1 KONINGS 18:41-46
1 KONINGS 18:41-46 Bybel vir almal (ABA)
Toe het Elia vir Agab gesê: “Jy moet gaan eet, want ek hoor al klaar hoe val die reën.” Agab het gaan eet, en Elia het tot bo-op Karmel-berg geklim. Daar het hy gebuig tot teen die grond en hy het sy kop tussen sy knieë gesit. Hy het vir die jongman by hom gesê: “Gaan asseblief op en gaan kyk na die see.” Die jongman het hoër opgegaan en gekyk en gesê: “Daar is niks.” Elia het gesê die jongman moet weer gaan kyk, sewe maal. En toe die jongman dit die sewende maal gedoen het, het hy kom sê: “Daar kom 'n klein wolkie op uit die see, die wolkie is so groot soos 'n man se hand.” Toe sê Elia: “Gaan sê vir Agab hy moet sy perde inspan en afgaan. As hy dit nie doen nie, dan sal die reën hom keer en hy sal nie kan wegkom nie.” Terwyl Elia gepraat het, het die lug swart geword van die wolke en daar was wind en baie reën. Agab het op sy wa geklim en hy het na die stad Jisreël gegaan. Maar die Here het vir Elia sterk gemaak. Elia het sy klere vasgebind en hy het voor Agab gehardloop tot by Jisreël.
1 KONINGS 18:41-46 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Toe sê Elía vir Agab: Trek op, eet en drink, want hoor, die gedruis van die reën! En Agab het opgetrek om te eet en te drink; maar Elía het op die top van die Karmel geklim en hom op die grond neergebuig en sy aangesig tussen sy knieë gesteek. Daarop sê hy vir sy dienaar: Klim tog op, kyk uit na die see. En hy het opgeklim en uitgekyk en geroep: Daar is niks nie. Toe sê hy: Gaan weer — sewe maal. En die sewende maal roep hy: Daar gaan 'n wolkie soos 'n man se hand op uit die see. Toe sê hy: Gaan op, sê vir Agab: Span in en trek af, dat die reën jou nie terughou nie. En in 'n oogwink was die hemel swart van wolke en wind, en 'n groot reën het gekom; en Agab het op die wa geklim en weggetrek na Jísreël; maar die hand van die HERE was oor Elía, sodat hy sy heupe omgord en voor Agab uit geloop het in die rigting na Jísreël.
1 KONINGS 18:41-46 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daarna sê Elia vir Agab: “Gaan eet eers, want ek hoor al die gedruis van die reën.” Agab het toe gaan eet, maar Elia het na die top van Karmelberg toe opgeklim en terwyl hy daar na die aarde toe buig met sy kop tussen sy knieë, sê hy vir sy slaaf: “Gaan kyk in die rigting van die see!” Hy gaan kyk toe, en kom sê: “Daar is niks.” Elia het vir hom gesê: “Gaan kyk weer.” Dit het sewe keer gebeur. Na die sewende keer het hy kom sê: “'n Wolkie so groot soos 'n man se hand kom uit die see uit op.” Elia sê toe: “Gaan sê gou vir Agab: Span in en gaan van die berg af, anders sal die reën jou vaskeer.” Toe hulle nog praat, het die lug donker geword van die onweerswolke; die wind het opgekom en groot reëns het uitgesak. Agab het op sy wa geklim en na Jisreël toe gery. Die mag van die Here het vir Elia in besit geneem, en hy het sy mantel opgebind en voor Agab se wa uit gehardloop tot waar die pad uitdraai na Jisreël toe.
1 KONINGS 18:41-46 Die Boodskap (DB)
Elia het toe vir Agab gesê: “Meneer, u kan maar huis toe gaan en solank begin feesvier, want ek hoor al die plofgeluid van ’n stortreën.” Terwyl Agab feesvier, het Elia na die bopunt van die berg Karmel toe gestap. Daar het hy neergebuig en sy kop tussen sy knieë gesit. Elia het vir sy helper gesê: “Klim nog hoër en kyk na die see se kant toe.” Die helper het teruggekom en gesê: “Ek sien niks nie.” Elia het sewe keer vir hom gesê om te gaan kyk. Toe hy die sewende keer weer gaan kyk, het hy iets gesien. “Meneer,” het hy gesê, “ek sien ’n wolkie so groot soos ’n man se hand. Dit kom van die see se kant af.” Elia het vir hom gesê: “Gaan sê gou vir die koning hy moet vinnig huis toe ry anders gaan hy natreën.” Skielik was die hemel vol swart wolke en ’n groot donderstorm het losgebars. Agab is net betyds in sy wa terug Jisreël toe. Die Here het Elia wonderlike krag gegee sodat hy sy lang kleed om sy heupe vasgebind het en tot by die afdraaipad na Jisreël toe voor Agab se wa uit gehardloop het.
1 KONINGS 18:41-46 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Elia sê toe vir Agab: “Gaan eet en drink, want ek hoor die gedruis van groot reën!” Agab het toe gaan eet en drink, maar Elia het tot op die top van Karmelberg geklim. Daar het hy met sy kop tussen sy knieë op die grond neergebuig. Hy sê toe vir sy dienaar: “Gaan kyk uit oor die see.” Die dienaar het gekyk, na Elia toe teruggekom en gesê: “Ek sien niks nie.” Elia sê vir hom: “Gaan kyk weer!” Sewe keer het Elia hom gestuur. Die sewende keer kom sê die dienaar: “Ek sien ’n klein wolkie so groot soos ’n man se hand wat uit die see opkom.” Toe sê Elia: “Maak gou! Gaan sê vir Agab: ‘Span jou wa in en gaan af na jou huis toe anders sal die reën jou vaskeer!’” Spoedig was die lug donker van onweerswolke. ’n Sterk wind het ’n groot reënstorm gebring. Agab het dadelik na Jisreël toe vertrek. Die HERE het Elia krag gegee. Hy het sy gordel vasgemaak en toe voor Agab se wa uit gehardloop tot by Jisreël.