1 KONINGS 15:25-34
1 KONINGS 15:25-34 Bybel vir almal (ABA)
Nadab seun van Jerobeam het koning van Israel geword in die tweede jaar nadat Asa koning van Juda geword het. Nadab was twee jaar lank koning van Israel. Hy het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie. Sy pa Jerobeam het die mense van Israel sonde laat doen, en Nadab het dieselfde gedoen, hy het dieselfde sondes gedoen wat sy pa gedoen het. Nadab en al die manne van Israel het die stad Gibbeton aangeval van al die kante. Die stad was in die land van die Filistyne. Baesa seun van Agija van die Issaskar-stam het saam met ander mense 'n plan gemaak teen Nadab, en hulle het hom doodgemaak. Dit was in die derde jaar nadat Asa koning van Juda geword het. Baesa het toe die koning van Israel geword ná Nadab. Nadat Baesa koning geword het, het hy begin om almal in die koningshuis van Jerobeam dood te maak. Hy het niemand van Jerobeam se nageslag laat aanhou lewe nie. Dit alles het gebeur soos die Here voorheen vir sy dienaar Agija van Silo gesê het om vir die mense te sê. Dit het gebeur omdat Jerobeam daardie sondes gedoen het en omdat hy die mense van Israel sonde laat doen het. Jerobeam het die Here, die God van Israel, kwaad gemaak. Al die ander dinge wat Nadab gedoen het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Israel. Daar was altyd oorlog tussen Asa en koning Baesa van Israel. Baesa seun van Agija het koning van Israel geword in die derde jaar nadat Asa koning van Juda geword het. Baesa was 24 jaar lank koning in Tirsa. Hy het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie. Hy het gedoen wat Jerobeam gedoen het. Jerobeam het die mense van Israel sonde laat doen, en Baesa het nou dieselfde sondes gedoen.
1 KONINGS 15:25-34 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN Nadab, die seun van Jeróbeam, het koning geword oor Israel in die tweede jaar van Asa, die koning van Juda, en hy het twee jaar oor Israel geregeer. En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE, en gewandel in die weg van sy vader en in sy sonde waarmee hy Israel laat sondig het. Maar Baésa, die seun van Ahía, van die huis van Íssaskar, het 'n sameswering teen hom gesmee, en Baésa het hom verslaan by Gíbbeton wat aan die Filistyne behoort, terwyl Nadab en die hele Israel besig was om Gíbbeton te beleër. So het Baésa hom dan gedood in die derde jaar van Asa, die koning van Juda, en koning geword in sy plek. En sodra hy koning was, het hy die hele huis van Jeróbeam omgebring; hy het van Jeróbeam niks laat oorbly wat asemhaal nie, totdat hy hom verdelg het, volgens die woord van die HERE wat Hy gespreek het deur die diens van sy kneg Ahía, die Siloniet — vanweë die sondes van Jeróbeam wat hy gedoen en waarmee hy Israel laat sondig het, deur sy geterg waarmee hy die HERE, die God van Israel, geterg het. En die verdere geskiedenis van Nadab en alles wat hy gedoen het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel nie? En daar was oorlog tussen Asa en Baésa, die koning van Israel, al hulle dae. In die derde jaar van Asa, die koning van Juda, het Baésa, die seun van Ahía, oor die hele Israel koning geword in Tirsa, vier-en-twintig jaar lank. En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE en gewandel in die weg van Jeróbeam en in sy sonde waarmee hy Israel laat sondig het.
1 KONINGS 15:25-34 Afrikaans 1983 (AFR83)
In die tweede regeringsjaar van koning Asa van Juda het Nadab seun van Jerobeam koning geword oor Israel. Hy het twee jaar oor Israel geregeer. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy het die pad van sy pa geloop en dieselfde sonde gedoen as dié waarmee sy pa vir Israel laat sondig het. Baesa seun van Agija uit die nageslag van Issaskar het 'n sameswering teen hom gesmee. Terwyl Nadab en die hele Israel die Filistynse stad Gibbeton beleër het, het Baesa hom daar om die lewe gebring. Baesa het hom vermoor in die derde regeringsjaar van koning Asa van Juda en het hom as koning opgevolg. Dadelik nadat Baesa koning geword het, het hy die hele familie van Jerobeam uitgeroei. Hy het nie een lewend laat oorbly nie, maar hulle almal omgebring. Dit was in ooreenstemming met wat die Here deur sy dienaar Agija van Silo gesê het. Dit was die gevolg van die sondes wat Jerobeam gedoen het en wat hy Israel laat doen het. Daardeur het hy die Here die God van Israel uitgetart. Die ander verhale oor Nadab en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in die annale van die konings van Israel. Daar was deurentyd oorlog tussen Asa en koning Baesa van Israel. Baesa seun van Agija het koning geword oor die hele Israel in die derde regeringsjaar van koning Asa van Juda en vier en twintig jaar in Tirsa geregeer. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hy het die pad van Jerobeam geloop en dieselfde sonde gedoen as dié waarmee Jerobeam vir Israel laat sondig het.
1 KONINGS 15:25-34 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Nadab, seun van Jerobeam, het koning geword oor Israel in die tweede regeringsjaar van Asa, koning van Juda. Hy het vir twee jaar as koning geheers oor Israel. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die HERE. Hy het die pad van sy vader gevolg en het volhard met sy vader se sonde waarmee hy Israel laat sondig het. Baesa, seun van Agija, van die huis van Issaskar, het 'n komplot teen hom gesmee. Baesa het hom neergevel by Gibbeton, wat aan die Filistyne behoort. Nadab en die hele Israel was besig om Gibbeton te beleër. Baesa het hom doodgemaak in die derde regeringsjaar van Asa, koning van Juda, en in sy plek koning geword. Pas nadat hy koning geword het, het hy die hele huis van Jerobeam laat ombring. Hy het vir Jerobeam niemand wat asemhaal, laat oorbly nie, totdat hy Jerobeam uitgeroei het. Dit was ooreenkomstig die woord van die HERE wat Hy gespreek het by monde van Agija, die man van Silo, sy dienskneg, oor die sondes van Jerobeam wat hy gedoen het en waarmee hy Israel laat sondig het, deur sy uittartende houding waarmee hy die HERE, die God van Israel getart het. Die verdere geskiedenis van Nadab, alles wat hy gedoen het, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Israel nie? Daar was voortdurend oorlog tussen Asa en Baesa, koning van Israel. In die derde regeringsjaar van Asa, koning van Juda, het Baesa, seun van Agija, koning geword oor die hele Israel in Tirsa, vier-en-twintig jaar lank. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die HERE. Hy het die pad van Jerobeam gevolg en het volhard met Jerobeam se sonde waarmee hy Israel laat sondig het.
1 KONINGS 15:25-34 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En Nadab, die seun van Jeróbeam, het oor Israel begin regeer in die tweede jaar van Asa, die koning van Juda, en twee jaar lank oor Israel geregeer. En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE en gewandel in die weg van sy vader en in sy sonde waarmee hy Israel laat sondig het. En Baésa, die seun van Ahía, van die huis van Issaskar, het teen hom 'n sameswering gemaak; en Baésa het hom verslaan by Gibbeton, wat aan die Filistyne behoort het; want Nadab en die hele Israel het Gibbeton beleër. Selfs in die derde jaar van Asa, die koning van Juda, het Baesa hom gedood en in sy plek geregeer. En toe hy koning geword het, het hy die hele huis van Jeróbeam verslaan; hy het niemand wat asemhaal aan Jeróbeam oorgelaat nie, totdat hy hom verdelg het, volgens die woord van die HERE wat Hy gespreek het deur sy dienaar Ahía, die Siloniet. Vanweë die sondes van Jeróbeam wat hy gedoen het en wat hy Israel laat sondig het, deur sy ergernis waarmee hy die HERE, die God van Israel, ter toorn gemaak het. En die verdere geskiedenis van Nadab en alles wat hy gedoen het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel nie? En daar was oorlog tussen Asa en Baesa, die koning van Israel, al hulle dae. In die derde jaar van Asa, die koning van Juda, het Baesa, die seun van Ahía, koning geword oor die hele Israel in Tirsa, vier en twintig jaar. En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE en gewandel in die weg van Jeróbeam en in sy sonde waarmee hy Israel laat sondig het.
1 KONINGS 15:25-34 Die Boodskap (DB)
In die tweede jaar van Asa van Juda se regering het Nadab koning van Israel geword. Nadab het net twee jaar regeer. Nadab het baie verkeerde dinge gedoen. Hy het sy pa se voorbeeld gevolg. Baesa, ’n seun van Agija uit die stam van Issaskar, het ’n komplot teen Nadab gesmee om hom uit die weg te ruim. Terwyl Nadab op ’n keer vir Gibbeton, ’n stad in die Filistynse gebied, beleër het, het Baesa hom oorval en vermoor. Dit het gedurende die derde jaar van koning Asa van Juda se regering gebeur. Baesa het in die plek van Nadab koning van Israel geword. Baesa het dadelik Jerobeam se familie stelselmatig begin uitmoor. Dit het natuurlik gebeur soos die Here ’n paar jaar tevore al deur sy profeet Agija van Silo voorspel het. Die hele Jerobeamfamilie is uitgewis. Nie een het oorgebly nie. Alles wat Nadab gedoen het, is in die boek Die lewe en werk van al Israel se konings geskryf. Tussen Asa van Juda en Baesa van Israel was daar gedurig oorlog. In die derde jaar van koning Asa van Juda se regering het Baesa, ’n seun van Agija uit Issaskar, koning van Israel geword. Hy het 24 jaar lank in Tirsa regeer. Soos koning Jerobeam voor hom het Baesa net verkeerd gedoen en het hy Israel die verderf in gelei.
1 KONINGS 15:25-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Nadab seun van Jerobeam het in die tweede regeringsjaar van koning Asa in Juda koning oor Israel geword. Hy het twee jaar oor Israel regeer. Hy het gedoen wat verkeerd was vir die HERE. Hy het die voorbeeld van sy pa gevolg en Israel dieselfde sonde laat doen. Baesa seun van Agija uit die stam Issaskar, het saamgesweer teen Nadab en hom vermoor terwyl hy en die leër van Israel die Filistynse dorp Gibbeton beleër het. Baesa het hom in die derde regeringsjaar van koning Asa van Juda vermoor en het koning van Israel geword. Hy het onmiddellik al die nasate van koning Jerobeam uitgemoor. Nie een van die koninklike familie het oorgebly nie. Dit was presies wat die HERE deur die profeet Agija uit Silo oor Jerobeam gesê het. Dit het gebeur omdat Jerobeam die HERE die God van Israel uitgetart het met die sondes wat hy gedoen het en daardeur Israel ook laat sondig het. Die ander gebeurtenisse tydens Nadab se regering en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Israel. Daar was voortdurend oorlog tussen Asa en koning Baesa van Israel. Baesa het in die derde regeringsjaar van koning Asa van Juda koning oor die hele Israel geword. Baesa het 24 jaar in Tirsa regeer. Hy het gedoen wat vir die HERE verkeerd was. Hy het die voorbeeld van Jerobeam nagevolg deur dieselfde sonde te doen waarmee Jerobeam vir Israel laat sondig het.