2 KRONIEKE 4:2-5

2 KRONIEKE 4:2-5 AFR83

Hy het ook die gegote waterbak gemaak, heeltemal rond, vyf meter in deursnee, twee en 'n half meter hoog en met 'n omtrek van vyftien meter. Onderom die rand van die waterbak was twee rye beeste in reliëf, tien op elke halwe meter. Die beeste is saam met die waterbak in een stuk gegiet. Die waterbak het gerus op twaalf gegote beeste, drie na die noorde, drie na die weste, drie na die suide en drie na die ooste gerig. Die waterbak was bo-oor hulle, en almal se agterkante was onder die bak in. Die waterbak was nege sentimeter dik en sy rand was soos 'n beker se rand in die vorm van die kelk van 'n lelie. Dit kon ses en sestig kiloliter bevat.