1 KORINTIËRS 3:1-3
1 KORINTIËRS 3:1-3 Bybel vir almal (ABA)
Vriende, ek kon nie met julle praat soos met geestelike mense nie. Ek het met julle gepraat soos met wêreldse mense, soos met klein kindertjies wat vir die eerste maal van Christus gehoor het. Ek het vir julle melk gegee soos vir klein kindertjies. Ek het nie vir julle grootmenskos gegee nie, want julle kon dit nie eet nie. Julle kan dit ook nou nog nie eet nie. Julle is nog wêreldse mense, want julle is jaloers op mekaar en julle twis met mekaar. Dit wys dat julle wêreldse mense is, julle doen wat die mense van die wêreld doen.
1 KORINTIËRS 3:1-3 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus. Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste spys nie, want julle was nog nie daartoe in staat nie, en julle is nou nog nie daartoe in staat nie, omdat julle nog vleeslik is; want aangesien daar onder julle jaloersheid en twis en tweedrag is, is julle nie vleeslik nie en wandel julle nie na die mens nie?
1 KORINTIËRS 3:1-3 Afrikaans 1983 (AFR83)
Broers, ek kon met julle nie praat soos met mense wat hulle deur die Gees van God laat lei nie; ek moes praat soos met wêreldse mense, soos met kindertjies in die geloof in Christus. Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste kos nie, want julle kon dit nog nie verteer nie. En julle kan dit ook nou nog nie verteer nie, want julle is nog wêreldse mense. Daar kom jaloesie en twis onder julle voor. Is dit nie omdat julle nog wêrelds is en julle wêrelds gedra nie?
1 KORINTIËRS 3:1-3 Die Boodskap (DB)
My vriende, ek kon nie met julle praat soos met mense wat die geestelike dinge van God verstaan en so leef nie. Ek moes sowaar met julle praat soos met mense wat glad nie bekommerd is oor wat God wil hê nie. Julle het net aan julleself gedink. Julle was net soos mense wat so pas Christene geword het en nog nie mooi weet wat Jesus van julle verwag nie. Geestelik was julle soos pap babatjies. Soos ’n pap babatjie net melk kan inkry, het julle net kans gesien vir die heel eenvoudigste geestelike boodskappe. Enigiets meer ingewikkeld was vir julle te veel. En nog steeds gaan dit so met julle, want julle stel net belang in julleself en julle menslike behoeftes. Kyk net na julle. Julle baklei soos kat en hond en gun mekaar niks nie. Bewys dit nie juis dat julle net aan julleself dink nie? Tree julle nie op soos mense wat eerder hulle eie belange as God se belange kies nie?
1 KORINTIËRS 3:1-3 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Broers en susters, toe ek by julle was, kon ek nie met julle praat soos met geestelik volwassenes nie. Ek moes met julle praat soos met mense wat nog wêrelds is, soos met kindertjies in die Christelike geloof. Ek moes julle met melk voed, nie met vaste kos nie, want julle sou nie iets sterkers kon verteer nie. Trouens, julle is ook nou nog nie gereed daarvoor nie, want julle word nog steeds deur wêreldse neigings beheer. Julle is jaloers op mekaar en maak rusie. Is dit nie ’n bewys dat julle nog deur wêreldse neigings oorheers word nie? Julle tree op soos mense wat nie aan die Here behoort nie.