1 KORINTIËRS 6:12-20
1 KORINTIËRS 6:12-20 Bybel vir almal (ABA)
Ek weet julle sê 'n mens mag alles doen. Maar julle moet onthou: Alles is nie goed vir 'n mens nie. Julle sê 'n mens mag alles doen, maar ek sê jy mag nie iets so belangrik laat word dat dit oor jou regeer nie. Julle sê ook kos moet na 'n mens se maag gaan, en die maag moet kos kry. Maar julle moet onthou: Die kos en 'n mens se maag behoort altwee aan God. God sal dit vir ons wys wanneer Hy eendag kom en besluit dat die maag en kos nie meer nodig is nie. Dit is dieselfde met 'n mens se liggaam: Die Here het ons liggame gemaak, nie om onsedelik te lewe nie, maar om Hom te dien. Ons liggame behoort aan die Here. God het die Here Jesus weer laat lewe, en so sal God ons ook eendag weer laat lewe, Hy sal dit doen met sy krag. Julle moet weet ons liggame behoort aan Christus. Daarom mag julle liggame nie ook aan 'n prostituut behoort nie. Julle weet almal dat wanneer 'n mens seks het met 'n prostituut, dan word jou liggaam en haar liggaam saam één liggaam. Want in die Ou Testament is geskryf: Hulle twee sal soos een mens wees. Maar as 'n mens saam met die Here lewe, dan is jou gees en sy Gees een. Julle moenie onsedelik lewe nie. Al die ander sondes wat 'n mens doen, doen hy nie aan sy liggaam nie, maar wanneer hy onsedelik lewe, dan is dit 'n sonde wat hy aan sy eie liggaam doen. Julle moet weet dat 'n mens se liggaam 'n tempel van die Heilige Gees is. God het sy Gees vir julle gegee om in julle te woon. Daarom behoort julle nie aan julleself nie. God het duur betaal toe Hy julle gekoop het vir Hom. Daarom moet julle vir God prys met julle liggame.
1 KORINTIËRS 6:12-20 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
ALLES is my geoorloof, maar nie alles is nuttig nie; alles is my geoorloof, maar ek sal my nie deur iets laat oorheers nie. Die voedsel is vir die maag, en die maag is vir die voedsel, maar God sal die een sowel as die ander tot niet maak. En die liggaam is nie vir hoerery nie, maar vir die Here; en die Here vir die liggaam. En God het ook die Here opgewek en sal ons opwek deur sy krag. Weet julle nie dat julle liggame lede van Christus is nie? Sal ek dan die lede van Christus neem en dit lede van 'n hoer maak? Nee, stellig nie! Of weet julle nie dat hy wat 'n hoer aanhang, met haar een liggaam is nie? Want die twee, sê Hy, sal een vlees wees. Maar wie die Here aanhang, is een gees met Hom. Vlug vir die hoerery. Enige sonde wat 'n mens doen, is buite die liggaam; maar wie hoerery bedryf, sondig teen sy eie liggaam. Of weet julle nie dat julle liggaam 'n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.
1 KORINTIËRS 6:12-20 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daar is mense wat sê: “Alles is my geoorloof.” Ja, maar nie alles is heilsaam nie. “Alles is my geoorloof,” sê hulle. Ja, maar ek gaan my nie deur enigiets laat verslaaf nie. Hulle sê ook: “Kos is vir die maag, en die maag vir kos.” Goed, maar God sal die een sowel as die ander tot niet maak. 'n Mens se liggaam is nie bedoel vir seksuele losbandigheid nie, maar is daar vir die Here, wat ook oor ons liggaam Here is. God het deur sy krag die Here uit die dood opgewek en so sal Hy ons ook opwek. Weet julle nie dat julle liggaam deel is van Christus nie? Sal ek nou 'n deel van Christus neem en dit 'n deel van 'n ontugtige vrou maak? Beslis nie! Of weet julle nie dat iemand wat met 'n ontugtige vrou omgang het, liggaamlik een met haar is nie? God sê immers: “Die twee sal een word.” Maar wie hom met die Here verenig, is geestelik een met Hom. Julle moet niks met seksuele losbandigheid te doen hê nie. Elke ander sonde wat 'n mens doen, vind buite sy liggaam plaas, maar iemand wat seksueel losbandig lewe, vergryp hom aan sy eie liggaam. Of besef julle nie dat julle liggaam 'n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik.
1 KORINTIËRS 6:12-20 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Alles is my geoorloof,” maar nie alles is voordelig nie. “Alles is my geoorloof,” maar ek sal my deur niks laat oorheers nie. “Kos is vir die maag en die maag vir kos,” maar God sal die een en ook die ander vernietig. Die liggaam is tog nie daar vir onsedelikheid nie, maar vir die Here, en die Here vir die liggaam. Deur sy krag het God die Here opgewek, en sal Hy ons ook opwek. Weet julle nie dat julle liggame ledemate van •Christus is nie? Sal ek dan die ledemate van Christus neem en deel maak van 'n prostituut? Beslis nie! Of weet julle nie dat iemand wat met 'n prostituut gemeenskap het, een liggaam met haar word nie? Daar staan immers: “Die twee sal een liggaam wees.” Maar die persoon wat homself aan die Here verbind, is een gees met Hom. Vlug weg van onsedelikheid. Elke sonde wat 'n mens doen, is buite sy liggaam, maar iemand wat seksueel losbandig optree, sondig teen sy eie liggaam. Of weet julle nie dat julle liggaam, wat julle van God ontvang het, 'n tempel is van die Heilige Gees in julle, en dat julle nie aan julleself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan met julle liggaam.
1 KORINTIËRS 6:12-20 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Alles is my geoorloof, maar alles is nie nuttig nie; alles is my geoorloof, maar ek sal nie onder die mag van iemand gebring word nie. Vleis vir die maag en die maag vir vleis, maar God sal dit sowel as hulle vernietig. Nou is die liggaam nie vir hoerery nie, maar vir die Here; en die Here vir die liggaam. En God het ook die Here opgewek en sal ons ook deur sy eie krag opwek. Weet julle nie dat julle liggame lede van Christus is nie? sal ek dan die lede van Christus neem en hulle lede van 'n hoer maak? Die Here behoed. Wat? Weet julle nie dat hy wat 'n hoer aanhang, een liggaam is nie? want twee, sê Hy, sal een vlees wees. Maar hy wat aan die Here verbonde is, is een gees. Vlug die hoerery. Elke sonde wat 'n mens doen, is sonder die liggaam; maar hy wat hoereer, sondig teen sy eie liggaam. Wat? Weet julle nie dat julle liggaam die tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julleself behoort nie? Want julle is duur gekoop; verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.
1 KORINTIËRS 6:12-20 Die Boodskap (DB)
’n Mens kan redeneer: “Ek mag enigiets doen.” Maar al mag jy volgens die reëls iets doen, beteken dit nie dat dit vir jou geestelik goed is nie. Ek kan sê: “Ek mag enigiets doen,” maar dit beteken glad nie dat ek myself in ernstige moeilikheid gaan laat beland nie. Julle weet wat mense sê: “Eers eet jy om te leef en dan leef jy om te eet.” Vir God maak dit nie saak nie, want dit is nie wat belangrik is nie. Nie kos of die maag sal vir ewig hou nie. Vir een ding is ons liggaam nie bedoel nie en dit is om net instrumente vir seks te wees. Ons het ’n liggaam om die Here mee te dien en die Here sorg op sy beurt vir ons liggaam. God sal ons dooie liggaam eendag weer lewendig maak. Hy het gewys dat Hy sterk genoeg is om dit te doen toe Hy die Here weer lewendig gemaak het. Besef julle nie dat julle liggaam vir Jesus soos sy eie is nie? Sal ek dan die liggaam wat vir Jesus soos sy eie is, vat en by allerhande slegte vroue daarmee gaan slaap? Nooit aste nimmer nie. Iemand wat by ’n slegte vrou slaap, word eintlik self soos daardie slegte vrou - ’n mens sou kon sê dat hulle soos een mens word. Hulle sê mos: “As twee saamslaap, word hulle eintlik soos een mens.” Dit is op geestelike gebied ook waar. As ’n mens jouself vir die Here gee, word julle twee ook soos een. Dit gebeur natuurlik nie liggaamlik nie, maar geestelik. Maak dat julle wegkom van verkeerde seksuele dinge af. Bly daarvan weg. Allerhande ander sondes raak nie jou liggaam so direk nie. Maar as jy op seksuele gebied verkeerde dinge begin doen, is jou liggaam direk daarby betrokke. Die verkeerde dinge gebeur nie daar ver nie, maar in en met jou liggaam. Het julle dan vergeet dat julle liggaam die blyplek van die Heilige Gees self is? Die Gees bly mos in julle; God self het die Gees vir julle gegee. Dit beteken dat julle nie julle eie baas is nie en dat julle nie maar met julle liggaam kan doen wat julle wil nie. Die Here het baie duur betaal om julle Syne te maak. God moet dus ook trots kan wees op julle liggaam - daarvoor moet julle sorg deur die manier waarop julle julle gedra.
1 KORINTIËRS 6:12-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Jy kan dalk sê: “Ek mag nou enigiets doen.” Maar ek sal daarop antwoord: “Nie alles is vir jou goed nie. Selfs al sê jy ‘ek mag enigiets doen’, mag ek my nie deur enigiets laat verslaaf nie.” Jy sê: “Kos is vir die maag en die maag is vir kos.” Dis waar, maar God sal eendag albei hierdie dinge tot niet maak. Ons liggame is nie bedoel vir seksuele losbandigheid nie. Hulle is daar vir die Here, net soos die Here sorg dra vir ons liggame. God sal ons deur sy wonderlike krag opwek, net soos Hy ons Here opgewek het. Besef julle nie dat ons liggame deel is van Christus nie? Sal ’n mens dan jou liggaam wat aan Christus behoort, met ’n prostituut verenig? Dit kan tog nie! Of dink julle nie daaraan dat iemand wat homself aan ’n prostituut verbind, liggaamlik met haar een word nie? Die Skrif sê tog: “Die twee sal tot een liggaam verenig word.” Daarteenoor word dié wat hulle aan die Here verbind, geestelik met Hom een. Vlug dus weg van seksuele losbandigheid. Geen ander sonde beïnvloed ’n mens se liggaam so direk soos hierdie een nie. Want as jy seksuele losbandigheid bedryf, sondig jy teen jou eie liggaam. Of verstaan julle nie dat julle liggame ’n tempel van die Heilige Gees is wat in julle woon en deur God aan julle gegee is nie? Julle behoort nie aan julleself nie, want julle is teen ’n duur prys gekoop. Daarom moet julle God met julle liggaam verheerlik.