1 KORINTIËRS 15:54-58
1 KORINTIËRS 15:54-58 Bybel vir almal (ABA)
Wanneer God dit alles gedoen het, wanneer Hy vir ons 'n liggaam gegee het wat nie stof kan word en wat nie kan sterf nie, dan sal die woorde waar word wat in die Ou Testament geskryf is: God het die dood heeltemal oorwin. Dood, dink jy dat jy altyd sal oorwin? Nee, jy sal nie. Dood, dink jy dat jy sal aanhou om mense te laat sterf soos wanneer bye mense doodsteek met hulle angels? Nee. Die dood kry sy angel van die sonde. En die sonde kry sy krag van die wette. Maar ons moet vir God dankie sê. Hy het ons laat oorwin omdat ons aan ons Here Jesus Christus behoort. My vriende, ek is baie lief vir julle. Ons Here Jesus Christus lewe weer, daarom moet julle aanhou glo. Julle moet ook nie verkeerde dinge glo nie. Julle moet hard werk vir die Here, want julle weet: As julle vir die Here werk, dan sal julle nooit jammer wees daaroor nie.
1 KORINTIËRS 15:54-58 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En wanneer hierdie verganklike met onverganklikheid beklee is en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee is, dan sal vervul word die woord wat geskrywe is: Die dood is verslind in die oorwinning. Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning? Die angel van die dood is die sonde, en die krag van die sonde is die wet. Maar God sy dank, wat ons die oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus. Daarom, my geliefde broeders, wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie.
1 KORINTIËRS 15:54-58 Afrikaans 1983 (AFR83)
En wanneer hierdie verganklike liggaam met die onverganklike beklee is, en hierdie sterflike liggaam met die onsterflike, dan sal die woord wat geskrywe staan, vervul word: “Die dood is vernietig, die oorwinning is behaal.” “Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?” Die angel van die dood is die sonde, en die sonde kry sy krag uit die wet van God. Maar ons dank God dat Hy aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus. Daarom, liewe broers, wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie.
1 KORINTIËRS 15:54-58 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
En wanneer hierdie verganklike met onverganklikheid en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee word, sal die woord wat geskryf staan, vervul word: “Die dood is verslind in oorwinning.” “Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?” Die angel van die dood is die sonde, en die krag van die sonde lê in die wet. Maar aan God die dank, wat aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus •Christus. Daarom, my geliefde broers, wees standvastig en onwrikbaar, en wy julle ten volle aan die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie vergeefs is nie.
1 KORINTIËRS 15:54-58 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Wanneer dan hierdie verganklike met onverganklikheid beklee is, en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee het, dan sal die woord wat geskrywe is, vervul word: Die dood is verslind in die oorwinning. O dood, waar is jou angel? O graf, waar is u oorwinning? Die angel van die dood is sonde; en die krag van die sonde is die wet. Maar God sy dank wat ons die oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus. Daarom, my geliefde broeders, wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid nie tevergeefs in die Here is nie.
1 KORINTIËRS 15:54-58 Die Boodskap (DB)
Wanneer dit alles gebeur, sal dit presies wees soos die Skrif gesê het dit gaan wees: “Die dood het nie meer enige krag of invloed nie. God het al die krag as oorwinnaar. “Daar is net mooi niks oor van die dood se mag nie. Sal die dood ons nog kan seermaak? Nee, vir seker nie.” Sonde is die oorsaak dat ons doodgaan. En ons kan nie stry dat ons in sonde vasgevang is nie omdat die wet van God so duidelik daar is en dit vir ons wys. Maar ons is anders; ons het baie waarvoor ons vir God baie dankie kan sê. Jesus Christus het gewen en omdat Hy gewen het, het God ons saam met Hom wenners gemaak. My liewe broers en susters, dit gee julle alle rede om julle nie ’n duim te laat wegbeweeg van dit waarin julle glo nie. Staan vas. As daar iets is wat julle vir die Here kan doen, doen dit en nog meer, maak nie saak wanneer en waar nie. Julle twyfel mos nie een oomblik daaraan dat wat julle vir die Here doen die moeite werd is nie.
1 KORINTIËRS 15:54-58 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Wanneer dit gebeur – wanneer ons verganklike aardse liggame in hemelse liggame omskep word wat nooit sal sterf nie – dan uiteindelik sal die Skrifwoord waar word: “Die dood is totaal uitgewis, want dit is heeltemal oorwin.” “O dood, waar is jou oorwinning? Dood, wat het van jou angel geword?” Want sonde is die angel wat die dood veroorsaak. En dit is die wet wat aan die sonde sy slaankrag gee. Aan God kom ons dank toe – Hy wat aan ons die oorwinning oor die sonde en die dood gee deur Jesus Christus ons Here! Dus, my geliefde broers en susters, staan baie vas, onbeweeglik. Gee altyd julle allerbeste vir die Here se werk, want julle weet voor die Here is alles wat julle doen die moeite werd.