1 KORINTIËRS 13:1-4
1 KORINTIËRS 13:1-4 Bybel vir almal (ABA)
Miskien sal ek die tale van mense en van engele kan praat, maar as ek nie lief is vir God en vir ander mense nie, dan is ek soos 'n klok of soos 'n simbaal wat net raas. Miskien sal ek God se boodskap kan bring, en al die geheime kan ken, en alles kan weet. Miskien sal ek so sterk kan glo dat ek berge kan wegskuif, maar as ek nie lief is vir God en vir ander mense nie, dan beteken ek niks. Miskien sal ek al my goed kan weggee, en miskien sal ek myself kan gee sodat mense my slaan en seermaak, en sal ek daaroor spog, maar as ek nie lief is vir God en vir ander mense nie, dan help dit my niks. Iemand wat lief is vir God en vir ander mense, is geduldig en vriendelik, hy is nie jaloers nie, hy spog nie, hy is nie hoogmoedig nie
1 KORINTIËRS 13:1-4 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
AL sou ek die tale van mense en engele spreek, en ek het nie die liefde nie, dan het ek 'n klinkende metaal of 'n luidende simbaal geword. En al sou ek die gawe van profesie hê en al die geheimenisse weet en al die kennis, en al sou ek al die geloof hê, sodat ek berge kon versit, en ek het nie die liefde nie, dan sou ek niks wees nie. En al sou ek al my goed uitdeel, en al sou ek my liggaam oorgee om verbrand te word, en ek het nie die liefde nie, dan sou dit my niks baat nie. Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie
1 KORINTIËRS 13:1-4 Afrikaans 1983 (AFR83)
Nou wys ek julle wat nog die allerbeste is: Al praat ek die tale van mense en engele, maar ek het geen liefde nie, het ek 'n stuk klinkende metaal, 'n galmende simbaal geword. Al het ek die gawe van profesie en ken ek al die geheimenisse en besit ek al die kennis, en al het ek al die geloof om berge te versit, maar ek het geen liefde nie, dan is ek niks. Al deel ek al wat ek het aan ander uit, en al gee ek my liggaam prys om my daarop te kan beroem, maar ek het geen liefde nie, baat dit my niks. Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie.
1 KORINTIËRS 13:1-4 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Al praat ek die tale van mense en engele, maar ek het nie liefde nie, dan het ek 'n weergalmende ghong of 'n kletterende simbaal geword. En al profeteer ek, en begryp ek alle geheime, en besit ek alle kennis, en al het ek al die geloof om berge te versit, maar ek het nie liefde nie, is ek niks! Al deel ek al my besittings uit, en gee ek my liggaam oor, sodat ek my daarop kan beroem, maar ek het nie liefde nie, baat dit my niks. Liefde bly geduldig, liefde gee om, liefde is nie jaloers nie, spog nie, en is nie verwaand nie.
1 KORINTIËRS 13:1-4 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Al spreek ek in die tale van mense en engele en het ek geen liefde nie, ek het geword soos klinkende koper of 'n luidende simbaal. En al sou ek die gawe van profesie hê en al die verborgenhede en alle kennis verstaan; en al het ek alle geloof, sodat ek berge kon versit, en het ek geen liefde nie, ek is niks. En al gee ek al my goed om die armes te voed, en al gee ek my liggaam om verbrand te word en het ek geen liefde nie, baat dit my niks. Die naasteliefde verduur lank en is vriendelik; liefdadigheid beny nie; liefdadigheid roem homself nie, is nie opgeblase nie
1 KORINTIËRS 13:1-4 Die Boodskap (DB)
Sê nou maar ek is so “geestelik” dat ek die tale kon praat wat die engele in die hemel praat en selfs nog ’n klomp ander, maar ek het nie ander mense lief nie, wat dan? Vir die Here klink daardie “geestelike gepraat” dan na niks anders nie as ’n geraas soos iemand wat teen ’n yster kap. Sê nou ek kan uitstekend preek, is hoog geleerd in die dinge van die Here en verstaan dinge van God wat ander mense nie eens weet nie, en boonop het ek nog die grootste geloof wat jy jou kan voorstel, maar ek het nie ander mense lief nie, is ek vir die Here ’n nul op ’n kontrak. Al gee ek alles wat ek besit vir arm mense en word as martelaar vir die Here verbrand, maar ek het nie lief nie, help dit alles niks. Om ander lief te hê beteken om nooit iemand sleg te behandel wat jou irriteer nie; om altyd alle mense so te hanteer dat hulle graag by jou wil wees sonder om bang te wees dat jy hulle sleg sal behandel; om ander mense dit wat hulle het of kry te gun sonder om lelik te wees as hulle dinge het wat jy nie het nie; om nie heeltyd oor jouself te praat en te spog nie; om nie heeltyd te maak asof jy soveel beter as ander mense is nie
1 KORINTIËRS 13:1-4 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Al sou ek enige taal op aarde of selfs in die hemel kon praat, maar ek kom die liefde kort, het ek ’n galmende trom of ’n klinkende simbaal geword. En al sou ek die gawe van profesie hê, en sou ek alle geheime kon ontrafel, en al die kennis ter wêreld hê, en al sou ek genoeg geloof hê om berge te verskuif, maar ek kom die liefde kort, sou ek ’n ronde nul wees. En al sou ek al my besittings vir die armes gee en selfs my liggaam opoffer sodat ek my daarop kon beroem, maar ek kom die liefde kort, sou dit my niks help nie. Die liefde is geduldig en vriendelik, die liefde is nie jaloers nie, die liefde blaas nie sy eie beuel nie, is nie vol van homself nie.