1 KORINTIËRS 15:21-56

1 KORINTIËRS 15:21-56 Bybel vir almal (ABA)

'n Mens, Adam, het gesterf, en van toe af het almal in die wêreld gesterf. Maar nou het God 'n ander Mens, Christus, weer laat lewe, en daarom sal al die gelowiges wat gesterf het, ook weer lewe. Ons is almal die nageslag van Adam, daarom sterf ons almal. Maar ons behoort ook aan Christus, en daarom sal God ons ook almal weer laat lewe. Elkeen kry 'n beurt. Christus is die Eerste, God het vir Christus weer laat lewe. Later, wanneer Christus weer kom, sal die mense wat aan Hom behoort, ook weer begin lewe. Daarna sal die einde kom. Die einde is wanneer Christus alles waaroor Hy regeer, vir God die Vader gee, en wanneer Christus almal en alles sal oorwin wat oor die wêreld wil regeer. Want Christus moet regeer. Hy sal regeer totdat God Hom laat wen het teen al sy vyande. Die laaste vyand wat oorbly, is die dood. Maar Christus sal die dood ook oorwin. Ja, in die Ou Testament is geskryf: God het alles vir Hom gegee sodat Hy daaroor kan regeer. Maar wanneer God sê: “Christus moet oor alles regeer,” dan moet ons dit reg verstaan. Dit beteken nie dat Christus ook oor God regeer nie, want God is die Een wat alles vir Christus gegee het sodat Christus daaroor kan regeer. Wanneer God alles vir Christus gegee het sodat Christus daaroor kan regeer, dan sal Christus, die Seun, Homself ook vir God gee. Julle moet onthou, God is die Een wat alles vir Christus gegee het sodat Christus daaroor kan regeer. Daarom sal God aan die einde ook oor Christus regeer, en dan sal God oor alles en almal regeer. Daar is iets anders waaroor ons ook moet dink. Party mense laat hulle doop, en dan sê hulle dat hulle dit doen vir die mense wat gesterf het en wat hulleself nie kon laat doop nie. Maar hoekom doen hulle dit as die mense wat gesterf het, nie weer sal lewe nie? En ook, as die mense wat dood is, nie weer sal lewe nie, hoekom doen ons elke dag vir God dinge waaroor ander mense ons wil doodmaak? My vriende, daar is elke dag mense wat my wil doodmaak. Dit is waar, en dit is ook waar dat ek trots is op julle. Ek is trots op julle omdat Christus Jesus ons Here my werk by julle geseën het. Ek het in Efese geveg teen mense wat soos wilde diere was en wat my wou doodmaak. Het dit vir my gehelp? Nee, as die mense wat dood is, nie weer sal lewe nie, dan moes ek ook gesê het: Kom ons eet en drink, want môre sterf ons. Julle moenie verkeerd dink nie. Julle moet onthou wat die spreekwoord sê: As jy verkeerde maats het, dan word jy 'n slegte mens. Julle moet verander, julle moet ophou om sonde te doen. Party van julle dink verkeerd wanneer julle oor God dink. Ek sê dit omdat ek wil hê julle moet skaam word. Party mense vra: “Hoe sal dit wees wanneer die mense wat dood is, weer lewe? Hoe sal hulle liggame lyk?” Hoekom vra mense hierdie dom vrae? Kyk wat gebeur wanneer 'n mens saad plant. Die saad moet eers sterf voordat dit weer lewe. En wanneer 'n mens saad plant, dan lyk die saad nie soos die plant wat later begin groei nie. 'n Mens plant 'n koringkorrel of iets anders. Maar God gee vir die saad 'n plant of 'n liggaam soos Hy besluit het. Hy gee vir elke soort saad 'n ander liggaam. Al die plante of liggame lyk nie dieselfde nie. Daar is liggame van mense, liggame van diere, van voëls, en van visse. En daar is ook hemelse liggame, die son, die maan en die sterre, en daar is liggame van dinge op die aarde. Hemelse liggame is baie mooi, maar dit is anders mooi as die liggame op die aarde. Die son, die maan en die sterre is almal mooi, maar hulle is nie dieselfde nie. Ja, daar is baie sterre, en elke ster is mooi, maar hulle is nie dieselfde nie. So sal dit ook wees wanneer God die mense wat dood is, weer laat lewe. Die mense begrawe 'n liggaam soos hulle 'n koringkorrel in die grond plant, en die liggaam word stof, maar God laat 'n liggaam lewe wat nie stof kan word nie. Die mense begrawe 'n liggaam wat lelik is, maar God laat 'n liggaam lewe wat mooi is. Die mense begrawe 'n liggaam wat swak is, maar God laat 'n liggaam lewe wat sterk is. Die mense begrawe 'n liggaam wat nie alles kan doen wat God wil hê nie, maar God laat 'n liggaam lewe wat alles kan doen wat God wil hê. As daar 'n liggaam is wat nie alles kan doen wat God wil hê nie, dan moet daar ook 'n liggaam wees wat alles kan doen wat God wil hê. In die Ou Testament is geskryf: Adam, die eerste mens, het iemand geword wat lewe. Maar die laaste Adam, Christus, het iemand geword wat geestelike lewe gee. Julle moet onthou, die liggaam wat alles kan doen wat God wil hê, is nie eerste nie. Die liggaam wat nie alles kan doen wat God wil hê nie, is eerste, daarna kom die ander liggaam. God het die eerste mens gemaak van die stof van die aarde. Maar die tweede Mens kom uit die hemel. Die mense van stof is soos Adam, hy was die eerste mens van stof. Die mense van die hemel is soos Christus, Christus is die Mens uit die hemel. Nou is ons soos die mens van stof, maar eendag sal ons wees soos die Mens uit die hemel. Vriende, julle moet dit weet: Ons kan nie eendag wees daar waar God Koning is terwyl ons die liggame het wat ons nou het nie. Nee, 'n liggaam wat stof word, kan nie 'n liggaam word wat altyd sal lewe nie. Nou gaan ek iets vir julle vertel wat niemand voorheen geweet het nie. Ons sal nie almal sterf nie, maar God sal ons almal verander. Dit sal baie vinnig gebeur, so vinnig soos 'n mens jou oog knip. Dit sal gebeur wanneer die laaste trompet blaas. Die trompet sal blaas, en dan sal God die mense wat dood is, weer laat lewe. Hulle liggame sal nooit stof kan word nie. God sal ons ook verander, ons wat nog sal lewe wanneer Christus weer kom. Want hierdie liggaam kan stof word, maar God moet vir ons 'n ander liggaam gee wat nie stof kan word nie. Hierdie liggaam kan sterf, maar God moet vir ons 'n ander liggaam gee wat nie kan sterf nie. Wanneer God dit alles gedoen het, wanneer Hy vir ons 'n liggaam gegee het wat nie stof kan word en wat nie kan sterf nie, dan sal die woorde waar word wat in die Ou Testament geskryf is: God het die dood heeltemal oorwin. Dood, dink jy dat jy altyd sal oorwin? Nee, jy sal nie. Dood, dink jy dat jy sal aanhou om mense te laat sterf soos wanneer bye mense doodsteek met hulle angels? Nee. Die dood kry sy angel van die sonde. En die sonde kry sy krag van die wette.

1 KORINTIËRS 15:21-56 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Want aangesien die dood deur 'n mens is, is die opstanding van die dode ook deur 'n mens. Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word; maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms. Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het. Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het. Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood. Want Hy het alles aan sy voete onderwerp, maar wanneer Hy sê dat alles onderwerp is, is dit duidelik dat Hy uitgesonder is wat alles aan Hom onderwerp het. En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees. Anders, wat sal hulle doen wat hulle vir die dode laat doop, as die dode geheel en al nie opgewek word nie? Waarom laat hulle hul nog vir die dode doop? Waarom is ons ook elke uur in gevaar? Ek sterf dag vir dag, broeders, so waar as ek op julle roem in Christus Jesus, onse Here. As ek in Éfese op menslike wyse met wilde diere geveg het, watter voordeel was dit vir my? As die dode nie opgewek word nie, laat ons dan eet en drink, want môre sterf ons! Moenie dwaal nie; slegte gesprekke bederf goeie sedes. Wees nugter op die regte manier, en sondig nie; want sommige het geen kennis van God nie. Ek sê dit tot julle beskaming. Maar iemand sal sê: Hoe word die dode opgewek, en met hoedanige liggaam kom hulle? Dwase mens! Wat jy saai, word nie lewendig as dit nie gesterf het nie. En wat jy saai — jy saai nie die liggaam wat sal word nie, maar 'n blote korrel, byvoorbeeld van koring of van iets anders. Maar God gee dit 'n liggaam soos Hy gewil het, en aan elkeen van die saadkorrels sy eie liggaam. Alle vlees is nie dieselfde vlees nie, maar die vlees van mense is anders as die vlees van vee, en dié van visse anders as dié van voëls. En daar is hemelse liggame en aardse liggame; maar die heerlikheid van die hemelse is anders as dié van die aardse. Anders is die heerlikheid van die son en anders die heerlikheid van die maan en anders die heerlikheid van die sterre; want die een ster verskil in heerlikheid van die ander ster. So is ook die opstanding van die dode: daar word gesaai in verganklikheid, daar word opgewek in onverganklikheid; daar word gesaai in oneer, daar word opgewek in heerlikheid; daar word gesaai in swakheid, daar word opgewek in krag. 'n Natuurlike liggaam word gesaai, 'n geestelike liggaam word opgewek. Daar is 'n natuurlike liggaam, en daar is 'n geestelike liggaam. So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het 'n lewende siel geword; die laaste Adam 'n lewendmakende Gees. Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra. Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie. Kyk, ek deel julle 'n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in 'n oomblik, in 'n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word. Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word. En wanneer hierdie verganklike met onverganklikheid beklee is en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee is, dan sal vervul word die woord wat geskrywe is: Die dood is verslind in die oorwinning. Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning? Die angel van die dood is die sonde, en die krag van die sonde is die wet.

1 KORINTIËRS 15:21-56 Afrikaans 1983 (AFR83)

Aangesien die dood deur 'n mens gekom het, het die opstanding van die dooies ook deur 'n mens gekom. Net soos almal deur hulle verbondenheid met Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word. Maar daar is 'n volgorde: die eersteling is Christus, daarna, by Christus se koms, dié wat aan Hom behoort. Daarna kom die einde, wanneer Hy die koningskap aan God die Vader oordra, nadat Hy elke mag, elke gesag en krag vernietig het. Hy moet as koning heers totdat die Vader al sy vyande aan Hom onderwerp het. Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood. Daar staan immers geskrywe: “Alles het Hy aan Hom onderwerp.” Maar as die Skrif sê dat alles aan Christus onderwerp is, is dit duidelik dat die Vader wat alles aan Hom onderwerp het, uitgesonder is. Wanneer alles dan aan die Seun onderwerp is, sal Hy Hom ook self onderwerp aan die Vader wat alles aan Hom onderwerp het. So sal God alles wees vir alles. En nou, as die dooies glad nie opgewek word nie, wat wil die mense bereik wat hulle vir dooies laat doop? Waarom laat hulle hulle nog vir dooies doop? En ons ook, waarom stel ons ons dan van uur tot uur aan lewensgevaar bloot? Elke dag word ek deur die dood bedreig. Ja, broers, dit is waar, net so waar as wat julle my trots is in Christus Jesus, ons Here. As ek hier in Efese as bloot sterflike mens soos teen wilde diere geveg het, wat het ek daarmee bereik? As die dooies nie opgewek word nie, “laat ons eet en drink, want môre sterf ons!” Moet julle nie langer laat mislei nie: “Slegte geselskap bederf goeie sedes.” Kom tot besinning en moenie langer sonde doen nie. Party van julle is sonder kennis van God. Dit sê ek tot julle skande. Maar iemand kan vra: Hoe word die dooies opgewek? Watter soort liggaam sal hulle hê? Dis 'n dom vraag! Wat jy saai, kom nie tot lewe tensy dit eers sterwe nie. En wat jy saai, saai jy nie in die toekomstige gestalte daarvan nie, maar as 'n blote saadkorrel, of dit nou koring is of iets anders. Maar God gee 'n gestalte daaraan, soos Hy bepaal het; aan elke saadsoort gee Hy 'n eie gestalte. Die vleis van lewende wesens is nie alles eenders nie. Daar is verskil tussen die vleis van mense, van diere, van voëls en van visse. Daar is hemelliggame en daar is aardse liggame. Die glans van die hemelliggame is anders as dié van die aardse liggame. Die glans van die son is anders as dié van die maan of dié van die sterre. Ook verskil die een ster se glans van dié van die ander. So is dit ook met die opstanding van die dooies: wat gesaai word, is verganklik en word in onverganklikheid opgewek; wat gesaai word, is gering en word in heerlikheid opgewek; wat gesaai word, is swak en word in krag opgewek. 'n Natuurlike liggaam word gesaai, 'n geestelike liggaam word opgewek. Aangesien daar 'n natuurlike liggaam is, is daar ook 'n geestelike liggaam. So staan daar ook geskrywe: “Die eerste mens, Adam, het 'n lewende wese geword.” Die laaste Adam het die lewendmakende Gees geword. Die geestelike kom nie eerste nie maar die natuurlike, en daarna die geestelike. Die eerste mens is uit die aarde en is stoflik; die tweede mens is uit die hemel. Soos die stoflike mens was, so is ook die stoflike mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. Soos ons die beeld van die stoflike mens was, sal ons ook die beeld van die hemelse wees. Wat ek bedoel, broers, is dit: vlees en bloed kan nie aan die koninkryk van God deel kry nie. Die verganklike kan nie aan die onverganklike deel kry nie. Kyk, ek maak 'n geheimenis aan julle bekend: Ons sal nie almal sterwe nie, maar ons sal almal verander word. By die laaste trompet sal dit in 'n oomblik, in 'n oogknip gebeur, want die trompet sal weerklink, en die dooies sal as onverganklikes opgewek word, en ons sal verander word. Hierdie verganklike liggaam moet met die onverganklike beklee word, en hierdie sterflike liggaam met die onsterflike. En wanneer hierdie verganklike liggaam met die onverganklike beklee is, en hierdie sterflike liggaam met die onsterflike, dan sal die woord wat geskrywe staan, vervul word: “Die dood is vernietig, die oorwinning is behaal.” “Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?” Die angel van die dood is die sonde, en die sonde kry sy krag uit die wet van God.

1 KORINTIËRS 15:21-56 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Want aangesien die dood deur 'n mens gekom het, kom die opstanding van dooies ook deur 'n mens. Want soos almal deur Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word; maar elkeen volgens 'n bepaalde orde: as eersteling Christus, daarna, met sy koms, hulle wat aan Christus behoort. Dan kom die einde, wanneer Hy die koningsheerskappy aan God, die Vader, sal oorgee, wanneer Hy alle heerskappy en gesag en mag vernietig het. Want Christus moet as koning regeer totdat “Hy al die vyande onder sy voete gestel het”. Die laaste vyand wat vernietig moet word, is die dood. “Want Hy het alles onder sy voete gestel.” Maar wanneer Hy sê dat alles onderwerp is, is dit duidelik dat dit met die uitsondering is van Hom wat alle dinge aan Christus onderwerp het. Wanneer alles aan Hom onderwerp is, sal die Seun Homself onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal sal wees. Anders, wat sal diegene wil bereik wat hulleself ter wille van die dooies laat doop? Indien dooies glad nie opgewek word nie, waarom laat hulle hulle ter wille van dooies doop? En waarom stel ons ons van uur tot uur in gevaar? So waar as wat ek van dag tot dag in doodsgevaar verkeer, so waar is dit, broers, dat julle my rede tot roem is in •Christus Jesus, ons Here. As ek in Efese as 'n sterflike mens teen wilde diere geveg het, van watter nut was dit vir my? As dooies nie opgewek word nie, “laat ons eet en drink, want môre sterf ons”. Laat julle nie mislei nie: “Slegte geselskap bederf goeie sedes.” Wees nugter in julle denke, soos dit hoort, en moenie sondig nie. Sommige van julle het helaas geen kennis van God nie. Dit sê ek tot julle skande. Iemand sal egter kan vra: “Hoe word die dooies opgewek, en met watter soort liggaam verskyn hulle?” Hoe dwaas! Wat jy saai, kom nie tot lewe nie, tensy dit eers sterf. En wat jy saai, saai jy nie in die vorm wat dit sal aanneem nie, maar as 'n blote saadkorrel, of dit nou 'n koringkorrel is, of een van die ander sade. Maar God sal, soos Hy beplan het, aan elkeen van die sade 'n eie vorm gee. Nie alle lewende wesens is eenders nie. Daar is een fisiese vorm vir mense, 'n ander vir diere, 'n ander vir voëls, en nog 'n ander vir visse. Daar is ook hemelliggame en aardse liggame, maar die glans van die hemelliggame is anders as dié van die aardse liggame. Die glans van die son is anders as die glans van die maan, en anders as die glans van die sterre. Een ster verskil immers van 'n ander in glans. So sal dit ook wees met die opstanding van die dooies: Wat gesaai word in verganklikheid, word opgewek in onsterflikheid; wat gesaai word in oneer, word opgewek in heerlikheid; wat gesaai word in swakheid, word opgewek in krag. Wat gesaai word, is 'n natuurlike menslike liggaam; wat opgewek word, is 'n geestelike liggaam. As daar 'n natuurlike menslike liggaam is, is daar ook 'n geestelike liggaam. So staan daar immers geskryf: “Die eerste mens, Adam, het 'n lewende wese geword.” Die laaste Adam het egter 'n lewendmakende Gees geword. Die geestelike liggaam is egter nie eerste nie, maar wel die natuurlike menslike liggaam; daarna kom die geestelike. Die eerste mens was uit die aarde, en stoflik; die tweede 'n mens uit die hemel. Soos die aardse mens, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens, so ook die hemelse mense. Soos ons die beeld van die stoflike mens gedra het, so sal ons die beeld van die hemelse mens dra. Dit is wat ek bedoel, broers: dat mense van vlees en bloed nie die •koninkryk van God kan beërf nie, en die verganklike beërf nie die onverganklike nie. Kyk, ek vertel vir julle 'n misterie: nie almal van ons sal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word by die laaste basuin, binne 'n oomblik, 'n oogwink. 'n Basuin sal weerklink, en die dooies sal onverganklik opgewek word, en ons sal verander word. Want hierdie verganklike liggaam moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike liggaam met onsterflikheid. En wanneer hierdie verganklike met onverganklikheid en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee word, sal die woord wat geskryf staan, vervul word: “Die dood is verslind in oorwinning.” “Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?” Die angel van die dood is die sonde, en die krag van die sonde lê in die wet.

1 KORINTIËRS 15:21-56 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Want aangesien die dood deur 'n mens gekom het, het die opstanding van die dooies ook deur 'n mens gekom. Want soos almal in Adam sterwe, so sal almal ook in Christus lewend gemaak word. Maar elkeen in sy eie orde: Christus die eersteling; daarna die wat aan Christus behoort by sy koms. Dan kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God, die Vader, oorgegee het; wanneer hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het. Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het. Die laaste vyand wat vernietig sal word, is die dood. Want Hy het alles onder sy voete gestel. Maar wanneer hy sê dat alles aan hom onderwerp is, is dit duidelik dat hy uitgesonder is wat alles aan hom onderwerp het. En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal die Seun self ook Hom onderwerp aan Hom wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees. Anders, wat moet hulle doen wat vir die dooies gedoop word, as die dooies glad nie opstaan nie? hoekom word hulle dan vir die dooies gedoop? En waarom staan ons elke uur in gevaar? Ek protesteer deur julle blydskap wat ek het in Christus Jesus, onse Here, ek sterf daagliks. As ek op die manier van mense in Éfese met diere geveg het, wat baat dit my as die dooies nie opstaan nie? laat ons eet en drink; want môre sterf ons. Moenie mislei word nie: slegte boodskappe bederf goeie maniere. Word wakker tot geregtigheid en sondig nie; want sommige het die kennis van God nie. Ek spreek dit tot julle skande. Maar iemand sal sê: Hoe word die dooies opgewek? en met watter liggaam kom hulle? Jou dwaas, wat jy saai, word nie lewend gemaak nie, tensy dit sterf; En wat jy saai, jy saai nie daardie liggaam wat sal wees nie, maar kaal graan, dit kan dalk van koring of van 'n ander graan. Maar God gee dit 'n liggaam soos dit Hom behaag, en aan elke saad sy eie liggaam. Alle vlees is nie dieselfde vlees nie, maar daar is een soort vlees van mense, 'n ander vlees van diere, 'n ander van visse en 'n ander van voëls. Daar is ook hemelse liggame en aardse liggame, maar die heerlikheid van die hemelse is een, en die heerlikheid van die aardse is 'n ander. Daar is een heerlikheid van die son en 'n ander heerlikheid van die maan en 'n ander heerlikheid van die sterre, want een ster verskil van 'n ander ster in heerlikheid. So is ook die opstanding van die dooies. Daar word in korrupsie gesaai; dit word opgewek in onverganklikheid: Daar word in oneer gesaai; dit word opgewek in heerlikheid; daar word gesaai in swakheid; dit word in krag opgewek: Daar word 'n natuurlike liggaam gesaai; dit word 'n geestelike liggaam opgewek. Daar is 'n natuurlike liggaam, en daar is 'n geestelike liggaam. En so is daar geskrywe: Die eerste mens, Adam, het 'n lewende siel gemaak; die laaste Adam is 'n lewendmakende gees gemaak. Maar dit was nie eerste wat geestelik is nie, maar dit wat natuurlik is; en daarna dit wat geestelik is. Die eerste mens is uit die aarde, aards; die tweede mens is die Here uit die hemel. Soos die aardse is, so is ook die aardse; en soos die hemelse is, so is dit ook die wat hemelse is. En soos ons die beeld van die aardse gedra het, sal ons ook die beeld van die hemelse dra. Nou dit sê ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie. Kyk, Ek deel jou 'n verborgenheid mee; Ons sal nie almal slaap nie, maar ons sal almal verander word, In 'n oomblik, in 'n oogwink, by die laaste basuin: want die basuin sal weerklink, en die dooies sal onverganklik opgewek word, en ons sal verander word. Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word. Wanneer dan hierdie verganklike met onverganklikheid beklee is, en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee het, dan sal die woord wat geskrywe is, vervul word: Die dood is verslind in die oorwinning. O dood, waar is jou angel? O graf, waar is u oorwinning? Die angel van die dood is sonde; en die krag van die sonde is die wet.

1 KORINTIËRS 15:21-56 Die Boodskap (DB)

Dit werk so: dit was ’n mens, Adam, se skuld dat die dood nou elkeen van ons tref. Maar dit is ook ’n mens, Christus, wat daarvoor gesorg het dat mense wat dood is weer lewendig gemaak kan word. Omdat ons mense soos Adam is, het die dood deel van ons elkeen se bestaan geword, net soos dit deel van sy bestaan was. Net so, deur Christus se mense te wees sal elkeen lewendig gemaak word soos Hy. Elkeen sal sy beurt kry. Christus het eerste opgestaan en so die pad vir ons ander oopgemaak. Wanneer Christus weer kom, sal al die mense wat aan Hom behoort ook opstaan. Dan sal die einde daar wees. Christus sal daarvoor sorg dat nie ’n enkele vyand van God oorbly nie. Hy sal met die laaste een klaarspeel. Dan sal Hy alle oë finaal op God, sy Vader, rig sodat hulle Hom as die groot Koning kan dien. Christus moet egter nog as Koning heers tot tyd en wyl Hy elke vyand van God op sy plek gesit het. Nie een vyand sal wegkom nie; ook die dood se mag sal heeltemal gebreek word. Die Skrif sê mos dat God Christus oor alles sal laat heers. As die Skrif oor “alles” praat, sluit dit natuurlik nie vir God self in nie. Wanneer die Seun oor alles heers en al die vyande van God uitgewis is, sal Hy Hom met alles wat Hy het onder die heerskappy van God kom stel. God sal dan oor alles regeer en almal sal Hom as Heerser erken. As dit nou waar was dat mense nie weer lewendig gemaak sal word nie, wat dan van die mense wat hulle laat doop sodat dié wat reeds dood is daarby kan baat? Vir wat doen hulle dit dan? Dieselfde geld vir ons: Hoekom leef ons as Christene swaar as ons nie oortuig is dat daar so iets soos ’n opstanding uit die dood is nie? My liewe broers en susters, dagin en daguit leef ek in die skaduwee van die dood. Daarvan kan julle net so seker wees as dat ek trots is op wat Christus Jesus, ons Here, vir julle beteken en gedoen het. Waarom sou ek hier in Efese as ’n sterflike mens soos ’n dier teen ander wilde diere geveg het as dit alles vir niks was nie? Dit maak mos nie sin nie. As daar niks anderkant die dood vir ons wag nie, moet ’n mens mos eerder doen wat die spreekwoord sê: “Laat ons nou eet en drink en vrolik wees, want môre is ons dood.” Moenie julle met ’n slap riem laat vang deur mense wat so praat nie. Onthou, as jy heeltyd na sulke mense luister, begin jy dit later self glo. Ruk julle reg en hou op om verkeerde dinge te doen. Julle behoort julle te skaam dat party van julle regtig geen idee het van wie God is, wat Hy kan doen en wat Hy van julle verwag nie. Iemand onder julle wonder dalk: “Hoe op aarde kan iemand wat dood is weer lewendig word en hoe sal sy liggaam daarna lyk?” Dis darem ’n dom vraag. Julle weet mos dat ’n saad wat jy in die grond saai ’n ruk lank eers lyk of dit dood is en dan, na ’n rukkie, kom die lewendige plantjie uit. En verder, as jy byvoorbeeld ’n mielie plant, plant jy tog nie die groot plant met die mieliekop en al nie. Jy plant die mieliepit. God besluit dan self hoe die plant moet lyk - elke soort saad gee mos ’n ander soort plant. Die diere en mense verskil net so. ’n Mens is mos anders gebou as ’n dier of ’n vis. Die sterre en die son lyk ook anders as die aarde. Die sterre en die son is op ’n ander manier mooi as die dinge hier op aarde. Selfs die sterre verskil van mekaar en is elkeen op sy eie manier mooi. Die prag van die son is anders as die prag van die maan. Net so sal dit wees wanneer ons uit die dood lewendig word. Die liggaam wat doodgaan, vergaan heeltemal, maar die liggaam waarmee ons weer lewendig sal word, sal nooit vergaan nie. Die liggaam wat begrawe word, is vol gebreke, maar oor ons nuwe liggaam sal ons maar net kan oorloop van trots. Die oue is swak, maar die nuwe is vol krag. Ons sterf as gewone aardse mense, maar ons gaan lewendig word in ’n nuwe geestelike liggaam. Soos daar ’n gewone aardse liggaam is, so is daar ook ’n geestelike liggaam. In die Skrif staan daar dat die eerste mens, Adam, ’n lewende mens geword het. Maar die laaste Adam, dit is Christus, is die Gees wat mense geestelik lewendig maak. Ons word dus eers met ons gewone aardse liggaam gebore. Die geestelike liggaam kry ons eers later. Die eerste mens, Adam, is mos uit die grond van die aarde gemaak; die tweede mens, Christus, het uit die hemel gekom. Die mense op aarde is almal soos Adam, maar die mense wat in die hemel is, is soos Christus. Aanvanklik was ons almal aards soos Adam, maar in die toekoms sal ons lyk soos Christus wat uit die hemel gekom het. My liewe broers en susters, wat ek met ander woorde wil sê, is dit: ons, met ons aardse liggame, kan nie in die nuwe wêreld van God ingaan nie. ’n Liggaam wat doodgaan en vergaan, kan tog nie in die nuwe wêreld van God gaan bly waar alles vir altyd hou nie. Laat ek julle ’n geheim vertel: nie almal sal doodgaan voor die Here kom nie. Dié wat nog in hulle aardse liggame lewe wanneer Hy kom, sal in die plek daarvan ’n nuwe geestelike liggaam kry. Wanneer daar aangekondig word dat die Here kom, sal dit vinniger gebeur as wat die oog kan sien. Dit sal so gebeur: die aankondiging sal kom dat die Here kom en dan sal die mense wat al dood is, lewendig gemaak word met hulle nuwe liggame; dié wat in daardie stadium nog op aarde lewe, sal dadelik ’n nuwe liggaam kry. Hierdie liggaam wat ons nou het, gaan agteruit en is op pad na die dood toe. Die nuwe liggaam wat ons gaan kry, sal nie agteruitgaan nie en sal ook nooit doodgaan nie. Wanneer dit alles gebeur, sal dit presies wees soos die Skrif gesê het dit gaan wees: “Die dood het nie meer enige krag of invloed nie. God het al die krag as oorwinnaar. “Daar is net mooi niks oor van die dood se mag nie. Sal die dood ons nog kan seermaak? Nee, vir seker nie.” Sonde is die oorsaak dat ons doodgaan. En ons kan nie stry dat ons in sonde vasgevang is nie omdat die wet van God so duidelik daar is en dit vir ons wys.

1 KORINTIËRS 15:21-56 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Julle sien, soos die dood deur ’n mens, naamlik Adam, in die wêreld ingekom het, so het die opstanding uit die dood ook deur ’n mens werklikheid geword. Almal van ons sterf omdat ons almal aan Adam, die eerste mens, verbonde is. Net so sal almal wat aan Christus, die ander mens, verbonde is, weer lewendig gemaak word. Maar daar is ’n bepaalde volgorde hieraan verbonde: Christus was die eerste Een; daarna, wanneer Christus terugkom, sal al sy mense opgewek word. Vervolgens sal die einde kom wanneer Jesus die koningsheerskappy aan God die Vader sal teruggee nadat Hy elke vyandige mag wat daar kan wees, onderwerp het. Want Christus moet aan bewind bly totdat Hy alle vyande finaal verslaan en aan Hom onderdanig gemaak het. Die laaste van hierdie vyande wat vernietig moet word, is die dood. Die Skrif sê mos: “God het aan Hom gesag oor alles gegee.” (Natuurlik, wanneer die Skrif sê dat God aan Hom die gesag oor alles gegee het, is God wat aan Christus hierdie gesag gegee het self uitgesluit.) Wanneer die Seun dan alles aan Homself onderwerp het, sal Hy Hom ook self aan God onderwerp. So sal God dan, wat aan sy Seun die gesag oor alles gegee het, uiteindelik die absolute Koning oor alles en almal wees. As die dooies hoegenaamd nie opgewek word nie, watter sin het dit dan dat mense hulle vir die dooies laat doop? Waarom sou hulle dit nog vir die dooies doen as hulle in elk geval nie weer opgewek word nie? En waarom sal ons ons lewens uur na uur in gevaar stel? Dag na dag verkeer ons op die randjie van die dood. Dit is die absolute waarheid, broers en susters, net so seker as dat julle ons trots is oor wat Christus Jesus ons Here vir julle gedoen het. Verder, waarom sou ek as’t ware met wilde diere in Efese geveg het as dit alles verniet was? As daar geen opwekking van die dooies is nie, “laat ons feesvier en dronk word, want môre sterf ons”. Moenie toelaat dat mense wat sulke dinge sê, julle vir die gek hou nie, want “slegte geselskap bederf goeie gewoontes”. Kom tot julle sinne en moenie langer sondig nie. Tot julle beskaming moet ek vir julle sê dat party van julle heeltemal tekort skiet wat julle kennis van God betref. Nou kan iemand vra: “Hoe sal die dooies wees wanneer hulle opgewek word? Watter soort liggame sal hulle hê?” Jou onverstandige mens, as jy saad in die grond sit, ontkiem dit tog nie tot nuwe lewe as dit nie eers self doodgegaan het nie. Wat jy in die grond sit, is nie die plant wat gaan groei nie, maar bloot ’n droë koringkorreltjie of watter ander saad jy ook al plant. Dan gee God daaraan ’n nuwe liggaam – presies soos Hy dit bepaal het. Van elke soort saad groei daar ’n ander soort plant. En net soos daar verskillende soorte saad en plante is, so is daar ook verskillende soorte vleis – dié van mense en diere en voëls en visse is almal verskillend. Verder is daar ook hemelse liggame en aardse liggame. Die prag van die hemelliggame verskil van dié van aardse liggame. Die stralende prag van die son verskil van dié van die maan, en die sterre het weer hulle eie prag. Die een ster se prag verskil ook weer van die ander een. Dieselfde is die geval met die opstanding van die dooies. Ons aardse liggame, wat gewoonweg sal sterf en vergaan, sal anders wees wanneer hulle opgewek word, want hulle sal nooit weer sterf nie. Daar word gesaai in oneer, daar word opgewek in heerlikheid. Daar word gesaai in swakheid, daar word opgewek in krag. ’n Fisiese liggaam word gesaai, ’n geestelike liggaam word opgewek. Ja, net soos daar fisiese liggame is, so is daar ook geestelike liggame. Die Skrif sê vir ons: “Die eerste mens, Adam, het ’n lewende, fisiese persoon geword.” Maar die laas-te Adam – dit is Christus – het ’n lewendmakende gees-telike Persoon geword. Die natuurlike, fisiese liggaam het eerste gekom, daarna die geestelike een. Adam, die eerste mens, was uit die stof van die aarde gemaak, terwyl Christus, die tweede mens, van die hemel kom. Elke menslike wese het ’n aardse liggaam, net soos dié van Adam, maar ons hemelse liggame sal net soos dié van Christus wees. Net soos ons nou ewebeelde van Adam is, die mens uit die aarde, so sal ons eendag ewebeelde van Christus wees, die mens uit die hemel. Wat ek wil sê, broers en susters, is dat ’n gewone mens van vleis en bloed nie net so aan die koninkryk van God kan deel kry nie. Wat verganklik is, kan nie deel kry aan wat onverganklik is nie. Ek wil aan julle ’n diep waarheid vertel wat God aan ons bekendgemaak het. Dit is dat ons nie almal sal sterf nie, maar ons almal sal verander word. Dit sal dadelik, ja, in ’n oogwink gebeur, wanneer die laaste trompet weerklink. Want as die trompet sy klank laat hoor, sal die dooies met onverganklike liggame opgewek word. En dan sal ons ook verander word. Want ons verganklike aardse liggame moet in hemelse liggame omskep word wat nooit sal sterf nie. Wanneer dit gebeur – wanneer ons verganklike aardse liggame in hemelse liggame omskep word wat nooit sal sterf nie – dan uiteindelik sal die Skrifwoord waar word: “Die dood is totaal uitgewis, want dit is heeltemal oorwin.” “O dood, waar is jou oorwinning? Dood, wat het van jou angel geword?” Want sonde is die angel wat die dood veroorsaak. En dit is die wet wat aan die sonde sy slaankrag gee.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid