PSALMS 28

28
Aan die Here kom die lof toe
1Van Dawid.
Ek roep na U, Here, my Rots,
moet tog nie doof wees vir my nie.
As U bly swyg, sal ek wees soos 'n sterwende.
2Hoor my smeekstem
as ek na U roep om hulp,
as ek my hande in gebed uitsteek na die allerheiligste deel van u tempel.
3Moet my tog nie uitroei saam met die goddeloses,
die mense wat onreg doen nie.
Hulle praat vriendelik met hulle bure,
maar daar is kwaadwilligheid in hulle harte.
4Vergeld hulle volgens hulle dade
en volgens hulle skandelike gedrag.
Vergeld hulle volgens die werk van hulle hande
en laat hulle kry wat hulle verdien,
5want hulle let nie op die dade van die Here
en op die werk van sy hande nie.
Daarom sal Hy hulle afbreek
en nooit weer opbou nie.
6Aan die Here kom die lof toe,
want Hy het my smeekstem gehoor.
7Die Here is my sterkte en my beskermer,
op Hom het ek vertrou.
Hy het my gehelp.
Daarom is ek bly en wil ek Hom loof met my lied.
8Die Here is 'n sterkte vir sy volk,
'n veilige beskutting vir sy gesalfde.
9Red u volk en seën dié wat aan U behoort;
wees vir hulle 'n herder
en sorg altyd vir hulle.

Tans Gekies:

PSALMS 28: AFR83

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid