Markus 5

5
Jesus red ’n man van die Bose
1So het hulle by die oorkant van die see aangekom. Die Geraseners het in daardie gebied gebly. 2-3Jesus het skaars uit die skuit geklim of ’n man met ’n demoon peil reg op Hom af. Hy het uit die begraafplaas aangestorm gekom, want dit is waar hy gebly het. Hy was woes en onbeheerbaar en die mense kon hom nie eens meer met kettings vasbind nie. 4Hulle het probeer om sy hande en voete met kettings te boei, maar dit het niks gehelp nie. Hy het dit uitmekaargeruk. 5Die bloedstollende gille van die man het dag en nag oor die grafte en tussen die heuwels weerklink terwyl hy homself met skerp klippe stukkend kap.
6Hy het Jesus van ver af sien aankom en dadelik na Hom toe gehardloop. Hy het op sy knieë voor Jesus neergesak. 7So hard as wat hy kon, het hy geskree: “Seun van die grote God, wat kom soek U hier? Ek smeek U, moet my nie pynig nie.” Jesus sê toe vir die bose gees: 8“Gee pad uit hierdie man uit, jou slegte gees. 9Maar sê eers vir My jou naam.”
“My naam is Legio, want ons is baie,” kom die antwoord. 10Die slegte gees het Jesus gesmeek en gesoebat om hulle nie uit daardie area te verwilder nie.
11’n Entjie daarvandaan teen die skuinste was daar ’n trop varke. 12Die demone smeek Jesus toe: “Asseblief, ons vra mooi, as U ons uit die man jaag, laat ons tog toe om in daardie trop varke te gaan bly.” 13Skaars het Jesus hulle toegelaat of hulle is uit die man in die varke in. Die varke het heeltemal mal geword. Hulle het verwilderd op loop gegaan, teen die skuinste af, die see in. Daar was omtrent 2 000 en die laaste een van hulle het versuip.
14Die varkoppassers is toe in ’n stofstreep daar weg om vir almal in die dorp en omgewing te gaan vertel wat gebeur het. Van oral af het die mense gestroom om te kom kyk. 15Daar aangekom, sien hulle die woeste man rustig by Jesus sit. Hy was netjies aangetrek en het normaal opgetree, soos enigeen van hulle. Dit het hulle bang en onseker gemaak. 16Die mense wat dit alles gesien het, het natuurlik vir almal in besonderhede vertel wat met die woeste man met die demoon en die varke gebeur het. 17Die mense uit daardie gebied was egter baie ontevrede en het Jesus gevra om pad te gee.
18Toe Jesus in die skuit klim, vra die man wat die demoon gehad het Hom baie mooi of hy nie saam met Hom kon gaan nie. 19Jesus wou nie. “Gaan huis toe waar jou mense vir jou wag. Gaan vertel vir hulle hoe goed die Here vir jou was en wat Hy alles vir jou gedoen het.” Die man het nie gestry nie. 20Hy is daar weg en het vir die mense in daardie streek (wat die mense Tien Stede genoem het) gaan vertel wat Jesus alles vir hom gedoen het. Die mense se monde het oopgehang van verbasing oor sy verhaal.
Vertrou op Jesus, Hy kán help
21Na die episode met die Geraseners is Jesus weer met die skuit terug na die oorkant toe. Toe Hy op die strand uitklim, het ’n massa mense om Hom saamgedrom. 22Onder die mense was Jaïrus. Hy was ’n belangrike man, want hy was die leier van die sinagoge waar die Jode bymekaargekom het. Toe hy Jesus sien, val hy voor Hom neer en gryp sy voete vas. 23Uit sy hart uit het hy Jesus begin smeek: “My dogtertjie is besig om dood te gaan. Asseblief, kom vat net aan haar en ek weet sy sal bly leef. Asseblief!” Jesus is toe saam met hom.
24Die mense is agter hulle aan en het rondom Jesus gedruk en gebondel.
25Onder die mense was daar ’n vrou wat twaalf jaar lank al vreeslik gebloei het. 26Sy het al baie swaargekry en het al wat ’n dokter was, besoek, maar niks wou help nie. Sy het net al hoe sieker geword. 27Sy het van Jesus gehoor en toe 28by haarself geredeneer: “As ek net aan hierdie Man kan raak, weet ek dat ek gesond sal word.” Toe Jesus so tussen die baie mense deurstap, kry sy haar kans. 29Sy kom van agter af en vat aan Hom. Sy kon aan haar liggaam voel hoe sy beter word en die pyn weggaan. Sy was gesond!
30Jesus het dadelik geweet dat iemand van sy krag gebruik het om gesond te word. Hy draai toe om en vra: “Wie’t aan My gevat?” 31Die dissipels was dadelik by: “U sien tog hoe druk en beur die mense hier om U. Hoe kan U nog vra: ‘Wie’t aan My gevat?’” 32Maar Jesus het Hom nie aan hulle gesteur nie, maar bly rondkyk om te sien wie dit was.
33Die vrou het besef wat met haar gebeur het. Vrees het haar beetgepak en sy het begin bewe. Sy val toe voor Jesus neer en vertel Hom alles. 34Jesus sê toe vir haar: “Jou dae van seerkry en swaarkry is verby. Omdat jy My so vertrou het, sal die siekte jou nooit weer pla nie. Gaan lewe voluit sonder die pyn en bekommernis.”
35Jesus was nog besig om met die vrou te praat toe ’n paar mans van Jaïrus (die leier van die sinagoge) se huis af daar aankom. Hulle het slegte nuus gehad: “Jou dogter is dood. Los vir Jesus. Moet Hom nie verder pla nie.” 36Jesus het dit gehoor en vir Jaïrus gesê: “Moenie dat dit jou ontstel nie. Vertrou My net.”
37Jesus, saam met Petrus en die twee broers, Jakobus en Johannes, is toe alleen verder. Jesus wou nie hê dat al die mense moes saamgaan nie. 38Toe hulle by Jaïrus se huis aankom, was daar ’n groot klomp mense wat vreeslik huil en rou. Hulle het vreeslik te kere gegaan en ’n lawaai gemaak. 39Jesus gaan toe in en vra vir hulle: “Vir wat gaan julle so te kere? Die kind slaap net. Sy is nie dood nie.”
40Die mense bars toe uit van die lag asof Jesus nie weet wat Hy sê nie. Hy jaag toe al die mense uit die huis uit, behalwe die ouers en sy drie volgelinge. Saam is hulle na die bed van die dogtertjie toe. 41Jesus vat die dogtertjie se hand en sê: “Talita koem!” (Dit beteken: “Dogtertjie, Ek sê, staan op.”) 42-43Die dogtertjie het dadelik opgestaan en tussen hulle rondgestap. Sy was twaalf jaar oud. Jesus vra toe dat iemand vir haar kos moet gee. Die mense wat daar gestaan het, was totaal uit die veld geslaan. Jesus het hulle baie mooi gevra om nie vir enigiemand te vertel wat daar gebeur het nie.

Tans Gekies:

Markus 5: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid