het egter die rug vir U gedraai. Hulle het die altare vernietig waar U aanbid word en al u profete vermoor. Ek is die enigste een wat oorgebly het. Maar nou wil hulle my ook doodmaak. Dis hoekom ek besluit het om te vlug.” “Gaan buitentoe,” het die Here gesê, “en gaan staan op die berg voor die Here.” Toe het ’n geweldige sterk wind gewaai wat die berge geskeur en al die rotse uitmekaargebreek het. Die Here was egter nie in die wind nie. Na die wind was daar skielik ’n groot aardbewing, maar die Here was ook nie in die aardbewing nie. Net na die aardbewing was daar ’n verskriklike vuur, maar die Here was ook nie in die vuur nie. Na die vuur was daar ’n groot stilte en iets soos ’n stem wat fluister. Toe Elia dit hoor, het hy sy kleed om sy gesig gedraai en in die ingang van die spelonk gaan staan. ’n Stem het hom gevra: “Elia, wat maak jy hier?” Hy het geantwoord: “Here, U ken my. My hele lewe lank dien ek met groot ywer nog net vir U. Israel het egter die rug vir U gedraai. Hulle het die altare waar U aanbid word, vernietig en al u profete vermoor. Nog net ek het oorgebly en nou soek hulle my lewe ook. Dit is waarom ek besluit het om te vlug.” “Gaan terug,” het die Here vir Elia gesê. “Op pad moet jy deur die woestyn tot by Damaskus gaan en daar moet jy vir Gasael as die nuwe koning van Aram aanwys.

1 KONINGS 19:8-15 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)

Hy het toe opgestaan, geëet en gedrink. Die kos het hom genoeg krag gegee sodat hy 40 dae en 40 nagte lank tot by Horeb, die berg van God, kon loop. Daar het hy by ’n grot ingegaan en die nag daar deurgebring. HERE Maar die HERE het met hom gepraat: “Wat maak jy hier, Elia?” Elia antwoord: “Ek het U met toewyding gedien, HERE God Almagtig. Maar die Israeliete het die verbond met U verbreek, u altare afgebreek en u profete doodgemaak. Net ek alleen het oorgebly, en nou probeer hulle my ook doodmaak.” “Kom buitekant toe en gaan staan voor My by die berg,” sê die HERE vir hom. Terwyl Elia daar staan, het die HERE by hom verbygegaan en ’n geweldige rukwind het die berg uitmekaargeruk en die rotse gebreek voor die HERE. Tog was die HERE nie in die wind nie. Na die wind was daar ’n aardbewing, maar die HERE was nie in die aardbewing nie. Na die aardbewing was daar ’n vuur, maar die HERE was nie in die vuur nie. Na die vuur was daar die geluid van ’n sagte gesuis. Toe Elia dit hoor, het hy sy gesig met sy mantel toegemaak. Hy het by die ingang van die grot gaan staan. ’n Stem het gesê: “Wat maak jy hier, Elia?” Hy het weer geantwoord: “Ek het U met toewyding gedien, HERE God Almagtig. Maar die Israeliete het die verbond met U verbreek, u altare afgebreek en al u profete doodgemaak. Net ek alleen het oorgebly, en nou probeer hulle my ook doodmaak.” Toe sê die HERE vir hom: “Draai net hier om en gaan na die woestyn van Damaskus. Wanneer jy daar aankom, moet jy Gasael salf tot koning van Aram.