PSALMS 6

6
Help my, want U is getrou
1Vir die koorleier: met snarespel; met basstem. 'n Psalm van Dawid.
2Moet my tog nie in u toorn straf nie, Here,
en my in u gramskap tugtig nie.
3Ontferm U oor my, Here, want ek kwyn weg,
maak my gesond, Here, want my liggaam is uitgeteer.
4Ek is heeltemal gedaan.
Hoe lank nog, Here, voordat U uitkoms gee?
5Neem my weer onder u sorg, Here, en red my lewe.
Help my, want U is getrou.
6Iemand wat dood is, kan tog nie u Naam bely nie.
Kan iemand in die doderyk U prys?
7Ek is uitgeput van verdriet,
ek huil die hele nag deur,
ek deurweek my bed met trane.
8My oë het dof geword van verdriet,
verswak deur wat my teëstanders my aandoen.
9Gee pad van my af, julle almal wat onreg doen,
want die Here het ag geslaan op my geroep om hulp,
10die Here het geluister na my smeking,
die Here het my gebed aangeneem.
11Al my vyande sal beskaamd daarvan afkom,
hulle sal verslae staan;
in 'n oogwink sal hulle beskaamd moet padgee.

Tans Gekies:

PSALMS 6: AFR83

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid