PSALMS 147

147
Ons Here is groot en magtig
1Prys die Here!
Dit is goed om tot lof van ons God te sing,
dit is 'n genot om die loflied te sing wat Hom toekom.
2Dit is die Here wat Jerusalem weer opbou,
wat die verstrooides van Israel bymekaarbring.
3Hy genees die gebrokenes van hart
en verbind hulle wonde.
4Hy besluit oor die getal van die sterre
en gee elkeen 'n naam.
5Ons Here is groot en magtig,
sy kennis is onbegrens.
6Die Here laat die hulpeloses weer opstaan,
maar die goddeloses verneder Hy tot in die grond.
7Sing vir die Here 'n danklied,
sing tot eer van ons God met begeleiding van die lier.
8Hy oordek die hemel met wolke,
Hy voorsien reën vir die aarde
en laat gras op die bergland uitspruit.
9Hy gee aan die diere hulle weiding
en versorg die jong kraaie wat om kos skreeu.
10Die Here het niks aan die krag van 'n perd
of die liggaamskrag van 'n soldaat nie,
11maar Hy stel prys op dié wat Hom dien,
dié wat hulle hoop vestig op sy trou.
12Loof die Here, Jerusalem,
prys jou God, Sion!
13Hy het die sluitbalke van jou poorte sterk gemaak,
jou inwoners geseën,
14Hy het in jou grondgebied vrede gegee,
jou met die beste graan gevoed.
15As Hy die aarde 'n bevel gee,
word dit vinnig uitgevoer.
16Hy gee sneeu so wit soos wol,
Hy strooi ryp uit soos as,
17Hy laat dit haelstene reën.
Wie is bestand teen die koue wat Hy stuur?
18Maar op sy bevel smelt alles weer;
as Hy die warm wind laat waai, dan loop die waters.
19Hy maak sy woord aan Jakob bekend,
sy voorskrifte en bepalings aan Israel.
20Dit het Hy vir geeneen van die ander nasies gedoen nie;
hulle ken sy bepalings nie.
Prys die Here!

Tans Gekies:

PSALMS 147: AFR83

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid