Romeine 15:1-6

Romeine 15:1-6 DB

Dié van ons wie se geloof sterk is, het ’n plig teenoor ander Christene wie se geloof nog nie so sterk is nie. Ons moet hulle aanvaar en hulle bystaan. Geloof gaan tog nie net oor ons nie. Ons kan nie net daardie dinge doen wat ons gelukkig maak sonder om te vra hoe ander gelowiges daaroor voel nie. Daarom moet ons alles in ons vermoë doen om te sorg dat ander gelowiges ook gelukkig is. Dit is ons plig om hulle geloof sterk te maak en op te bou. Christus het presies dit kom doen toe Hy op aarde was. Hy het nie na sy eie belange omgesien nie, maar na dié van ander. Dit is soos die Bybel sê: “Al die beledigings wat die mense na u kant toe gegooi het, het Ek gedra. Dit het alles op My afgekom.” Alles wat in die Bybel opgeteken is, is neergeskryf om ons te leer. Die Bybel versterk ons geloof en moedig ons aan sodat ons elke dag kan uitsien na die terugkoms van die Here. Mag God, wat ons almal se geloof sterk maak en ons krag gee, julle help om regtig goed met mekaar oor die weg te kom. Dit is presies wat Christus Jesus wil hê. Mag julle almal saam soos ’n groot koor in ’n harmonie van stemme God se Naam grootmaak. Aan Hom, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid