1 KORINTIËRS 3:10-13
1 KORINTIËRS 3:10-13 Bybel vir almal (ABA)
God was genadig vir my. Hy het gesê ek mag die fondament bou. Toe het ek soos 'n goeie bouer die fondament gebou, en 'n ander bouer bou verder daarop. Elkeen moet goed kyk hoe hy daarop bou. Niemand kan 'n ander fondament bou nie, want daar is klaar 'n fondament. Hierdie fondament is Jesus Christus. 'n Mens kan op hierdie fondament bou met goud, silwer, edelstene, hout, gras of strooi. Wanneer die Here kom, dan sal almal kan sien waarmee elkeen gebou het, want op daardie dag sal daar ook vuur kom. Die vuur sal elkeen se bouwerk toets om te kyk of hy goed gebou het.
1 KORINTIËRS 3:10-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Volgens die genade van God wat aan my gegee is, het ek soos 'n bekwame boumeester die fondament gelê, en 'n ander bou daarop; maar elkeen moet oppas hoe hy daarop bou. Want niemand kan 'n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels — elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is.
1 KORINTIËRS 3:10-13 Afrikaans 1983 (AFR83)
Volgens die genade wat God my gegee het, het ek soos 'n goeie bouer die fondament gelê, en 'n ander bou daarop. Maar hy moet mooi kyk hoe hy verder bou, want niemand kan 'n ander fondament lê as wat reeds gelê is nie. Die fondament is Jesus Christus. Of dit goud, silwer, edelstene, hout, gras of strooi is waarmee iemand op die fondament bou, elkeen se werk sal aan die lig kom. Die dag wanneer Christus kom, sal dit duidelik word. Die dag kom met vuur, en die vuur sal die gehalte van elkeen se werk toets.
1 KORINTIËRS 3:10-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Volgens die genade deur God aan my gegee, het ek soos 'n bedrewe bouer 'n fondament gelê, en 'n ander bou daarop. Elkeen moet egter let op hoe hy daarop bou. Want niemand kan 'n ander fondament lê as wat reeds gelê is nie – dit is Jesus •Christus. Of iemand nou op die fondament bou met goud, silwer, kosbare stene, hout, gras of strooi – elkeen se werk sal duidelik word, want dié dag sal dit aan die lig bring. Deur vuur sal dit geopenbaar word, en die vuur sal die gehalte van elkeen se werk op die proef stel.
1 KORINTIËRS 3:10-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Volgens die genade van God wat aan my gegee is, het ek as 'n wyse boumeester die fondament gelê, en 'n ander bou daarop. Maar elkeen moet oppas hoe hy daarop bou. Want niemand kan 'n ander fondament lê as wat gelê is nie, dit is Jesus Christus. En as iemand op hierdie fondament bou goud, silwer, edelgesteentes, hout, hooi, stoppels; Elkeen se werk sal openbaar word, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur geopenbaar sal word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is.
1 KORINTIËRS 3:10-13 Die Boodskap (DB)
God was baie goed vir my en het my geleer om in julle gemeente te werk soos ’n bouer wat sy werk ken. Ek het die fondament stewig en goed gelê. Ander bouers werk nou verder aan die gebou. Elkeen wat daarná bou, moet egter doodseker maak dat hy behoorlik en reg bou. Daar kan net op een plek gebou word en dit is waar ek die fondament gelê het. Daardie fondament is Jesus Christus. Geestelike bouwerk op enige ander fondament help niks nie. Dit maak ook baie saak hoe en waarmee ’n mens op daardie fondament bou. Kyk mooi na die materiaal wat julle gebruik om te bou, want die Here gaan inspeksie kom hou. Julle sal dit nie vir Hom kan wegsteek as julle minderwaardige of afskeepmateriaal gebruik het om die gebou van sy gemeente te bou nie.
1 KORINTIËRS 3:10-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Op grond van die genade wat God aan my bewys het, het ek soos ’n meesterbouer die fondament gelê. Ander bou daarop voort. Maar elkeen wat op hierdie fondament bou, moet baie versigtig wees. Want niemand kan ’n ander fondament lê as die een wat alreeds gelê is nie – Jesus Christus. As enigiemand op daardie fondament bou, kan hy goud gebruik of silwer of edelstene of hout of hooi of stoppels. Daar kom egter ’n dag wanneer die kwaliteit van elkeen se werk aan die lig sal kom, want die vuurtoets sal dit bekendmaak. Dié vuurtoets sal elkeen se werk beproef – of dit standhou.