ESEGIËL 34:2-10

ESEGIËL 34:2-10 AFR83

“Mens, tree op as profeet teen die herders van Israel, tree op as profeet en sê vir hulle, vir die herders: So sê die Here my God: Ellende wag vir die herders van Israel wat net vir hulleself sorg! Moet herders dan nie vir die kleinvee sorg nie? Julle drink die melk, julle maak vir julle klere van die wol, julle slag die vetste kleinvee, maar julle sorg nie vir die kleinvee nie. Julle het nie die swakkes gehelp nie, julle het nie die siekes gedokter nie, julle het nie die wonde van dié wat seergekry het, versorg nie, julle het nie dié wat weggedwaal het, teruggebring nie, julle het nie dié wat weggeraak het, gesoek nie. Julle was harde en wrede regeerders. Die kleinvee was sonder herder en het verstrooi geraak, en toe hulle verstrooi raak, word hulle 'n prooi vir roofdiere. My kleinvee het rondgedwaal oor al die berge en oor al die hoë heuwels, hulle het verstrooi geraak oor die hele aarde en niemand het hulle gesoek of na hulle gevra nie.” Daarom, herders, hoor die woord van die Here: “My kleinvee is uitgelewer en het die prooi van enige wilde dier geword; hulle is sonder herder, sonder iemand wat na hulle soek; die herders het vir hulleself gesorg en nie vir my kleinvee nie. So seker as Ek leef,” sê die Here my God, “Ek sal die herders straf.” Hoor die woord van die Here, herders! So sê die Here my God: “Ek gaan optree teen die herders: Ek eis my kleinvee van hulle terug, Ek maak 'n end daaraan dat hulle die kleinvee se herders is, hulle sal nie herders bly net om vir hulleself te sorg nie. Ek sal my kleinvee red en hulle nie deur die herders laat opeet nie.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid