ESEGIËL 21

21
1Toe kom die woord van die Here tot my: 2“Mens, draai jou gesig na Jerusalem toe, laat jou woorde na die heiligdomme toe vloei, tree op as profeet teen die land Israel. 3Sê vir die land Israel: So sê die Here: Ek is jou vyand, Ek gaan my swaard uit sy skede trek en dié wat reg doen sowel as dié wat verkeerd doen, uit jou uitroei. 4En omdat Ek dié wat reg doen sowel as dié wat verkeerd doen, uit jou wil uitroei, daarom word my swaard getrek teen al wat leef, van die suide af tot in die noorde. 5Al wat leef, sal weet dat Ek, die Here, my swaard getrek het, en dit sal nie teruggaan skede toe nie.
6“En jy, mens, moet kreun. Jy moet voor hulle oë 'n ineenstorting kry en bitterlik kreun. 7En as hulle vir jou vra hoekom jy kreun, moet jy sê: Oor die tyding wat kom; elke hart sal verstyf van angs, al die hande sal slap hang, almal sal moed verloor, water sal teen al die knieë afloop; dit kom, dit sal gebeur,” sê die Here my God.
8Die woord van die Here het tot my gekom: 9“Mens, tree as profeet op, sê: So sê die Here! Roep:
“Swaard, swaard! Hy is skerpgemaak en blinkgevryf,
10hy is skerpgemaak vir die slagting,
hy is blinkgevryf om soos weerlig te blits!
Of moet ons bly wees oor die koninklike septer
wat geen boom ontsien nie, my seun?
11'n Mens laat die swaard blinkvryf
en dit word in die hand vasgevat;
dit is 'n skerpgemaakte swaard,
dit is blinkgevryf
om dit in die hand te sit van hom wat moet doodmaak.
12Skree, mens, huil!
Die swaard is teen my volk gerig
en teen al die leiers van Israel.
Hulle is saam met my volk uitgelewer aan die swaard.
Slaan van ontsteltenis jou hande teen jou heupe!
13“Die vuurproef is daar. En wat sal gebeur as die koninklike septer wat niks ontsien nie, nie meer daar is nie?” sê die Here my God.
14“Maar jy, mens, tree op as profeet,
slaan jou hande inmekaar.
Laat die swaard twee keer, drie keer swaai.
Dit is 'n swaard wat mense doodmaak,
'n groot swaard wat doodmaak,
hy deurboor mense.
15Hy laat moed wegsmelt,
hy vermenigvuldig die gesneuweldes.
Ek laat die swaard 'n slagting aanrig
in al hulle stede.
Hy is gemaak om te blits,
hy is vasgevat vir die slagting.
16Wys hoe skerp jy is, kap regs en links,
waar jou lem ook al heen gedraai word.
17Dan sal Ek ook my hande inmekaar slaan
en my toorn tot bedaring bring.
Ek, die Here, het dit gesê.”
Die koning van Babel kom
18Die woord van die Here het tot my gekom: 19“Mens, jy moet vir die koning van Babel se swaard twee paaie maak om op aan te kom. Die twee paaie moet uit dieselfde land kom en jy moet 'n padwyser uitkap waar die pad na die stad toe begin. Jy moet dit uitkap 20en die rigting aandui waarlangs die swaard kan kom na Rabba, die Ammonietestad toe, en na Juda, na die vestingstad Jerusalem toe. 21Die koning van Babel staan by die kruispad waar die twee paaie begin, en hy soek na 'n teken, hy skud die pyle, hy raadpleeg sy afgodsbeeldjies, hy kyk na 'n dier se lewer. 22Die teken wat hy gesoek het, kom in sy regterhand: Jerusalem! Die koning van Babel gaan stormramme regmaak, die bevel gee om aan te val, oorlogskrete skreeu, die stormramme teen die poorte opstel, 'n beleëringswal opgooi, beleëringswerke bou. 23Die mense in Jerusalem sal dink dis 'n vals teken, want hulle het plegtige ede afgelê aan die koning van Babel. Maar hy sal hulle herinner aan hulle oortreding en hy sal hulle aanval.
24“Daarom,” so sê die Here my God, “het julle self gewys hoe skuldig julle is toe julle opstandigheid aan die lig gekom het en julle sondes duidelik geword het aan alles wat julle doen, julle is aan die kaak gestel en julle sal aangeval word.
25“En jy, regeerder van Israel wat deur jou goddeloosheid gaan sterwe, jy wie se dag gekom het, die tyd van afrekening,” 26so sê die Here my God: “Haal af jou tulband en jou kroon, niks bly soos dit is nie; wat onder is, moet op, en wat bo is, moet af. 27Puin, puin, puin maak Ek dit! Maar ook dit sal nie gebeur voordat hy kom wat die stad moet straf nie, en Ek sal die stad vir hom gee.”
Oor die Ammoniete
28“En jy, mens, tree op as profeet en sê: So sê die Here my God oor die Ammoniete en oor hulle gespot. Sê:
“Swaard, swaard wat getrek is vir die slagting,
blinkgevryf is om te blits,
29al was daar gesigte oor jou wat nie bestaan het nie,
voortekens oor jou wat leuens was,
jy kap reeds aan die nekke
van dié wat deur hulle goddeloosheid gaan sterwe,
dié wie se dag gekom het, die tyd van afrekening.
30Maar sit die swaard terug in sy skede!
Op die plek waar jy geskep is,
in die land van jou herkoms sal Ek jou straf.
31Ek sal my woede oor jou laat losbreek,
Ek blaas die vuur van my gramskap oor jou,
Ek gee jou oor in die mag van wrede mense
wat weet hoe om uit te roei.
32Jy sal deur vuur verteer word,
jou bloed sal vloei in die land,
die gedagtenis aan jou sal verdwyn,
want Ek, die Here, het gepraat.”

Tans Gekies:

ESEGIËL 21: AFR83

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid