PSALMS 105

105
Die Here hou sy verbond altyd in stand
1Loof die Here! Roep Hom aan!
Maak aan die nasies bekend wat Hy gedoen het.
2Sing liedere, sing tot sy eer,
vertel van al sy magtige dade.
3Roem sy heilige Naam,
laat dié wat die teenwoordigheid van die Here soek, bly wees.
4Soek hulp en beskerming by die Here,
soek gedurig sy teenwoordigheid.
5Julle moet dink aan die magtige dade wat Hy gedoen het,
aan sy wonders, aan die reddingsdade op sy bevel,
6julle, nageslag van Abraham sy dienaar,
nakomelinge van Jakob vir wie Hy uitverkies het.
7Hy, die Here, is ons God;
sy reddingsdade strek oor die hele aarde.
8Hy hou sy verbond altyd in stand,
die belofte wat Hy aan duisende geslagte toegesê het,
9die verbond wat Hy met Abraham gesluit het,
sy eed aan Isak.
10Hy het dit vir Jakob bevestig as 'n vaste toesegging,
vir Israel as verbond wat altyd sal bestaan.
11Hy het gesê:
“Ek gee Kanaän vir jou
as grondgebied en eiendom.”
12Toe hulle nog maar min was,
net 'n paar mense, en vreemdelinge in die land,
13toe hulle van volk na volk geswerf het,
van die gebied van die een volk na dié van 'n ander,
14het Hy niemand toegelaat om hulle te verdruk nie,
en het Hy selfs konings ter wille van hulle gewaarsku:
15“Moenie aan my gesalfdes raak nie,
moenie my profete kwaad aandoen nie!”
16Toe Hy hongersnood oor die land gebring het
en al hulle kos laat opraak het,
17het Hy iemand voor hulle uit gestuur:
Josef is as slaaf verkoop.
18Hulle het sy voete geboei
en hom in die gevangenis gehou
19totdat sy woorde bewaarheid is,
nadat hy die toets deurstaan het
met wat die Here aan hom bekend gemaak het.
20Toe het die koning hom uit die gevangenis laat uitkom;
die heerser oor baie volke het hom vrygelaat
21en hom aangestel as hoof van die koninklike huishouding,
met gesag oor al sy besittings.
22Josef kon die amptenare van die koning na goeddunke beveel
en selfs aan hoë amptenare leiding gee.
23Israel het na Egipte toe gekom,
Jakob kon in die land van Gam gaan woon.
24Die Here het sy volk baie vrugbaar gemaak,
talryker as hulle onderdrukkers.
25Hy het die gesindheid van die Egiptenaars verander,
sodat hulle sy volk gehaat
en vyandig opgetree het teenoor sy dienaars.
26Die Here het Moses, sy dienaar, gestuur,
en vir Aäron, die man wat Hy verkies het.
27Onder die Egiptenaars het hulle die tekens van die Here gedoen,
sy wonders het hulle gedoen in die land van Gam.
28Hy het duisternis gestuur, dit donker gemaak,
maar hulle het hulle teen sy opdrag bly verset.
29Hy het hulle waters in bloed verander
en hulle visse laat vrek.
30Hulle land het gekrioel van die paddas,
selfs tot in hulle koning se slaapkamer.
31Die Here het beveel en daar het insekte gekom,
muggies oor hulle hele gebied.
32Hy het hulle reëns in hael verander
en swaarweer oor hulle land gestuur.
33Hy het hulle wingerdstokke en vyebome vernietig
en die bome in hulle gebied stukkend geslaan.
34Hy het beveel en daar het sprinkane gekom,
ontelbaar baie sprinkane.
35Hulle het al wat groen was in die Egiptenaars se land verslind
en al die gesaaides van hulle lande afgevreet.
36Al hulle oudste seuns in die land het Hy laat sterwe,
al hulle eersgeborenes.
37Toe het Hy sy volk uitgelei, belaai met silwer en goud.
In geeneen van die stamme het iemand uitgesak nie.
38Die Egiptenaars was bly dat hulle vertrek het,
want hulle was skrikbevange oor die Israeliete.
39Die Here het 'n wolk uitgesprei as beskutting oor hulle
en 'n vuur gegee om lig te maak in die nag.
40Toe hulle kos vra, het Hy kwartels laat kom
en sy volk met brood uit die hemel versadig.
41Hy het 'n rots oopgebreek en daar het water uitgestroom
wat soos 'n rivier deur die dorre gebied gevloei het.
42Ja, Hy het sy heilige belofte
aan sy dienaar Abraham gestand gedoen
43en sy volk juigend,
sy uitverkorenes jubelend laat voorttrek.
44Vir hulle het Hy
die heidene se lande gegee;
wat deur ander volke met moeite verkry is,
het hulle in besit geneem.
45Daarom moet hulle sy voorskrifte gehoorsaam
en sy wil doen.
Prys die Here!

Tans Gekies:

PSALMS 105: AFR83

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid