MATTEUS 24

24
Die profetiese rede: die tempel sal afgebreek word
(Mark. 13:1-2; Luk. 21:5-6)
1Toe Jesus van die tempel af weggaan, het sy dissipels nader gekom en sy aandag op die tempelgeboue gevestig. 2Maar Hy antwoord hulle: “Julle sien al hierdie dinge? Dit verseker Ek julle: Hier sal nie een klip op die ander bly nie; alles sal afgebreek word.”
Die profetiese rede: rampe en vervolging
(Mark. 13:3-13; Luk. 21:7-19)
3Nadat Jesus op die Olyfberg gaan sit het, kom die dissipels alleen na Hom toe en vra: “Sê vir ons, wanneer sal hierdie dinge gebeur en wat sal die teken van u koms en van die einde van hierdie wêreld wees?”
4Jesus antwoord hulle: “Pas op dat niemand julle mislei nie. 5Baie sal onder my Naam kom en sê: ‘Ek is die Christus,’ en hulle sal baie mense mislei. 6Julle sal die rumoer van oorloë en gerugte van oorloë hoor. Pas op, moenie verskrik word nie. Dit moet kom, maar dit is nog nie die einde nie. 7Die een nasie sal teen die ander te staan kom en die een koninkryk teen die ander; daar sal op baie plekke hongersnode en aardbewings wees. 8Al hierdie dinge is geboortepyne, die begin van die nuwe tyd.
9“Die mense sal julle oorlewer om mishandel te word, en hulle sal julle doodmaak. Julle sal deur al die nasies gehaat word omdat julle my Naam bely. 10In daardie tyd sal baie mense van die geloof afvallig word, en hulle sal mekaar verraai en mekaar haat.
11“Daar sal baie vals profete kom, en hulle sal baie mense mislei. 12Omdat die minagting van die wet van God sal toeneem, sal die liefde by baie verkoel. 13Maar wie tot die einde volhard, sal gered word. 14En hierdie evangelie van die koninkryk sal in die hele wêreld verkondig word, sodat al die nasies die getuienis kan hoor. Eers dan sal die einde kom.”
Die profetiese rede: die groot verdrukking
(Mark. 13:14-23; Luk. 21:20-24)
15“Wanneer julle ooreenkomstig die woord van die profeet Daniël die ding wat 'n gruwel is vir God en wat verwoesting aanrig, in die heilige plek sien staan – wie dit lees, moet dit goed begryp – 16dan moet dié wat in Judea is, die berge in vlug. 17Die man wat op die dakstoep sit, moet nie ingaan om sy goed uit die huis te gryp nie, 18en die man wat op die land is, moet nie omdraai om sy klere te gaan haal nie.
19“Dit sal bitter swaar gaan met die vrouens wat in daardie tyd swanger is en met dié wat nog klein kindertjies het. 20Bid dat julle nie in die winter of op 'n sabbatdag hoef te vlug nie, 21want in daardie tyd sal daar so 'n groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af nie was nie en ook nie weer sal wees nie. 22En as dit nie was dat God daardie tyd ingekort het nie, sou geen mens dit oorleef nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal God daardie tyd inkort.
23“As iemand in daardie tyd vir julle sê: ‘Kyk, hier is die Christus!’ of: ‘Kyk, daar is Hy!’ moet julle dit nie glo nie. 24Daar sal vals christusse en vals profete na vore kom, en hulle sal groot tekens en wonderwerke doen om, as dit moontlik was, selfs die uitverkorenes te mislei. 25Kyk, Ek het dit vir julle vooruit gesê. 26En as die mense vir julle sê: ‘Kyk, Hy is in die woestyn!’ moet julle nie daarheen gaan nie; of as hulle sê: ‘Hy is in die slaapkamer!’ moet julle dit nie glo nie. 27Die koms van die Seun van die mens sal wees soos 'n weerligstraal wat in die ooste uitslaan en die hele lugruim tot in die weste verlig.
28“Waar die aas ook al lê, daar sal die aasvoëls bymekaarkom.”
Die profetiese rede: die koms van die Seun van die mens
(Mark. 13:24-27; Luk. 21:25-28)
29“Kort na die verdrukking van daardie tyd
sal die son verduister word, en die maan sal nie skyn nie;
die sterre sal uit die ruimte val, en die kragte van die hemelruim sal ontwrig word.
30“Dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemelruim verskyn, en al die volke van die aarde sal verslae wees. Hulle sal die Seun van die mens op die wolke van die hemel sien kom met groot krag en majesteit. 31Die groot trompet sal weerklink, en Hy sal sy engele uitstuur om sy uitverkorenes bymekaar te maak uit die vier windstreke, van elke uithoek van die aarde af.”
Die profetiese rede: die voorbeeld van die vyeboom
(Mark. 13:28-31; Luk. 21:29-33)
32“Leer dit van die vyeboom as voorbeeld: wanneer sy takke begin sag word en hy blare kry, weet julle die somer is naby. 33So moet julle ook wanneer julle al hierdie dinge sien, weet dat die tyd naby is, voor die deur. 34Dit verseker Ek julle: Nog in die leeftyd van hierdie geslag sal dit alles gebeur. 35Die hemel en die aarde sal vergaan, maar my woorde nooit.”
Die profetiese rede: die dag en die uur van die wederkoms
(Mark. 13:32-37; Luk. 17:26-30,34-35)
36“Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit. 37Soos dit in die dae van Noag was, sal dit ook wees by die koms van die Seun van die mens. 38In daardie dae voor die sondvloed het hulle soos gewoonlik geëet en gedrink en getrou tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het. 39Hulle het nie besef wat aan die gang was nie, totdat die sondvloed gekom en hulle almal weggesleur het. Net so sal dit gaan by die koms van die Seun van die mens. 40Dan sal twee mense op die land werk, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word. 41Twee vroue sal by die meul koring maal, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word. 42Bly dus waaksaam, omdat julle nie weet watter dag julle Here kom nie.
43“Onthou dit: as die huiseienaar geweet het watter tyd van die nag die dief kom, sou hy wag gehou het en nie toegelaat het dat daar in sy huis ingebreek word nie. 44Om dieselfde rede moet julle ook altyd gereed wees, want die Seun van die mens kom op 'n uur dat julle dit nie verwag nie.”
Die profetiese rede: die getroue en die ontroue slaaf
(Luk. 12:41-48)
45“Wie is eintlik die getroue en verstandige slaaf vir wie sy eienaar oor sy ander slawe aangestel het om hulle op tyd kos te gee? 46Dit is die slaaf vir wie sy eienaar by sy tuiskoms so aan die werk sal kry. Gelukkig is hy! 47Dit verseker Ek julle: Hy sal hom aanstel oor alles wat hy besit.
48“Maar as dit 'n slegte slaaf is, sal hy by homself dink: my eienaar bly lank weg. 49Dan sal hy die ander slawe begin slaan en saam met die dronkaards eet en drink. 50Die eienaar van daardie slaaf sal op 'n dag kom dat hy dit nie verwag nie, en op 'n uur wat hy nie vooraf weet nie. 51Dan sal sy eienaar hom laat doodmaak en hom die lot van huigelaars laat deel. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.”

Tans Gekies:

MATTEUS 24: AFR83

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid