JESAJA 37:14-20

JESAJA 37:14-20 AFR83

Hiskia het die briewe wat die gesante gebring het, gevat en gelees. Daarna het hy na die huis van die Here toe gegaan en die briewe in die teenwoordigheid van die Here oopgesprei. Toe het hy tot die Here gebid: “Here, Almagtige, God van Israel, U wat oor die gerubs troon, U alleen is God oor al die koninkryke van die aarde, U het die hemel en die aarde gemaak. Hoor tog, Here, luister, kyk tog, Here, let tog op! “Hoor tog wat Sanherib gesê het; hy het U, die lewende God, in sy boodskap gesmaad! Dit is waar, Here, die konings van Assirië het nasies met lande en al verwoes en hulle gode verbrand, maar dit was nie gode nie, dit was die werk van mensehande, hout en klip; daarom is hulle vernietig. Here ons God, red ons tog uit die mag van die Assiriese koning. Dan sal al die koninkryke van die aarde besef dat net U, Here, God is.”