PSALMS 91

91
Hy wat by die Allerhoogste skuiling vind
1Hy wat by die Allerhoogste skuiling vind
en die beskerming van die Almagtige geniet,
2hy sê vir die Here:
“U is my toevlug en my veilige vesting,
my God op wie ek vertrou.”
3Dit is Hy wat jou uit die voëlvanger se wip hou
en jou bewaar van dodelike siekte.
4Hy beskut jou onder sy vleuels
en is vir jou 'n veilige skuilplek.
Sy trou beskerm jou aan alle kante.
5Jy hoef nie bang te wees vir gevaar in die nag
of vir aanvalle oordag,
6vir pes wat in die donker toeslaan
of vir siekte wat helder oordag verwoesting saai nie.
7Al val daar duisende langs jou,
tienduisende by jou,
vir jou sal niks tref nie.
8Met jou eie oë sal jy sien
hoe die goddelose gestraf word.
9Omdat jy die Here as skuilplek geneem het,
die Allerhoogste as jou beskermer,
10sal geen onheil jou tref
en geen plaag naby jou woonplek kom nie.
11Hy sal sy engele opdrag gee
om jou te beskerm waar jy ook al gaan.
12Op hulle hande sal hulle jou dra,
sodat jy nie jou voet teen 'n klip sal stamp nie.
13Jy sal oor leeus en adders loop,
leeus en slange sal jy doodtrap.
14“Omdat hy My liefhet, sal Ek hom red,”
sê die Here,
“omdat hy My ken, sal Ek hom beskerm.
15Wanneer hy My aanroep, sal Ek sy gebed verhoor;
in sy nood sal Ek by hom wees,
Ek sal hom red en hom in sy eer herstel.
16'n Baie lang lewe sal Ek hom gee
en oor my hulp sal hy hom verbly.”

Tans Gekies:

PSALMS 91: AFR83

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid